Werklose Jani Allan leef van aalmoese
Die eens glansryke Jani Allan het ná 13 jaar as kelner die trekpas gekry en maak nou staat op aalmoese
IN Suid-Afrika het ons haar leer ken as ’n bekkige rubriekskrywer, ’n kleurryke en flambojante woordkunstenaar wat die aarde deurkruis het agter die rykes en beroemdes aan. Jani Allan het in ’n stadium soos ’n ryke in ’n villa bo die Kaapstadse spogbuurt Clifton gewoon en in ’n Ferrari rondgerits. En sy het self die nuus gehaal toe gegis is oor ’n beweerde romanse tussen haar en wyle Eugène Terre’Blanche, die destydse leier van die Afrikaner-weerstandsbeweging.
Maar die afgelope dekade het die inwoners van Lambertville, ’n dorp in New Jersey, Amerika, die eens glansryke Jani leer ken as Juliette, ’n kelnerin in ’n voorskoot wat tussen die tafels ronddraf. Haar werk daar – sy was een van die drie bestuurders en die ontvangsdame – was al manier waarop sy kop bo water kon hou.
Maar nou is Jani (64) daardie inkomste kwyt. Ná 13 jaar het sy die trekpas gekry omdat sy “te oud” is, skryf sy in haar bloginskrywing getiteld Jobless in New Jersey. Sy is al twee maande werkloos en maak staat op aalmoese van vriende.
“Ek het gesmeek, ek is nie te trots om dit te erken nie, dat hulle nie my werkure sny, my skofte inperk en vir ’n 20-jarige gee nie,” skryf sy verder. Maar haar pleidooie het op dowe ore geval. Sy het nou op 48 werksoekwebtuistes ingeskryf. “Ek het nie geld vir huur nie, laat staan nog nutsdienste, ’n mediese fonds of kos,” skryf Jani, wat haar woonstel met haar dwergkees-hondekinders deel.
’n Vriendin het haar oor Jani ontferm en ’n blad op die geldinsamelwebtuiste GoFundMe begin. En die dollars rol in. Teen druktyd is meer as R52 000 al ingesamel. “Dinge gaan regkom. Vasbyt, meisie,” skryf ene Maggie Taylor, wat R650 geskenk het. Ander stel voor: Kom huis toe, Jani!
Kort nadat haar blog soos ’n veldbrand aanlyn begin versprei het, het Jani self op Facebook laat hoor: “Maak vir my ’n werkaanbod in Suid-Afrika en ek sal dit oorweeg.”
Op haar kenmerkende spitsvondige manier het sy ook mense bedank wat hul hart én beursie vir haar oopgemaak het. “Aan die wonderlike mens wat vir my ’n broodjie gemaak en op my drumpel gelos het, mag jou stam aangroei. Aan die mens wat my ‘afgedank’ het omdat ek ‘te oud’ is, karma is ’n teef, meisie.”
NET so benard soos haar posisie nou is, so verstommend was haar suksesverhaal. “Toe ek Jani Allan was, kon ek die vertrektyd van ’n vliegtuig vertraag,” het sy in 2013 in ’n onderhoud met die Mail & Guardian gesê. Sy was eenkeer laat vir ’n binnelandse vlug, maar op die aanloopbaan het sy vir die vlieënier gewaai en toe het hulle vir haar gewag, het sy vertel.
Maar vir daardie Jani Allan het die doodsklok gekom toe sy ná ’n onderhoud met Eugène Terre’Blanche in 1988 liries raak oor die “blou vlamme van sy blaaslamp-oë”.
Die tonge het begin klap dat die twee die kat in die donker knyp. Die gissings en ’n bomontploffing ’n jaar later by haar woonstel in Johannesburg – dit was vermoedelik ’n sluipmoordaanval deur verregses – het Jani landuit gedryf.
“Sy is ’n goeie skrywer en is deur die publiek en media hier weggejaag omdat sy die ‘ h***’ in die verhaal was,” sê Herman Lategan, ’n vryskutjoernalis en skrywer van Kaapstad wat met haar bevriend is. “In Amerika het sy ook gesukkel. Later het sy wel werk as ’n kelnerin gekry en dit is sy nou kwyt weens ouderdomsdiskriminasie. Dis baie hartseer.’’ Jani is baie “broos”, vertel Herman. Haar lewensverhaal is ’n ope boek danksy haar memoires, Jani Confidential, wat in 2015 verskyn het. Die Brits gebore Jani is ná haar geboorte in 1952 aangeneem deur Jack Allan, ’n koerantredakteur van Edinburgh, Skotland, en sy vrou, Janet, die dogter van ’n Rhodesiese minister. Hulle het haar Isobel Janet gedoop, maar Juliette was haar ma se troetelnaam vir haar. Jack is oorlede toe Jani net 18 maande oud was. Sy en haar ma het later Suid-Afrika toe verhuis, waar Janet weer getrou het toe Jani vyf was. Sy is as ’n musikale wonderkind grootgemaak en op 10 was Jani reeds ’n klaviersolis vir die Johannesburgse Simfonieorkes. Eers toe sy 18 word, het haar ma vir haar vertel sy is aangeneem.
Jani het musiek en kuns aan die Universiteit van die Witwatersrand studeer, waar sy in 1973 haar eerste man, die sakeman en kunsversamelaar Gordon Schachat, ontmoet het. Dié het die 21jarige Jani selfs eendag met ’n RollsRoyce vol blomme verras.
Jani, wat ook ’n model was, het resensies oor klassieke musiek vir die koerant The Citizen begin skryf. ’n Paar maande later het sy vir die redakteur, Johnny Johnson, gesê sy wil ’n rubriek skryf. “Net spesiale mense kan rubrieke skryf,” was sy antwoord. “Jy is nie spesiaal genoeg nie. Jy is ’n Barbie-pop,” vertel sy in haar memoires.
’n Week later het sy by die Sunday Times-redakteur, Tertius Myburgh, gaan aanklop. Dié wou weet of sy joernalistieke ervaring het. Haar antwoord? “Nee, maar niemand is volmaak nie.” Sy is dadelik aangestel. Tertius het haar later spesiaal vir haar rubriek tot Jani herdoop.
Net weke nadat sy in 1980 by die Sunday Times begin werk het, is sy na die Griekse eiland Corfu om daar op die stel van die James Bond-fliek For Your Eyes Only met die Hollywood-legende Roger Moore te gesels.
In 1982 het sy en Gordon ewe romanties op die eiland Mauritius afgehaak, maar net twee jaar later het die huwelik in die skeihof beland. Dit was weens haar “obsessie” met haar medialoopbaan, sou Jani later erken.
Vier jaar later, in 1988, het haar pad met dié van Eugène gekruis.
Sy sou later skryf hy is “aantrekliker as sy TV-beeld van ’n vark in ’n safaripak”.
Toe klap die tonge oor ’n beweerde affair. Skielik was Jani self die storie. In 1992 het sy die Britse TV-kanaal Channel 4 vir laster gedagvaar omdat hulle in ’n dokumentêr, The Leader, His Driver and the Driver’s Wife, daarop gesinspeel het dat sy ’n beweerde seksuele verhouding met hom gehad het. Jani het dit ten sterkste ontken, maar haar destydse woonstelmaat, Linda Shaw, het getuig sy het hulle deur ’n sleutelgat sien kafoefel en Jani het die saak verloor.
In 1996 het sy uit Londen teruggekeer na Suid-Afrika en onder meer ’n radioprogram op Cape Talk aangebied. In 2001 het Jani Amerika toe geëmigreer, waar sy met ’n entrepreneur, Peter Kulish, getrou het. Hulle het op die ryk mansdorpie New Hope nesgeskop.
Die huwelik het net twee jaar gehou. Dit was “’n ramp”, sou Jani later aan die Mail & Guardian sê.
Sy het ná haar egskeiding na die nabygeleë Lambertville getrek. Haar lewe daar het uit haar “karakterlose woonstel (wat op ’n parkeerterrein uitkyk)” en haar werk by die Grill Room bestaan, skryf sy in haar blog.
Sy is op die dorp bekend as “die mal Britse vrou met die klein hondjies”, het ’n inwoner, Riste Vaher, in 2013 aan die Mail & Guardian vertel. “Sy’s hoogs intelligent, maar ek het haar al gesien eiers koop wat reeds gekook is.”
Maar vir die werklose, platsak Jani klink daardie saai bestaan seker deesdae soos die goeie ou dae.
‘Maak my ’n werkaanbod in Suid-Afrika en ek sal dit oorweeg’