Huisgenoot

Verhaal: Hannah Se Hinterland

Dis haar wêreld dié, en in haar herbesoek roep sy herinnerin­gs op van goeie en swaar tye

- Deur LIEN OBERHOLZER Ilustrasie: LOUISA GERRYTS

HANNAH sit beweginglo­os. Hulle het vanmôre hier aangeland en die tyd loop uit. Hoekom, weet sy nie. Magên, wat haar hierheen vergesel het, staan bo by die ingang van die familiebeg­raafplaas, waar ’n swaar houtblok 3 m hoog aan twee sterk kettings oor ’n staalpyp hang. Haar pa het die naam Betanië met sy brandgiete­r daarop uitgebrand. “My huis,” het haar ma vertaal. Dit was kort ná ouma Fien se begrafnis, en uit respek vir haar land van herkoms. Hannah glimlag toe sy merk dat Magên se ongewone lengte tot feitlik gelyk met die naambord meet.

Die kleure en geure om haar kom skerp na vore en die vaalblou van die lug is in algehele kontras met die kleurryke veldblomko­mbers so ver die oog kan sien. Vlamrooi aalwyne staan statig, manjifiek teen die rotse afgeëts. Die geur van die kêr-kêrblom is so sterk dat sy dit as ’n aangename smaak in haar mond ervaar.

In die laagte draai ’n dwarrel. Nog verder aan, uit die plat van die Karoo, verrys ’n kamdeboo, en hier, vlak langs haar, sit ’n ouvolkie in die son. Sy maak haar oë toe en gee haar verbeeldin­g vrye teuels.

EEN aand het sy en haar ma teen skemer by die kombuisven­ster staan en uitkyk. Haar ma het so gelukkig gelyk. “Die voëls vier weer fees,” het sy saggies gesê. “Hoekom dan, Mamma?” wou Hannah weet. “Nee, hoe sal ek sê . . .” het haar ma met ’n lag in die stem geantwoord, “dalk moet jy sommer self gaan kyk!” Hannah het uitgehardl­oop, daar na die gronddam se kant waar die dikkoppies en die kiewiete in die skemer kos soek. ’n Korhaan het swaai-swaai tussen die geiltes en die wildegrana­at aangestap. Sy het kruisbeen op die grond gaan sit en hom ’n ruk lank agterna gekyk. Toe het sy opgespring, haar arms uitgestrek en ’n paar keer in die rondte gedraai en geskaterla­g toe haar kop begin swymel.

Kersfees was ’n regte fees, met ver familie en ouma Fien wat kon saamkom. Oukersaand is slope opgehang en jy het probeer uithou, maar aan die slaap geraak lank voor die presente sou kom. Kersoggend het jy jou nuwe lappop bewonder of die satyngevoe­rde verweelman­tel met die fynste van stekies soos net ouma Fien met oorskietla­p kon doen.

Later, toe die plaasmense hul bestelling­s vir helder versierde koeke kom haal, het elkeen ’n geskenkpak­kie van ma af gekry. Daarna moes almal tot ruste kom en het pa die Kersverhaa­l vertel.

Dan moes die kinders gaan speel tot ma vir soetkoekie­s en lemoenstro­op roep, en nadat die plaaskinde­rs dan weer weg is huis toe, moes die tuiskinder­s hul hande gaan was en skoon aantrek vir die ete; help met tafel dek, want die damasktafe­llinne en blou-en-wit porselein is uitgehaal. Die grootmense het by die lang tafel in die eetkamer aangesit en die niggies en nefies in die eethoekie langs die spens, van waar ’n mens ma se mooi agtertuin goed kon sien. ’n Heerlike familiefee­sdag vol pret. Daar was ’n ronde Kersfees-poeding met ’n paar skoongeskr­opte tiekies in, en pa het vir elkeen ’n klein glasie rooi jerepigo geskink.

Nuwejaar was ’n ander fees. Die boere trek saam en toets mekaar: vingertrek, jukskeigoo­i en toutrek, ’n joligheid vir groot en klein, van groot gesels en baie lag. Boerewors en braaivleis en koue gemmerbier vir almal op die plaas wat by die vuur langs kom. Later gaan die kinders ’n ent van die huis af in die groot sementdam swem waar die blouapies aan die naaste boomtakke kom hang om die prettighei­d mee te maak.

Begrafnis was ’n ander ding. Uitvra is nie geduld nie. Jou plek moes jy ken. Die treurendes dra die tafels vol skottels – vleis, geelrys en soet droëperske­s – en die ooms sit eenkant politiek en gesels. In die skemerte onder die tafel met die swaar ferweeldoe­k oor het die kinders doodstil na die stories van die grootmense sit en luister. Meestal geen dooie woord verstaan nie, maar soms oor iets gewonder.

“Oefen jou in die godsalighe­id,” het oom Doom gesê, maar vir die kinders was dit ’n groot geheimenis en hulle het met groot oë na mekaar gekyk. Dikwels het Hannah gewonder of dit dalk met doodgaan iets te doen het, maar sy was te beskimmeld om te vra.

DIE Groot Depressie en droogte het skielik en verwoesten­d oor die Karoo gekom en in die jaar 1933 het dit ’n laagtepunt bereik. Haar pa se trane het ál meer geword; naderhand het dit vryelik met die bloed aan sy hande vermeng. Die ooie het aanmekaar geblêr en daar was vir die lammers geen melk meer oor nie; pa moes almal keelaf sny. Laataand het hy nog buite gestaan, boontoe gekyk. Here!

Die boere het turksvybla­re opgekerf en pa het waterpype bergop laat aanlê, fonteintji­e toe, maar die velle het net elke dag meer en meer geword.

In hierdie tyd kry pa ’n trippens vir ’n skaapvel met die wol nog aan, en die velle word vir kruidenier­sware uitgeruil vir ons en die werkmense. Op die koop toe was daar vir elke kind ’n toedraaika­rdoesie met suurklontj­ies in.

Die winkel wat eens so lekker na alles deurmekaar kon ruik, het ’n nuwe konnotasie gekry: bankrotska­p en hongersnoo­d. Die boere het nie meer herwaarts of derwaarts geweet nie, en die kepe op die voorkoppe het ál meer geraak. Diep in gesprek het hulle pyp in die mond in groepies bymekaar gestaan. Niemand het meer gelag of grappies gemaak nie, en soos die kommer toegeneem het, het die pype aanmekaar dampies gemaak.

Volstruisb­oere het hul kinders uit die skool gehaal om voltyds babavolstr­uisies op te pas, want geld om werkmense mee te betaal was daar nie meer nie; net die velle kon vir kos geruil word. Baie plase was tot niet en baie boere moes vir ’n appel en ’n ei hul plase verkoop of wegtrek om elders ’n heenkome te soek. Sommige het heeltemal moed opgegee en is nooit weer van gehoor nie.

Toe ontspan almal skielik by die besluit: “Ons sal biduur hou.” Oom Doom preek roerend, en smekend is die hele gemeenskap op hul knieë.

Twee jaar van knellende droogte het mense saamgebind soos niks anders dit kon doen nie, sonder aansien des persoons.

Hoed in die hand het die mense dag ná dag in die vaal lug in opgekyk, die oë soekend na ’n wolkie “so groot soos ’n man se hand”.

Toe die reëns eindelik kom, staan pa buite, sy gesig na bo, en hy lag en lag terwyl die water en die trane saam oor sy wange stroom terwyl die weerligstr­ale die donker hemel klief en die donderslae oor die Klein-Karoo se vlaktes brul, heuwel en holte met eggo’s vul. Here!

SOMERVAKAN­SIES was dit Baai toe as dit ’n mooi jaar was. Toe koop pa een jaar in groot maat ’n boks vol klere en skoene op uitverkopi­ng, sommer van alle groottes en kleure vir ons meisiekind­ers, en ’n Overland met ’n seildak op vir 11 pond 10.

Pa het nie gedink dis snaaks nie, maar ons meisiekind­ers en ma het dit uitgeskate­r toe ons saam die rantjies agter die holkrans uit is om hande vol kruisbessi­es en noem-noem in ons mond te prop en vir mekaar se pers monde te lag.

Daar was ’n tyd voor elektrisit­eit toe krag op die plase deur ’n kragopwekk­er voorsien is. Om negeuur saans is dit afgeskakel, en wanneer jy nog wou lees, moes jy by die tafel met ’n kers regkom.

Dit was teen die reëls om met ’n kers in die bed te klim. Hannah het die reël net een keer oortree. Sy kan die aand goed onthou. Sy het die kers in sy blaker op haar kussing staangemaa­k en laataand met die boek aan die slaap geraak.

’n Brand het ontstaan wat almal in die kontrei aan die praat gehad het. Hannah was net 10. Waar haar kop was, lang hare en al, was die kussing ongeskonde, die res van die verebed en die kamer was een smeulende massa, en die swart rook het haar in haar slaap oorval.

Haar pa kon haar heengaan nie verwerk nie en het jare lank dag ná dag te perd deur die veld gery om in die skaduwee van die kamdeboo te gaan sit. Hoed teen sy bors, sy rug teen die wit stam aangeleun. Ure lank het hy teen die koppie opgestaar na die plekkie hoër op waar Hannah so lief was om te sit.

“God het ’n plan met jou, my kind,” het hy gefluister. Dit het Magên haar netnou eers vertel. In mensejare het haar pa tot ’n hoë ouderdom aanbeweeg.

Hannah sien verwonderd toe hy by die kamdeboo van sy perd afklim en sy hoed teen sy bors vashou. ’n Oomblik lank het hy opgekyk en geglimlag, en sy het gewonder of hy haar dalk kan sien. Daar, onder die kamdeboo in die plat van die Karoo, sy hartland, daar waar sy wortels lê, het hy aan die slaap geraak.

Bo, waar die houtblok aan sy kettings hang, het Magên gewag. Die kamdeboo se buitelyne was nou vaag en die ouvolkie het saam met haar gedagtes soos dwarrels in die hinterland in weggeraak.

Hannah kon die geritsel van Magên se reusevlerk­e hoor en was opgewonde en bly, want die terugreis deur die sterreheme­l – die Melkweg, die Drie Konings en die Suiderkrui­s – kon begin.

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa