Huisgenoot

Liedjie Despacito laat almal dans

Hier’s wat jy moet weet oor die liedjie wat die ganse wêreld laat sing en dans

- Saamgestel deur NICI DE WET

DES . . . pa . . . ci-to. . .” Ja, ons wed jou dié refrein draai ook gereeld deur jou kop. Van Brasilië tot Bloemfonte­in dans en sing mense immers saam wanneer die aansteekli­ke Latyns-Amerikaans­e trefferlie­djie speel. Praat van ’n oorwurm! Die liedjie Despacito laat die poprekords behoorlik spat en het oornag sterstatus besorg aan die sangers Luis Fonsi en Daddy Yankee. En boonop het dit van die berugte krotbuurt in Puerto Rico waar die musiekvide­o geskiet is, ’n gewilde toeristebe­stemming gemaak.

“Dit is so ’n groot eer,” sê Luis. “Die hele wêreld sing in Spaans. Danksy ons het almal die woord ‘despacito’ gaan google om uit te vind wat dit beteken.”

Net ingeval jy nog nie self uitgevind het nie: Dit beteken “stadig”. En ja, die liedjie met sy vinnige tempo is gelaai met seksuele innuendo. Maar dis heelpad goedvoelpr­et en Despacito is die grootste Spaanse treffer sedert Los del Río se Macarena in 1996.

“Dit is ongeloofli­k, veral gegewe die tyd waarin ons leef,” sê Luis. “Dit voel of ons weens politiek in ’n verdeelde wêreld leef. Maar dan hoor jy Despacito en jy sien hoe iemand wat nie Spaans kan praat nie kliphard probeer om die lirieke reg te kry. Dit wys jou die mag van musiek.

“Ons breek grense af. Dit is vir my die beste ding wat hieruit gekom het.”

LIEDJIE VERANDER LEWENS

Die video vir die oorspronkl­ike liedjie is geskiet in La Perla, ’n barrio (krotbuurt) met sowat 1 600 inwoners in Ou San Juan, Puerto Rico. Buitestand­ers het die plek voorheen vermy omdat dit deur dwelmbende­s regeer is.

Deesdae lok dit besoekers op soek na die “Despacito-ervaring”. Hulle wil die plek sien waar die liedjie verfilm is, soos die rotse op die strand waar Luis die refrein sing, en die seemuur waar Zuleyka Rivera, ’n Puerto Ricaanse model, aktrise en voormalige Mej. Heelal, in die video stap.

“Ek het beslis oor die video gekom,” erken Jennifer Adams, ’n 28-jarige onderwyser­es van Amerika. “Ek het die musiekvide­o al talle kere gesien en het geweet waarheen om te gaan. Ek het foto’s geneem en probeer dans.”

Die liedjie se sukses is ’n “seën wat uit die lug geval het”, sê Yashira Gomez, voorsitter van die La Perla-gemeenskap­sraad. “Dit bring broodnodig­e geld in om ons omgewing te verbeter.”

DIE MANS AGTER DIE TREFFER

Die liedjie is Luis Alfonso Rodríguez López-Cepero, oftewel Luis Fonsi, se geesteskin­d.

Die 39-jarige Puerto Ricaanse sangerlied­jieskrywer is een van die grootste name in Latynse pop die afgelope 20 jaar, met agt albums en ’n Latynse Grammyprys.

Hy het al saam met talle bekendes gesing, onder andere Christina Aguilera, saam met wie hy in 2000 ’n duet gesing het op haar Spaanse album Mi Reflejo. En Billboard het hom in 2011 as die leier van ’n nuwe generasie Latynse popsterre aangewys.

Hy beskryf Despacito as “daardie liedjie wat net ontplof het. Dis opwindend. Dis nie so beplan nie. Ek het glad nie pro-

beer om ’n liedjie te skryf wat wêreldwyd gewild sou wees nie.”

Luis het ’n loopbaan gebou deur romantiese ballades te sing. Volgens hom het hy “een oggend wakker geword met Despacito in my kop, en dit was basies net die melodie van die koorgedeel­te en die woord ‘despacito’.

“Dis al wat ek gehad het. Toe neem ek dit op my foon op.”

Hy het dit na die ateljee by sy huis geneem waar hy saam met Erika Ender, ’n “wonderlike liedjieskr­ywer van Panama”, gewerk het. “Ek het haar gesê ek het hierdie goedvoelli­edjie en ons moet ’n bietjie met die woord ‘despacito’ speel. Dis waar ons begin het en ons het die liedjie daardie middag voltooi.”

Luis het sy pel die Puerto Ricaanse kunstenaar Daddy Yankee (40) nader gehark om ’n “bietjie woema” by te voeg.

Daddy (sy regte naam is Ramón Luis Ayala Rodríguez) is in musiekkrin­ge as die Koning van Reggaetón bekend nadat hy dié genre in 2004 aan die wêreld bekendgest­el het met sy treffer Gasolina. “Daddy het net sy toorkuns daarby gevoeg. Die rapgedeelt­e kom alles van hom af – dit was die kreatiewe lagie by dít wat ek reeds gehad het,” sê Luis.

Hulle het instinktie­f geweet hulle het iets spesiaals beet, maar het nooit kon droom dit sou stratosfer­iese sukses behaal nie.

Talle musikante het ná die liedjie se sukses na hom uitgereik. “Groot sterre na wie ek opsien, het kom sê: Daardie liedjie verander die musiekbedr­yf; dankie dat jy deure vir Latynse musiek op soveel plekke oopmaak.”

BIEBS WIL SAAMSING

Justin Bieber het op die Despacitos­ukseswa gespring nadat hy die liedjie tydens sy toer in Suid-Amerika gehoor het.

“Ek het ’n oproep van my platemaats­kappy gekry om te sê Justin het die liedjie in ’n nagklub in Colombia gehoor en wou saamsing daarop,” vertel Luis. “Hy het gesien hoe almal daarop reageer en toe wou hy die volgende dag ateljee toe gaan en dit opneem. Ek het gesê: Ja, stuur die liedjie vir hom! Kom ons doen dit.”

Tot sy verbasing het Justin (23) besluit om die koorgedeel­te in sy hervermeng­ing van die liedjie in Spaans te sing. “Dis ’n groot ding vir Latynse musiek dat ’n wêreldbeke­nde ster soos Justin Bieber die moeite doen om die liedjie te sing, en dat hy dit in Spaans gedoen het. Ek het al liedjies in ander tale gesing en weet hoe moeilik dit is.”

Hy sê hy vergewe Justin vir die voorval in Mei toe hy die woorde vergeet het by ’n optrede in ’n nagklub in New York en toe “bla, bla, bla” sing. “Die koorgedeel­te is nie maklik nie,” sê Luis. “Dit laat selfs sangers soos ek wat vlot is in Spaans, se tong knoop.”

DIS HOEKOM DIT SO ’N GROOT TREFFER IS

’n Eenvoudige ritme, Spaanse kitaarklan­ke, skerp basklanke en uitstekend­e sang was genoeg om dit van die begin af ’n treffer te maak, sê Sebastian WernkeSchm­iesing van die aanlyn musiektyds­krif Dance-Charts.

“Dit werk goed op die dansvloere en oor die radio.”

Brittany Spanos, van die tydskrif Rolling Stone, beskryf dit as “verleideli­k, sexy en aansteekli­k”. James Kellaris, ’n komponis en dosent aan die Universite­it van Cincinnati, sê dit “bevat oorwurmele­mente omdat dit vrolik, eenvoudig en herhalend is en ’n aansteekli­ke ritme het”.

“Stroomdien­ste het dit moontlik gemaak dat ’n liedjie met ’n anderse ritme, van ’n ander kultuur en in ’n ander taal wêreldwyd groot sukses behaal,” sê Lucian Grainge, uitvoerend­e hoof van die Universal Music Group.

“Luis Fonsi het reeds die onbetwiste grootste liedjie van die jaar, en nou behaal hy nog groter rekords. Dis ’n reuseprest­asie.”

 ??  ?? BO: Justin Bieber se hervermeng­ing van die Puerto Ricane (LINKS BO) Luis Fonsi (links) en Daddy Yankee se Despacito het die popwêreld verower.
BO: Justin Bieber se hervermeng­ing van die Puerto Ricane (LINKS BO) Luis Fonsi (links) en Daddy Yankee se Despacito het die popwêreld verower.
 ??  ?? NAASLINKS: Die voormalige Mej. Heelal Zuleyka Rivera verskyn in die video van die oorspronkl­ike liedjie, wat in die krotbuurt La Perla in San Juan, Puerto Rico (LINKS), verfilm is.
NAASLINKS: Die voormalige Mej. Heelal Zuleyka Rivera verskyn in die video van die oorspronkl­ike liedjie, wat in die krotbuurt La Perla in San Juan, Puerto Rico (LINKS), verfilm is.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa