EK ONTHOU DIE MOORD NES GISTER
Twaalf jaar ná baba Jordan se dood bly haar ma se pyn, maar ook vreugde
AS HAAR blouoog-engeltjie met die kuiltjies en borrelende laggie nog geleef het, sou sy binnekort 13 jaar oud geword het. Maar 12 jaar nadat die wrede moord op klein Jordan Leigh Norton mense landwyd geruk het, leef sy nog helder in haar ma se hart.
“Dis nou al ’n ruk gelede, maar dit voel soos gister,” vertel Natasha Norton en die trane blink in haar oë. “’n Mens probeer maar altyd raai watter soort kind sy sou geword het; hoe sy sou gelyk het.”
Maar vir die res van haar lewe sal Natasha net daaroor kan bly wonder. “Baba Jordan,” soos sy genoem is, se geboortedag is 30 November. Maar ’n ander datum is pynlik in Natasha se geheue inge- brand: 15 Junie. Dit was op dié dag in 2005 dat klein Jordan, toe net ses maande oud, met ’n mes in die keel doodgesteek is.
Die moordenaar was een van vier mans wat deur die obsessief jaloerse Dina Rodrigues gehuur is.
Dina was Neil Wilson, baba Jordan se pa, se nuwe minnares. En selfs al was Natasha en Neil nie meer saam nie, het Dina besluit die skattige dogtertjie is ’n “probleem”, een waarvan sy vir goed ontslae moes raak.
Op 34 is Natasha met haar blink hare, hoë wangbene en groot oë modelmooi. Maar dis nie net dié vriendelike ma van een se voorkoms wat dadelik opval toe ons haar ontmoet nie: Sy straal die ene warmte en selfvertroue uit, ten spyte van alles wat sy deurgemaak het.
In haar ouers se huis aan die buitewyke van die Moederstad, dieselfde huis waarin klein Jordan vermoor is en waarin Natasha vandag nog woon, ruik dit na spek en eiers toe ons instap.
Thobeka Buso (47), hul jare lange huishulp, was skottelgoed in die kombuis. Sy het destyds na Jordan gekyk en is saam met Natasha se broer, Dylan (31), deur die moordenaars oorrompel.
Vernon (57), Natasha se pa, vertel die huis lyk deesdae baie anders as toe. “Pas ná die moord op Jordan wou Natasha en Dylan nie hier woon nie. Maar vir ons as oupa en ouma was hier soveel geluk en vreugde, al het dit net ses kort maande geduur,” vertel hy.
“Al hoe ons hulle kon oorreed om terug te kom en die woning weer te aanvaar, was om dit heeltemal te verander; selfs die huis se vooraansig lyk anders.
“Dit was die voordeur,” sê hy en wys na die deurgang na die sitkamer. “Daardie deel was ’n soort ingangsportaal. Ons het selfs hoe ’n mens die huis binnekom, verander.”
Hier, in die huis waar klein Jordan van hulle af weggeruk is, onthou hulle nie net die pyn van daardie dag nie; ook die vreugde wat sy so kortstondig hul lewe binnegebring het.
“Dit sal altyd deel wees van ons bestaan,” sê Natasha kalm; “ek het net geleer om dit beter te hanteer, want jy weet die lewe gaan aan.”
NATASHA onthou die tragiese dag soos gister. Sy was in Constantia se Virgin Activegimnasium, waar sy destyds gewerk het, toe haar ma, Anastasia (57), bel en sê sy kom haar oplaai; Vernon het laat weet hulle moet huis toe kom.
Ook Anastasia het toe nog nie geweet hoekom nie. Vernon wou nie hê sy vrou moes bestuur terwyl sy ontsteld was nie.
Hy het gevra hulle moes na ’n dokter wat ook in die straat gewoon het, se spreekkamer kom sodat hy hulle die aaklige tyding kon meedeel voor hulle die moordtoneel sien.
“’n Mens ervaar baie verskillende emosies,” sê Natasha oor dié dag. “Dit is amper soos om ’n fliek te kyk. Jy het ’n soort buiteliggaamlike ervaring en dit is emosioneel uiters traumaties. Dis ’n baie vreemde gevoel.”
Vroeër het Sipho Mfazwe, Mongezi Bobotyane, Zanethemba Gwada en Bonginkosi Sigenu voorgegee hulle kom ’n pakkie by die Norton-huis aflewer.
“Hulle het hul pad na binne oopgedwing, Dylan en Thobeka vasgebind en na die hoofslaapkamer se badkamer geneem.
Dylan het uit die vertrek gekom nadat die mans weg is en toe op die bebloede baba afgekom. Hy het die paniekknoppie gedruk en sekuriteitswagte ontbied.
’n Sakeman van die buurt het Vernon gebel en vertel iets skort by sy huis. Toe dié tuiskom, was die polisie reeds daar.
Jordan is na die dokter se spreekkamer daar naby geneem, maar die Nortons is nie seker presies wanneer sy dood is nie.
Dina en die vier huurmoordenaars se verhoor was vir die gesin lank en uitmergelend, maar Natasha sê hulle het dit doelbewus bygewoon en dié wete het hulle gehelp: “Ons het gegaan om seker te maak die regstelsel laat ons, die slagoffers, nie in die steek nie.”
Vernon sê toe hulle besef dit sou ’n lang hofsaak wees, is hulle voor ’n keuse gestel: óf hulle bly lang rukke weg van die hof af en weet nie wat gebeur nie óf hulle woon elke sitting by en sien self hoe dit ontvou sodat hulle eendag geen kwelvrae oor die hofverrigtings sou hê nie.
“Die oomblik toe ons die besluit neem om te gaan, was dit iets waartoe ons verbind was. Dit is waarop ons gekonsentreer het. En om die oor- treders dag ná dag te sien was nie ’n probleem nie.
“Maar ek dink nie ons het besef hoe lank die saak sou duur en watter emosies ons sou ervaar nie. Dit was op en af. Ek dink van die moeilikste dinge wat ons gehoor het, was van die patoloë, om te hoor hoe Jordan dood is . . .”
Natasha stem saam. “Daardie gruwelike besonderhede wat die hof moes
‘Ek dink nie ons het besef hoe lank die saak sou duur en watter emosies ons sou ervaar nie’
(Van vorige bladsy) hoor, dit was die moeilikste deel. Ek het uitgestap.
“’n Mens word gekonfronteer met die moeilike werklikheid dat iemand weg is uit jou lewe. Jy moet dit op ’n emosionele vlak hanteer om dit (die besonderhede) te hoor. Dit was die fisieke werklikheid wat by die emosionele verlies bykom.”
Dan sê sy weer stadig: “Dit was regtig moeilik. Maar dan weer, dit was alles moeilik: dat ons deur die hofsaak moes gaan, dit ’n baie hoëprofielsaak was, ons foto’s op plakkate was en ons name in koerantopskrifte . . . En steeds moet jy die verlies verwerk wat jy ervaar.”
Sy het van Dina geweet voor die hart- seer gebeure, maar het haar glad nie geken nie. “Ek het geweet sy en Neil gaan uit, en ek het haar af en toe in die gim gesien. Maar dit was al. Die suidelike voorstede is baie klein en mense beweeg in dieselfde kringe.”
Deesdae verkies sy om nie gedagtes aan Dina te verspil nie. Sy dink aan haar as iemand wat ’n kort rukkie – vir die duur van die hofsaak – in hul lewe was.
“Eerlikwaar, sy is nie deel van ons gedagtegang nie. Wat moet gebeur, moet gebeur. En wat sy moet deurmaak, moet sy deurmaak.”
Vernon stem saam. “Ons dink nie aan haar nie en laat nie toe dat sy die gang van ons lewe omvergooi nie. Ons probeer net aangaan so goed ons kan.”
WAS dit moeilik om ná alles weer ’ n “normale lewe” uit te kerf?
Dis moeilik om te bepaal presies wat “normaal” is, sê Vernon, “want normaal deesdae is baie anders as voor Jordan vermoor is.
“Ons het ’n bietjie afsluiting aan die einde van die hofsaak gekry toe geregtigheid seëvier. Ons het die uitspraak aanvaar en kon in ’n mate weer ons lewe herbou.”
In die dae pas ná die moord het die gesin daagliks berading kry, maar dit was veral Dylan wat die volgende twee tot drie jaar lank met posttraumatiese stres gesukkel het, vertel Vernon.
Hy is deesdae ’n klankingenieur en gekwalifiseerde sjef.
Natasha moes die lewe eenvoudig weer volstoom aanpak, want sowat twee jaar ná Jordan se dood het sy die lewe geskenk aan nog ’n pragtige dogtertjie, Keira (10).
Natasha is deesdae baie gelukkig saam met Stuart Lawson, haar kêrel van die afgelope drie jaar. Sy is voltyds ma. Keira se pa woon in George.
“Sy is ’n besige en energieke dogtertjie en het ’n ma nodig; daarom moet ek aangaan. Sy is my redding en absoluut my lewe.”
Keira weet sy het ’n sussie gehad, maar Natasha en haar gesin spaar haar die nare besonderhede van Jordan se dood.
Natasha sê sy is baie gelukkig met die nuwe man in haar lewe; hulle ken mekaar al 10 jaar. “Hy is baie ondersteunend.” Sy was eers baie oorbeskermend oor haar nuwe dogter, erken sy. En al is sy steeds soms “’n bietjie paranoïes” oor haar veiligheid, het sy mettertyd aangepas. Sy lag helder toe sy dié eerlike bekentenis doen.
Tog bly Vernon ernstig, want vir hom is kinders se veiligheid en welstand iets wat hom oor die algemeen baie na aan die hart lê.
“Dit is absoluut afgryslik. Elke storie waarby ’n jong kind betrokke is, raak jou.
“En omtrent elke keer dat ek die koerant oopmaak, word ek geskok.”
So sterk voel Vernon oor al die voor valle van geweld teen kinders in die land dat hy in 2010 saam met ’n groep aktiviste van die vakbond Solidariteit versoekskrifte oor dié maatskaplike euwel by die parlement ingedien het.
Hy het selfs pres. Jacob Zuma ontmoet om hieroor te praat. Maar volgens hom het dit bitter min gehelp om die toestand te verbeter, iets wat almal behoort te bekommer.
“Dis al 12 jaar (sedert die moord op haar dogtertjie) en dié goed gebeur steeds,” voeg Natasha by.
“(Die regering) moet besluite neem en optree,” sê Vernon, “en dit moet van bo na onder deursyfer.”
Die Nortons is nog nie gereed om te sien dat enige van die oortreders weer deel van die samelewing word nie. Daarom het hulle in 2015 twee van die beskuldigdes, Gwada en Sigenu, se paroolaansoek teengestaan.
Dina het lewenslange tronkstraf gekry. Twee van haar medebeskuldigdes – Mfazwe en Bobotyane – het ook lewenslank gekry, met ’n bykomende 10 jaar tronkstraf vir gewapende roof. Gwada en Sigenu is 15 jaar tronkstraf vir moord en roof opgelê.
“Ons het gevoel die tyd (wat hulle in die tronk was) was net te kort,” vertel Vernon. “Toe dit bekend word dat ’n paroolaansoek sou kom, was daar soveel woede uit die gemeenskap, ook in die sosiale media.
“Ek het ’n reuselêer vol e-posse en versoekskrifte gehad wat ek na die verhoor geneem het, en nie net uit die Kaap en Suid-Afrika nie; uit talle wêrelddele, byvoorbeeld Australië en Nieu-Seeland.
“Ek weet nie hoe groot die invloed van ons teenwoordigheid tydens die paroolverhoor was nie, maar ons moes iets sê; om ons eie onthalwe, maar ook ter wille van die gemeenskap wat ons so gesteun het en so woedend was.”
HULLE gaan haal ’n houer vol foto’s en aandenkings van klein Jordan.
Natasha raak verlore in haar herinnerings aan die klein mensie wat so ’n kort rukkie aan haar geleen is.
Jordan se skoentjies kom ook te voorskyn; selfs ’n visitekaartjie van ’n eiendomsagent in die omgewing wat so geraak is deur die tragedie dat sy ’n ruk lank getrou elke aand vir die gesin pizzas gebring het terwyl hulle met hul verlies geworstel het.
Natasha tel ’n foto op van Jordan wat geneem is net ná haar geboorte in die Life Kingsbury-hospitaal in Kaapstad.
“Daar is sy,” sê sy en kyk met verlange na haar dogtertjie terwyl sy saggies oor die foto streel. “Ek was 21 jaar oud toe sy gebore is en 22 toe sy dood is; self nog ’n baba.”
Vandag, op 34, is sy ryper en deur die lewe beproef en gebrei. Maar die gemis aan haar blouoog-engeltjie is nog net so groot soos die dag van haar dood. S B Huisgenoot: Ware Lewensdramas se aflewering oor baba Jordan Norton word op Donderdag 7 September om 20:30 uitgesaai op VIA, DStv-kanaal 147. Die heruitsending is op Sondag 10 September om 20:30. EKSTRA BRONNE: IOL.CO.ZA, MG.CO.ZA
‘Ek was 21 jaar oud toe sy gebore is en 22 toe sy dood is; self nog ’n baba’