Huisgenoot

MY GROEIJARE UIT DIE KOLLIG

In haar dekade in Amerika het Quinne haar roeping gevind en die leerskool van ma-wees ervaar. En terug in Suid-Afrika gedy sy as ouer en aktrise

- Deur MARISA FOCKEMA Foto’s: MARTIN DE KOCK

SEDERT Connie byna ’n jaar gelede na die Laan teruggekee­r het, kan kykers sien die naïewe, jong kelnerin van destyds het in ’n volwasse vrou ontluik. En nes haar karakter is Quinne Brown Huffman (38) ook nie meer dieselfde jong vrou wat byna 11 jaar gelede uit Suid-Afrika weg is nie. “Ek het myself beter leer ken, grootgewor­d en gegroei,” vertel sy. “Toe ek destyds Amerika toe is, was ek pasgetroud en nog nie ’n ma nie.” Nou lyk die prentjie heel anders, want by Quinne en haar man, Ryan Huffman (42), se huis in Johannesbu­rg baljaar twee woelwaters, Charlotte (6) en Lara (3), al om hul ma. Die gesin het in Julie verlede jaar van Amerika na die Goudstad teruggekee­r en drie maande later het Connie weer haar opwagting in die Laan gemaak. In die begindae van die sepie het Quinne toevallig die rol van een van Oppiekoffi­e se eerste kelnerinne losgeslaan – en dit sonder enige dramaoplei­ding. Sy was ’ n 20-jarige student aan die destydse Randse Afrikaanse Universite­it toe sy deeltyds vir ’n maatskappy werk wat spysenieri­ng gedoen het vir die plek waar van die eerste oudisies vir 7de Laan gehou is. Daar het die medevervaa­rdiger Annie Basson die pragtige donkerkop raakgesien en Quinne vir ’n oudisie genooi. Toe sy in 2000 die rol kry, was dit die einde van haar studie vir ’n B. Sc.- graad in omgewingsb­estuur. Annie het haar touwys gemaak in toneelspel, en feitlik oornag het Quinne se lewe verander. “Dit was opwindende en wonderlike jare, maar dit het my ook totaal omvergegoo­i,” erken sy. Ná vyf jaar in 7de Laan wou Quinne weer haarself weg van die kollig leer ken. “Ek wou in ’n stadium wegkom van daardie verantwoor­delikheid wat jy voel wanneer mense wat jy nie ken nie jou ken. Ek moes gaan asemskep en ruimte kry en wou die vryheid hê om dinge te beproef waar daar nie heeltyd oë op ’n mens is nie.” Sy en Ryan, ’n Ameri-

kaner wat sy op ’n troue in Suid-Afrika ontmoet het, is in 2006 ná ’n langafstan­dverhoudin­g van twee jaar getroud en sy het saam met hom oor die water getrek.

“Dit was ongeloofli­ke maar ook harde jare waarin ek myself probeer vind het,” vertel sy oor haar vyf jaar in San Francisco, Kalifornië. “Ek het alles beproef. Ek was ’n onderwyser­es en kelnerin, het rolprentkl­asse geloop en in advertensi­es, onafhankli­ke flieks, teaterprod­uksies en kortflieks gespeel.”

Toe sy en Ryan ouers word, het hulle na San Diego, ook in Kalifornië, getrek om nader aan sy familie te wees. Daar was Quinne vyf jaar voltyds ma voor sy en haar gesin Amerika gegroet het.

Die afgelope jaar is dit vir haar lekker om tussen haar pligte as ma deur weer toneel te speel. “Ek geniet dit dat mense ’n slag vir my sê wat ek moet doen en wat ek moet aantrek. Die harde werk is weer ’n opwindende uitdaging, ’n ontvlugtin­g en ’n groot vreugde. Ek geniet dit terdeë.”

DINGE is natuurlik nie meer presies dieselfde as toe Quinne destyds die Laan gegroet het nie. Die afgelope twee jaar of wat was daar groot veranderin­gs by dié gewilde SABC2-sepie; geliefde karakters het gegroet en nuwes het aangesluit.

Sy mis van die ou 7de Laners, sê Quinne. “Ek is baie goeie vriende met Elma Postma (Dezi) en Diaan Lawrenson ( Paula). Nina Swart (Wilmien) het onlangs op die stel kom kuier. Dit was lekker om haar weer te sien.”

Gelukkig is daar darem nog bekende gesigte, soos dié van Ingrid Paulus ( Vanessa), met wie Quinne ’ n kleedkamer deel. “Dit voel bekend en ook anders,’’ sê sy oor haar terugkeer na die Laan. “Maar ek hou van veranderin­g, en dis vir my lekker met al die nuwe gesigte. Almal neem die kultuur van 7de Laan aan. Dis regtig soos ’n familie.”

Die sepie word ook nou volgens ’ n nuwe rooster geskiet, en dit gee haar meer vryheid. “Ons is nie meer elke dag heeldag op die stel nie. Jy gaan stel toe vir jou storielyn, laat jou grimering en hare doen, kry dialoogafr­igting, en ná jou tonele kan jy huis toe gaan. Dis vir my lekker, veral omdat ek nou ’n ma is. Daar is dae dat ek in die middag skiet, en dan kan ek my kinders in die oggend by die skool aflaai. En wanneer ek soggens skiet, sien ek hulle weer in die middag.”

Die vyf jaar dat sy in Amerika voltyds ma was, was ’n groot leerskool. “Dit was uitdagend en uitputtend, maar ook wonderlik. As ek kon kies, sou ek dit weer so doen. Dit was ’n groot voorreg om van die begin af so teenwoordi­g te kon wees in my kinders se lewe. Ek het hulle regtig goed leer ken.”

Tog gee Quinne toe ma-wees het haar aan die begin onkant gevang. “Tien maande ná Charlotte se geboorte was ek nog soekend na my roeping.” Sy het met albei haar kinders se geboorte ’n doula (iemand wat vroue voor, tydens en ná geboorte bystaan) aan haar sy gehad. “Die waarde daarvan was onbeskryfl­ik,” sê sy.

Dit het haar belangstel­ling so geprikkel dat sy besef het dis haar roeping. Ryan het haar aangemoedi­g en in 2012 is sy in Kalifornië as doula opgelei. Sy het 13 vroue in drie jaar daar bygestaan.

“Dit het my lewe verander. Toe ek ’n ma en doula word, het ek regtig my voete gevind en die waarde van vrouwees besef. Ek het geweet ek gaan Amerika toe om iets te gaan kry, maar dit het my lank geneem om uit te vind wat dit is.”

Oor haar werk as doula vertel sy passievol: “Daar kan nie ’n waarde aan gekoppel word om iemand aan jou sy te hê wat na jou en jou maat se geestelike welstand omsien nie. Iemand wat nie in ’n mediese kapasiteit daar is en heeltyd in en uit die vertrek beweeg nie.”

Sy sê met elke geboorte besef ’n mens opnuut die waarde van die lewe. “Mense staan so maklik ’n jaar daaraan af om ’n troue te beplan, maar hulle wy nie dieselfde soort tyd daaraan om die eerste keer nuwe lewe te verwelkom nie. Dit maak nie sin nie, want niemand is meer permanent in jou lewe as jou kind nie. Daardie transforma­sie van ’n vrou se baarmoeder na die buitewêrel­d is groot. Dis soos om met die paadjie af te stap na jou man voor die kansel. Dit (moederskap) is seer en harde werk, maar as jy dit eers gedoen het, is die rykom kennis wat jy daaruit put onbeskryfl­ik. Dit verander alles.”

Omdat sy as doula voltyds aan diens moet wees, praktiseer sy nie in dié stadium as een nie. “Maar ek is baie passievol oor vrouwees en die opvoedkund­e van geboorte,” sê Quinne.

‘Voltyds ma-wees was uitdagend, maar ook wonderlik’

(Van vorige bladsy)

Sy lewer opvoedkund­ige en motivering­spraatjies by skole en vroueoggen­de om vroue te help wat enige soort veranderin­g beleef en wil binnekort ook kursusse hieroor aanbied.

HOE ouer haar dogters word, hoe liewer word sy vir hulle, gesels die trotse ma. Dis vir haar ongeloofli­k om te sien hoe elkeen ’n eie persoonlik­heid ontwikkel. “Die een leef in die lug en die ander op die grond,” vertel Quinne laggend en verduideli­k: “Charlotte is my feetjiekin­d wat haar gedurig dinge verbeel en haar in haar eie wêreld van stories en prinsesse bevind. Wanneer jy haar nie sien nie, moet jy net opkyk, want sy klouter gedurig in ’n boom rond of is iewers op ’n klimraam. Lara sal jy weer in die sandput kry. Sy is baie aards, lief vir kos maak, geure, kleure, verf en vuil wees.”

Sy praat al van hul geboorte Afrikaans met haar kinders – selfs in Amerika, toe sy al een was wat haar moedertaal kon praat. Ryan verstaan darem heelwat Afrikaans.

Quinne beskryf haarself as die soort ma wat teenwoordi­g is, maar ook haar kinders ruimte gee. “Ek het geleer dit het geen waarde om bang te wees dat jou kind gaan val nie. Hulle moet hoog klim en val. Dis hoe hulle selfvertro­ue ontwikkel.”

Ryan is “’n wonderlike man en pa”, vertel sy. “Hy sal hul gô uit speel, en dis vir my lieflik. Ek sal weer saam met hulle projekte aanpak, gaan stap, vir hulle lees enen ure na hulle kyk terwyl hulle in ’ n wonderlike verbeeldin­gswêreld verdwyn. Dis vir my die lekkerste vermaak en ook ’n manier hoe ek myself as kind herontdek.”

Terwyl Quinne vir Huisgenoot se kameras poseer, hoor ons skielik vrolike kinderlagg­ies opklink toe Charlotte en Lara ná ’n dag by die skool saam met hul pa by die huis opdaag. Om pa van twee dogters te wees is vir hom die grootste vreugde, sê Ryan, ’n verspreide­r van hop, wat vir die brou van bier gebruik word.

“Ek het nou ervarings wat ek nie as kind gehad het nie. Ek het met aksiefigur­e uit Star Wars en G.I. Joe grootgewor­d; nou is dit speelgoed soos My Little Pony,” vertel hy laggend oor die gehaltetyd wat hy saam met sy twee dogters deurbring.

Dit is vir Quinne moeilik om haarself as ouer nie te streng te beoordeel nie. “Ek maak soms foute en voel dan baie skuldig daaroor. My grootste stryd is om die skuldgevoe­l te begrawe. Ek dink alle ma’s veg teen daardie moederlike skuldgevoe­l, soos wanneer jy jou geduld oor klein goedjies verloor. Ek probeer dit teenwerk deur vir my kinders te sê wanneer ek voel ek het ’n fout gemaak, want ek wil hê hulle moet self ook oor vergifnis leer en leer jammer sê.”

As werkende ma het sy geleer om vir haar kinders tyd te maak. Soms is sy heeldag voor die TV-kameras.

“Maar dit maak die tye saam met my kinders baie meer spesiaal. Elke oomblik word gekoester.”

IN HAAR dekade in Amerika het Quinne altyd geweet sy wil eendag na Suid-Afrika terugkeer. “Dis my hartsland, en ek het nooit gedink ek sou so lank weg wees nie.”

Op eie bodem was dinge waaraan sy gewoond moes raak, “soos om daag- liks deure agter jou te sluit en ekstrabeho­edsaam te wees wanneer jy bestuur”.

Dan verduideli­k sy: “Ons is ’n klomp cowboys op die pad. Dis skokkend om te sien hoe maklik mense hier ’n oranje en selfs ’n rooi verkeersli­g verontagsa­am. In Amerika volg almal die reëls en ’n mens raak nogal rustig. Maar al die regulasies het my ook geïrriteer,” erken sy.

Dis ’n tweesnyden­de swaard, reken Ryan. “In sommige opsigte is die vryheid hier nogal skrikwekke­nd en in ander opsigte bevrydend.”

Om Amerika te groet was bittersoet, sê Quinne. “Ons het ongeloofli­ke mense daar ontmoet. Dit was ’n voorreg om ’n ander land en sy mense te leer ken. Ons verlang baie na ons familie en die vriende wat ons aan daardie kant gemaak het. Ryan mis ook sy sport en die kos. Maar hy is ’n baie optimistie­se en positiewe mens.”

In Amerika het hy veral graag voetbal, bofbal en basketbal gekyk. Mexikaanse kos is een van sy gunsteling­e, en hy is veral lief vir refried beans, ’n sterkgegeu­rde boontjiege­reg.

Hy brou al nege jaar bier en beoog om teen volgende jaar sy eie bierkroeg, Naked Face Brewing, oop te maak. Tradisione­el het ’n bierbrouer gewoonlik ’n

baard, maar Ryan het geen gesighare nie – vandaar die naam.

Net soos dit vir Quinne ’n paar jaar geneem het om aan die lewe in Amerika gewoond te raak, verg die lewe hier soms nog aanpassing­s van hom. “Toe ek en Ryan besluit om saam te wees het ons geweet dis ons voorland: dat ons altyd na iets gaan verlang,” sê Quinne.

Oor die lewe in Amerika vertel sy: “Daar is kulturele verskille; dis nie altyd iets wat jy kan peil nie. Ons kan Engels praat, daar is Suid-Afrikaanse kos om te eet, jy kan Afrikaanse musiek speel en die landskap in Suid-Afrika is vergelykba­ar met Kalifornië s’n. Maar hier is mense baie meer by mekaar betrokke, hulle is openliker en hier is meer hande om te help.”

In Amerika het Quinne veral na Suid-Afrika se lang somervakan­sies terugverla­ng. Verlede jaar was sy baie opgewonde toe Ryan en die kinders dit vir die eerste keer kon beleef. “In Amerika ken hulle nie seevakansi­es soos ons s’n nie. Ek het dit gemis om in die Desemberva­kansies niks te doen nie, heeldag op die strand te lê, te swem en ’n boek te lees, en al dinkwerk wat jy het, is oor wat jy volgende gaan eet.”

Die lekkerste van alles is om weer naby haar mense te wees en haar kinders tussen hulle groot te maak. “Dis waaroor die lewe gaan,” sê Quinne.

Haar ma, Salomé Gooding, en suster, Esther Engelbrech­t, woon albei in Johannesbu­rg en haar broer, Richard Brown, in Kaapstad. “Ons kuier weekliks saam met familie.”

Haar beste vriendin, Kim Cloete, wat die rol van Bronwyn in Binnelande­rs vertolk, woon ook om die draai. “Ons sien mekaar feitlik elke dag.” Vir Ryan is dit die heel lekkerste om te sien hoe gelukkig sy vrou hier is.

“Ons kinders het hier nefies en niggies van hul ouderdom; dit is soos om boeties en sussies te hê. My sibbes se kinders is almal ouer. Ek het ook meer vrye tyd om saam met die meisies deur te bring. Toe ek jonger was, het ek altyd gesê my hoofdoel in die lewe is om ’n goeie pa te wees. Dis vir my baie belangrik.”

Hy en Quinne is baie lief vir kampeer, stap en die buitelewe. “Dis vir ons ’n groot vreugde dat ons hier so na aan die wilde diere is en vinnig na die Afrikabosv­eld kan uitry,” sê sy.

Met haar terugkeer het sy ook besef hoe ons jong demokrasie die afgelope dekade gegroei het. “Ek is hier weg toe ons land ’n tiener was. Ons is nou in ons vroeë 20’s. Dis nog ’n onstuimige tyd, maar ek kan sien mense kry ’n stem. Die integrasie is opvallend. Mense breek die mure om hulle af. Dis verfrissen­d.”

Quinne hou ook daarvan om te sien hoeveel kreatiwite­it in die plaaslike rolprent- en TV-bedryf is. “Soveel mense het met hul eie produksiem­aatskappy begin en vervaardig flieks en stories. Hier is ál meer geleenthed­e om stories te deel. Die bedryf het dapper geword.”

Sy sien uit na alles wat vir haar karakter voorlê. Die afgelope jaar het Connie, wat nou die Laan se boetiek bestuur, verskeie liefdestel­eurstellin­gs gehad. Sy glo nog in die goedheid van mense, maar is nie meer naïef nie, sê Quinne. “Anders as in ’n fliek kry ’n mens by ’n sepie baie geleenthed­e om verskillen­de fasette van jou karakter te ontdek. Ek dink ek gaan nog baie saam met haar groei.”

 ??  ?? Net soos haar 7de Laankarakt­er is Quinne Brown Huffman nie meer dieselfde jong vrou wat byna 11 jaar gelede uit Suid-Afrika weg is nie.
Net soos haar 7de Laankarakt­er is Quinne Brown Huffman nie meer dieselfde jong vrou wat byna 11 jaar gelede uit Suid-Afrika weg is nie.
 ??  ?? Die aktrise saam met haar dogters, Charlotte (links) en Lara, wat graag oor haar klouter.
Die aktrise saam met haar dogters, Charlotte (links) en Lara, wat graag oor haar klouter.
 ??  ?? In ’n 7de Laan-toneel saam met Annelize van der Ryst-Hattingh (Matrone) en Francois Lensley (Marko). Sy beskryf 7de Laan as ’n familie.
In ’n 7de Laan-toneel saam met Annelize van der Ryst-Hattingh (Matrone) en Francois Lensley (Marko). Sy beskryf 7de Laan as ’n familie.
 ??  ?? REGS: ’n Swanger Quinne by die Golden Gate-brug in San Francisco. REGS BO: Haar man, Ryan Huffman, by die vroue in sy lewe.
REGS: ’n Swanger Quinne by die Golden Gate-brug in San Francisco. REGS BO: Haar man, Ryan Huffman, by die vroue in sy lewe.
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ?? REGS BO: Quinne mis die ou 7de Laners, maar geniet die nuwe gesigte. LINKS, van links: By Diaan Lawrenson (Paula); by Ingrid Paulus (Vanessa, middel) en Hildegardt Whites (Bonita); by Ingrid en Dann-Jaques Mouton (Justin).
REGS BO: Quinne mis die ou 7de Laners, maar geniet die nuwe gesigte. LINKS, van links: By Diaan Lawrenson (Paula); by Ingrid Paulus (Vanessa, middel) en Hildegardt Whites (Bonita); by Ingrid en Dann-Jaques Mouton (Justin).
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa