Huisgenoot

Jannie Mouton deel geld én lesse uit

Jannie, as PSG-stigter ’n biljoenêr, het onlangs R1,1 biljoen vir liefdadigh­eid geskenk – en dis net die begin. Hy deel sy lewensless­e

- Deur MARELIZE POTGIETER

HY HET ’n fancy Aston Martin gekoop, maar voel te skaam om met die ding te ry. Altesaam 18 Pierneef-skilderye hang op sy wynplaas buite Stellenbos­ch, en van oorsese reise het hy eintlik nou genoeg gehad.

Dit klink soos iemand met heeltemal te veel geld. Dalk is dit so, maar Jannie Mouton het met een daad gesorg dat selfs sy nydigste kritici nou twee keer sal dink voor hulle hom oor sy rykdom verkwalik.

Dit het pas bekend geword dat die Stellenbos­se biljoenêr met die silwer hare en vriendelik­e oë ’n hele R1,1 biljoen aan liefdadigh­eid geskenk het.

En dis net die begin, sê Jannie vinnig toe ons hom hieroor uitvra. “Ek wil nog baie meer weggee. Ek beoog om binne die volgende twee tot drie jaar die helfte van my bates weg te gee.”

Die allemintig­e bedrag is onlangs bewillig aan die Jannie Mouton-stigting, wat hom beywer vir opleiding en opvoeding in die minder gegoede dele van Stellenbos­ch.

“My dogter, Charité Volkwyn (35), het my so ’n ruk gelede gevra of sy vir my ’n sleepwaent­jie as geskenk kan gee. Ek vra toe: ‘Nou waarvoor?’ Sy sê toe: ‘Nee, om al Pa se besittings hemel toe te kan vat.’ ”

Hy lyk baie ernstig en sê dan stadig, asof hy lank hieroor nagedink het: “Dit is nogal waar, nè?”

ONS ontmoet Jannie in sy kantoor by die PSG-groep se hoofkantoo­r in die hartjie van die Eikestad. Hy het dié suksesvoll­e beleggings­maatskappy 22 jaar gelede begin nadat hy op 49-jarige ouderdom as uitvoerend­e direkteur by die makelaarsf­irma Senekal, Mouton en Kitshoff in die pad gesteek is.

Vandag word PSG op R59 biljoen gewaardeer en is Jannie se persoonlik­e bates R13 biljoen werd.

Glad nie sleg vir ’ n outjie van die Noord-Kaapse dorpie Carnarvon nie, waar die meeste mense destyds nie ’n woord Engels kon praat nie en baie van sy klasmaats toe nog nooit die see gesien het nie. Hy lag.

“Ons was een vakansie see toe, en toe ons terugkom, het een of twee my daaroor uitgevra. Toe ek vir hulle sê dit lyk soos ’n dam sonder ’n einde, sê hulle: ‘Nee, Jannie. Daar is nie sulke goed nie.’ ”

Dit was ’n lang pad van Carnarvon tot hier, en op 70 kan Jannie terugsit en sy rykdom geniet, maar eers wil hy iets teruggee. En hy wil dit doen terwyl hy die vreugde daarvan self kan ervaar.

LEES is een van die groot sleutels tot sy sukses, glo Jannie. “’n Mens moet lees, lees, lees en jou omgewing leer ken. Ek dink as jy genoeg lees en belangstel in wat om jou aangaan, kry jy later ’n gevoel oor die geleenthed­e wat kan werk.”

In die hoek van sy kantoor staan ’n groot boekrak met rye boeke in gelid. Elke boek het ’n nommer op en plek-plek steek ’n klein papiertjie uit. Daarop is die naam van iemand wat ’n boek kom leen het, asook die boek se nommer.

“Ek het in ’n stadium vreeslik boeke gelees en opgesom. Jy kan enige boek uit my boekrak haal en jy sal sien ek het iewers in die boek iets onderstree­p. Ek het dit laat tik sodat ek dit kan hou. Dan leer jy mos iets. Anders blaai jy net daardeur.”

In sy jeans, blou kraaghemp en grys trui lyk hy soos ’n man wat deesdae half-afgetree is. Hy kom nou eers so negeuur op kantoor, lees koerant, doen ’n paar sudoku’s en gee ’n bietjie raad wanneer iemand by hom kom aanklop. Teen drieuur se kant keer hy huiswaarts vir ’n middagslap­ie.

Hy het oor die jare die vermoë ontwik-

kel om mense met goeie vaardighed­e en talente by sy ondernemin­gs te betrek. Aan hulle kon hy take delegeer. “Ek het mense gekry en dan self niks gedoen nie,” spot hy. “Dit was min of meer dit.”

Toe Jannie verlede jaar 70 word, het hy besluit om die lewensless­e wat hy oor die jare geleer het saam te vat in ’n boek getiteld Waarvandaa­n & Waarheen. Die eerste deel daarvan gaan oor sy persoonlik­e lewe en die tweede noem hy “70 lesse in 70 jaar”.

Hy gaan haal ’n eksemplaar en slaan dit by die inhoudsopg­awe oop. “Les een: Kry ’n klankbord in ’n krisis. Les twee: My passie vir die entreprene­ur. Les drie: Leer jouself en die omgewing ken. Dis waar ’n mens na jou sterk en swak punte kyk.”

By die derde les skryf Jannie onder meer: “As jy nie jouself in die lewe verstaan nie, sal jy altyd op die stasie bly staan en die treine sal verby jou ry.”

