HELP, DIÉ WERK MAAK MY ÁL BANGER EN NET ARMER!
Suid-Afrika verloor ál meer verloskundiges. Wat is die redes hiervoor en wat word gedoen om die uittog stop te sit?
SY IS dood weens bloeding ’n dag ná haar babadogter, Lisakhanya, se geboorte. En die Witbankse ginekoloog wat haar natuurlike bevalling hanteer het, se loopbaan is moontlik aan skerwe nadat hy skuldig bevind is aan strafbare manslag.
Dr. Danie van der Walt kon Pamela Daweti (23) se dood in Augustus 2005 voorkom het, was regter Marlene Greyvenstein se omstrede beslissing voor sy hom vyf jaar tronkstraf opgelê het. En al appelleer Van der Walt se regspan teen die vonnis, het sy saak ginekoloë en verloskundiges opnuut die skrik op die lyf gejaag.
Die risiko van strafregtelike vervolging en hul reuse-versekeringspremies lei tot ’n uittog van dié spesialiste. Vyftig tot 60 het sedert Januarie dié veld verlaat, sê dr. Johannes van Waart, voorsitter van die Suid-Afrikaanse Vereniging van Verloskundiges en Ginekoloë (SAVVG).
“Ek het geen ander keuse gehad as om daarmee op te hou nie,” verduidelik dr. Steyn Smit, een van die vier ginekoloë van Worcester wat die afgelope jaar opgehou met verloskunde. Niemand op dié dorp behartig langer bevallings nie.
Volgens Steyn het dit finansieel onhoudbaar geraak. (Sien die kassie.) “Dit is nie ’n besluit waaroor ek tevrede voel nie. Ek sal niks eerder wil doen as om weer verloskunde te praktiseer nie.”
In die lig van sy kollega in Witbank se skuldigbevinding en vonnis sal Steyn enigiemand vir eers afraai om in dié rigting te spesialiseer. “Dis ’n ongelooflike werk en ’n voorreg om dit te doen, maar dit is net te onseker en raak ál erger.”
IN SY appèl voer Van der Walt se regspan onder meer aan hy het Pamela gewaarsku haar bekken is te klein om natuurlik die lewe te skenk. Maar Pamela se ma, Buyiselwa Maditjane, het volgens Van der Walt daarop aange- dring dat sy natuurlik kraam.
Ongeag die uitkoms van sy appèl sal Suid-Afrika aanhou kundiges in dié kritieke veld verloor. Dit het vir hulle net te duur geraak om die versekering uit te neem wat hulle in geval van siviele eise moet beskerm. Gewoon gestel: Baie dokters kan dit nie meer bekostig om ’n verloskundige te wees nie.
Dr. Tobie de Villiers, ’n ginekoloog van Kaapstad, sê hy weet van twee jonger kollegas wat onlangs verloskunde gestaak het – en nog vier wat dit oorweeg om die veld te verlaat. Hy behartig bevallings, maar moet noodgedwonge meer as twee keer die mediesefondstarief van net meer as R4 000 vir bevallings vra sodat hy sy dekking teen eise kan betaal.
Die krisis raak die openbare én die privaat sektor, sê Johannes. “Die openbare sektor het nie versekering nie; eise moet uit die gesondheidsdepartement se begroting betaal word.”
Vir die boekjaar 2016-’17 het KwaZuluNatal altesaam R243 miljoen en die OosKaap R210 miljoen aan mediese eise betaal, waarvan ’n groot deel verband gehou het met eise wat uit verloskunde gespruit het.
Prof. Hennie Botha, uitvoerende hoof van die departement verloskunde en ginekologie aan die Universiteit Stellenbosch, beskryf dit as ’n bose kringloop.
“Ná uitbetalings het ons soveel minder om pasiënte mee te versorg. Hoe meer ons aan eise uitbetaal, hoe minder geld het ons om dokters en susters aan te stel en hoe groter die risiko vir pasiënte.”
WAAROM IS DIÉ EISE SO HOOG?
Geboorte- en nageboortesorg is dikwels ingewikkeld, sê Hennie. “Gestel ’n baba doen breinskade op weens te min suurstof met geboorte. Die baba sal dan lank versorging nodig hê. Die hof sal gewoonlik ’n baie groot bedrag toestaan as bevind word iemand was nalatig.”
Volgens Johannes word baie eise ingestel wanneer babas serebraal gestrem is. Die ironie is net 15 persent van babas wat serebraal gestrem is, doen dit op weens komplikasies met geboorte.
In die regstelsel word na die “eens en vir altyd”-beginsel verwys, verduidelik hy. “Jy kry een kans om te eis vir al die skade wat aangerig is en alles wat potensieel in die toekoms aangerig kan word.
“Soos die tegnologie verbeter, word ’n klomp eksperimentele terapieë vir serebrale gestremdheid ook voorgehou as behandeling wat werk. Eise word dan ingestel ingeval dit oor 10 jaar ’n verskil kan maak; daarom word dié eise ál groter.”
Dat ’n kind nog tot die dag voor sy 19de verjaardag ’n verloskunde-eis kan instel, maak die situasie volgens hom selfs meer ingewikkeld. “Die versekeraars moet nou ’n vooruitskatting doen oor wat 10 jaar gelede gebeur het. Hoeveel van dié eise sal nog kom? Daarom is verloskundeeise so geweldig groot.”
Eise word ook dikwels teen ginekoloë ingestel wanneer ’n diagnose tydens sonar-ondersoeke misgekyk word.
As ’n kind met ’n genetiese afwyking gebore word, kan sy ouers die ginekoloog dagvaar as hy dit nie tydens die voorgeboortelike sonar-ondersoek raakgesien het nie. ’n Ginekoloog kan dus gedagvaar word as hy nie besef het die fetus toon tekens van ’n gebrek of gestremdheid of die ouers nie daaroor gewaarsku het nie.
Volgens Johannes is al dié eise nie noodwendig betaalbaar nie aangesien sekere afwykings selfs in ervare hande nie opgespoor kan word nie.
“Port Elizabeth het byvoorbeeld geen geregistreerde fetaal-moederlike sonarspesialiste nie,” sê hy. “Dis die hoogste vlak van sonarspesialiste; dus voer ervare ginekoloë sonars in dié stad uit, maar hulle word geregtelik gemeet aan die ‘perfekte uitkomste’ van superspesialissonoloë. Hulle is dus geensins nalatig nie; hulle word net gemeet aan onrealistiese standaarde in dié verband.”
BEDRYF SE REDDINGSPLAN
Die SAVVG het die BetterObs-program ingestel, waarmee hulle veilige bevallings bevorder en so regseise wil verminder. Hiermee het hulle ’n protokol opgestel wat dokters oral moet volg om swak uitkomste met bevallings te verminder.
Hulle het ook moeder- en neonatalesterflikheidsvergaderings ingestel. Op hierdie tweemaandelikse vergaderings kan verloskundiges, kraampersoneel en pediaters in privaat hospitale met mekaar praat en probleme uitstryk. Ook is ’n bemiddelingspaneel gestig om potensiële litigasieklagte te bekyk.
Die SAVVG het die Suid-Afrikaanse Regshervormingskommissie voorts gevra om wetgewing aan te pas om eise te beperk. Hulle vra meer klem op vreedsame bemiddeling en gestruktureerde uitbetalings aan pasiënte.
Die organisasie vra ook dat prokureurs ’n sertifikaat van meriete by die hof indien wanneer ’n saak aanhangig gemaak word sodat hulle vir ongegronde eise aanspreeklik gehou kan word.
Johannes sê hy dink darem nie daar sal binnekort glad nie meer dokters wees wat babas in die lewe bring nie. Hulle raak wel ál minder en die oorblywendes se werklas ál groter, wat ál meer druk op hulle plaas. Nogtans glo hy die BetterObs-program maak ’n verskil en dat dit in die toekoms kan help om dokters se versekeringspremies te verlaag. EKSTRA BRONNE: TIMESLIVE.CO.ZA, IOL.CO.ZA