Liewe Elize
Ek was ’n paar jaar gelede in ’n ernstige motorongeluk en het volkome herstel. My twee dogters en ’n seun was toe tieners, maar hulle is nou volwassenes wat werk en ’n goeie lewe lei. Daarna was my vrou in ’n noodlottige ongeluk. Ek het onlangs voorgestel ons gaan almal saam met vakansie. My seun verseg egter dat ons almal in een motor reis. Ek wou dit ter wille van die saamwees doen. Ek dink hy dra nog swaar aan sy ma se dood.
NG op EL
Soms bly onverwerkte gevoelens van trauma as ongemak en angs agter. Wanneer hierdie gevoelens keer dat ’n mens normaal funksioneer en byvoorbeeld werk, is behandeling nodig. Op die oog af lei jou seun ’n normale lewe, maar sy verlies het hom wel van die selfvertroue beroof om die langpad saam met geliefdes aan te pak.
Hy dink dalk nog dikwels terug aan die twee ongelukke waarin sy ouers was, al praat hy glad nie meer daaroor nie. In sy tienerjare het hy waarskynlik nie die emosionele krag gehad om dit alles te verwerk nie. Die diep seer oor sy gesin en motors is nou deel van hom; dit is dus verstaanbaar hy wil keer so iets gebeur weer.
Soms kyk ’n mens ter wille van oorlewing teen jou eie verlies vas; jy sien nie die nuanses van ander se smart raak nie. Moenie jou hieroor straf nie. Ons rou almal verskillend.
Luister na sy besware en neem hom in ag. Belê ’n familievergadering en herbeplan die vakansie sodat dit aan almal se behoeftes voldoen. Sluit dinge in soos sport en bordspeletjies wat julle inniger bande sal help smee.
‘Soms sien jy nie die nuanses van ander se smart raak nie’ – ELIZE