Kinderakteur leer suutjies Afrikaans
Johnny het suutjies Afrikaans geleer om na Christopher se skool te gaan, en deesdae maak hy ook as vermaakster naam
TJ IS die bekkige outjie wat kykers laat lag met sy kwinkslae in die kykNETsepie Getroud met Rugby. Nadat die karakter lank deur die rugbyafrigter Schalk ( Johan Scholtz) en die sielkundige Iva (Nadia Beukes) grootgemaak en versorg is, het hulle hom aangeneem. TJ se storielyn in die sepie is ’n spieëlbeeld van die lewe van die akteur wat die rol vertolk. Johnny Potsanyane (15) is van sy babadae af deur Christo en Sharon van der Westhuizen van Randburg grootgemaak, en nou is hulle ook besig om hom aan te neem.
Boonop is die karakter se persoonlikheid byna identies aan dié van die jong akteur. Dit voel soms vir haar TJ en Johnny is presies dieselfde mens, vertel Sharon toe ons saam met die gesin in hul huis kuier.
Johnny se ouboet, Christopher van der Westhuizen (18), het in rolprente soos Die Ongelooflike Avonture van Hanna Hoekom (2010) en Agent 2000: Die Laksman (2014) as kinderster naam gemaak. Tieners hoor nou elke dag sy stem in die RSG-jeugverhaal Ratels, waar hy al die afgelope drie jaar Klaas Vakie speel.
Dit was juis Christopher se invloed wat Johnny jare gelede laat besluit het hy wil vermaakwêreld toe, nes sy ouboet. Dié einste heldeverering het Johnny ook op sowat vyfjarige ouderdom gemotiveer om Afrikaans te leer praat, want hy wou opsluit nes Christopher na ’n Afrikaanse skool toe gaan. Een van die eerste woorde wat hy geleer het, was “boerseun”, vertel Johnny en glimlag breed.
JOHNNY se ma, Nandi Potsanyane, het as huiswerker by die Van der Westhuizens gewerk toe hy in 2002 gebore is. In daardie stadium het sy in ’n tuinwoonstel op hul erf gewoon. Sharon vertel: “Ek was van die eerste dag af betrokke by sy versorging.”
Toe Nandi drie jaar later siek raak en terugtrek na haar familie in Orange Farm, ’n informele nedersetting suid van Johannesburg, het sy die Van der Westhuizens gevra om na Johnny te kyk. Tot met haar dood in 2012 het sy nie veel kontak met haar seun gehad nie, vertel Sharon verder.
In die huis het hulle met Johnny Engels gepraat, want Christo, ’n sielkundige, glo ’n kind moet in sy moedertaal grootgemaak word. Hy was maar ’ n stout kleintjie, verklap sy.
“Hy is steeds!” val Christopher sy ma in die rede. “Hy was ’n tipiese kleinboetieirritasie. Soos wanneer ek ’n fliek wil kyk, dan sal hy in die TV-kamer ’n lawaai maak. Wanneer ek op hom skree om daarmee op te hou, dan sal hy mos skielik vreeslik begin huil, en dan is dit ek wat in die moeilikheid kom!”
Die twee seuns het hul dissipline met die tradisionele houtlepel ingekry, maar
die jonge Johnny het so vyf jaar gelede besluit dit is baie beter om die lepel in die tuin te gaan wegsteek. Dit is eers verlede jaar gekry!
Johnny vertel hy was nog ’n kleuter van so vier of vyf jaar oud toe hy agterkom sy grootmaakouers skinder in Afrikaans van hom wanneer hy stout is. Hulle sou sinne gebruik soos: “Kleintjie het nou weer dit of dat gedoen.”
Hy vertel: “Toe dink ek ek moet weet wat hulle sê, en toe luister ek na hul woorde en kyk wat hulle doen wanneer hulle iets sê. So het ek die woorde en die aksie bymekaargebring en die taal aangeleer. Ek het eintlik met my oë Afrikaans leer praat!”
Maar hy het niemand vertel hy begin die taal onder die knie kry nie en steeds met hulle Engels gepraat.
Christopher onthou die dag toe Johnny nog in ’n Engelse skool in gr. R was en Christo die twee seuns by hul onderskeie skole gaan aflaai. Johnny het skielik gesê hy wil na dieselfde skool as sy ouboet gaan, maar Christo het vir hom in Engels gesê hy kan nie, want hy kan nie Afrikaans praat nie. Toe antwoord Johnny ewe kordaat: “Ek kan.”
“Ek en my pa het ons omtrent lam geskrik!” vertel Christopher.
Johnny het sy sin gekry en ook wat skool betref in Christopher se voetspore gevolg: eers aan die Laerskool Unika en van vanjaar af in gr. 8 aan die Hoërskool Randburg, waar Christopher verlede jaar gematrikuleer het. Nes sy ouer broer het Johnny al van laerskooldae af aan spreekkore deelgeneem, waar hul talent gou raakgesien is.
Ná ’n oudisie het Johnny op die kykNET Silwerskermfees in die kortfilm Vryslag (2015) sy filmdebuut gemaak. Die fliekresensent Leon van Nierop was so beïndruk met sy spel dat hy hom later, toe hy hom gedurende die fees in die hotel raakloop, gaan groet en gevra het of hy al radiowerk gedoen het.
Johnny het natuurlik nie geweet wie Leon is nie. Toe hy Sharon van dié episode vertel, het sy met hom geraas: “Ek het jou dan geleer om nie met vreemdelinge te praat nie!”
Terug in die ateljee in Johannesburg het Leon tydens ’n opname van sy radiovervolgverhaal Ratels aan die groep stemkunstenaars vertel van “die oulike swart seuntjie met die natuurlike spel”.
Christopher het net geglimlag en gesê: “Ja, dis my boetie daai.”
Johnny het ’n stemtoets afgelê en kort voor lank die rol van Cheeky in Ratels vertolk, drie maande lank.
Daarna het die draaiboekskrywer en kykNET-toesigvervaardiger Tina Kruger, wat Johnny se spreekkoor afgerig het, hom vertel van ’n nuwe karakter in Getroud met Rugby en hom aangemoedig om ’n oudisie af te lê. Die res is geskiedenis, en die laaitie met die ondeunde glimlag is sedert Oktober verlede jaar ’n permanente speler in die program.
Die vervaardigers is baie tegemoetkomend, vertel Sharon. Elke Vrydagmiddag neem sy Johnny na die stel, waar hulle dan sowat ’n week se verskynings in een middag verfilm.
BENEWENS Ratels het die twee jong akteurs ook saamgewerk aan die fliek Jou Romeo (2016), waarin Christopher een van die hoofrolle (Tyler) vertolk het en Johnny die byspelerrol van Kumi.
Tydens verfilming is die akteurs elke dag met ’n minibus vervoer na Krugersdorp, waar die fliek geskiet is.
“Nou kyk, ek is iemand wat van my slaap hou,” vertel Johnny. “Ons is nog nie eens weg nie, dan slaap ek al in die bus.”
Maar Christopher sou hom kort voor lank wakker maak en vra: “Ken jy al jou woorde?”
Die twee het besluit wanneer hulle saam in ’ n produksie is, is hulle “nie broers nie.
“Ons hou dit suiwer professioneel en is dan net medeakteurs wat saam speel,” verduidelik Christopher.
Vir hom is dit ’n voorreg om die “jongeling” die fynere kunsies van toneelspel te leer. En vir Johnny is dit weer lekker om te weet hy volg sy ouboet se voorbeeld.