Les ses gaan oor die belangrikh­eid van lees, en hy beklemtoon dit nou: “En dan lees, lees, lees en lees.”

Jannie raak verdiep in die sagtebandb­oek met swart-wit foto’s van hom in sy jong dae, sy kinders en sy vrou, Dana. Sy is in 2004 aan kanker oorlede. Hulle het twee seuns, Jan (42) en Piet (41), en vir Charité gehad. ’n Paar jaar ná Dana se dood het hy sy nuwe lewensmaat, Deidré, ontmoet en hulle is in 2010 getroud.

“Dana en Deidré se man is toevallig in dieselfde jaar oorlede. Ek sal nooit die aand vergeet toe ons mekaar ontmoet nie. Ons het by vriende gekuier en by so ’n lang tafel gesit. Ek het oor Dana gepraat en so ’n bietjie gehuil. Hier sit toe ’n vrou en huil oor haar man wat oorlede is. En toe huil ons almal. Ons het toe by mekaar uitgekom.”

Ons praat weer oor werk en Jannie sê hy het baie van homself geleer toe hy in 1995 afgedank is. “Kyk, dit was nie maklik nie. Dit was ’n traumaties­e dag in my lewe, maar my vrou het by my gestaan.

“Net voor dit gebeur het, het ek ’n bestuursku­rsus deur Unisa gedoen en daar het hulle ons geleer van die Swot-analise, waar jy kyk na jou sterk en swak punte. Ek het toe gaan sit en dink wat myne is. Toe wys ek dit vir my vrou en sê ek het darem ’n lang lys sterk punte, maar ek kan nie eintlik aan my swak punte dink nie.

“Toe sê sy: ‘Jannie, gaan dink net weer, want hulle sou jou nie ge- fire het as jy net goeie punte gehad het nie.’

“Ek moes toe maar aanvaar dat daar ook by my iets fout was.”

Hy het later jare ’ n outobiogra­fie, Jannie Mouton: “En Toe Fire Hulle My”, geskryf. Vandag gee hy teenoor ons toe dat hy dalk soms aggressief in sy sakebenade­ring was en dat sy leierskaps­tyl moontlik te kragdadig was.

“Maar wanneer ek nou terugdink, is dit die beste ding wat met my gebeur het. Anders het ek vir altyd ’n makelaar gebly.”

Hy het ook bevriend gebly met van sy destydse kollegas en van hulle werk deesdae by PSG.

Sy aandag dwaal terug na sy boek en hy lees verder uit die inhoudsopg­awe.

“Dan het ek ook geskryf oor kwaadwees, vrees en vergelding. Dit werk nie. Dit is negatief, veral wanneer jy in die nag wakker lê en probeer dink hoe jy iemand wil penaliseer oor iets wat hy verkeerd gedoen het.

“Sit iets terug in die gemeenskap, wees spaarsaam en ekovriende­lik. En ek glo ’n mens moet die natuur oppas en jy moenie water mors nie,” sê hy.

“Iemand wat kla, het nog nooit iets staangemaa­k nie. Hy sit en kla net. Ek hou van ’n man wat met ’n klomp voorstelle na my toe kom. Al werk dit nie. Selfs as ’n mens kla oor alles wat in SuidAfrika verkeerd is, kan jy nogal in ’n mood kom. As ek so kyk na goed soos die Guptas en wanbestuur en korrupsie in die land, hinder dit my verskrikli­k. Maar om daaroor te kla maak nie van my ’n beter sakeman nie.”

Dan gaan hy aan na die laaste punte in sy boek. “Moenie goeie gesondheid afskeep nie. Jy moet drome hê en onthou: Familie en vriende is belangrike­r as geld,” sê hy.

En terwyl hy by hierdie laaste stukkie lewenswaar­heid kom, besef jy die man met die Aston Martin-spogmotor, die talle skilderye en die baie wêreldreis­e agter sy naam weet al baie lank geld koop voorwaar nie geluk nie.

 ??  ?? Die biljoenêr Jannie Mouton in sy kantoor op Stellenbos­ch. Hy is deesdae half-afgetree, maar kom elke dag werk toe.
Die biljoenêr Jannie Mouton in sy kantoor op Stellenbos­ch. Hy is deesdae half-afgetree, maar kom elke dag werk toe.
 ??  ?? Jannie sê hy het geen planne om die land te verlaat nie en sê hy is op sy gelukkigst­e naby sy drie kinders en sewe kleinkinde­rs. ‘ ’n Mens moet lees, lees, lees en jou omgewing leer ken’
Jannie sê hy het geen planne om die land te verlaat nie en sê hy is op sy gelukkigst­e naby sy drie kinders en sewe kleinkinde­rs. ‘ ’n Mens moet lees, lees, lees en jou omgewing leer ken’
 ??  ??
 ??  ?? LINKS: Hy en Deidré is in 2010 getroud. Albei se eerste eggenoot is in 2004 oorlede. NAASLINKS: Die boekrak in sy kantoor. Hy is passievol oor boeke en glo ’n groot deel van sy suksesvoll­e sakeryk hou verband met sy liefde vir lees en boeke.
LINKS: Hy en Deidré is in 2010 getroud. Albei se eerste eggenoot is in 2004 oorlede. NAASLINKS: Die boekrak in sy kantoor. Hy is passievol oor boeke en glo ’n groot deel van sy suksesvoll­e sakeryk hou verband met sy liefde vir lees en boeke.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa