Wie sal hiervan hou?
Steven Soderbergh-bewonderaars. As jy nie jou Steven van jou Soderbergh kan onderskei nie: Hy het onder meer die Magic Mike- en Oceans Eleven-reeks gemaak. Hy is die koelste en een van die mees geniale regisseurs sedert Christopher Nolan, Wes Anderson en die Coen-broers.
Sy stempel van gitswart humor waaroor batterysuur drup, sit duidelik oor die rolprent. Soms is die humor so heerlik venynig, ’n mens skaam jou vir waaroor jy lag. Soderbergh spot met die doodgewone middelklas-Amerikaner wat net ’n bestaan probeer maak. Maar dit is die stroefgesighumor, die strak dog komiese aanslag en die eksentrieke, driedimensionele karakters wat van dié rolprent so ’n fees maak. Ongelukkig verraai die lokprent die meeste storiekinkels, asook diegene wat kameeverskynings maak. Hoe minder jy dus weet van wat kom, hoe snaakser.
Dit sien nie neer op gewone mense nie, maar lag hard en ongeskik vir die ouens se lomphede en lieftallige menslikheid. Eindelik is almal maar net mens, maak nie saak hoeveel blommetjies op hul kniebroeke is nie. Maar dit is Adam Driver as ’n broer wat sy arm in die Afganistan-oorlog verloor het, wat eintlik die kollig steel. Sy stram, asosiale kroegman wat skeermesbek-patete op hul plek sit, beklemtoon die rolprent se bedrewe donker humor nog verder. Anders, sonderling en dikwels bisar. Vir die avontuurlustige fliekganger.