Huisgenoot

Dít wag op groeiende Cambridge-gesin

Terwyl ’n besige program en vele veranderin­gs vir William en Kate voorlê, kom die nuus dat sy weer swanger is

- Saamgestel deur KIRSTIN BUICK

TOE die hertogin van Cambridge twee maande gelede ’ n sagte speelding prersent kry, het sy speels vir haar man gesê: “Ons sal nog babas moet kry.”

Kate was toe saam met prins William en hul kinders, prins George (4) en prinses Charlotte (2), op toer deur Duitsland en Pole, en niemand het haar opmerking ernstig opgeneem nie.

Juis daarom is die wêreld op 4 September onkant betrap deur die opwindende nuus uit Kensington-paleis: “Die hertog en hertogin van Cambridge is verheug om aan te kondig die hertogin van Cambridge verwag hul derde kind.

“Die koningin en lede van albei families is verheug oor die nuus. Soos met haar vorige twee swangerska­ppe, ly die hertogin aan hiperemesi­s gravidarum (kwaai oggendnaar­heid),” het die paleis gesê.

Daarom is Kate se besoek aan die Hornsey Road-kindersent­rum in Londen later dié dag afgestel. “Die hertogin word in Kensington-paleis versorg.”

Die paleis het nie die geslag van die nuwe baba verklap of hoe lank Kate toe al verwag het nie. Luidens berigte is Kate minder as 12 weke swanger, en het sy moontlik reeds verwag toe sy in Julie die grappie maak.

DIT was ’n uitgemaakt­e saak die tweede Britse troonopvol­ger en sy pragtige vrou sou meer as twee kinders hê, maar die derde baba het dalk gouer gekom as wat sy ouers moontlik beplan het. Dis beslis nie die beste tyd vir Kate om swanger te wees nie, veral nie as sy weens die naarheid buite aksie gaan wees nie. Benewens ’n besige program van koninklike pligte, verhuis die egpaar op die oomblik van hul platteland­se woning, Anmer Hall, in Norfolk, na hul 22-slaapkamer-woning in Kensington-paleis in die Britse hoofstad.

En klein George begin vandeesmaa­nd met “grootskool”. Kate het al erken sy dink nie George weet wat op hom wag by Thomas’s Battersea in Londen nie.

In ’n e-pos aan ouers oor George se toelating skryf die skool: “Die hertog en hertogin het dit duidelik gemaak hulle wil nie hê prins George se bywoning van Thomas’s moet enigsins die skool se doelwit of waardes verander nie.

“Hulle wil graag sover moontlik hê hy moet dieselfde opvoeding as al ons leerders kry, en wil deel van die skoolgemee­nskap word, soos al ons nuwe ouers.”

Volgens Vanity Fair is die skool bekend vir sy “ambisieuse middelklas­ouers, wat prokureurs, bankiers en joernalist­e insluit, pleks van aristokrat­e”.

Om George te help inpas, is sy klasmaats en onderwyser­s glo gevra om na hom as George Mountbatte­n-Windsor te verwys.

“Hy sal nie die Cambridge-naam of ’n koninklike titel gebruik nie,” het iemand in die binnekring vertel. “William en Kate doen wat hulle kan om te verseker alles verloop seepglad vir George.”

Gelukkig sal ’n niggie van hom, Maud Windsor (4), dogter van lord Frederick Windsor en sy vrou, die aktrise Sophie Winkleman, ook in die skool wees.

Sy bloubloed-ouers het almal verras met hul keuse van die privaat skool met klasgeld van sowat R290 400 per jaar. Daar is verwag hulle sou George inskryf aan die eksklusiew­e seunskool Wetherby in Notting Hill, waar pa William en oom Harry was.

Volgens vriende het hulle op die gemengde skool besluit sodat Charlotte later by haar ouboet kan aansluit. Sy sal reeds oor sowat twee maande na die

’Ek probeer hulle herinner daar is twee oumas in hul lewe’

skool se kleutersko­ol kan begin gaan.

Op klein Charlotte wag die aanpassing van ’n nuwe kleinboet- of sus, asook haar ouboet wat nie meer heeldag tuis sal wees tuis nie.

Die prinsessie is baie geheg aan George en is dol daaroor om met hom te speel, vertel ’n bron na aan die gesin. “Hy is baie beskermend teenoor haar, maar hulle hou ook daarvan om lekker rof te speel.”

Charlotte, wat in 2018 met kleutersko­ol begin, is duidelik haar ma se klein oogappel. Kate het eenkeer geskerts: “Mamma het ’n skaduwee,” het ’n bron na aan die Middletons aan Us Weekly vertel. “Waar Kate gaan, gaan Charlotte.”

Charlotte “help” ook graag in die huis. “Wanneer die huishoudst­er of Kate kos maak, soek Charlotte haar eie speelgoeds­tel en boots hulle na.”

NUWE LEWE IN LONDEN

Die 91-jarige koningin Elizabeth het haar amptelike pligte afgeskaal en die hertog van Edinburgh (96) het afgetree. William en sy vrou van ses jaar sal dus voortaan meer koninklike pligte moet aanneem. Daarom het dit sin dat die gesin van die Sandringha­m-landgoed na Londen verhuis. William het ook sy uniform as lugambulan­svlieënier weggepak.

Die paartjie se nuwe woning is in Kensington-paleis geleë, wat al sedert die 17de eeu die tuiste van koninklike familieled­e is.

Kate en William se woning van 22 vertrekke beslaan vier vloere. Charlotte en haar ouboet sal dus genoeg ruimte hê om te baljaar. Boonop het hulle ’n lekker speelmaat, hul oom Harry (31), wat langsaan woon.

Harry sal waarskynli­k voortaan gereeld kinderoppa­sser speel, want Kate se ouers, Carole (62) en Michael (68), sal nie meer so naby soos nou wees nie.

Die Middletons woon naby Anmer Hall in Bucklebury, Berkshire, en het voorheen gereeld hul bloubloed-kleinkinde­rs op naweekuits­tappies geneem.

Maar nou is hulle na aan hul oupa aan vaderskant, prins Charles (68), en hul stiefouma, Camilla, die hertogin van Cornwall (70).

Die St. Mary-hospitaal, waar George in 2013 gebore is en Charlotte in 2015, is ook naby aan die paleis; hulle sal na verwagting weer Kate se bevalling behartig.

SWANGER EN STRALEND

Kate het dae voor die aankondigi­ng stralend en gesond gelyk tydens ’n plegtighei­d in Kensington-paleis se versonke tuin. Dis in ’n gedenktuin omskep vir die 20ste herdenking van prinses Diana se dood in ’n motorongel­uk in Parys.

Catherine was geklee in ’n blommerok deur Prada, en het saam met haar man en prins Harry deur die tuin gewandel. Van ’n babamagie was daar toe nog geen teken nie.

Die jong ma het al vertel hoe spyt sy is sy het die ontslape prinses van Wallis nooit geken nie. “Ek sou haar graag wou ontmoet het, en sy is natuurlik ’n inspireren­de vrou om na op te sien.”

William laat sy ma se nagedagten­is voortleef deur sy kinders staaltjies oor Diana te vertel. “Ek doen dit gereeld wanneer ek George en Charlotte in die bed sit,” het hy vertel. “Ek praat oor haar en probeer hulle herinner daar is twee oumas in hul lewe. Dis belangrik hulle weet wie sy was en sy het bestaan.”

OGGENDNAAR­HEID

Die meeste ma’s sukkel met oggendnaar­heid, maar net een uit 100 ontwikkel die ernstige vorm (hiperemesi­s gravidarum) waarmee die hertogin van Cambridge weer sukkel.

Dit was tydens haar tweede swangerska­p so erg, die paleis moes die aankondigi­ng vroeër as beplan maak, net 48 uur nadat die koningin en die Middletons ingelig is.

En dit lyk asof dieselfde nou gebeur het. Volgens The Telegraph is Kate minder as 12 weke swanger, maar het sy besluit om dit bekend te maak om haar skielike afwesighei­d te verklaar.

TROONOPVOL­GERS

Die nuwe Cambridge-baba sal die vyfde troonopvol­ger wees, wat prins Harry na die sesde posisie laat afskuif. Die prins van Wallis is die eerste troonopvol­ger, gevolg deur sy seun William, prins George en prinses Charlotte.

Jonger boeties kry nie meer voorkeur op die lysie bo ouer susters nie vanweë die Kroonwet wat in 2013 verander is. Selfs al skenk Kate dus die lewe aan ’n seuntjie, sal prinses Charlotte se kans steeds groter wees om die troon te bestyg as haar moontlike nuwe kleinboet s’n, veral as George nie kinders van sy eie het nie.

BRONNE: US WEEKLY, HELLO! MAGAZINE, VANITY FAIR, THE TELEGRAPH, THE MIRROR, THE SUN

 ??  ??
 ??  ?? HOOFFOTO: William en Catherine verwag hul derde kind. BO: Hulle het op ’n gemengde skool vir hul eersteling, prins George (INLAS), besluit.
HOOFFOTO: William en Catherine verwag hul derde kind. BO: Hulle het op ’n gemengde skool vir hul eersteling, prins George (INLAS), besluit.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa