Huisgenoot

Sibbes steun Piet Byl langs sterfbed

Baasspeurd­er Piet het oor sy broers gewroeg, maar hulle en sy suster het ver gereis om aan sy sy te wees toe hy sy laaste asem uitblaas

- Deur JACQUES MYBURGH Foto’s: TUMELO LEBURU

DALK het Piet Byleveld op sy sterfbed ’n stukkie van die berusting gekry waarna hy gesmag het. Toe die nuus bekend word dat hul boeta sterwend is, het hulle van ver gereis, die suster en twee broers wat soveel dekades gelede met vakansies in die ou Transvaal kaalvoet saam met hom op die plaas gewerk het.

Willie Byleveld van Lephalale (Ellisras) in Limpopo, Johann Byleveld van Koster in Noordwes en Elize (deesdae Louw) van Hazyview in Mpumalanga het alles net so laat staan om by hul sterwende broer te wees.

In Piet se laaste dae het die vraag iewers in sy gemoed by hom gespook. “My verhouding met my broers is nie goed nie; ek wil hê ons moet vrede maak. Ek staan alleen; hulle het my weggestoot,” het Piet in ’n onlangse onderhoud met die Sondagkoer­ant Rapport gesê.

Maar toe Johann op sy sterfbed sy hand kon vashou, en toe Willie en Elize hom kort voor sy heengaan aan hul grootwordj­are dekades gelede kon herinner, het Piet hopelik die vrede gekry waarna hy blykbaar gesmag het: Sy broers en suster was nog lief vir hom.

“Ons het maar eintlik min almal bymekaarge­kom omdat ons so ver verspreid van mekaar af woon,” vertel ouboet Willie.

En tog het hulle drie moeite gedoen om saam met Piet se vrou, Elize, en haar dogter, Virnalize Welthagen, langs Piet se bed in Roodepoort se Life Wilgeheuwe­l-hospitaal te waak.

“Ons het baiekeer sommerso in stilte gesit en net vir Pietie gekyk,” vertel suster Elize.

Willie vertel hy sal die dag van Piet se dood nooit vergeet nie.

“Ek het die hele tyd sy pols gevoel, en daai dag het hy net skielik ’n sug gegee, asof dit ’n sug van verligting was. Toe weet ek.”

Dit was vyf minute oor twaalf die middag. Willie het Piet (67) se pols weer gevoel en besef sy jonger broer is dood.

PIET se vrou, Elize, vertel dit het haar onkant gevang toe sy in die koerant lees hoe Piet in ’n onderhoud vertel dinge het suur geraak tussen hom en sy broers. “Dalk is dit maar hoe hy daardie dag gevoel het. Hy was baie siek,” sê sy.

Willie (69), Johann (65) en hul suster, Elize (62), sê hoewel hulle bekommerd was oor nare bewerings wat die laaste ruk in die media teen Piet gemaak is, het hul liefde vir hom nooit getaan nie.

Party kliënte het in die jaar voor Piet se dood beweer daar het dadels gekom van die ondersoeke waarvoor hulle hom derduisend­e betaal het. Onder meer het naasbestaa­ndes van drie moordslag-

offers vertel hulle het Piet betaal om hul familielid se saak te help oplos, maar geen resultate gekry nie.

Piet het vroeër vanjaar in ’n onderhoud met Huisgenoot gereageer op die bewerings dat hy kliënte geld skuld (Verkort, ons mooi toekoms, 20 April.) “Hulle moes betaal vir my dienste . . . Selfs toe ek in die polisie was, het ek nooit ’n belofte gemaak dat ek ’n saak sál oplos nie,” het hy toe gesê.

Waar sy suster en broers vandag in die Johannesbu­rgse wintersonn­etjie sit en gesels, vertel hulle die beskuldigi­ngs moes Piet se gesondheid seergemaak het. “Pietie was nog altyd ’n softy. Die kwade beriggewin­g die laaste ruk het hom geknak,” sê Elize.

“Toe die slegte publisitei­t kom, wou ons dit nie glo nie. Ons het ons daarvan gedistansi­eer; ons wou net die goeie van sy loopbaan onthou,” vertel Johann.

Johann erken hy en Piet het ’n woordewiss­eling gehad oor die nare nuusstorie­s. Dit was moontlik die moeilikhei­d wat Piet laat vrees het hy is van sy broers vervreem.

“Ons gesin hou nie van die publisitei­t nie. Dit is nie die Pietie wat ons ken nie. Ek woon op ’n klein dorpie, en wanneer ek in die oggende winkel toe gegaan het, moes ek by ander hoor wat hulle van Piet in die koerant gelees het.

“Ek en hy het verlede jaar lank met mekaar gesels,”vertel Johann verder. “Ek het vir hom gesê: ‘Pietie, as daar iets is wat jy met iemand moet regmaak, moet jy dit doen. Jy moet dinge met jouself en die Here regmaak.’

“Hy het toe net gesê: ‘Dis reg, dankie, ek sal.’ ”

TOE kom die siekte. Fase 4longkanke­r is op 10 Maart by die speurder gediagnose­er nadat dit reeds na sy byniere, lewer en rugwerwels versprei het. Johann vertel hy het Piet besoek kort nadat die speurder die nuus gekry het.

Meteens het hul gesprekke nie meer oor slegte publisitei­t gegaan nie, maar oor veel gewigtiger sake.

“Hy het daai dag gehuil en gesê: ‘Boeta, ek het moeilikhei­d.’ Dit was die hartseerst­e wat ek hom al gesien het,” vertel Johann. “Dit was vir ons almal baie moeilik om te verwerk. Hier sit jou broer, die baasspeurd­er, voor jou en huil en jy kan niks doen om dit beter te maak nie.”

Die Donderdag (2 Junie) voor hulle met Huisgenoot gesels, het die familie finaal in die Rosebank Union Church in Johannesbu­rg afskeid geneem van broer Pietie. Daar was geen verwyte teen hom in hul hart nie.

“Dit is vir ons bitter hartseer om hom te groet. ’n Stuk van ons is weg, en dit sink nou in dat ons drie ook die een of ander tyd sal gaan,” sê Willie.

Die vier Bylevelds het in eenvoud geleef, vertel hulle. “Arm grootgewor­d en ons vakansies omgewerk op die plaas,” onthou Johann.

Pa Marthinus was ’n kwaai, stil man. “Hy het in die Tweede Wêreldoorl­og geveg; ons het onder streng toesig grootgewor­d,” vertel Willie.

“Ons het maar in die vakansie op die plaas gewerk,” voeg Johann by. Hy lag.

Meteens is daar weer iets ligs in die Bylevelds se gesels. “Onthou julle daai een dag met die kan diesel toe ons bas so gebrand het?” vra hy sy broer en suster. “Ja,” glimlag Willie. “Ons drie seuns het met ’ n 200 Ldieselkan vuur gemaak. Pa was die duiwel in vir ons.”

“Pietie was vreeslik huisgebond­e en naby aan ons ma, Marthie,” voeg Elize by. “Hy was haar gunsteling. Ek dink dit was maar ook omdat hy van kleins af aan asma gely het en sy hom wou beskerm.”

Toe hul ma op die vroeë ouderdom van 52 skielik weens ’n bloedklont in die hart oorlede is, het hulle almal dit baie swaar gevat, veral Piet. “Dit was ’n stuk van hom wat weggekwyn het,” vertel Elize.

Maar die sibbes het kontak met mekaar probeer behou.

“Selfs toe Pietie al siek was, sou hy met sy suurstofma­sjien kom kuier. Hy sou dit dan inprop by my en dan kuier ons,” onthou Elize. “Ek kon in sy oë sien hy kry swaar, al het hy dit nie erken nie. Daar was ’n soort weerlooshe­id in sy oë wat ek nie geken het nie.”

ELIZE, Piet se vrou, vertel dit het vir haar ook baie beteken toe sy broers en suster hom in die hospitaal kom groet. “’n Mens kon steeds met hom praat, al was hy in ’n diep slaap. Die dokters het gesê hy hoor dit en voel dit aan.”

Ja, sê sy, Piet was ontsteld toe sy broers hom oor die koerantsto­ries berispe. “Wie sou nie wees nie? Maar wat saak maak, is dat hulle aan die einde langs sy sterfbed vir hom daar was.”

‘Pietie was vreeslik huisgebond­e en naby aan ons ma, Marthie’

 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ?? HOOFFOTO: Piet Byleveld se sibbes het die baasspeurd­er by sy begrafnis vir oulaas gegroet. Van links is Johann, Elize en Willie. Elize hou Piet se begrafnisb­rief vas. INLAS: Die foto en ruikers wat tydens die begrafnis in die kerk was.
HOOFFOTO: Piet Byleveld se sibbes het die baasspeurd­er by sy begrafnis vir oulaas gegroet. Van links is Johann, Elize en Willie. Elize hou Piet se begrafnisb­rief vas. INLAS: Die foto en ruikers wat tydens die begrafnis in die kerk was.
 ??  ?? Van links is Piet, ma Marthie, Willie, pa Marthinus en Johann met Elize se doop op 21 Augustus 1955.
Van links is Piet, ma Marthie, Willie, pa Marthinus en Johann met Elize se doop op 21 Augustus 1955.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa