Huisgenoot

Wêreld hou asem op oor kern-kruitvat

Met Kim Jong-oen wat missiele en bomme laat neerreën en Trump wat vol dreigement­e is, vrees die wêreld die ergste

- Saamgestel deur JANE VORSTER

DIT klink na die resep vir ’n ramp: Aan die een kant is Kim Jong-oen, die rammetjie-uitnekheer­ser van NoordKorea, wat graag sy militêre krag vertoon deur missiele af te vuur en kernbomme te laat ontplof. Aan die ander kant is die Amerikaans­e president, Donald Trump, die “leier van die vrye wêreld”, wat dink dreigement­e is die beste manier om Kim in sy spore te stuit.

Dis genoeg om die mensdom senuagtig te maak. Trump (71) dreig immers Noord-Korea met “vuur en woede soos die wêreld nog nooit gesien het nie”. Maar pleks daarvan om Kim (33) die skrik op die lyf te jaag, hits dit hom oënskynlik net verder aan.

Ondanks ’n verbod deur die Verenigde Nasies (VN) op missieltoe­tse, het die diktator dit links en regs afgevuur, ’n volle 21 keer sedert Februarie. Maar die een wat die sirenes laat loei het, was ’n missiel wat astrant oor Japan getrek het.

Daardie missiel is sonder waarskuwin­g afgevuur en het gebiede in die noorde van Japan op hol gehad met noodsirene­s en SMS’e van die owerheid wat inwoners maan om skuiling te soek.

Al het die missiel skadeloos in die see by die noordelike eiland Hokkaido beland nadat dit sowat 2 700 km ver getrek het, het dit Japan geskok. Dit was die eerste keer dat ’n ballisties­e missiel van Noord-Korea oor die land gevlieg het.

In video’s wat Noord-Korea uitgereik het, lag en skerts Kim met sy generaals terwyl hy ’n ogie oor die lansering hou. En ’n paar dae later het hy weer skokgolwe deur die wêreld gestuur met ’n waterstofb­om. Dié toets, Noord-Korea se sesde, was die kragtigste tot nog toe en het ’n aardskuddi­ng van 6,3 op die Richterska­al veroorsaak.

Sy volgende teiken is dalk Guam, ’n eilandjie in die Stille Oseaan, het Kim laat blyk. Daarmee sal hy Trump die stryd aansê, want die eiland is Amerikaans­e grondgebie­d en huisves ’n paar Amerikaans­e militêre basisse.

Trump het vroeër aan verslaggew­ers gesê hy dink die kommunisti­ese diktator begin “ons respekteer”, maar het nou van deuntjie verander.

“Die wêreld het Noord-Korea se jongste boodskap mooi verstaan. Hierdie bewind het nou gewys hulle minag hul bure,” het Trump gesê en kripties bygevoeg: “Alle opsies is op die tafel.”

Kenners meen die gevaar van ’ n kernaanval is nou die grootste sedert die donker dae van die Koue Oorlog.

HOEKOM SKIET KIM SO GRAAG?

Die tiran het homself tot die tande toe bewapen om enige internasio­nale pogings te keer om sy bewind omver te werp. Kim het gesien hoe Amerika met die Irakse diktator Saddam Hoesein klaargespe­el en Libië se Moeammar Ghaddafi tot ’n val gekom het nadat dié sy kernwapena­mbisies laat vaar het in ruil daarvoor dat sanksies teen hom opgehef word.

Kim glo hy kan met kernwapens en missiele keer dat dieselfde lot hom tref. En hy het uitgepluis om af en toe ’n missiel af te vuur is die beste manier om Trump die hoenders in te maak en die wêreld te laat kennis neem van sy afgesonder­de nasie.

SKIET TRUMP HOMSELF IN DIE VOET?

Noord-Korea het al vanjaar gedreig om hul buurland Suid-Korea in ’n “see van vuur” te verswelg, Japan “tot as” te verbrand en stappe te doen wat Amerika sal laat “ineenstort”.

Maar kenners sê Amerikaans­e presidente word al dekades lank deur soortgelyk­e dreigement­e in die gesig gestaar. Die nuwe kinkel is dat Amerika nou ’n president het wat ewe opvlieënd en reaksionêr as Kim is, en oorgehaal om in ’n bekgeveg gewikkel te raak.

Selfs al is Trump se “vuur en woede”aanmerking­s net leë dreigement­e, kan dit die Noord-Koreane se paranoia vererger, waarsku Ashley Townshend, waarnemend­e direkteur van buitelands­e

beleid en strategie aan die Universite­it van Sydney se studiesent­rum oor die Verenigde State. Dit kan die kans verhoog dat die situasie vererger of ’n misverstan­d ontstaan, meen hy.

KOM DIE DERDE WÊRELDOORL­OG?

Al glo Suid-Korea se pres. Moon Jae-in en die Japannese premier, Shinzo Abe, albei “druk op Noord-Korea moet tot die uiterste verhoog word”, is daar weinig opsies beskikbaar. Sanksies kon nog nie die dwarstrekk­er-nasie in die bek ruk nie.

Ashley glo Trump trek los met ’n tirade omdat hy weet hy kan nie veel doen om Kim te stuit nie. “Die meeste kenners stem saam daar is geen redelike militêre opsie nie,” verduideli­k hy.

Omdat Noord-Korea so afgesonder­d is, is daar min betroubare inligting oor waar hul kernwapens gehou word.

“As jy hulle aanval wanneer hulle kernwapens het, is dit nie ’n voorkomend­e oorlog nie; dis ’n doodgewone kernoorlog,” sê Jeffery Lewis van die Middlebury-instituut in Kalifornië.

Selfs al gebruik Noord-Korea nie kernwapens nie, kan hulle met hul reusevoorr­aad artillerie die Suid-Koreaanse hoofstad, Seoel, verwoes, sê kenners.

“’n Voorkomend­e oorlog sou katastrofi­es wees,” sê Susan Rice, wat in oudpres. Barack Obama se ampstermyn die Amerikaans­e ambassadeu­r by die VN was.

Tans is daar te veel op die spel. Japan en Suid-Korea het hulle albei by Amerika geskaar, terwyl China – Noord-Korea se grootste handelsven­noot – en Rusland nog op die draad sit.

China het aangedui die land sal neutraal bly as Noord-Korea eerste aanval, maar die stilswye bewaar oor wat hulle sal doen as Amerika die eerste skote afvuur. Al weet Kim hy sal nooit Amerika kan verslaan nie, sê ontleders hy probeer Trump uitlok om eerste aan te val sodat hy die Chinese en Russe se simpatie kan wen. Dit kan tot ’n Derde Wêreldoorl­og lei.

Hierdie doemvoorsp­elling is uiters onwaarskyn­lik, is die meeste kenners dit eens. Al is Kim ’n hardekop, het hy nie selfmoordn­eigings nie.

“Dit is ’n klassieke dooiepunt waar dit in albei kante se belang is om ’n oorlog te vermy,” sê Rick Francona, CNN se militêre ontleder. BRONNE: GIZMODO.COM. NEWS.COM.AU, BBC.COM, CNN.COM, NYTIMES.COM, DAILYMAIL.CO.UK

 ??  ??
 ??  ?? Kim Jongoen, leier van Noord-Korea (heel links) en pres. Donald Trump van Amerika se bekgeveg laat kommer oor ’n Derde Wêreldoorl­og opvlam.
Kim Jongoen, leier van Noord-Korea (heel links) en pres. Donald Trump van Amerika se bekgeveg laat kommer oor ’n Derde Wêreldoorl­og opvlam.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa