Kry hulp vir kort aandagspan
Baie volwassenes het aandaggebrek-hiperaktiwiteitsteuring en weet dit nie. Die regte diagnose en behandeling kan jou lewe verander
SELFS as sielkundige kon hy nie die simptome in homself raaksien nie. Soos dat hy nie kan stilsit wanneer hy oor die telefoon praat nie. “In die tyd dat ons nou oor die foon gesels het, was jy saam met my deur die hele huis én tuin,” sê hy. Hilton Calder (60), ’n Kaapse bedryfsielkundige, het aandaggebrek- hiperaktiwiteitsteuring (AGHS), ’n ongediagnoseerde toestand by baie Suid-Afrikaanse volwassenes.
“Omdat ons so goed daarmee oor die weg kom en dit vir ander wegsteek, is dit tot onlangs toe nie gediagnoseer nie.
“Dit word dikwels net as ’n probleem beskou as dit vir jou geliefdes of kollegas ’n probleem word,” vertel hy.
Jare gelede is geglo die simptome van AGHS verdwyn ná adolessensie. En die eerste riglyne vir die diagnose en behandeling van volwassene- AGHS in Suid-Afrika is eers vanjaar in die South African Journal of Psychiatry gepubliseer.
Minstens ’n miljoen Suid-Afrikaners in hul 20’s tot 50’s het volwassene-AGHS.
Hilton vertel dit was eers in die vroeë 1990’s, nadat ’n medesielkundige vir hom boeke oor AGHS gegee het, dat hy homself in die bladsye herken het. Hy het ook besef hy is dislekties, een van baie toestande wat met AGHS kan gepaardgaan.
“Op skool het ek nooit werk gelees nie. Ek het goed geluister in die klas en dit gememoriseer,” vertel hy.
Die afgelope 30 jaar help Hilton ander volwassenes met AGHS om hul toestand te bestuur. Sy pasiënte beklee meestal hoë poste in groot maatskappye.
Soos die vrou in haar 40’s wat onlangs “weens stres” na hom verwys is. Sy het
amper by die werk uitgebrand. Toe hy met haar praat, besef hy sy het AGHS.
“Sy sukkel om stil te staan en dink. Daar is geen perke aan haar Duracell- hasieenergie nie.”
Dr. Renata Schoeman, ’n psigiater van Bellville, beklemtoon dat volwassenes met AGHS suksesvol kan wees. Maar hulle moet meer bedag wees op dinge soos beplanning en organisering, die bestuur van tegnologie en steunnetwerke.
Onder die talle beroemde “AGHS’ers” is Richard Branson, Winston Churchill, Michael Phelps, Justin Timberlake, Britney Spears en Lady Gaga, vertel Dave Pughe-Parry, ’n aanlyn afrigter vir volwassenes by Living ADDventure.
Dave, wat ook die steuring het, vertel talle topsportlui en kunstenaars is AGHS’ers. “Dis natuurlik vanweë die oorheersing van regterbreinaktiwiteit.”
Is jy gedurig gestres en gefrustreerd by die werk? Voel dit of jy niks gedoen kry nie en skep dit konflik met jou kollegas?
Lees verder. Dit kan jou lewe verander.
Cyril Manyoni (41) van Brakpan is nie min trots nie. “Ek besit drie ondernemings,” vertel hy.
Sy een onderneming spoor gevaarlike gaslekkasies vir fabrieke op. Nog een oes indringerplante in die Hartbeespoortdam en verwerk dit tot kunsmis. En eersdaags begin sy eie nutsmanprogram op TV.
Hy vertel sy lewe het verander nadat hy in 2010 ’n program oor AGHS op TV gesien het en dit by hom gediagnoseer is. “Ek het altyd gedink ek is ongeorganiseerd en lui.
“Daardie gebrekkige fokus en kort aandagspan waarvan hulle in die TVprogram gepraat het, was ek.
“My ouers verstaan nie hierdie ding nie. In die Afrikakultuur word dit as heksery beskou wat met ’n ritueel verdryf moet word,” vertel hy.
Om dié rede doen hy bewusmaking oor die steuring in townships soos Soweto.
Dit is juis in hierdie gebiede dat die Goldilocks and The Bear Foundation (gb4adhd.co.za) bewusmaking vir AGHS skep en kinders die geleentheid gee om hulp te kry.
Dave verduidelik by volwassenes moet familielede en vriende dikwels help met die diagnose omdat volwassenes nie altyd dieselfde mate van hiperaktiwiteit openbaar as kinders nie.
“Wanneer die diagnose gemaak word, is baie mense verlig, want dit verklaar onder meer hul swak gedrag en optrede teenoor ander.”
Hy was byvoorbeeld dikwels in die moeilikheid by sy vrou omdat hy in restaurante na TV-skerms staar. “Maar ek doen dit nie opsetlik nie. Afleiding is nie opsetlike optrede nie.
“Om dit te verstaan, kyk in die spieël en probeer om nie jou oë te knip nie. Dis onmoontlik,” sê Dave.
“Ons word afgelei deur ses goed: die vyf sintuie en ons eie denkprosesse.”
EERSTE RIGLYNE VIR VOLWASSENES
Die riglyne wat nou gepubliseer is, is die eerstes ter wêreld wat net op volwasse- nes fokus en sal hulle help om die regte behandeling te ontvang.
So vertel die skrywers van die riglyne, Renata en dr. Rykie Liebenberg van die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Psigiaters se belangegroep vir volwasseneAGHS.
Boonop sal dit aan pasiënte bedingingsmag gee om met hul mediese fonds oor chroniese behandeling te onderhandel.
Die riglyne vir mediese praktisyns sluit in assesseringsprosedures vir diagnose, keuses rakende behandeling met medikasie en terapie, en die behandelingsplan vir langtermyngesondheid.
Die vernaamste kenmerke by volwassenes is dat hul aandag maklik afgelei word, hulle ’n lae verdraagsaamheid vir frustrasie of verveling het, en geneig is om enigiets te sê en doen wat by hulle opkom.
Diagnose by volwassenes is ingewikkeld. Die simptome is dikwels subtieler – en anders – as by kinders.
Volwassenes reageer ook anders op medikasie as kinders en word aan ander daaglikse vereistes blootgestel, verduidelik Renata.
Hulle ervaar frustrasie as hulle so laat eers ’n diagnose ontvang. “Die mense is baie slim en hou baie balle tegelyk in die lug,” sê Hilton.
“Omdat hulle dit kan doen, kry hulle erkenning en doen nog meer. Daar is ’n ysere selfbeheersing om nie die balle te laat val nie.”
‘Wanneer die diagnose gemaak word, is baie mense verlig, want dit verklaar onder meer hul optrede teenoor ander’