Vrou maak fliek oor pedo-stiefpa
In ’n nuwe dokkie praat ’n vrou ná 30 jaar met haar selferkende pedofiel-stiefpa wat haar as kind jare lank verkrag het
DERTIG jaar gelede was sy sy minderjarige minnares. “Ek het nie eintlik met jou ma uitgegaan nie, maar met jou,” het hy haar as volwassene probeer vlei oor daardie tyd dat sy nie van beter geweet het nie, want hy was dan die enigste daddy wat sy ken. Wat hy doen, is mos uit liefde, was haar indruk destyds.
Nou sien jy hulle in ’n fliektoneel waar hulle iewers op ’ n sandvlakte buite Swakopmund oorkant mekaar op ’n piekniekkombers sit. Hy is uit op borgtog, met aanklagte van die molestering van vier meisies jonger as 10 jaar teen hom. Hy mag nie die dorpsgrens oorsteek nie.
Lucy Witts is nou 43 en Dragan Vujicin 65 jaar oud.
“’n Kouefront het opgesteek en ek wou dit op die agtergrond vasvang,” vertel Lucy, ’n regisseur, vervaardiger en openbare spreker, oor haar besluit om die betrokke toneel op dié plek te verfilm. Sy gesels oor haar dokumentêre rolprent, Dragan’s Lair, waarvan die première op 4 Junie op die Encounters-rolprentfees in Kaapstad plaasvind.
“Daar op die sand was ons blootgestel; nêrens om weg te kruip nie. Die plek vir oop en eerlik wees. Om as’t ware uit die kas te klim,” verduidelik Lucy in haar huis in ’n suidelike voorstad van Kaapstad.
“Ek het jare lank gedink hy is dood,” sê Lucy oor Dragan, haar stiefpa. Want op 19 het sy gehoor hy is in KwaZulu-Natal geskiet. Intussen het hy die land deurkruis, van die Kalahari tot die ou Transkei. En oral het die gerugte hom gevolg; stories dat hy met minderjarige meisies lol en selfs een swanger gemaak het.
Vier jaar gelede het ’n vriend vir haar ’n berig uit Swakopmund aangestuur: Dragan is springlewendig en is nou eindelik in hegtenis geneem op aanklagte van kindermolestering. By navraag kon die hof op Swakopmund nie ’n hofdatum vir hom vind nie.
In die rolprent lyk die toneel op die kombers aanvanklik soos ’n gemoedelike kuiertjie tussen ’n volwasse dogter en haar vervreemde pa. Tot Dragan sy mond oopmaak: “Ek was baie aangetrokke tot jou. Jy was ’n baie oulike en gehoorsame kind. Daar was nooit ’n stryery nie. Ek het dit waardeer. Ongelukkig het ek jou onskuld uitgebuit. Ek het jou nooit gedwing of laat huil nie. Jy het ook nooit enige ongemak getoon nie. Jou
gesig het gewys jy wil saamspeel.”
Hy vertel van die dag toe sy so twee en ’n half jaar oud was en by die badkamer instap terwyl hy in die water gelê het. Hy sê sy wou aan hom vat. “Jy was net ’n bietjie hoër as die bad se rand,” herinner hy haar in die fliek. Dekades daarna het hy nog oor dié dag gefantaseer. “Ek het jou as ’n potensiële teiken geëien, soos ’n leeu wat ’n wildsbokkie beloer,” vertel hy sonder om te blik of te bloos.
Hy erken op kamera: “Geregtigheid moet vir jou ook geskied; ek moet ophou weghardloop vir my skadu. Jy is die eerste een en die belangrikste in die saak. Dis hoekom ek hier is. Om ’n oplossing te vind dat ons mekaar kan vergewe.” ’n Mens ril. Heelwat later in die rolprent help Lucy Dragan van die kombers af opstaan. “Hy het swak voete. Dis blou en geswel. Oumensvoete,” vertel Lucy hier aan die eetkamertafel in haar huis. Sy het in 2015 twee keer Swakopmund toe gevlieg om onderhoude met Dragan te gaan verfilm.
Nadat hulle albei regop gekom het van die Namib-sand af gee sy hom heel onverwags aarselend ’n drukkie. Dié gebaar van Lucy is die enigste aspek van die hele fliek wat haar man, Christian Boix, kwaad gemaak het: Hoe kon sy toelaat dat hierdie man weer aan haar raak?
“Dit was ’n hartlike drukkie en nie ’n drukkie uit liefde nie,” verduidelik Lucy nou hier aan ons, nes sy dit destyds aan haar man verduidelik het. “Dis ek, sy dogter, wat finaal afskeid neem, die innerlike meisietjie,” voeg sy by. Tot op daardie punt was hy nog haar daddy. Maar nie meer nie. Sy wil nooit weer met hom praat nie.
“Vir hom was dit seker ’n teken van vergifnis,” meen Lucy. “Ek is klaar. Ek gaan nie meer na oorlewende slagoffers van sy misbruik soek nie. Toe ek hom vra hoeveel ander daar was, kon hy my nie antwoord nie.”
Ná daardie drukkie stap die selferkende pedofiel deur die strate van die Swakopmund-township waar hy woon. Hy stap tussen ’n klompie jong meisies deur na sy huis met die pienk mure. Op die bordjie by die hekkie staan in skewe letters geverf: “Pasop vir die hond. Beware of the dog.”
“Mense vra waar my woede is. Daardie beeldmateriaal met die bordjie was my manier om my woede uit te druk. Ek leef nie kwaad nie. Die uitwerking van sy misbruik het my gevorm, maar ek gee hom nie krediet vir wie ek geword het nie.”
HAAR ma is ook bereid om te kom gesels, sê Lucy. Virginia Witts (68) kom sit aan die tafel en steek ’n Camel aan. “Ek het dinge verkeerd gelees,” sê sy. “My en Lucy se verhouding is weens dié hele ding wankelrig.”
Hul paaie het in 1975 in Yeoville, Johannesburg, met Dragan s’n gekruis. Hy en sy vrou was Serwiese uitgewekenes en het mekaar deur gemeenskaplike vriende ontmoet. Hy is in 1976 geskei. Hy en Virginia het ’n verhouding aangeknoop, en die volgende jaar het hulle met Lucy Swakopmund toe getrek.
Lucy het ’n suster wat vier jaar ouer is as sy, Sophy, maar in daardie stadium het sy by hul biologiese pa in Engeland gewoon. “In my oë het ek ’n mooi kindertyd gehad, sorgeloos. Ek het nooit gevoel ek word mishandel nie,” vertel Lucy.
“Wie was die kaptein van my skip? As ek myself uit my liggaam sou neem, sou ek my kon voorstel hoekom hy my ge- drag as inwilliging gesien het.” Sy wil juis haar volgende fliek oor dié kwessie maak: Kan kinders enigsins toestem tot seksuele dade?
Toe Sophy 13 jaar oud word, het sy ook by haar ma op Swakopmund gaan woon. En ook Dragan se slagoffer geword. Maar anders as Lucy het Sophy die seks inderdaad as verkragting ervaar, vertel sy in Dragan’s Lair.
Lucy was 11 en Sophy 15 toe die twee susters by vriende op Swakopmund tuisgaan terwyl Virginia by familie in Johannesburg kuier. In hul ma se afwesigheid het Sophy met die sak patats vorendag gekom. Die vriendin het Virginia in Johannesburg gebel, maar die ma wou aanvanklik nie glo dat Dragan met haar dogters seks het nie. Sy het selfs die foon in haar vriendin se oor neergegooi.
“Maar sekondes later het ek teruggebel en geluister,” onthou sy.
Toe Virginia Dragan met haar terug-
‘Ek het jou as ’n potensiële teiken geëien, soos ’n leeu wat ’n wildsbokkie beloer,’ vertel hy sonder om te blik of te bloos
koms konfronteer met “mense sê aaklige dinge oor jou”, het hy glo doodluiters gereageer: “Ek is so jammer. Ek is net so lief vir hulle.”
“Toe dit alles uitkom, het ek die skool laat weet,” vertel Virginia. “Ek het dit nie stil gehou nie. Ek het gereël dat hulle uitkom by ’n terapiegroep vir mishandelde kinders,” voeg sy by.
“Ek het nooit by die groep aangesluit nie,” sê Lucy.
“Dis so jammer dat ek dit nie opgevolg het nie. Ek het ’n kwaai skuldgevoel daaroor,” sê Virginia. “Lucy wou nooit op my knie sit of my drukkies gee nie. Sy was nooit ’n warm mens nie. Maar sy het na hom toe gegaan,” vertel die ma.
“Ek wil nie met jou stry nie, maar ek dink dit is oor alles wat as kind met my gebeur het dat ek eerder na hom toe wou gaan,” sê Lucy.
“Hy was so goed met jou. Wou jou altyd skool toe vat. Ek het nie eens twee keer daaroor gewonder wanneer jy saam met hom gaan bad het nie. Daar was ’n waterskaarste,” onthou Virginia en steek nog ’n Camel aan. “Hoe kon ek nooit iets agterkom nie? Wat was ek veronderstel om agter te kom? Vandag nog probeer ek uitvind,” sê sy.
VIRGINIA is nou baie spyt sy het nie destyds ’n saak teen Dragan aanhangig gemaak nie. Sy wou veral vir Lucy die hofverrigtings spaar. Sophy is toe terug na haar biologiese pa, wat in daardie stadium in Australië gewoon het.
Virginia en haar broer het vir Dragan ’n vliegkaartjie terug na sy geboorteland gekoop, maar hy het dit nie gebruik nie. Hy het wel Swakopmund verlaat.
“Ons het gedink hy sou so skaam wees om uitgevang te word dat hy die pad sou vat en nooit weer so iets doen nie,” sê Virginia.
Vir Lucy was dit aan die begin traumaties dat hierdie vaderfiguur uit haar lewe weggeruk is. Op 13 het sy baie promisku geword om dié leemte te probeer vul. “Die meeste van die mans was baie ouer as ek, want die ouens van my ouderdom het nie in sulke dinge belanggestel nie.”
Toe sy later jare hoor Dragan is geskiet, het sy aangeneem hy is dood. “Ek was hartseer, want ek het nog nie closure gehad nie. Hy was steeds my dad.”
Al het sy as tiener terapie ondergaan, het sy in haar 20’s, toe sy in Kaapstad kom, steeds met ’n promiskue sekslewe vaderliefde gesoek in die arms van al wat man is. Sy het ook met dwelms begin eksperimenteer, maar in dié tyd het sy eindelik ’n deurbraak beleef by haar sielkundige: Haar verlange na Dragan het in woede verander.
Sy het toe die eerste keer besef sy kon voorheen nooit onderskei tussen seks en verkragting nie en dat sy voor die ouderdom van 19 deur vyf verskillende mans verkrag is.
Sy was kwaad vir Dragan, haar ma en die ongeregtigheid.
Haar eerste huwelik het binne twee jaar gesneuwel omdat haar man haar nie wou glo dat sy as kind gemolesteer is nie. Op 28 het sy Christian ontmoet: die liefde van haar lewe en die pa van haar kinders.
Toe sy hoor Dragan leef nog en dat hy van kindermolestering aangekla word, wou sy hom so gou moontlik sien. Sy het opgedaag vir sy hofverskyning op Swa- kopmund en onthou: “Hy het amper ’n hartaanval gehad toe hy my in die hof sien.”
Lucy het hom gevra om ná die tyd te gaan koffie drink en hom toe oorreed om ’n onderhoud op kamera toe te staan. “Jy skuld dit aan die universe,” was haar woorde aan hom.
“Die eerste keer toe ek hom toe sien, was ek senuagtig. Ek het gebewe en was naar. Maar toe ek hom so bekyk en later met hom praat, het ek besef hy is nie meer die monster wat ek in my kop gehad nie. Hy was banger vir my. “Hy is nie meer daardie aantreklike
dad van my jeug nie. Hy is ’n frail ou man.”
Lucy en Sophy (47), ’n teaterverpleegsuster in York, Engeland, het Dragan in 2015 van molestering van minderjariges aangekla, en die saak is ook nou by die openbare vervolger in Namibië. Die susters wil van die beeldmateriaal vir die dokumentêre prent as bewysstukke indien.
Intussen werk Lucy en haar ma elke dag aan hul verhouding. Virginia bly in die tuinwoonstel agter haar dogter en skoonseun se huis.
“Die tuin was my happy place tot my ma 18 maande gelede hier ingetrek het,” vertel Lucy. “Ek het besluit my ma het die tuin nodiger as ek.”
Dis haar terapie, sê Virginia, om in die tuin te skoffel en te sien hoe die plante onder haar hande floreer.
“Dit bied my ’n grondslag om nou te groei. Ek sal graag met mense oor ons ervaring praat as dit sal help om ander ma’s en dogters ons hartseer te spaar.”
‘Hy was banger vir my. Hy’s nie meer daardie aantreklike dad van my jeug nie’