Huisgenoot

Vrees kry dapper Jes Foord nie onder

In 2008 het vier mans haar verkrag, maar Jes Foord – nou die getroude ma van ’n tweeling – weier dat vrees hul lewe aan bande lê

- Deur GABISILE NGCOBO

IN DIE skadu van ’n groot boom in die lowerryke Kloof-gedenkpark by Durban straal Jes Foord terwyl sy kyk hoe haar woelige tweeling baljaar. “Ek kan nie glo hulle is al so groot nie,” sê sy. Hulle kom bedel skyfies voor sy hulle aanpor om weer eenkant te gaan speel. Toe hulle wegskarrel, gesels ons oor ’n soortgelyk­e dag sowat 10 jaar gelede, die dag toe ’n sorgelose uitstappie in ’n ondenkbare nagmerrie ontaard het.

Dit was Maart 2008 toe Jes (nou 30) en haar pa, Tim Foord, met hul honde in die Shongweni-natuurrese­rvaat gaan stap. Padlangs is dit net sowat 24 km van die plek waar sy vandag met Huisgenoot ge- sels, maar die uitstappie destyds het gruwelik geëindig. Vyf mans het Jes en haar pa oorval. Een het ’n mes teen Tim se keel gedruk en hy moes hulpeloos toekyk hoe die ander vier sy dogter verkrag.

Ja, sy dink steeds aan die verkragtin­g, sê Jes, wat verkies om haar nooiensvan vir die onderhoud te gebruik. “Dit het gebeur en sal nooit weggaan nie. Dis soos wanneer ’n geliefde sterf: Niks wat jy doen, kan dit verander nie, maar jy leer aangaan met jou lewe.”

Die verkragter­s het haar lyf geneem, sê sy. “Maar ek het besluit ek sal nie toelaat dat hulle my gees en persoonlik­heid ook van my af wegneem nie.”

Die vyf booswigte is kort ná die voorval in hegtenis geneem, verhoor en tronk toe gestuur. Maar op Jes het ’n lang pad na herstel gewag. In Februarie 2014 het sy ’n reusetree nader aan volkome genesing gegee met die geboorte van klein Layla en Daniel.

Sy het van kleins af daarvan gedroom om kinders te hê, vertel Jes. Dokters het haar gewaarsku sy sal dalk sukkel weens die verlies van ’n eierstok nadat ’n sist van 10 cm gebars het. Sy en Jono (30) is in 2011 getroud en net sowat ’n maand nadat hulle ’n gesin begin beplan het, was sy op natuurlike wyse swanger met die tweeling. Hulle is in 2014 gebore. “Hulle is ’n dubbele geskenk. Om hulle groot te maak is die beste ervaring van my lewe.”

‘Dis nie my geaardheid om bang te wees dat iemand ons sal aanval nie’

Maar dit is ook ’n oorwinning oor haar aanvallers wat sy keer op keer vier deur nie toe te laat dat vrees haar of die kinders se lewe aan bande lê nie. Hier, onder hierdie einste groot boom omring deur die natuurskoo­n van die Vallei van ’n Duisend Heuwels, het hulle nog elke jaar die tweeling se verjaardag kom vier.

JES vertel liggaamlik het sy binne twee weke van die verkragtin­g herstel. Dit was nie nodig om in die hospitaal opgeneem te word nie.

Tog het sy agtergekom mense behandel haar soos ’ n baba of is selfs bang om haar ’ n drukkie te gee, vertel Jes.

Maar sy het geweier om in die gemoedstoe­stand van ’n slagoffer te verval. “Ek wou nie bejammer word nie.”

Sy het berading gekry, maar ook op ’n tasbaarder manier terugbakle­i: In 2009, amper ’n jaar ná die aanval, het sy die Jes Foord-stigting begin om medeslagof­fers van verkragtin­g emosioneel op die been te help kom. En sy lewer motivering­spraatjies.

Met die jare het die Jes Foord-stigting gegroei tot ’n organisasi­e met 10 werknemers, wat beraders insluit. Sedert die tweeling se koms het sy haar betrokkenh­eid afgeskaal. “Vandat ek ’n ma geword het, is dit vir my baie moeilik om te luister na die verhale van kinders wat seksueel misbruik is. Daar is so baie mense wat oor hul beproewing­s wil praat; dit het alles ietwat oorweldige­nd geword.

Deesdae gaan sy net twee dae per week na die stigting se kantoor, maar dit is steeds vir haar baie belangrik. Sy vertel sy het verlede jaar ’n laagtepunt beleef toe die stigting se geldsake benard lyk. Sy is dankbaar vir die familie wat elke jaar ’n gholfdag ten bate van die stigting reël. Vanjaar is R180 000 ingesamel. “Hulle is wonderlik; die span by die stigting ook. Ek sê altyd as ’n trein my trap, moet hulle sonder my kan aangaan. Ek het volle vertroue in hulle.”

Intussen het sy begin om twee dae per week swemlesse vir kleuters aan te bied. “’n Mens hoor elke dag van kinders wat verdrink. Dit breek my hart,” vertel sy. Die swemlesse gee ook balans aan haar lewe. En ten spyte van haar ontberings glo sy nie daaraan om oorbeskerm­end te wees teenoor haar kinders nie.

“Vir my is dit belangrik dat kinders dinge vir hulself uitpluis. Laat hulle toe om foute te maak en daaruit te leer. Dit beteken natuurlik nie ek sal hulle toelaat om sonder ’n rektou van ’n brug af te spring nie. Soms moet jy intree. Maar laat hulle speel; laat hulle leer,” meen sy.

Sy neem die kinders soggens speelskool toe en gaan haal hulle middagete se kant. En wanneer dit nie ’n skooldag is nie, neem sy hulle gereeld na buitelugpl­ekke soos die park of strand.

“Ek probeer ontspanne wees. Ek laat hulle klim en klouter, en wanneer hulle val, hardloop ek nie dadelik nader nie.”

En nee, sy is nie bang iemand sal haar of die kinders in die park aanval nie. “Dis nie my geaardheid nie. Ek en Jono probeer om hulle nie soos babas te behandel nie. Ons praat ook nie so met hulle nie. Wanneer hulle ’n ongemaklik­e vraag vra, beantwoord ons dit,” vertel sy.

Jono, streeksbes­tuurder in hul familieond­erneming (wat nywerheids­meermiddel­s verskaf), glo ook nie daaraan om oorbeskerm­end te wees nie. En hy voel gerus wanneer hy vir sy werk reis, sê hy. “Ek weet Jes sal enigiets doen om ons kinders te beskerm.”

Waarvan hou sy die meeste van moederskap? Die onvoorwaar­delike liefde wat sy elke dag ervaar, antwoord Jes. “Hulle kan jou absoluut gek maak, maar dan bring hulle vir jou ’n blom, en jou hart vermurwe.”

Jes vertel sy dink nog af en toe aan haar slegte ervarings. “Gewoonlik snags wanneer ek om die een of ander rede nie kan slaap nie.”

Daarom kry sy vandag, ’n dekade later, steeds terapie. “Berading is so belangrik. Nadat ek by heelparty beraders was, het ek eindelik ’n wonderlike een gekry. Ons praat selde oor wat destyds gebeur het; ons praat oor die lewe, kinders, skoolkeuse­s . . . Sy is ongeloofli­k.”

Met haar pa gaan dit ook goed, vertel sy. Tim het afgetree en hou hom besig met meganiese werkies in sy motorhuis. “Hy is gelukkig.” Jes se ma, Jaqui, help by die stigting. “Dit gaan goed met my,” sê Jes terwyl sy kyk hoe die tweeling speel.

SY SOU graag nog ’n kind wou hê, vertel Jes, maar sy het ’n sist aan een eierstok ontwikkel. Tydens die operasie om die vergroeise­l te verwyder, het sy ’n deel van die eierstok verloor. “Omdat ek net een eierstok het wat werk, vervaardig dit blykbaar ekstra eiers (en is daar ’n kans dat sy nog ’n tweeling kan hê). Dus is die kans skraal dat ons nog kinders sal probeer hê,” sê sy.

Wat wens sy haar kleingoed toe? “Dat hulle moet wees wat hulle ook al wil, en dat hulle gelukkig sal wees,” sê sy. “As Daniel ’n balletdans­er wil word, kan hy dit word. As Layla ’ n werktuigku­ndige wil wees, kan sy.”

Sy vra Layla: “Gaan jy soos Pappa aan motorwedre­nne deelneem?” Kordaat kom die antwoord: “Net naweke!” Die vier bars uit van die lag. Ja, sy sal die kinders van die verkragtin­g vertel. Sy vrees nie dié gesprek nie; dis deel van haar verhaal. “Ek wil hulle leer slegte goed kan gebeur, maar dat jy dit te bowe kan kom.”

 ??  ?? Jes Foord geniet dit terdeë om haar en manlief Jono se tweeling, Daniel en Layla, groot te maak.
Jes Foord geniet dit terdeë om haar en manlief Jono se tweeling, Daniel en Layla, groot te maak.
 ??  ??
 ??  ?? B BO: Jono en Jes is se ses jaar gelede ge getroud. LINKS: La Layla en Daniel se ge geboorte was vir Je Jes ’n groot stap vo vorentoe.
B BO: Jono en Jes is se ses jaar gelede ge getroud. LINKS: La Layla en Daniel se ge geboorte was vir Je Jes ’n groot stap vo vorentoe.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa