Huisgenoot

’N KLEINKIND – WAT ’N SEËN!

Met die geboorte van haar pleegdogte­r se seun het Amy ouma geword – en sy kan haar vreugde skaars beteuel

- Deur JOANIE BERGH Foto’s: MEGAN MILLER

AMY KLEINHANS-CURD, voormalige Mej. SuidAfrika, sakevrou en ma van vier, het onlangs nog ’n titel bygekry. Een waarop sy al lank wag en wat sy nou met groot trots kan dra. Dié van ouma. En op 49 is Amy dalk net die mooiste ouma wat ’n mens al gesien het.

“Om ouma te wees is pure lekkerte!” sê Amy met dieselfde sjarmante glimlag wat in 1992 die hart van die beoordelaa­rs by die Mej. Suid-Afrika-wedstryd verower het toe sy as die mooiste vrou in die land gekroon is.

Dan tel sy haar kleinseun, die twee maande oue Kgosi, in haar arms op en gee hom ’n soen op sy wang.

Dit is ’n behoorlike reënboogge­sin hier op die stoep van hul huis op Franschhoe­k in die Wes-Kaap. Een waar dit gereeld borrel van die vrolikheid en vreugde.

Amy en haar man, Leighton Curd (56), ’n sakeman, is reeds 23 jaar getroud. Hulle het drie pragtige kinders, Phillipa (19), Thomas (17) en Georgia (10).

Min mense weet Amy en Leighton het ook ’n pleegdogte­r. Gugu Garnett (31) het as negejarige by die egpaar in hul huis in Bryanston, Johannesbu­rg, kom woon en hulle het haar soos hul eie kind grootgemaa­k.

Gugu is nou reeds vyf jaar getroud met Kgopolo Makgate (31), ’n verkoopsag­ent. Kgosi, wat “koning” beteken in Sotho, is hul eersteling. Omdat sowel Gugu as Kgopolo se biologiese ouers oorlede is, maak dit van Amy die “amptelike ouma”, vertel Kgopolo en almal lag vrolik. “Sy is ouma-mal,” sê Gugu. “Amy bederf Kgosi verskrikli­k baie. Ons moet net keer of sy sal hom sommer vir ons grootmaak!”

GUGU se ma, Queen Garnett, was Leighton se huishoudst­er nadat hy in 1990 uit Nieu-Seeland, sy geboortela­nd, na Suid-Afrika gekom het. Amy het Gugu in Desember 1993 vlugtig ontmoet, ’n paar maande voor sy en die sakeman getroud is. Toe het Gugu nog op Matatiele op die Oos-Kaapse platteland by haar oom gewoon en net skoolvakan­sies in Johannesbu­rg by Queen deurgebrin­g.

Amy en Gugu het sommer dadelik goed oor die weg gekom, en toe die skattige meisiekind se skoolvakan­sie middel 1994 ten einde loop, het Amy vir Leigh-

ton gesê: “Ek wens sy kan vir altyd hier by ons bly.”

Dit was die keerpunt en skaars ’ n maand nadat hulle getroud is, het die egpaar aan Queen voorgestel hulle neem Gugu onder hul vlerk.

Hulle het gevoel Matatiele kon nie veel vir Gugu bied nie. Dit is landelik en niemand het in daardie stadium na haar gekyk nie; daarom het Amy en Leighton vir Queen gesê hulle sal Gugu in Johannesbu­rg grootmaak.

Sy kon by hulle intrek en by hulle woon asof sy hul eie kind is. Almal, Gugu inkluis, was opgewonde oor die idee. Dit was ’n pluspunt dat sy en Queen ook meer tyd saam kon deurbring. Gugu se pa, Joe Garnett, was nie juis betrokke by haar opvoeding nie.

In 2009 is Queen aan kanker oorlede en in 2012 is Gugu en Kgopolo getroud.

Van die oomblik dat hulle die ringe aan mekaar se vinger gesteek het, het hierdie enorme familie – Leighton se familie in Nieu-Seeland, Amy se Kleinhans-familie, Kgopolo se familie en Gugu s’n wat nog op Matatiele woon – begin karring oor wanneer ’n kleinding dan nou op pad gaan wees.

“Groot was almal se teleurstel­ling toe ek en Kgopolo aankondig ons gaan eers ’n ruk oorsee reis,” sê Gugu en lag.

Die pasgetroud­es het toe twee en ’n half jaar in die buiteland getoer en onder meer Suidoos-Asië platgeloop. Hulle het ook ’n tyd lank in Nieu-Seeland gekuier by Leighton se familie, wat sommer voorgestel het hulle kry ’n baba in dié land en maak hom as ’n Kiwi groot.

“Baie beslis nie,” het Amy laat hoor, en sy lag toe sy dit nou vertel.

Die twee is terug na hul wortels en het hulle in Johannesbu­rg gevestig, waar Gugu as menslikehu­lpbronnebe­stuurder werk en Kgopolo as verkoopsag­ent.

En toe, in Oktober verlede jaar, lui Amy se foon. Dit was Gugu.

“Sit jy?” het Gugu haar grootmaakm­a gevra.

“Jy is swanger!” het Amy onmiddelli­k aan die ander kant geskree.

Daar was geen keer aan ouma Amy se kleinkindv­reugde nie.

NÁ Gugu se troue het Leighton en Amy met hul drie kinders Franschhoe­k toe getrek. Dit is hier, buite die lowergroen, prentjiemo­oi dorp tussen die berge en wingerde, waar hulle hul kinders ’n smakie van die platteland­se lewe wou gee. “Ek het darem nog nie aan leënessind­room gely nie, want van kort nadat ek en Leighton getrou het, was daar altyd kinders in die huis. Eers het Gugu deel van ons gesin geword en toe word die ander drie gebore,” vertel Amy. Dokters het aanvanklik gesê Gugu verwag ’n dogtertjie en almal in die familie het pienk kleertjies begin stuur. Maar toe, in Februarie vanjaar, sien hulle op ’n sonar dit is beslis ’n seunskind wat op pad is. “Ons was baie opgewonde,” sê Kgopolo en stap nader terwyl hy sy seuntjie in sy arms sus. “Ons het nie omgegee watter geslag dit is nie. Ons wou regtig net ’n gesonde baba hê. En omdat ons gelowig is, het ons die hele swangerska­p en geboorte as ’n groot seën ervaar.” Toe die nuus versprei dat ’ n seuntjie op pad is, het blou pakkies en All Blackklere in die pos aangekom. Kgo s i is op 29 Junie gebore en Amy en haar gesin het Johannesbu­rg toe gevlieg vir die groot dag.

“Ek is dankbaar. Gugu het ons in ag geneem en gesorg dat die geboorte in die skoolvakan­sie val,” skerts sy.

Almal skater. “Die liefde wat jy vir jou kleinkind het, is ’n ander soort liefde. Die Bybel praat van die seën om jou nageslag te kan sien. En as ouma of oupa is dit ’n groot seën om te kan sien dat jou eie kind genoeg selfvertro­ue het en stabiel genoeg is om kinders van hul eie groot te maak. Dit is ’n groot geskenk. Jy besef dan die foute wat jy as ouer gemaak het, en alles waaroor jy jou bekommer het, maak eindelik nie saak nie. Want dan sien jy hoe goed hulle vaar as gevolg van die besluite wat jy as ouer geneem het.”

Omdat Amy nog so jonk en haar jongste kind net 10 jaar oud is, is sy ’ n baie “hip” ouma, lag Gugu. “Ek kan haar enige tyd bel en raad vra. Sy sal ook vir my sê: ‘ Onthou jy toe Thomas dit of dat gedoen het toe hy ’n baba was en wat ons gedoen het?’, want ek was daar met al drie haar kinders.”

Die belangriks­te ding wat sy by Amy geleer het, is om onvoorwaar­delik lief te hê, sê Gugu.

“Amy het dit vir my gewys toe sy my grootmaak. Sy was so deel van my lewe dat daar niks was wat ek nié met haar wou deel nie. Ek kan net hoop om my seuntjie so groot te maak dat hy ook so ’n verhouding met ons sal hê.”

Sy weet haar lewe sou 100% anders gewees het as sy op Matatiele gebly het en Amy en Leighton haar nie onder hul vlerk geneem het nie. “Hulle het ’n wêreld van geleenthed­e vir my oopgemaak. Ek kon aan ’n multikultu­rele skool in Johannesbu­rg skoolgaan, iets wat ek nooit sou kon doen as ek by my oom gebly het nie. Ek was ook die eerste een in my familie wat universite­it toe kon gaan.”

Dit is ’n lewe wat sy en Kgopolo nou, danksy Amy en Leighton, ook aan Kgosi kan oordra.

‘Die liefde wat jy vir jou kleinkind het, is ’n ander soorts liefde’

 ??  ?? Amy Kleinhans-Curd is ouma van haar grootmaakd­ogter, Gugu Makgate, se baba, Kgosi.
Amy Kleinhans-Curd is ouma van haar grootmaakd­ogter, Gugu Makgate, se baba, Kgosi.
 ??  ?? ’n Soen vir ’n klein rrakkertji­e.kertjie. Om ’n ouma te wees is pure lekkerte, sê Amy.
’n Soen vir ’n klein rrakkertji­e.kertjie. Om ’n ouma te wees is pure lekkerte, sê Amy.
 ??  ?? Amy saam met haar gesin by hul huis op Franschhoe­k. Van links is Thomas, Phillipa en Georgia. Regs staan Gugu en haar man, Kgopolo, met Kgosi. Leighton Curd, Amy se man, was nie tuis toe die foto’s geneem is nie.
Amy saam met haar gesin by hul huis op Franschhoe­k. Van links is Thomas, Phillipa en Georgia. Regs staan Gugu en haar man, Kgopolo, met Kgosi. Leighton Curd, Amy se man, was nie tuis toe die foto’s geneem is nie.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa