Huisgenoot

Kortverhaa­l Kortverhaa­l56

Daar is geen fisieke rede waarom Lena op vier ophou praat het nie, maar praat praat sy nie

- Deur LIEN OBERHOLZER Illustrasi­e: MIEKE VAN DER MERWE

VIR Lena is dit asof alles in die aand op ’n bepaalde uur tot stilstand kom, asof die wêreld lugdig raak en alles binne- in stagneer of in aansyn kom. “God is nog nie klaar met ons nie, Pa! Al is dit die sesde dag!”

Sy het dit sommer so in die slagbees se bloed met haar voorvinger op die leiklip geskryf.

Eenkant het ’n sinkbad gestaan met die afgesaagde kloutjies, die afval en die kop daarin. Dit was winter.

Haar pa het vinnig na haar gekyk, gelyk asof hy skrik en toe oor en oor die woorde met sy skoensool doodgevee, tot net ’n vuil bloedstree­p oor was.

“Mag die Here jou vergewe, my kind,” het hy saggies gesê. Die spiere om sy mond het styf gespan en hy het weggekyk.

Pa en Ma het daardie aand vir haar gebid, gevra dat die heiligsken­nis haar nie toegereken word nie en verduideli­k van haar ontoereken­baarheid en gebrek aan diskoers.

Lena se gedagtes het nou terug-

gedwaal begrafnis toe en sy kon Pa en Ma en Frans Paseur hoor sing: Dat de tijd hier’t al verover . . . aan geen tijdperk hangt mijn lot.

Sy het onthou van die oop graf langs die wildetwak en die kis met Klaas Alleen se oorskot daarin.

“Ons kan nie die man so biddeloos die ewigheid laat in nie, Martha,” het sy Pa hoor sê toe hy hoor van Klaas se voortydige afsterwe, want die volstruisv­ere moes getrim word en die mudsakke vol koring kom. Klaas was hul buurman van baie jare.

Lena staan op en begin stadig venster toe loop.

Sy skuif die raam tot bo toe op. Bokant die stilte en die donker van die nag het die sterre geskyn, blink en lewendig, soos skilpadogi­es . . . “Van waar zal mijne hulp komen . . . ?” “Slaap Liewe Jesus in ’n bed?” wou sy eenkeer by haar ma weet.

Sy kon toe al nie meer praat nie, en sy was toe vier en haar ma het haar by die voetenent van hul bed kom kry.

HAAR stomheid was ’n groot beproewing vir haar ouers. Daar was geen fisieke oorsaak hiervoor nie. “Skok!” het ouma Kieta gesê. “Straf !” het Pop Snuif duidelikhe­id gehad. Maar niemand het regtig geweet nie, want Lena het net ophou praat. Pa en Ma het haar gaandeweg in die geloof aanvaar, want die lewe gaan aan.

Sy onthou die middag goed toe Ouma haar laat haal het. Sy sou die volgende dag 14 word. Sy het loop en kyk hoe die plaaskinde­rs “meule” speel: mekaar met mieliepitt­e uitoorlê, kort-kort die patroon verander en dan weer van voor af begin. ’n Paar hoendertji­es en ’n dragtige varksog het langs ’n kleihuisie gedrentel, en aan ’n haak teen die muur het ’n velsak vol mielies gehang.

“Môre ry ons,” het Ouma gesê. “Dis Nagmaal ook en ons moet jou hare skoonkry. Die loog trek al vier dae lank en dit sal goed skuim.”

Agterna wou Ouma klapperoli­e aansmeer, oor die spesiale geleenthei­d, maar Lena wou nie. “Vir wat dan nou nie,” het Ouma gekla. Lena het die kloutjieso­lie in die badkamer gaan haal, self die bottel oopgemaak en dit na haar ouma uitgehou. Die slagbees se winteroffe­r, wou Lena sê, maar sy het net na Ouma gekyk. Ouma het kopskudden­d gesug. “Jy darem.”

Sy het Lena se hare in paadjies verdeel en die olie deeglik ingevryf. “So bly jy darem aan die kant,” het sy gesê.

Laatmiddag het hulle in die kombuis gaan sit. Dit het na geskroeide koljander geruik. Oupa het by die tafel op ’n houtblokki­e tabak gekerf. Net genoeg vir een pypie, en Ouma het kouse versool. Eenkant op die vuurherd het die ketel op ’n drievoet gestaan; binne was eiers aan die kook en dit het geklink soos iemand wat klop.

Die nag was nou kouer en donkerder ook, en Lena het haar arms om haar skouers gevou. ’n Wind het van die vlakte se kant af opgesteek. Sy het haar verbeel sy hoor Klaas Windvoël se viool, nes destyds toe sy vier was en sy hom altyd anderkant die kweperlani­ng gaan voorlê het wanneer hy van Ravyn af met die bokke terugkom.

Toe hy haar daardie dag gewaar, het hy gaan staan, die viool versigtig neergesit en die knapsakkie van sy rug afgehaal. Sy het staan en kyk terwyl hy uitpak. Kamo en kambro soos altyd en toe nog iets. ’n Skilpadjie! Sy het verwonderd daarna gekyk toe hy dit na haar uithou.

“Dis joune,” het hy gesê, en sy was so bly. Sy het met die voetpaadji­e huis toe gehardloop om vir Pa-hulle te gaan wys.

Die koue was nou intens en Lena het gevoel hoe haar lyf begin bewe. Die vioolklank­e was oral en ook Oupa se aandpsalm. “T’is waar, de vromes maakt op aarde reeds menig bly . . . ja zalig uur: maar al de blijdschap, van wat waarde, is onvolmaakt en kort van duur . . . wisselbaar als eb en vloed.”

Sy het van ver af al geroep: “Pappa! Pappa, kyk wat het outa Koos gebring! ’n Skilpadjie! Vir my!”

Haar pa het gelag, die skilpadjie by haar geneem en hom omgedop, van onder bekyk en tevrede geknik. “Dis ’n wyfie,” het hy gesê. Hy het Freek Blokman nader geroep en opdrag gegee: “Kry ’n sterk mikstok, gehoor!”

Freek het met die skilpadjie aangestap. “En krap hom goed toe met die as en die kole so vir ’n paar uur tot die dop afkom,” het Pa agternager­oep.

Lena het nie verstaan nie. Sy was net vier. Sy het langs Freek Blokman gaan hurk en geluister hoe hy gesels. “Hy kruip weg, sien jy! Jy kielie hom net agter die boudjies, sien so, en nes hy sy koppie uitsteek, dan vang jy hom in die mikstok en jy sny hom keelaf !”

Toe Freek die mes uithaal, het Lena verstaan. Die blink skilpadogi­es het onder die mikstok uit na haar toe opgekyk. “Van waar zal mijne hulp komen?” Sy het haar handjie uitgesteek. Daar was groot druppels bloed op die grond en haar keel het toegetrek.

LENA kon die vioolklank­e nou duidelik hoor. Sy het van die plastiekst­oel af opgestaan en ’n rukkie op die smal bed gaan skuinslê; aan die slaap geraak. Alles was nou duidelik asof dit daglig was.

Sy het aangestap in die rigting van die vlakte anderkant die laaste bult, en onder die peerboom het sy gaan stilstaan, soos altyd. Sondae het Jakoos se mense hier kerk gehou. Jakoos kon preek en hy het mooi gebid. Partykeer het ’n ryp saffraan onder die gebed afgeval en dan was die diens besonder geseënd. Ander kere is die seën met ’n riet afgehelp en dan het

almal harder gesing. Och! Brak die dag ook spoedig aan! O Geest! O Geest breek door, breek door dat algar, Moor en Indiaan, verstaan . . .

Baiemaal kon Lena op ’n Sondag by Jakoos se vrou agterbly wanneer Pa en Ma familie wou besoek. Dan het Lena die dienste bygewoon; gebly tot die seën val en dan koers gekry vlakte toe. ’n Halfuur se loop en heeltyd op die uitkyk vir Koos Windvoël met sy viool.

Lena het stadig onder die peerboom uitgestap. Sy het haar verwonder aan die ligte gevoel in haar bene en oor haar voete wat nie seerkry op die klipperige grond nie en oor die koue wat nou heeltemal gewyk het.

Sy was lus om te sing, want die viool het so naby geklink. Koos Windvoël het met sy rug teen ’n ghwarriebo­om geleun. Dit het nie gelyk asof hy haar sien nie en sy het eenkant gaan sit. Sy vingers het saggies oor die snare gestryk. Plek-plek het ’n bokkie geblêr.

“Hy speel net vir die bokke, man,” het Gwanni en die ander haar geterg, maar Lena het nie omgegee nie, al was dit ook so. By Klaas kon sy weer klein wees, weer vier en sonder sonde, want hy het min gepraat, maar als verstaan.

Die viool was nou stil. Lena kon hoor hoe hy vroetel; sy kromsteelp­ypie uitklop. Daar was die geluid van ysterklipp­ies teen mekaar en toe die helder vlammetjie teen die tonteldoos se lappies op. Bedags kon sy die rondebolda­mpies dophou; sien hoe dit lynreg die lug in optrek en iewers weer verflenter.

In haar slaap het Lena opgekyk en die nag se klammighei­d teen haar wange gevoel. “Van waar zal mijne hulp komen?” het sy saggies gevra en haar keel het gepyn van die inspanning, maar daar was ’n blyheid in haar, ’n afwagting soos toe sy vier was.

Netnou, sodra dit lig word, sal sy 80 wees! Sy sal haar moet haas, want die sterre word al min. Die ravyn met sy skerp kante was formidabel, en soos ’n mens afklim, kon jy die helder water bruisend oor die rotse hoor spoel. Sy het stadig aangestap en kon die sagte klanke van Klaas Windvoël se viool nou duidelik hoor, ’n dankiesê-lied, en toe Oupa se aandpsalm. ’n Bepaalde uur was besig om in aansyn te kom.

Lena is op haar 80ste verjaardag in haar kamer in die ouetehuis op die dorp gekry. Daar was ’n glimlag om haar mond en in haar hand het sy die leë dop van ’n skilpadjie vasgehou.

By Klaas kon sy weer klein wees, weer vier en sonder sonde

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa