Atleet versit berge om hond te kry
In sy boek vertel Dion Leonard waarom hy berge versit het om die rondloperbrakkie aan te neem wat tydens ’n moordende ultramarathon in een van die gevaarlikste gebiede op aarde spontaan sy drafmaat geword het
HY HET aan een van die mees veeleisende uithouwedlope in die Chinese en Mongoolse woestyn deelgeneem toe ’n vuilerige hond langs hom begin draf. Binne ’n paar dae is ’n band tussen hulle gesmee. Toe Dion Leonard die wedloop voltooi, het hy besluit hy kan nie die kordate brakkie daar agterlaat nie, maar om haar saam Skotland toe te neem sou ’n marathonpoging vereis.
HULLE sê dit verg ’n dorpie om ’n kind groot te maak. Toe ek in China my hart tydens een van die moordendste uithouwedlope ter wêreld op ’n rondloperhond verloor, sou ek ontdek dit verg meer as ’n dorpie om ’n troeteldier te red. Ek sou die helfte van die planeet se hulp nodig kry.
Haar naam is Gobi, want toe ek haar die eerste keer sien, was dit teen die koue, ruwe hange van die Tian Shanberge wat aan die Gobi-woestyn in die noordweste van China grens. Sy is gebore om in die heuwels rond te hardloop, ’n ware klimmer. Wanneer sy voor my uitgalop, word sy met elke sprong nog lewendiger. Haar stert swaai so vinnig dat dit wasig word; haar hele lyf bons en pols van vreugde. Sy kyk om na my en ek kan sweer sy grinnik.
Maar toe ek haar die heel eerste keer sien, is sy nie aan die hardloop nie, maar aan die bedel. Dit is aan die einde van die eerste dag van ’n ultramarathon; ’n sewe dae lange wedloop van 249 km in een van die gevaarlikste gebiede op aarde – yskoue bergpieke, voortdurende wind en die verlate, lewelose struikveld bekend as die Gobi-woestyn. En ek is van plan om daardeur te hardloop.
Ná donker sit die ander drawwers om ’n vuur en gesels oor hoe taai die eerste skof was. Ek sluit by hulle aan om vir ’n ete uit ’n pakkie water te kook: ontwaterde chili con carne. En toe sien ek ’n klein sandkleurige hondjie met pragtige donker ogies en ’n snaakse snor en baard.
Dit loop tussen die stoele rond en gaan staan op sy of haar agterpote en bekoor mense om dit stukkies kos te voer. Om deelnemers aan ’n ultramarathon sover te kry om van hul kos afstand te doen is geen maklike taak nie; hulle het elke kilojoule nodig wat hulle kan kry. Slim hond, dink ek, maar ek gaan jou nie voer nie.
Toe ek die volgende oggend by die wegspringstreep afkyk, sien ek die hond weer. Dit staan by my voete, oënskynlik geboei deur die geel kamaste (stukke materiaal wat wedlopers om hul enkels dra om te keer dat gruis in hul tekkies beland) op my skoene. Die stert bly waai.
Toe doen dit die vreemdste ding. Dit kyk op, in my oë, en ek kan nie wegkyk nie. Ek hoor die wedloopbeampte aftel vir die wegspring. “Toe nou, gaan weg,” sê ek vir die hond. “Jy gaan vertrap word.” Ek swaai my voet na die hond toe en dit hap speels aan die kamas.
En toe spring ons weg en die bewegende kamaste verskaf die hond wat om my voete dartel nog groter pret. Dit hou sowat 500 m daarmee vol en toe verdwyn dit. Ek sê vir myself ek is bly daaroor, want ek was bekommerd dat ek oor die hond sou struikel. Maar ná ure se strawwe hardloop deur die steil, beboste gebied val die hond weer langs my in.
Toe ons teen die einde van die dag die streep oorsteek, voel ek aan die mense juig harder vir die hond as vir my. ’n Vrywilliger bring ’n emmer water en die hond drink dit gulsig. Ek gaan langs ’n tent sit en haal ’n stuk biltong uit. Die hond se oë is vasgenael op my.
Met ’n stuk biltong halfpad na my mond, tref dit my ek het die hond heeldag niks sien eet nie. Selfs nou, al moet dit doodhonger wees, probeer dit nie kos steel nie. “Daar’s hy,” sê ek en gooi die helfte van die vleis neer. Die hond kou, sluk, draai ’n paar keer in die rondte en gaan lê. Binne sekondes lê dit opgekrul langs my y en snork.
Van die e ander ouens kom na namy my en sê hoe oulik my nuwe vriend lyk terwyl dit slaap. “Jy moet dit ’n naam gee,” sê een. Ons kyk gou en sien dis ’n tefie. “Ek gaan haar Gobi noem,” sê ek.
DIE volgende oggend en die res van die week is Gobi by my by die wegspringplek. Op die derde dag bereik ons ’n rivier wat sowat 45 m breed is. Ek loop in en konsentreer daarop om op die gladde rotse en in die vinnige stroom my balans te behou. My sak is hoog op my rug, want my kosvoorraad kan geruïneer word as ek in die water sou val.
Ek aanvaar Gobi volg my, tot ek haar hoor blaf en tjank. Met elke tree wat ek gee, word die geluid nog wanhopiger. Ek het reeds ’n kwart van die rivier oorgesteek toe ek iets doen wat ek nog nooit tevore tydens ’n wedloop gedoen het nie: Ek draai om. Ek druk Gobi onder my linkerarm in en gebruik my regterarm vir balans terwyl ek weer stadig deur die vinnig vloeiende water begin stap. Gobi wriemel nie. Haar kop is langs my gesig, en toe ek na haar kyk, kan ek sweer sy kyk met liefde en dankbaarheid na my.
Toe ek eindelik by die ander wal opsukkel, in sopnat drafklere met ’n hond teen my bors vasgeklem, sit daar ’n ou man op ’n donkie langs die pad vir ons en kyk. Ek kan my nie voorstel wat hy van my en Gobi dink nie.
Met die vierde en vyfde skof terwyl die woestyntemperatuur tot so hoog as 57 °C styg, is ek bang Gobi sal moeg en ontwater raak. Ek gee haar vir een van die organiseerders, wat beloof om in hul konvooi na haar om te sien. Sy sal by die eindstreep vir my wag.
Ek mis dit om die hond aan my sy te hê. Die manier waarop sy hardloop – vasbeslote, konsekwent, toegewyd – inspireer my. Sy laat nie toe dat honger of moegheid haar haar pas laat verslap nie. Ek kan nie wag om haar weer te sien nie.
Toe ek om die laaste draai kom, sien ek Gobi in die skadu sit en die horison dophou. Toe sy my sien, word sy ’n wasige prentjie van bruin pels wat na my toe aangehardloop kom, stert in die lug, haar tongetjie swaaiend.
Daardie aand vertel ek die ander drawwers ek het in die woestynhitte ’n besluit geneem: Wanneer ek weer Edinburgh toe vlieg na my vrou, Lucja, toe, wil ek Gobi saamneem.
Tot my verbasing en vreugde bied my vriende dadelik aan om tot die koste by te dra. Ook hulle wil hê Gobii moet veilig wees. “Enige hond d wat so taai is, verdien ’n ge-- lukkige einde,” sê een.
Maar eers moet ek Lucja daarvan vertel. Ek tel die foon op en bel bewerig. Maar voor ek veel meer as “hallo” kan sê, vra Lucja oor Gobi uit. Sy het van die ander deelnemers se blogs gelees en hulle almal praat oor my hond. Party het selfs foto’s opgelaai. “Sy’s ’n oulike dingetjie, nè?” sê Lucja. “Gaan jy haar huis toe bring? Toe ek oor haar lees, het ek dadelik geweet jy sal dit wil doen.”
Sy begin navorsing doen oor hoe om Gobi huis toe te neem. Ons besef gou dit gaan nie maklik – of goedkoop – wees nie. Benewens die koste van die vlug terug Engeland toe, sal sy maande lank in kwarantyn moet bly.
Eers sal ons haar moet wegkry uit China, ’n land wat die internasionale prys vir rompslomp kan wen. Die owerheid daar dring daarop aan dat sy 30 dae in die land bly vir mediese ondersoeke.
Daarna sou Gobi dwarsoor China vervoer moet word vanaf die afgeleë stad Ürümqi naby die Mongoolse grens, waar die wedloop gehou word, na Beijing. Dan het hetonsnogons nog ’n ’nkratenvlughukrat en vlug huis toe nodig. Dit sou minstens R75 000 kos, sonder die kwarantynkoste van R22 500.
Maar vreemd soos dit klink, is Gobi reeds lid van die familie. En jy draai nie sente om wanneer dit by familie kom nie.
Ek vlieg terug Edinburgh toe en laat Gobi in die sorg van een van die wedloop-organiseerders, Nurali, wat beloof om te sorg dat my hondjie veilig is. Teen die tyd dat ek en Lucja herenig is, het ek reeds e-posse ontvang van vreemdelinge wat op die drawwers se blogs gelees het dat ek ’n nuwe troeteldier het. Verskeie mense bied aan om geld te skenk om die uitgawes te dek.
Ek en Lucja besef Gobi se moed en vasberadenheid het baie mense geraak. Ons begin ’n skarebefondsingsblad, ’n aanlyn versoek vir skenkings groot en klein, en kry dadelik reaksie. My foon tjirp elke keer dat iemand ’n pond of twee skenk, en ek geniet dit om die skenkers se kommentaar te lees. Om Gobi te help maak mense gelukkig.
Binne 48 uur kry ek ’n oproep van ’n koerant wat ’n blad met foto’s van my en Gobi publiseer met die opskrif: “Ek sal nie my ultramarathon-pel in die steek laat nie.” En toe stroom die skenkings in. My foon gaan wild tekere.
Ek is verbaas. Ek kan skaars glo wat aan die gebeur is. Binne 24 uur bereik ons ons teiken van R75 000 en skielik wil TV- en radiostasies van Skotland tot Nieu-Seeland met my praat.
My kommer oor verskuilde uitgawes en rompslomp verdwyn oornag. Danksy soveel mense oor die wêreld heen se vrygewigheid weet ek bo alle twyfel ons kan Gobi huis toe bring.
Daar is net een probleem: Nurali, die vrou wat die hond in China versorg, beantwoord nie meer ons e-posse nie. Die stilte bekommer my ál meer. Ná drie dae en ’n paar beangste oproepe kry ek ’n antwoord. Nurali was in Amerika. Terwyl sy weg was, het haar skoonpa na Gobi omgesien en die hond het toe weggeloop.
My kop draai. My maag trek op ’n knop. Nurali verseker my mense is op soek na die hond, maar dit kalmeer my glad nie. Dis moeilik om ’n duidelike antwoord oor enigiets te kry, maar uit wat ek kan aflei, kan Gobi al 10 dae lank weg wees.
Ek kontak dadelik ’n hondeliefdadigheidsorganisasie in China en laat druk plakkate wat ’n beloning van R15 000 aanbied vir Gobi se veilige terugkeer. Dit word oor Ürümqi heen uitgedeel. Maar ek weet Gobi kan maklik elke 20 minute twee of drie kilometer aflê – in 10 dae kon sy na enige plek in Asië gegaan het. Sê nou sy het my gaan soek in die Tian Shan-berge, waar ons mekaar ontmoet het?
Ek deel die nuwe inligting op die skarebefondsingsblad en verseker mense dat as die ondenkbare sou gebeur en Gobi nie gevind word nie, sal ek geen van die
beloofde skenkings laat uitbetaal nie. Maar die mense bekommer hulle nie oor die geld nie – ook hulle is verpletter omdat Gobi weggeraak het.
Talle stuur positiewe boodskappe vol simpatie, gebede en goeie wense. Ander waarsku dat Gobi dalk ontvoer is vir ’n losprys, al het ons geen eise daarvoor ontvang nie.
Party is bang dat sy dalk doodgemaak en geëet kan word. Maar dis hoogs onwaarskynlik. Ürümqi is grotendeels ’n Moslemstad en honde word as onrein beskou. Anders as in party dele van China word hulle nie as eetbare diere beskou nie.
Toe haal die nuus die nasionale media en ek voel, dalk irrasioneel, dat party mense my vir Gobi se verdwyning blameer. Dat ek nie goed genoeg na haar omgesien het nie. ’n Deel van my voel ook so.
Daar is net een ding wat ek kan doen: Ek moet soontoe vlieg en na haar help soek. “Ek moet net,” sê ek vir Lucja. “As ek dit nie doen nie en ons vind haar nooit, sal ek nie met myself kan saamleef nie.”
MET my aankoms in China tref die werklikheid van die situasie my en ek glo vas alles is hopeloos.
Die meeste mense verstaan nie hoekom ek so vasbeslote is om ’n vermiste hond op te spoor nie. Hulle dink oënskynlik enige brak sal goed genoeg wees.
Nadat ek op ’n plaaslike nuusstasie ’n pleidooi gelewer het, bel ’n vrou en hou vol sy het Gobi gesien . . . in ’n droombeeld. Volgens haar psigiese sintuie is my hond in die berge.
Ons het hewige rusies met skoonmakers wat kapsie maak teen ons pam- flette. Tot 50 mense sluit by die soektog aan namate die nuus versprei, maar my hoop word elke dag minder.
Wanneer ek hardloop, kan ek pyn en honger blokkeer. Maar die vrees dat ek Gobi kan verloor, bly my elke dag by. Ek kan nie ’n skakelaar in my brein afsit en ophou omgee nie; ek is te lief vir haar.
Ná ’n week sonder enige teken van haar is ek ondanks al die publisiteit na aan wanhoop. Toe gons my foon: Iemand het vir my ’n foto van ’n bruin hond met ’n nare litteken op die kop gestuur. “Dit is Gobi,” lui die boodskap.
Ek ignoreer byna die boodskap. Dit lyk nie soos my hond nie. Om mee te begin, het sy geen litteken gehad nie. Maar daar is iets omtrent die oë . . .
Teen my beterwete in ry ek na ’n adres in die rykste deel van Ürümqi. Ek is bang dis ’n poets of skelmstreek, dalk ’n poging om ’n ander hond aan my te verkoop.
Maar toe ons by die veiligheidskompleks aankom en klop, gebeur iets ongeloofliks. Die deur gaan oop en ’n sanderige bruin streep skiet dwarsoor die vertrek, spring teen my knieë op en blaf soos ’n besetene. Daar is geen twyfel nie. Dit is Gobi.
Sy het weggeloop van die plek waar sy gewoon het, en die gesin wat haar langs die pad gekry het, het haar uit nuusberigte herken. Hulle is welgestelde diereliefhebbers en die gedagte aan ’n beloning vul hulle met afgryse.
Gobi is pimpel en pers en haar heup erg ontwrig. ’n Veearts meen ’n voertuig het haar getref en sy moet dadelik geopereer word, anders kan sy die gebruik van haar been verloor.
Die heupoperasie is ’n sukses en kort voor lank doen sy weer wat sy die beste doen: hardloop. Nadat sy vier maande lank in Beijing in kwarantyn was, kan Gobi eindelik saam met my huis toe gaan. Sy vlieg besigheidsklas, op ’n sitplek langs my. Met ons aankoms in Edinburgh begin sy gou by haar nuwe lewe aanpas.
Wanneer sy hardloop, is Gobi ’n bol energie. Ons gunstelingroete is Arthur’s Seat, die grasbedekte berg wat die stadsilhoeët oorheers. Sy hardloop teen die helling op en draai met ’n uithangtong om, ore vorentoe, borskas uitgestoot. Haar gesig straal van geluk en haar ogies blink met ’n boodskap vir my: “Kom nou! Laat ons weg wees!”