Huisgenoot

WAT DIE ANDER MA’S SÊ

-

Linette van der Lingen (65), Odette Boucher se ma

Sy is bly mense het ná al die jare nog nie die soektog na hul kinders laat vaar nie, sê Linette, wat dink die aflewering van Fokus was baie goed. “Dit krap nie vir my ou wonde oop nie. Ek het my gevoelens oor my kind; ek sal nooit ophou soek nie.” Sy het weggetrek uit Kempton Park, waar Odette verdwyn het, en woon nou aan die Wes-Rand. Sy is in 1999 weer getroud nadat sy en Odette se pa, George, weens die trauma van hul dogter se verdwyning uitmekaar is. Linette het in 2010 ’n beroerte gehad, maar daarvan herstel. “Die Here het my ’n tweede kans gegee,” sê sy.

Eve Harvey (81), Fiona se ma

Sy wou nie die program kyk nie, sê Eve. “Dit sou ons net omkrap,” verduideli­k sy. Dit gaan goed met haar. Sy woon egter nie meer in Pietermari­tzburg nie, waar haar dogter destyds vermis geraak het, is al wat sy verder wou vertel.

Ansie Horn (67), Joan se ma

“Ons lei die lewe dag vir dag soos die Here ons dit gee,” sê Ansie van Pretoria. “Ons (as familie) moes aanvaar wat gebeur het en vergewe om te kon aangaan. Ons het steeds ons hartseer dae, maar dit help nie om jou blind te staar teen wat ’n mens nie kan verander nie.”

Kobie Wapenaar (84), Anne-Mari se ma

Die hernude soektog het “natuurlik weer ou wonde oopgekrap”, sê Kobie, wat drie jaar gelede uit Kempton Park na Pretoria verhuis het. “Ek sal nooit ophou dink aan wat met my kind gebeur het nie.”

Sy het kontak behou met Yolanda Wessels se ma, Babs van Kempton Park. Dié is twee jaar gelede op 79 aan pankreaska­nker oorlede sonder dat sy ooit geweet het wat met haar kind gebeur het.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa