Huisgenoot

DEAN (23)

Dean, wat Wade speel, is ’n Afrikaanss­prekende dorpsjapie van Malmesbury in die Swartland wat al van jongs af as akteur uitblink.

-

Hoe voel dit om Vashti se karakter in iemand soos Marco Spaumer (Tim) se arms te sien?

Ek kom goed met Marco oor die weg en selfs met Eden Classens (Justin), in wie se arms sy eers was. Maar ons is almal lekker mense en weet darem dis net ons werk. Anders sou hulle beslis met my te doen gekry het!

Hoe is dit om saam met jou meisie te werk?

Dit het beslis voordele dat ons in dieselfde bedryf is. Ons kan altyd mekaar raad vra of help wanneer die een hulp verlang. Dis goed dat ons albei ook verstaan wat die bedryf verg. Ons probeer dit so profession­eel moontlik hou, maar ek moet bieg: Dis lekker om te weet jy het “vertroosti­ng” by die werk wanneer dit miskien ’n slegte of erg emosionele dag is.

Wat het jy en Wade gemeen?

Ek is ook ’n impulsiewe mens en leef in die oomblik; of ek probeer ten minste. Maar dan is daar klein verskille: Wade wens soms dinge was anders of dink hoe dit sou gewees het as goed anders verloop het, waar ek weer iets vat soos dit gebeur en met die gevolge daarvan saamleef.

Hoe het jy in die toneelbedr­yf beland?

As kind was ek mal daaroor om mense te vermaak. Ek is in gr. 10 gekies om in die produksie Vaselinetj­ie te speel en dit was my debuut in die profession­ele teaterbedr­yf. In gr. 11 het ek aan die Stad Kaapstadse Nasionale Toneelspel kompetisie deelgeneem– dit was toe nog bekend as die TVPlus-kompetisie – en die kompetisie gewen. Van toe af het ek invloedryk­e mense in die bedryf ontmoet. Ek’t toe drama aan Maties gaan studeer.

Wat onthou jy van jou eerste toneelspel-ervaring?

My eerste opvoering was in gr. 4 toe ek die prins in Sneeuwitji­e gespeel het. Ek het toe al baie gemaklik op die verhoog gevoel. En my crush was Sneeuwitji­e.

Wat dink jou ouers en vriende daarvan om jou op TV te sien?

Ek het grootgewor­d met sepies kyk en my gesin is jou tipiese sepiekyker­s wat saam praat en lag en skel wanneer hulle moet. My ma hou selfs sneesdoeki­es reg wanneer die karakters begrafnis hou en is gewoonlik grênd aangetrek wanneer ’n troue uitgesaai word. Ons almal lag dus soms saam en sê: “Ma, kyk vir Dean.”

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa