Huisgenoot

Man praat ná vrou hom wou dood hê

Ná sy vrou se vonnisople­gging vertel Carlos van die gevaarteke­ns vooraf, al bly haar motief vir hom duister

- Deur JACQUES MYBURGH

VERBY wuiwende palmbome en skuimende branders het die paartjie dikwels hand aan hand op die suikerwit strand geloop. Carlos en Marietjie Ferreira het ’n gastehuis op die kusdorp Ponto do Ouro in die suide van Mosambiek bestuur. Maar wat na ’n idilliese lewe in ’n vakansiepa­radys klink, was vir Carlos (55) ’n nagmerrie.

“My lewe was ’n ramp,” sê Carlos oor sy huwelik van drie jaar met Marietjie (53).

Dinge het vir Carlos byna rampspoedi­g geëindig toe Marietjie in Maart vanjaar ’n huurmoorde­naar kry om hom te vermoor.

Carlos het nooit gedink ’ n kuier by vriende op Witrivier, Mpumalanga, sou die ideale geleenthei­d vir Marietjie wees om die moord op hom te beplan nie.

Sy is vasgetrek net toe sy die transaksie wou beklink.

Op 2 Augustus is Marietjie in die streekhof in Mbombela skuldig bevind aan sameswerin­g tot moord. Sy is ’n vonnis van 12 jaar opgelê waarvan vyf jaar opgeskort is.

Sowat ’n week ná Marietjie se vonnis praat Carlos in ’ n video-oproep met Huisgenoot. Hy sit in die voorportaa­l van die gastehuis wat hulle saam opgebou het.

“Ek het net voor daardie kuier vir Marietjie gesê ek sien in my geestesoog hoe sy in die tronk sit en huil. Ek het vir haar gesê sy moet haar lewe verander. Maar sy wou nie luister nie,” sê Carlos.

Die maande sedert die dag toe sy vrou in hegtenis geneem is, was nie maklik nie. Nie net moes hy saamleef met die feit dat sy vrou hom wou dood hê nie; sy ondernemin­g was ook geldelik in die knyp.

Daarby was hy steeds lief vir Marietjie.

CARLOS vertel hy het ’n hele paar keer die gevoel gekry sy wou hom dood hê. Die messe onder hul bed; Marietjie wat met ’n mes aan die slaap raak en dink hy sien dit nie; die messe op vreemde plekke in hul huis.

Nooit het sy dit reguit vir hom gesê nie, “maar ek het altyd geweet”.

Ná haar inhegtenis­neming was hy so bang, hy het selfs al die oorskietko­s in hul vrieskas weggegooi. “Vir al wat ek weet, is daar gif ingegooi.”

Aan die begin was Carlos en Marietjie baie aangetrokk­e tot mekaar. Hulle het mekaar in 2013 ontmoet toe Marietjie, wat destyds ’n hondeherbe­rg bestuur het, saam met ’n groep skubaduike­rs vakansie hou op Ponto do Ouro. Carlos was die instrukteu­r en het hulle met die boot op die Indiese Oseaan uitgeneem.

“Sy het aan die begin vir my soos ’n baie ordentlike vrou gelyk,” vertel Carlos. “Ons het dadelik van mekaar begin hou. Ons was toe albei eensaam.”

Marietjie het in dieselfde jaar foto’s van Ponto do Ouro op Facebook gelaai en aangekondi­g dis haar nuwe tuiste. Sy en Carlos is kort daarna getroud.

Maar ses maande ná hul troudag het sake stormagtig geraak. Carlos sê dit het veral vererger nadat Marietjie geld van haar oorlede man ontvang het. Sy het meer as R800 000 in die Primo Cabanas Lodge, waarvan Carlos die eienaar was, ingestoot.

Ja, hulle het baklei, sê Carlos. Die meeste van die tyd was dit oor geld en Marietjie wat volgens Carlos onverantwo­ordelik met geld omgaan. “Ons het eintlik oor alles baklei. Enigiets sou in ’ n rusie ontaard.”

’n Plaaslike duikinstru­kteur, wat anoniem wil bly, bevestig aan ons Carlos en Marietjie het gereeld vasgesit. “Die een oomblik het jy gehoor hoe kwaad hulle vir mekaar is; die volgende oomblik het hulle hand aan hand op die strand gestap.”

Die bron sê Marietjie en Carlos was nie goed vir mekaar nie. “Hul verhouding was baie ongesond.”

Carlos stem saam. “Ek dink nie daar was ooit regtig liefde vir mekaar nie. Sy het bitter min vir my gesê sy is lief vir my.” Carlos sê tot vandag toe weet hy nie wat sy vrou so briesend kon maak dat sy sy moord beplan het nie. “Dit is steeds vir my ’n raaisel. Ek kan nie glo sy wou iets so doms aanvang nie,” sê hy.

Op 19 Maart vanjaar het Carlos saam met ’n vriend op Witrivier aan tafel gekuier terwyl Marietjie en ’n vriendin vulstasie toe gery het om ’n paar benodigdhe­de te koop.

“Ons het nog so gesels, toe lui my vriend se foon en kon ek die totale skok op sy gesig sien.”

Nadat sy vriend afgelui het, was sy eerste woorde aan Carlos: “Marietjie wou jou laat vermoor.”

“Ek kon dit nie glo nie,” sê Carlos. “Sy het nie buitengewo­on opgetree nie. Ek het niks vermoed nie.”

Marietjie het ’n vriend op Witrivier gevra om ’n huurmoorde­naar te kry om Carlos te vermoor. Volgens kapt. Dineo Sekgotodi, Valke-woordvoerd­er, moes die moord soos ’n kaping gelyk het. “Die paartjie sou van Witrivier af huis toe gery het. Die kaping moes op pad terug by Malelane gebeur het,” sê sy.

Die vriend het saamgespee­l, maar toe na die polisie gegaan. Toe Marietjie R20 000 aan die “huurmoorde­naar” – eintlik ’n polisieman – wou oorhandig, is sy in hegtenis geneem.

“Sy het selfs GPS-koördinate aan die polisieman gestuur vir die presiese plek waar hulle veronderst­el was om my dood te maak,” vertel Carlos.

Marietjie het later in aanhouding skuld beken.

Albei Marietjie se vorige huwelike het tragies geëindig. Haar vorige man, Allan Hepburn, is in 2012 op ’n kleinhoewe by Bronkhorst­spruit doodgestee­k terwyl hy sy motorband omgeruil het. Haar eerste man is weens kanker dood.

Volgens Carlos moes hy eers hierdie nare ervaring beleef om te besef Marietjie is net gif vir sy siel. “Ek moes dit eintlik lankal beëindig het, maar ’n mens byt maar vas en hoop die beste. Jy wil ook nie deur die hel van ’n egskeiding gaan nie.”

Hier waar Carlos met ons gesels, is ’n vrede in hom. Dit is heel anders as toe Huisgenoot met hom gepraat het net ná Marietjie se inhegtenis­neming. Toe was hy woedend.

“Ek dink haar vonnis het ’n mate van verligting gebring. Want sy was besig om my lewe te ruïneer. Ek is dankbaar sy is nie meer deel van my lewe nie.”

DIS nou al vyf maande later en Marietjie het nog nie vir hom ’n verduideli­king gegee of jammer gesê nie.

“Al wat sy vir my sê, is ek wou haar weg gehad het. Ek het vir haar gesê ek wou haar nie weg hê nie, maar nou het sy haar lewe verwoes,” sê Carlos.

Tydens haar pleitverdu­ideliking op 2 Augustus het haar regsvertee­nwoordiger, VC Vilakazi, voor landdros André Geldenhuys aangevoer haar man het haar ’n jaar voor haar inhegtenis­neming aangerand. Daarna het sy vir haar lewe gevrees, het Vilakazi volgens die koerant Laevelder gesê.

Huisgenoot het Vilakazi gekontak, maar hy het gesê hy kan geen kommentaar verskaf nie.

Carlos sê al waaroor Marietjie huil, is die vernederin­g wat sy vir haar familie veroorsaak het.

Marietjie se dogter, wat in Suid-Afrika woon, wou nie kommentaar lewer of geïdentifi­seer word nie.

’n Familielid van Marietjie het anoniem aan ons gesê Marietjie was vervreem van haar dogter. “Sy het maande ná die tyd by haar ouma gehoor Marietjie is met Carlos getroud.”

Die familielid sê daar was net een manier en dit was Marietjie se manier. “As jy nie by haar manier van doen ingepas het nie, het jy nie by haar wêreld ingepas nie.”

Carlos besef hy moet van Marietjie skei “omdat ek weet sy kan nie meer deel van my lewe wees nie”. Tog het hy haar reeds vergewe.

“As sy my nodig het, sal ek daar wees vir haar. Ek kan nie anders as om jammer vir haar te voel nie.”

 ??  ??
 ??  ?? HOOFFOTO: Marietjie Ferreiraei­ra is vroeër vandeesmaa­nd gevonnis tot 12 jaar tronkstraf waarvan vyf jaar opgeskort is nadat sy beken het sy het ’n huurmoorde­naar gekry om haar man, Carlos, te vermoor. LINKS: Marietjie het in Oktober verlede jaar op...
HOOFFOTO: Marietjie Ferreiraei­ra is vroeër vandeesmaa­nd gevonnis tot 12 jaar tronkstraf waarvan vyf jaar opgeskort is nadat sy beken het sy het ’n huurmoorde­naar gekry om haar man, Carlos, te vermoor. LINKS: Marietjie het in Oktober verlede jaar op...
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ?? LINKS en BO: Carlos en Marietjie het ’n idilliese lewe aan die kus van Mosambiek gelei waar hulle ’n gastehuis bestuur het. Maar mense wat hulle geken het, sê daar was gereeld onmin tussen die twee.
LINKS en BO: Carlos en Marietjie het ’n idilliese lewe aan die kus van Mosambiek gelei waar hulle ’n gastehuis bestuur het. Maar mense wat hulle geken het, sê daar was gereeld onmin tussen die twee.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa