EK WEET HY SAL TERUGKEER
’n Johannesburgse pa glo vas hy gaan sy ontvoerde seun weer sien – iets wat sy vrou eindelik nie beskore was nie
DIE sand van die Saharawoestyn kleef rooi en dik aan die blou motorfiets met die wit brandstoftenk. Hy gaan dit nie skoonmaak nie, vertel die 71-jarige man. “Stephen sal dit kom was wanneer hy terug is. Ek dink dit sal vir hom baie terapeuties wees om dit self te doen.” Dis nou al langer as vyf jaar dat daardie ysterperd wag om gewas te word, jare waarin Malcolm McGown bly vasklou aan die hoop dat sy seun bevry sal word uit die kloue van die terreurgroep Al-Kaïda, wat hom in September 2011 ontvoer het in Timboektoe, Mali. Sy motorfiets is buite sy herberg gekry en aan sy ouers terugbesorg. En die hoop vlam weer hoog in Malcolm se hart nadat die ontvoerders onlangs ’n video uitgereik het waarin ’n lewende Stephen verskyn.
“Toe ek Stephen se gesig vir die eerste keer weer op die video sien, wou my hart in stukke breek,” vertel Malcolm. “Ek wou huil van blydskap dat my seun nog leef. Dit het net weer bevestig hy gaan huis toe kom. Ek sal hom weer kan sien.”
In die video van 16 minute wat geen klank bevat nie, verskyn Stephen (42) saam met vyf ander gyselaars. Stephen het maer en bedees gelyk, met ’n woeste baard, vertel Malcolm. “Ek weet en vertrou hy gaan binnekort vrygelaat word. Dit is net ’n kwessie van tyd,” benadruk hy.
Dit was die eerste keer sedert 2015 dat hy enige bewys gesien het dat Stephen nog leef. Toe is ’n soortgelyke video uitgereik aan die Suid-Afrikaanse hulpverleningsorganisasie Gift of the Givers, wat as bemiddelaars optree tussen die ontvoerders en Stephen se familie.
Maar vir Malcolm se ma, Beverley (69), het hierdie jongste sprankie hoop te laat gekom. Sy is in Mei vanjaar oorlede weens emfiseem. “Beverley het nooit die berusting gekry waarna sy gesoek het nie,” vertel Malcolm hartseer.
“Haar enigste wens voor haar dood was om Stephen weer te sien, maar ek dink die verlange en onsekerheid het eindelik vir haar te veel geraak.”
Die ontvoerders het aanvanklik ’n losprys van R152 miljoen gevra, maar dit intussen verlaag tot R61 miljoen. Die McGowns het nie naastenby sulke soort geld nie. “Ons het by hulle gepleit om Stephen uit medelye vry te laat aangesien sy ma oorlede is,” het dr. Imtiaz Sooliman, stigter en direkteur van Gift of The Givers, gesê.
Stephen se lot is steeds baie onseker, maar in sy ouerhuis in Sandton benadruk Malcolm: “Ek weet en vertrou hy gaan binnekort vrygelaat word. Dis net n kwessie van tyd.” N DIE dorre wintertuin van die McGown-huis sorg ’n magnoliaboom vir ’n herlderpienk kleurontploffing, amper soos ’n simbool van ’n pa se hoop. “Ek dink dit is in my gene om sterk te wees en optimisties te bly,” sê Malcolm. “Ek hoop net Stephen het ook daardie gene geërf en staan sterk daar waar hy hom bevind.”
Hy vertel sy seun was nog altyd lief vir avontuur, reis en die natuur. Voor hy in 2011 die motorfietstog deur Afrika aangepak het, was hy ’n rampbestuurder vir ’n bank in Engeland, waar hy vyf jaar gewoon het.
“Dit sou Stephen se finale reis gewees het voor hy na Suid-Afrika sou terugkeer om vir my te werk,” verduidelik Malcolm, wat sy eie ondernemings in eiendomsontwikkeling en die landbousektor het. “Hy is lief vir Suid-Afrika en het sy mense gemis.”
Stephen en ’n Nederlandse motorfietsryer se reis het in Londen begin en hulle het van noord na suid deur Afrika gery. Malcolm se laaste kontak met sy seun was ’n Skype-gesprek met Stephen-hulle se aankoms in Bamako, die hoofstad van Mali. Van daar sou hulle na die oeroue woestynstad Timboektoe met sy beroemde ou biblioteke reis.
“Hy’t nog liries geraak oor Timboektoe en gesê hy hoop die stad sal so magies wees soos wat hy gehoor het. Ek het hom nog gewaarsku hy gaan deur ’n oorloggeteisterde gebied ry. Hy het geantwoord hy sal terugvlieg huis toe as dit te gevaarlik lyk,” vertel Malcolm.
Dit was die Saterdagoggend agtuur, net dae ná daardie Skype-gesprek, toe die foon in die McGown-huis lui. “Dit was ’n reismaat se ma. Ek het nog gesê: ‘Moet my asseblief nie sê iets is fout nie.’ Sy het gesê ja, sy is bevrees Stephen is ontvoer. Ek en Beverley was so geskok. Ek sal daardie oggend nooit vergeet nie.”
Stephen het ’n Sweedse motorfietsryer, Johan Gustafsson, in Bamako ontmoet. Hy het by hom aangesluit vir die reis na Timboektoe. Stephen en sy Nederlandse reisgenoot se paaie het toe al geskei. Johan is saam met Stephen by die herberg in Timboektoe ontvoer.
Malcolm het onmiddellik met die Suid-Afrikaanse departement van internasionale betrekkinge in verbinding getree, asook met Gift of the Givers, wat al voorheen namens gyselaars se familie as onderhandelaars opgetree het.
Gift of the Givers het kontak gemaak met die ontvoerders, maar ná twee maande het die McGown-egpaar agtergekom dit sal geen vinnige oplossing wees nie. “Ons het besef ons sal geduldig moet wees,” vertel Malcolm.
Hulle het nooit geweet waar hul seun hom bevind nie omdat sy ontvoerders hom gedurig verskuif het om reddingspogings te fnuik. Maar die egpaar het selfs die kleinste flentertjie nuus hoopvol aangegryp, soos dat van Stephen se medegyselaars mettertyd vrygelaat is.
In April 2015 is Sjaak Rijke, wat vroeër deur dieselfde Al-Kaïda-groep ontvoer is en Stephen in aanhouding ontmoet het, deur Franse spesiale magte ontset. Hy is saam met Stephen en Johan op dieselfde tyd by die herberg ontvoer.
Sjaak, ’n Nederlander, het vier aande by Malcolm in Suid-Afrika deurgebring. “Hy het my baie stories van Stephen vertel,” sê Malcolm. “Soos hoe Stephen die wagte oor die voëltjies daar geleer het. Hy is ’n formidabele voëlkyker.
“Hy het ook vertel hoe hulle in die sand hul ouers se huis sou teken, elke vertrek. Toe Sjaak hier aankom, het hy nie eens gevra waar ons badkamer is nie; hy het presies geweet hoe om daar te kom.”
En twee weke gelede is Stephen se Sweedse reismaat, Johan, vrygelaat. “Ons het eintlik onderhandel om hulle albei los te kry,” vertel Malcolm. “Toe net Johan vrygelaat word, was my emosies in ’n warboel. Ek was kwaad en jaloers op sy geliefdes.”
Johan het intussen in ’n Skype-gesprek aan Malcolm bevestig Stephen het geleef toe hy vrygelaat is. “Dit is regtig nou net ’n kwessie van tyd, dalk weke, voor ek my seun weer sien,” beklemtoon Malcolm weer.
Imtiaz bevestig hulle is steeds in verbinding met die ontvoerders en sal aanhou pleit vir Stephen se vrylating.
“Tot ses weke gaan egter verby voor hulle antwoord op een van ons voorstelle,” maan hy.
STEPHEN se vrou, Catherine, ’n arbeidsterapeut wat nou in Johannesburg werk, wil nie tans onderhoude toestaan nie. “Ek dink dis baie erg vir haar,” vertel Malcolm. Hulle was vier en ’n half jaar getroud toe Stephen ontvoer is.
“Al haar vriendinne kry kinders, maar sy kan nie met ’n gesin begin nie. Sy is stoksielalleen en wag op nuus van haar man. Maar sy is ’n vreeslik sterk en vasberade mens. Ons dra mekaar deur hierdie slegte tyd.
“Sal hy weer in die stad kan leef, of sal hy oop ruimte soos die woestyn verkies? Ek weet nie of hy sal kan aanpas nie,” antwoord Malcolm. “Baie kan in vyf jaar verander.”