MY 2DE KANS NÁ EK MY AAN BRAND STEEK
Susan was diep ontsteld toe sy besluit om ’n einde aan haar lewe te maak en glo vas dis ’n wonderwerk dat sy nog leef
SY WAS daardie Maandagoggend vir die soveelste keer in ’n rusie gewikkel met haar lewensmaat, vertel die vrou in die hospitaalbed. “Hy het herhaaldelik vir my gesê ek is mal. Ek besluit toe die middag ek sal hom wys wat ’n mal mens doen.” Wat Susan van Rooyen toe aangevang het, sou mense landwyd skok. Van hul tuinwoonstel in Randfontein aan die Verre Wes-Rand het sy met R10 in haar hand na die naaste vulstasie gestap. Daar het sy petrol gekoop. Sy onthou dit was 93-oktaan, loodvry, wat die petroljoggie in die groen 2 L-koeldrankbottel getap het.
Toe stap sy tot in die straat, giet die petrol oor haar kop uit en laat die vlamtongetjie van haar sigaretaansteker aan haar gesig lek. “Daar was dadelik vlamme, en toe verstar ek,” onthou sy. “Ek het mense om my hoor praat.
“Skielik was iemand by met ’n brandblusser. Toe ek agterkom ek brand, het ek die vlamme aan my gesig met my hande probeer doodslaan.”
Danie de Klerk (65) het later in ’n telefoniese onderhoud teenoor ons ontken hy en Susan het daardie oggend in Julie gestry. Hy was in die stort toe hy haar hoor uitgaan. “Ek het gedink sy gaan net gou winkel toe, tot iemand my kom roep het om te sê sy het haar voor die drankwinkel aan die brand gesteek.”
Dis nou sewe weke ná daardie haas ondenkbare daad. Hier in die Leratonghospitaal in Krugersdorp is Susan se gesig, ore en linkerhand oortrek van die brandwonde.
Sy het al ’n veloorplanting gekry, vertel die vrou by wie, volgens haar, in 1994 bipolêre gemoedsteuring gediagnoseer is. (Sien die kassie.) Maar sy het op die dag van haar selfdoodpoging vergeet om haar medikasie te drink, het haar oudste dogter, Susan Cloete, by navraag aan ons vertel. In die hospitaal kry haar ma medikasie wat haar rustiger maak, asook psigiatriese en sielkundige berading.
Sy sal moontlik lewenslank die letsels van daardie dag dra. Tog is sy dankbaar. “Ek leef nog; dis ’n wonderwerk,” sê sy en vee met haar verbrande hand oor haar stomp afgeknipte hare.
HAAR lewe was nie aldag maklik nie, vertel die 53- jarige Susan. Sy was al drie keer voor die kansel, maar al haar huwelike was stormagtig en het op ’n egskeiding uitgeloop.
Tog is dit haar moeilike verhouding met Danie wat haar die hartseerste maak. Hulle is nou al byna agt jaar “aan en af ” bymekaar.
“Hy het selfs gesê ek het die duiwel in my. En hy het gesê ek is mal; dit is hoekom my huwelike misluk het.”
Die trane wil-wil oor haar gebrande wange vloei. ’n Mens merk onwillekeurig op sy het pragtige blou oë.
“Ja, ek was lief vir hom. Maar ek is geheel en al klaar met hom. Ek wil hom nie weer sien nie.”
Sy was diep ontsteld toe sy daardie middag besluit om ’n einde aan haar lewe te maak. Sy onthou glashelder hoe sy haar aan die brand gesteek het. “Net my gesig en hande het gebrand. My hare het nie eens aan die brand geslaan nie. Ek sweer, ek het regtig gedink ek sou heeltemal uitbrand.”
Maar sy het geen pyn gevoel nie. Ook nie nou nie. “Ek voel orraait,” vertel Susan.
Vel van haar regterbobeen is reeds aan haar voorkop en wange oorgeplant. Dan moet die onderste lid van haar linkeroog gerehabiliteer word sodat die oog weer behoorlik kan oop- en toemaak.
Susan se mond en keel is ook aan die binnekant gebrand, vermoedelik omdat sy petroldampe ingeasem het tydens die brand. Aanvanklik is sy met ’n buis gevoed, maar sy kan nou darem al sop, jogurt en vla eet.
Sy verwyl die tyd met haar Bybel en gebedsboekies en is opgewonde oor die vooruitsig om ontslaan te word. Eers wil sy by haar dogter Susan in Randfontein gaan aansterk. Daarna wil sy ook by haar jongste dogter, Norina van Zyl, op Bethal in Mpumalanga gaan kuier.
Norina is juis vandag hier in die hospitaal terwyl ons praat. “Dit maak nie saak hoe Mammie lyk nie; die Here het ons ’n tweede kans met jou gegee,” sê sy emosioneel.
“Ek sou my ma nog kom haal het (voor die selfdoodpoging). Ek het haar belowe ek sal haar kom haal, maar ek het nie. Ek is jammer, Mammie.” Die twee vroue omhels mekaar huilend. “Liewe Jesus sit nie goed op ons pad wat ons nie kan hanteer nie,” troos Susan haar dogter. “Dis net deur die Here se genade dat ek vandag hier is. Ek sê jou: Dis ’n wonderwerk.”
Die susters is vasbeslote om toe te sien hul ma volhard met die medikasie en berading ná haar ontslag uit die hospitaal.
“Ek aanvaar myself soos ek nou is,” vertel Susan. “Ek wil regtig net gelukkig wees,” sê sy.
“Ek besef nou ek het nie meer ’n man nodig nie; net die Here en my kinders. Ek het ’n tweede kans gekry.”
IN ONS telefoniese onderhoud beklemtoon Danie: Hulle het nie baklei voor sy hul tuinwoonstel verlaat het om haar aan die brand te steek nie. “Sy het die oggend oor die hek aangegaan. ‘ Wie is nou weer by die hek?’ heth sy geskree.k Ek kh het gevra sy moet rustig raak omdat ander mense ook op die perseel woon. Sy het toe na haar dogter gegaan en ek het in die tuin gewerk,” onthou Danie.
“Ek het later gaan stort en haar by die woonstel hoor inkom, maar sy was skaars twee minute daarbinne, toe loop sy weer.”
Volgens hom het hy nouliks 10 minute later ’n toeter by die hek van die huis gehoor.
“Dit was ’n man wat in ons straat woon wat my kom roep het om te sê Susan het haar by die drankwinkel op die hoek aan die brand gesteek.
“Toe ek daar kom, was iemand reeds besig met ’n brandblusser.”
Hy bevestig hy en Susan het ’n aan-af-verhouding gehad, maar beweer dis sy wat gedurig weggeloop en weer teruggekom het.
“Ek het al vir haar gesê: ‘Bokkie, jy gedra jou soos ’n mal mens,’ ” erken hy. “Wanneer sy sulke woedeuitbarstings kry, kan dit nie die optrede van die Here in haar wees nie.
“Sy’s nie gesond nie, maar sy is dierbaar. Ek is nog lief vir haar en voel jammer vir haar. (My hart) bloei elke dag oor haar.”
Hy beweer ook Susan se dogter het vir hom gesê net haar familie word in die hoësorgeenheid toegelaat. Sy het glo nie ’n selfoon nie.
“Ek sien haar gesig wat brand voor my. Dit pla my,” sê Danie. “Ek het daardie dag soos ’n kind gehuil toe ek haar so sien.”