Huisgenoot

Smiley bitter spyt oor vals bekentenis

Nadat die klagte teen hom laat vaar is, vertel Smiley van sy spyt oor sy vals bekentenis oor die handafkapm­oord

-

DIE jong man lyk effens verdwaas toe hy hom op die bruin rusbank in sy ouerhuis tuismaak. Die rooi sweetpakto­p wat hy by ’n informele kortbroek en plakkies dra, is splinternu­ut. Al is André van Wyk, oftewel Smiley, nou ’n vry man, kan ’n mens sien hy is nog in sy eie “tronk” van ongerusthe­id. Toe hy die een been oor die ander kruis, spring dit senuweeagt­ig.

“Dis beter; dis ’n groot aanpassing,” is André (25) se eerste woorde oor sy vrylating vier dae tevore nadat die aanklagte van die moord op en verkragtin­g en lykskendin­g van die tiener Anika Smit (17) in Pretoria-Noord se landdrosho­f teen hom teruggetre­k is. Sy glimlag is wrang ná ’n jaar agter tralies.

Die moord in 2010 op Anika, ’n gr.11leerder aan die Hoërskool Gerrit Maritz, is een van die land se opspraakwe­kkendste onopgelost­e sake. Sy is op 10 Maart 2010 vermoor en met ’n bottel verkrag in haar pa se huis in Theresapar­k, PretoriaNo­ord, nie ver van waar ons gesels nie. Sy was met oorontstek­ing by die huis.

Die moordenaar het daarna ook haar hande afgekap. Haar hande is nooit gekry nie. En daar, sowaar ses jaar later, strompel André in die oggendure van 17 September 2016 by die plaaslike polisiekan­toor in en gee homself oor, ’n daad wat hy nou as die grootste fout van sy lewe bestempel.

Hoewel vreemd, kon dit vir mense sin maak dat die skuldige eindelik vasgetrek is: Anika en André was ten tyde van die moord albei in dieselfde jaar aan die skool; sy ’n gewilde sosiale vlinder en hy ’n stille figuur en berugte droogmaker op die agtergrond. Sy maats het hom Smiley genoem omdat hy altyd geglimlag het.

“Ek het Anika nie goed geken nie. Ons was in dieselfde graad, maar het nie veel gesels nie,” vertel hy in sy eerste eksklusiew­e onderhoud aan Huisgenoot. Hy wil dit duidelik maak hy is onskuldig, maar sê reguit hy gee nie om wat mense van hom dink nie. “Dit is nou ’n nuwe hoofstuk vir my,” sê hy.

André se ouers, Jan (46) en Judie (45), kom op die rusbank langs hom sit. In die ruim gesinswoni­ng in Pretoria-Noord is ook sy broer Abrie (22) en nog drie jonger sibbes, twee sussies (18 en 15) en ’n boetie (13). Die reuk van pastei en skyfies trek uit die kombuis waar die eerste Son- dagmaaltyd vir hul verlore seun en broer berei word.

“Dit voel asof my kind dood is,” het Jan ná sy kind se inhegtenis­neming vertel. Die verligting dat André terug is, is steeds onwerklik. “Elke aand worry jy: Wat gaan aan in die tronk? Is hy veilig?” vertel Jan. Judie kyk na haar man. “Jy kan nie jou kind vashou of hom ’n drukkie gee nie, en om daar te loop . . .” sê sy, maar maak nie die sin klaar nie. “Hier is meer gehuil in dié huis as op enige ander plek.”

HY WAS min in die klas, onthou André sy skooldae. Hy vertel hy het nie juis kennis geneem van Anika nie en het nie in dieselfde kringe as sy beweeg nie. Ook oor die dag toe die skoolhoof aankondig een van hul leerders is vermoor, sê hy nie veel nie.

André is later daardie jaar uit die skool geskors nadat hy en ’n maat ’n eksamenvra­estel gesteel het vir elektriese tegnologie, volgens hom sy gunsteling­vak.

Hy het in die jare daarna by ’n skrootwerf en wegneemete-restaurant gewerk, en later by’ n lug verkoeling sondernemi­ng. Hy vertel hy het baie begin kuier toe hy in 2013 sy eie motor kry. “Ek was

maar altyd ’n bok vir sports.”

Op 16 September verlede jaar was hy by ’n lentedagbr­aai. “Dit was ’n bietjie laat, ja,” sê hy. Ná die braai was hy by verskillen­de kuierplekk­e en het hy tot in die oggendure gekuier. Later, ná sy hofverskyn­ing, het hy ’n vergesogte storie vertel van ’n man en vrou wat hom glo dié nag gedreig het om te gaan erken hy het Anika Smit vermoor. Hy het daardie selfde oggend die polisiekan­toor in Pretoria-Noord binnegesta­p en dit gedoen.

“Ek het net (vir die beamptes) gesê: ‘Ek het iemand doodgemaak.’ Die een polisievro­u het so geskrik dat sy (na agter) weggehardl­oop het,” onthou hy.

André is toe in hegtenis geneem. Hy onthou hy was baie moeg en deurmekaar toe lt.kol. Mike van Aardt, die ondersoekb­eampte, hom na sy ouers neem.

Dit was sy ouers se geskokte uitdrukkin­gs wat hom in die dae daarna laat besef het hy het ’n groot fout gemaak. “Ek het net besef ek wil nie hiervoor tronk toe gaan nie.”

Daardie Maandag was hy in die hof. Daar was joernalist­e en fotograwe om hom waar hy in die beskuldigd­ebank gestaan het. Die aanklagte wat die aanklaer uitgelees het, het hom soos vuishoue in die maag getref: “Moord. Lykskendin­g. Verkragtin­g,” onthou hy. Maar toe hy die woord “verkragtin­g” sê, steek die woord in sy keel vas. “Ek het net geweet ek kan nie tronk toe gaan daarvoor nie. Ek het toe eers besef hoe ernstig dit is.”

Hy het toe sy bekentenis teruggetre­k en vir die polisie vertel wat volgens hom werklik daardie nag gebeur het.

Vir Jan en Judie was dit net die begin van die nagmerrie. “Dit het gevoel soos die hel,” sê Judie.

Waar Jan langs sy vrou sit, loop die trane. “Geloof. Die kerk. Bid elke aand. Ons het as gesin saam sterk gebly en steun gekry,” vertel hy en die groot man vee die trane onder sy bril met die plat hand af.

Al het hulle nooit aan hul seun se onskuld getwyfel nie, het hulle moed verloor oor wanneer hy vrygelaat gaan word. “Die laaste keer het sy boeties en sussies nie eens gevra wanneer hy huis toe kom nie. Met dié laaste hofdatum (die vorige Woensdag) is ek sonder hoop hof toe. Toe sê hulle die saak word teruggetre­k. Ek kon dit nie glo nie,” vertel sy.

Al wat André aan die gang gehou het, was om sy ouers se stem te hoor wanneer hy hulle gebel het. “Ek het myself gehaat vir wat ek aan hulle doen.”

Die tronk was nie ’n lekker plek nie. “Vir ontbyt was dit slap pap, oats of Maltabella. Dis nie orraait nie. Dit smaak na niks; alles proe dieselfde.”

“Ons voel vir Anika se familie. Ek voel skuldig dat my kind dit gedoen het,” sê Judie oor André se valse bekentenis. Jan beaam dit: “Ja, sy (André se) koppie het geraas. Ons hoop die ware skuldige sal nou vasgetrek word.”

WANNEER ’n mens oor Anika praat, is André onrustig. Sy lip bewe en hy slaan toe. Die ou, vriendelik­e Smiley is weg, sê hy. Inteendeel, dié bynaam sal nou ewig verbind word met die gru-aanklagte teen hom. “Ek hou niks van die naam nie.” Hy ontken dat hy by medegevang­enes gespog het oor tatoes op sy bors van twee hande met druppende bloed. Volgens hom het hy ook nooit gesê hy wil as Smiley Scissor Hands bekend wees nie.

Hy glo hy sal eers die stukke van sy lewe kan begin optel wanneer die geregtelik­e doodsonder­soek afgehandel is.

Wanneer André oor die trauma praat van waardeur hy is, slaan hy telkens sy oë op na bo. “Ek is jammer vir die tyd wat gemors is. Al my simpatie is by hulle (Anika se familie).”

‘Ek het net geweet ek kan nie tronk toe gaan vir verkragtin­g nie’

 ?? Deur JANA VAN DER MERWE ??
Deur JANA VAN DER MERWE
 ??  ?? HOOFFOTO: André van Wyk, wat hom vir die moord, verkragtin­g en lykskendin­g van Anika Smit (HEEL LINKS) oorgegee het, is ’n vry man. BO: By sy ouers, Jan en Judie. ONDER: Die foto wat in die selle geneem en aan Huisgenoot verskaf is, toon hy het geen tatoe nie.
HOOFFOTO: André van Wyk, wat hom vir die moord, verkragtin­g en lykskendin­g van Anika Smit (HEEL LINKS) oorgegee het, is ’n vry man. BO: By sy ouers, Jan en Judie. ONDER: Die foto wat in die selle geneem en aan Huisgenoot verskaf is, toon hy het geen tatoe nie.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa