Fliek oor vlieënier se dubbellewe
Tom Cruise speel in ’n nuwe fliek gegrond op die lewe van ’n ‘rebel-avonturier’ wat tegelyk by dwelmsmokkelary en geheime CIA-operasies betrokke was
DIS ’n verhaal waarop “lokettreffer” groot geskryf staan: ’ n Waaghalsige vlieënier verdien miljoene dollars deur amper 60 ton kokaïen na Amerika te vlieg voor hy staatsinformant word en aan die hand van sluipmoordenaars in ’n koeëlreën sterf.
Draaiboekskrywers het nie nodig gehad om hul verbeelding te ooreis toe hulle die intrige vir die fliek American Made uitwerk nie – Barry Seal het dit drie dekades tevore vir hulle gedoen met sy gekke ware eskapades. Nadat hy sy werk as vlieënier by die Amerikaanse lugdiens TWA verloor het, het hy vir die Colombiaanse dwelmbaas Pablo Escobar dwelms ingevlieg voor hy in die 1980’s as informant vir die Amerikaanse owerheid gewerf is.
In die rolprent, wat pas hier uitgereik is, keer Tom Cruise die eerste keer sedert Top Gun na die stuurkajuit terug om die vlieënier se uitspattige leefstyl uit te beeld. Die ster is waarskynlik verlig die rolprentbase het nie vereis hy sit gewig aan vir die rol van die enigmatiese Barry, wat 127 kg geweeg het, nie. Hulle wou hê hy moes lenig en soepel vir die aksietonele lyk – en te oordeel na die agterdie-skerms-foto’s waarop die akteur met kneusplekke en ’n uittand spog (met die komplimente van die grimeerafdeling), lyk dit na die meeste pret wat hy die afgelope tyd op ’n rolprentstel gehad het.
Terwyl gehore na sy waagtoertjies kyk, sal hulle oor die regte Barry Seal wonder.
Sy dwelmsmokkelary en die geheime operasies wat hy glo vir d die Amerikaanse spioenasiediens,spioenasiediens diedi CIA, uitgevoer het, het van h hom ’n omstrede figuur gemaak. Hy is met die Iran-Contra-skandaal en ’n magdom samesweringsteorieë verbind.
As die eerste Amerikaner wat die binnewerking geken het van Escobar se magtige Medellín-kartel, wat die wêreld met kokaïen oorstroom het, het Barry se binne- inligting en vreeslose spioenasiewerk tot geskiedkundige vervolgings gelei. Maar dit alles het Barry, oor wie die televisiefliek Doublecrossed van 1991 met Dennis Hopper in die hoofrol ook gemaak is, duur te staan gekom.
Maande voor hy die stergetuie sou wees in ’n saak om ’n karteldwelmbaas aan Amerika uit te lewer, is Barry as informant ontmasker en het Colombiaanse sluipmoordenaars die pa van drie diep in Louisiana vermoor.
Drie dekades later soek sy weduwee, Debbie (66), steeds antwoorde. “Ek wil die waarheid uitvind oor wat met hom gebeur het,” sê sy. “Die owerheid het van hom ’n doodmaklike teiken gemaak. Dit sou eintlik genadiger gewees het as hulle ons almal daardie dag doodgemaak het.”
Die gewese staatsaanklaer Prem Burns, wat gesorg het dat Barry se moordenaars agter tralies beland, sê wat die dwelmsmokkelaar se lewe betref, sukkel hy nog om die hele prentjie te sien. “Sy storie is uitsonderlik genoeg om ’n rolprent te regverdig, maar ek weet nie of enigiemand die ware Barry Seal ken nie.”
AS KIND het Barry graag gekyk hoe vliegtuie op sy tuisdorp, Baton Rouge in Louisiana, opstyg. Hy was behep met vlieg en het op 15 al sy eerste solovlug onderneem. ’n Jaar later het hy sy vlieglisensie gekry voor hy in 1955 by die reservistelugmag in New Orleans aangesluit het.
Daar het hy ekstra geld verdien deur geheime operasies vir staatsagentskappe uit te voer. Al het hy min hieroor verklap, het Barry gespog hy het in die laat 1950’s vir die CIA vuurwapens na revolusionêre magte in Kuba gesmokkel en in die aanloop tot die Viëtnam-oorlog vlugte vir die Amerikaanse weermag se spesiale magte in Laos onderneem.
In 1964 het Barry by TWA aangesluit. Op 26 het hy een van die lugdiens se jongste kapteins geword. Maar die selferkende “rebel-avonturier” het na opwinding gesmag en smokkelary het hom dit gebied.
“Daar was ouens wat dit gedoen het omdat hulle geen keuse gehad het nie. Party het dit vir die geld gedoen. Ander omdat hulle dit geniet het om op die rand van gevaar te wees – dit was Barry,” sê die veteraanprokureur Dick Gregorie, wat later in dwelmsake met Barry saamgewerk het.
“Hy was ’n wonderlike vlieënier. Hy kon ’n yskas vlieg. Van die dinge wat hy reggekry het, was ongelooflik.”
In 1972 is hy gevang toe hy militêre plofstof uit die land probeer smokkel. Dit was glo vir Kubaanse vegters teen Fidel Castro bedoel. Dit het hom sy werk gekos. Maar op pad na die verhoor het die 33-jarige Barry ’n beeldskone 21-jarige kassier ontmoet. “Ek het by ’n restaurant gewerk,” vertel Debbie.
In American Made vertolk die nuweling Sarah Wright Olsen haar rol, maar die karakter se naam is Lucy.
“Hy het daar ingeloer en my net daar gevra om met hom uit te gaan.”
Sy sê hy het haar voete onder haar uitgeslaan. “Hy het vir my wilde stories vertel oor vlugte wat hy vir sendings onderneem het. Ek was jonk en dit was indrukwekkend. Hy was aantreklik, baie charismaties en het altyd gelag. Mense het dit geniet om by hom te wees.”
Toe sy met opleiding as vlugkelnerin by Southern Airlines in Atlanta begin, het Barry besluit hy wil haar aan sy sy hê.
“Eendag het hy my met sy eie vliegtuig kom oplaai. Hy het gesê: ‘Kom saam met my; ek sal jou na meer plekke neem as wat Southern Airlines ooit sal.’ En ek het dadelik my werk gelos,” vertel sy.
Hulle is in 1974 getroud. In dieselfde jaar is die klag oor wapensmokkelary teen hom laat vaar. Die werklose Barry het besluit om sy geluk te beproef.
Met waaghalsige baanbrekerstegnieke, soos om snags met ’n nagsigbril te vlieg, radars te omseil, beamptes om te koop en vrag met valskerms in moerasse af te gooi, het hy ’n suksesvolle smokkelaar geword en dagga van Latyns-Amerika ingevlieg.
In 1979 is hy in Honduras vasgetrek en hy het nege maande daar in ’n tronk gesit. Op die vlug huis toe het nog ’n toevallige ontmoeting sy lewe verander. Barry het ’n smokkelaar ontmoet wat vir Jorge Ochoa gevlieg het, een van die magtige familiehoofde in die Medellín-kartel.
Die toe nog onbekende Colombiaanse dwelmbase sou kort daarna by die geledere van internasionale superskurke aansluit wat honderdmiljoene verdien het danksy die skielike gewildheid van kokaïen in die 1980’s in Amerika.
Barry, wat gou as El Gordo (Spaans vir Die Vet Man) bekend geword het, was ’n integrale deel van die sukses. Nadat hy in 1982 die owerheid in Louisiana se aandag getrek het, het hy besluit om liewer vanuit ’n klein streeklughawe op die dorp Mena in Arkansas te werk.
Hy het ’n goed geoliede operasie bestuur en glo teen 1983 sowat $60 miljoen (toe sowat R66 miljoen) gemaak deur 56 ton kokaïen in te vlieg, en dit onder die neus van die destydse goewerneur van Arkansas, Bill Clinton.
Al wat Debbie van haar man se werk geweet het, is dat hy ’n vliegtuigagent is en ou lugafweerbeligting vir promosiegeleenthede verhuur.
“Ek het hom vertrou; daarom het ek nie vrae gestel nie,” sê sy. “Hy sou vir my sê: ‘Ek gaan hierheen of daarheen,’ en ek sou hom dae lank nie sien nie. Ek het nooit dwelms gesien nie. Ons het lekker geleef, maar ons was nie biljoenêrs nie.”
Sy erken sy het van sy voorliefde vir gevaar geweet. “Barry was ’n adrenalienslaaf,” sê sy met ’n teer glimlag. “Hy het van die opwinding gehou. In sy kantoor het ’n skets gehang van ’n jakkals wat sê: ‘ Vang my as jy kan.’ Hy het die jaagtogte geniet en om die owerheid te uitoorlê.”
Party meen Barry het van Mena vir die CIA gewere na Nicaraguaanse rebelle gevlieg. Destyds wou die Amerikaanse regering heimlik daardie land se kommunistiese heersers help omverwerp in wat as die Iran-Contra-skandaal bekend geword het. Daar is steeds samesweringsteorieë dat die federale owerheid hulle blind gehou het vir wat hy ook al op die terugvlugte ingesmokkel het.
Nietemin is Barry in 1983 tydens ’n operasie in Suid-Florida aangekeer toe hy 200 000 Mandrax-pille probeer insmokkel. Met 50 jaar tronkstraf wat hom in die gesig gestaar het, het hy in die hoop op ’n pleitooreenkoms sy dienste as informant aangebied. Maar die aanklaers, steeds onbewus van die ware omvang van die kokaïensmokkelary, het sy aanbod van die hand gewys.
Barry het met sy vliegtuig Washington toe gevlieg. Hy het ’n vergadering met adj.pres. George H.W. Bush se taakmag teen dwelms gereël en dié het ingestem om met hom saam te werk. Dat hy aan so ’ n belangrike deur kon gaan klop, blaas net die samesweringsteorieë aan.
Die taakmag was so beïndruk, hulle het hom nie net toegelaat om uit die land te vlieg nie; hy kon ook dwelms terugbring as deel van sy geheime werk. Dit het noukeurige beplanning geverg om te sorg die dwelms bereik nie hul bestemming nie sonder dat Barry se Colombiaanse verskaffers, wat berug was vir hul gewelddadigheid, agterdogtig raak.
“Voor Barry opgedaag het, het hulle (die Amerikaanse owerheid) nie eens geweet wat die kartel is nie,” sê Dick.
Barry het vinnig gewys wat as vreeslose vlieënier én informant in hom steek. Binne ’n paar maande het hy die Amerikaanse agentskap teen dwelms (DEA) hul drie grootste sake help wen. Beamptes het hom as die “belangrikste getuie” in die agentskap se geskiedenis beskryf.
“Hy het hard probeer om homself te red en ongelooflik baie kanse gewaag,” sê sy prokureur, Lewis Unglesby.
‘Barry was ’n adrenalienslaaf. Hy het van die opwinding gehou en die jaagtogte geniet’
In Junie 1984 het Barry op die aanloopbaan van ’n Nicaraguaanse lughawe die berugte kartelbaas Pablo Escobar en weermagbeamptes van die land afgeneem terwyl hulle kokaïen op sy vliegtuig, Fat Lady, laai.
Die Withuis was desperaat vir steun om die antiregering-Contras in Nicaragua te bewapen en wou die foto’s uitreik, maar Barry se DEA-hanteerders wou nog groot name vastrek.
Toe die foto’s minder as ’n maand later ewe gerieflik na ’n koerant uitgelek word, is sy ware identiteit ontbloot, en dit terwyl hy nog in die veld was. Barry het ongedeerd by die huis gekom, maar was verplig om van operateur na informant oor te skakel.
Later het pres. Ronald Reagan die foto’s in ’n dramatiese televisieuitsending gebruik. Maar die owerheid in Louisiana het niks van die uitblinker- federale medewerker gehou nie omdat hy glo aanhou dwelms smokkel het.
Barry, astrant soos altyd, het ’n televisiestasie genader om te kla oor hoe die aanklaers hom behandel en oor sy waagstukke te spog. “Vir my is dit opwindend om in ’n lewe-en-dood-situasie te beland,” was een van sy aanhalings.
Die joernalis John Camp vertel tydens hul onderhoude het Barry die rol van ’n “vet James Bond” gespeel. Die uur lange dokumentêr wat hulle vervaardig het, het aan die Medellín-kartel bevestig hy’s ’n verklikker. En toe die kartel hoor hy wil help om Jorge Ochoa uit Spanje uitgelewer te kry, het hulle genadeloos opgetree.
“Eendag het Barry tuisgekom en gesê daar is ’n kontrak op hom – ’n halfmiljoen dood; ’n miljoen lewend,” sê Debbie.
Die egpaar het getuiebeskerming oorweeg, maar daarteen besluit. “Hy het gedink ons het meer tyd. Ek dink hy het ook gemeen Colombiane sou soos ’n seer vinger in Louisiana uitstaan en hulle sou nie hierheen kom nie.”
Maar ’n regter se uitsprake in een van sy sake het dit vir hulle maklik gemaak. In Desember 1985 het Barry skuldig gepleit op nog ’n aanklag van dwelmsmokkelary in die hoop dat hy tronkstraf sou vryspring. Dit het gewerk, maar hy is gelas om ses maande by ’n Heilsleër- halfweghuis deur te bring met ’n aandklokreël vir sy aankoms.
“Dit was soos om sy doodsvonnis te onderteken,” sê Prem, wat meen die regter wou die swierbol van ’n dwelmsmokkelaar verneder.
Op 19 Februarie 1986 het twee Colombiaanse sluipmoordenaars op die Heilsleër se parkeerterrein stilgehou minder as ’n minuut voor Barry om sesuur in sy wit Cadillac daar aangekom het. Met ’n handmasjiengeweer het hulle 15 koeëls op die motor laat neerreën. Drie het Barry se bolyf getref en vier sy kop.
Die herinnering aan hoe ’n vriend vir haar die tyding gebring het dat haar man geskiet is, laat Debbie steeds huil.
“Ek het die kinders in die motor gelaai en daarheen begin ry,” vertel sy. “Ek het in die verkeer vasgesit en by ’n foonhokkie stilgehou. Ek het vir hulle gesê: ‘Ek weet nie na watter hospitaal ek moet gaan nie.’ Hulle het gesê: ‘Debbie, gaan net huis toe. Hy gaan nie hospitaal toe nie.’ Ek het vir my kinders gesê hul pa is dood. Ek het hulle by die huis besorg. Toe gaan ek kombuis toe en huil.”
DIE moordbende is op pad terug Miami toe vasgetrek en Prem het toegesien dat hulle lewenslange vonnisse kry. Hy is oortuig dit was ’n kartelsluipmoord, al erken hy daar was federale inmenging by die saak.
Maar party mense reken steeds die storie was ’n dekmantel vir ’n CIA-sluipmoord om te keer dat Barry magtige figure in die regering met twyfelagtige bedrywighede sou verbind. Debbie, wat te bang was om die verhoor by te woon, vertel sy was in ’n jare lange stryd met die belastingowerheid gewikkel. Nadat sy die meeste van hul eiendom en besittings verloor het, moes sy haar met Barry se lewensversekering onderhou.
“Die miljoene dollars wat hulle gesê het hy verdien het – as hy het, het hy dit vir my weggesteek,” sê Debbie, wat by haar dogter woon. In ’n stadium het sy gerugte gehoor van ’n multimiljoendollarrekening in die buiteland in sy naam, maar kon dit nooit opspoor nie.
Verbasend genoeg het sy sedertdien na een van haar man se moordenaars in die tronk uitgereik. Hulle het drie keer oor die foon gepraat voor tronkbeamptes ’n stokkie daarvoor gesteek het.
“Ek was verbaas. Hy was baie welsprekend,” sê sy. “Ek het vir hom gesê ek het hom vergewe, want dit was gekke tye.”
Met hul laaste gesprek het hy haar laat glo daar steek dalk iets in die samesweringsteorieë. “Hy het gesê: ‘Besoek my en ek vertel jou wie my betaal het om jou man dood te maak.’ Nou, as dit algemeen bekend is die kartel het dit gedoen, hoekom sou hy vir my sê daar is iets anders? Ek dink dis ’n sterfbedbekentenis. Maar ek word verhinder om hom te besoek.”
Sy sê in die laaste jaar van sy lewe het Barry vir haar gesê hy is bang vir die CIA. “Hy het gesê daar is geen plek ter wêreld waar hy vir hulle kon wegkruip nie.”
Wat die waarheid ook al is, die grafskrif wat Barry vir homself gekies het, sê baie oor hoe hy homself gesien het: “’n Rebelavonturier, soos dié wat Amerika in die ou dae wonderlik gemaak het.” Lees ’n resensie van American Made op bl. 52. © DAILYMAIL.COM