Boeke: Storiemeesters se nuwes
Gerda Taljaard en Dibi Breytenbach het elk ’n derde roman op die rak wat gelees móét word
N ET soos Dibi Breytenbach (regs bo) hou Gerda Taljaard (bo) daarvan om ’n vrou se lyf eg te beskryf. Wanneer die hoofkarakter, Rosaria Roux, ná die strooi van hul dogter se as in die bed beland saam met haar eksman, wonder sy wat hy sien. “Hoe my lyf gekarteer is deur are en bulte? Kuile en plooiings? Hoe my spitskoppies oor die jare afgeplat het?”
“Dis vir my swaar om oud te word,” sê Gerda. “Alles begin hang, uitbult of insak. Dis hier waar onvoorwaardelike liefde inkom: dat jy jou geliefde aanvaar en selfs nog begeerlik vind, ten spyte van hangborste of ’n boep.”
In haar nuwe roman, Die Laksman Se Dogter, sterf Rosaria se vervreemde rockmusikant-dogter in raaiselagtige omstandighede. Tydens en ná die begrafnis onthou Rosaria haar dogter se geboorte, kindertyd en allesoorheersende dwelmverslawing. Sy onthou ook haar eie kinderlewe – hoe sy geword het wat sy vandag is, hoe sy misluk het as ouer en as huweliksmaat en hoe sy waarskynlik bygedra het tot haar kind se middelafhanklikheid.
“Ek het op ’n dag besef ’n klomp van ons vriende en kennisse het kinders met ’n dwelmprobleem, maar dat hulle nie daaroor wil praat nie, want dwelmverslawing word dikwels met armoede verbind. Die teendeel is waar: Kinders uit alle sosiaal-ekonomiese groepe kan dwelmslawe word.
“Eindelik was ’n vriendin bereid om openlik oor haar dogter se middelafhanklikheid te gesels en ek het haar gevra of ek die gegewe kan gebruik.”
Rosaria se skoonma is ’n verruklike karakter: Tevore was sy predikantsvrou; nou sit sy in ’n ouetehuis en rook, drink ’n doppie en leer haar Indiese spreeu vloek. Sy het haar skoot hartseer gehad.
“Sy is ’n ontnugterde mens wat haar lieflingkind verloor het, en wanneer jou kind voor jou sterf, ‘word die orde van dinge versteur, dan rus daai kind nooit. Die ouers ook nie, veral nie die ouers nie.’“
Gerda se gunsteling-toneel is waar Rosaria as kind saam met haar ma en susters na Italië gaan vir haar oupa se begrafnis.
“Die ma verbied hulle om na die oupa in sy kis te gaan kyk, maar een middag toe almal ’n uiltjie knip, sluip Rosaria in en sien daar is ’n gat in sy kop waar hy hom geskiet het. Haar ouma betrap haar, en pleks van haar berispe sê sy iets wat Rosaria vir die res van haar lewe sal bybly: ‘Die dood is ’n uitkoms, vir die dooies én die lewendes.’ ” H AAR vrouekarakters pas nie die stereotipe van ’n aantreklike vrou nie. Daar is ’n prokureur met oorvloedige dye en ’n rokershoes. Die hoofkarakter, Amalia Abrieu, ’n staatsaanklaer, “was nog nooit ’n elegante huiler nie” en weeg genoeg om ’n ambulansman te laat kla wanneer hy haar moet dra.
“Ek doen dit nie doelbewus nie,” sê Dibi Breytenbach. “Indien die vroue se voorkoms nodig was vir die verloop van die verhaal, sou hulle waarskynlik anders gelyk het. Aanhoudende blootstelling aan die skadukant van die lewe maak ’n mens egter broos, en ek hoop dit is daardie weerloosheid wat ek korrek kon weergee.”
Heiliger, haar jongste misdaadroman, bevat hardebaardtonele, maar ook beskrywings soos die “eensame ronding van haar halfontblote bors”.
Dibi sê sy doen moeite met die menslike aspek so tussen die bloed en derms deur.
“Ek skat dat bloed en derms juis die gevolg van die menslike aspek is, van die dae van Kain en Abel af. Ek rebelleer verskriklik teen die ontmensliking wat geweldsmisdaad en die gepaardgaande stelsel tot gevolg het. Dit beroof mense van konteks en identiteit.”
Sy hoef nie baie navorsing te gedoen het vir Heiliger nie, want misdaadagtige goed is deel van haar lewe. “Ek werk al meer as twee dekades in die strafregomgewing en grootliks met geweldsmisdaad. My bestaan ossilleer dus tussen regsgeleerdes, polisiemanne en misdadigers.
“Ek het groot waardering vir die gestroopte mensheid waarmee ek elke dag in aanraking kom. Natuurlik doen ek navorsing vir tegniese goed soos ballistiek en post mortems en in daardie opsig is ek gelukkig om toegang tot kundiges te hê.”
In Heiliger dreig ’n liefdesverhouding tussen Amalia en Hendrik Streicher om passievol stoom te kry. Alles ruk egter tot stilstand toe hy in ’n polisiesel gegooi word omdat hy verdink word van die moord op ’n taxibaas se seun.
Haar gunsteling-toneel is waar Hendrik ’n konfrontasie het met Richter, ’n lui speurder wat eintlik net in staat is om motordiefstal te ondersoek. “Net nadat hy in hegtenis geneem is, probeer Richter hom ondervra. Ek het die toneel voor my oë sien afspeel en kon die vyandigheid tussen die twee mans voel. Ek het my man en seun aanhoudend in Hendrik se posisie geplaas. Dit het my baie diep ontstel.”