SNAAKSIE WAT NOU SIELE ROER
Orkney se lawwe Yollie het ’n gerekende film geskep waarmee sy mense se uitkyk wil verander
YOLLIE?” sal veral die ouer garde sêvra wanneer hulle haar raakloop, maar hier by die sewende kykNETSilwer skermfees in Kampsbaai in Kaapstad het Sally Campher naam gemaak agter die skerms pleks van voor die kameras.
Die aktrise wat TV-kykers 25 jaar gelede in Orkney Snork Nie leer ken het as Yolanda van Tonder, Ouboet se vrou, is nou die gerekende vervaardiger van ’n film wat as een van die bestes op die rolprentfees benoem is. Vaselinetjie is toe as beste rolprent bekroon.
Raaiselkind, wat op Annelie Botes se roman oor ’n outistiese kind gegrond is, was vir Sally ’n passieprojek waarvoor sy selfs geld getrek het uit die verband op haar en haar man, Pieter Esterhuizen, se huis.
“Outisme word nie verstaan nie . . . watter uitdaging dit vir gesinne is. Almal oordeel. Ons sien ’n kind in die winkelsentrum wat skree. ‘Ek sou hom gefoeter het,’ dink ’n mens. Dan is dit outisme, iets wat die ouers met baie, baie geduld moet trotseer. Hul vryheid om rond te beweeg word ingeperk juis deur die reaksie van mense wat nie verstaan nie,” sê Sally.
Sy lyk pure sakevrou, elegant geklee, en Yollie se welige haredos het plek gemaak vir ’n smaakvolle kapsel. Van “kommin” of Ouboet se “Poeksie Woeksie se Worsie Wapsie” is geen teken meer nie, al verskyn sy aanstaande maand weer as Yollie in ’n nuwe kykNET-reeks, Ouboet en Wors.
“Ek dink Raaiselkind het sy merkie gemaak. Dit was die hele fees deur ’n onderwerp van bespreking,” sê Sally trots oor die eerste film wat sy vervaardig het. Dit begin op 16 Februarie volgende jaar landwyd in rolprentteaters draai.
Die intrige oor ’n outistiese seuntjie wat dood aangetref word en ’n ma wat ’n verdagte is, gryp aan die hart. “Diaan (Lawrenson) het my laat weet sy kan dit nie uit haar kop kry vandat sy die première gesien het nie,” vertel Sally. Dié aktrise, wat bekend geraak het as 7de Laan se Paula, het die ma, Ingrid, gespeel.
“Sy moes ’n sterk vrou speel wat ook kwesbaar is; iemand wat nie oordramaties ween nie. Sy het haar emosies gestroop. Daar was niks van Diaan te bespeur nie, amper soos Charlize Theron in Monster,” meen Sally.
Vandat Alexander met sy geboorte sy eerste skreeu gee tot met sy dood word die kyker met sy herhalende gedrag gekonfronteer: ’n geskree, gehuil, gekap met ’n beiteltjie teen die huis se muur; die onophoudelike getieng op ’n xilofoontjie, onvanpaste gelag, sy papbak of speelgoed wat rondgegooi word . . . Later is dit onmoontlik om nie te wonder nie: “Het sy ma hom vermoor? En sou ek nie dalk dieselfde gedoen het nie?”
SALLY se eerste kennismaking met outisme was toe sy vyf jaar gelede Raaiselkind lees. Dit was nadat Hannelie Spies, ’n Stellenbosse opvoedkundige sielkundige, haar gevra het om dit te oorweeg om die boek te verfilm omdat dit die invloed wat outisme op ’n gesin het so getrou uitbeeld.
Hannelie was ook op die stel om seker te maak Ian Roelofs beeld die outistiese Alexander se gedrag geloofwaardig uit. Die negejarige akteur is op die fees met ’n spesiale aansporingsprys bekroon vir sy “spesiale vertolking en bydrae”.
Ian se ma, Zelda, is ’n dramaonderwyseres. “Sy moet erkenning kry vir hoe
sy hom voorberei het,” meen Sally. “Hulle het saam na video’s gekyk om die maniertjies van ’n outistiese kind reg te kry: die stamp van sy kop teen die muur, die hande wat flap, hoe hy aan sy klere trek. Hy het dit so goed gedoen dat baie kykers nie kon glo hy is nie regtig outisties nie.”
Dit was nie Ian se eerste keer voor die kameras nie. “Ek is ook in 7de Laan,” vertel hy ’n mens gou. Hy speel Emma (Bertha le Roux) se seuntjie, Thinus. Zelda het al as ’n verpleegster in dié gewilde sepie verskyn. Dit was toe sy swanger was met Ian. “Hy was al voor sy geboorte voor die kameras,” skerts sy.
Die gesin woon op ’n plaas buite Vereeniging en pa Eon vertel Ian is eintlik ’n plaasseun. “Hy hou van die plaaslewe, visvang en jag.”
Ook klein Leah Velthuysen, wat Alexander as baba gespeel het, was by die première van Raaiselkind. Sy is die dogtertjie van die regisseur, André Velts, se broer, Otto, en skoonsuster, Adeline.
“Agter die skerms was die kind so vrolik; sy het heeltyd gelag,” vertel Sally. “Maar wanneer André sou sê: “Aksie!”, dan trek sy los met die geskree. Sy was toe maar vyf maande oud.”
In die boek speel die verhaal op Union- dale in die Klein-Karoo af, maar met Annelie se steun het hulle besluit om op die Overbergse kusdorp Waenhuiskrans te skiet. Daar het hulle ’n huis teen ’n baie billike bedrag te huur gekry.
“Uit elke venster kon ’n mens die see sien,” vertel Sally. Wanneer die see onstuimig is, speel dit in op die gemoed van die karakters. Die wind was ’n sigbare uitbeelding van die ouers se wroeging “tot hulle eindelik ’n naam gehad het wat verklaar wat Alexander makeer”.
Ná die eerste vertoning van Raaiselkind het Annelie aan Huisgenoot gesê sy is beïndruk met die respek waarmee almal die film aangepak het. “Daar is nooit ’n oomblik waar ’n grap daarvan gemaak word nie.”
IN ’N vreemde sameloop van omstandighede het ’n bloedjong Sally in 1983 in die ikoniese TV-reeks Koöperasiestories verskyn as Dingetjie, ’n meisie wat die bome en blomme kon hoor praat. Toe ’n boom afgekap word, was dit vir haar so ’n groot skok, sy het haar aan die gemeenskap onttrek.
Vandag dink sy Dingetjie kon dalk outisties gewees het, sê Sally, maar in daardie tyd was hierdie raaiselagtige toestand nog vreeslik onbekend.
Voor Orkney Snork Nie het sy ook ander ernstige rolle vertolk, soos Het Heiberg in die 1984-TV-dramareeks Het van Verlangekraal. Daarvoor is sy destyds met ’n Artesprys as beste aktrise bekroon.
Dit het Willie Esterhuizen, die skepper van Orkney Snork Nie, en sy broer, Pieter, die assistentregisseur, oortuig om Sally die rol van Yollie aan te bied. Sy en Pieter is vyf jaar later getroud, en hul eersteling, Jano (nou 27), het destyds Yollie en Ouboet se baba, Hendrikkie, gespeel.
Hy voltooi vanjaar sy LL.B., en het nes sy suster, Sanchia (26), ’n onderwyseres, geen plan om die vermaakwêreld te betree nie. Sally ondersteun haar kinders se besluit. “Ons bedryf is klein en daar is nie noodwendig gereeld vir almal werk nie,” verduidelik sy.
Intussen gaan dit voor die wind met die Esterhuizen-broers se produksiemaatskappy. Hulle was verantwoordelik vir TV-reekse soos Gauteng-alêngalêng, waarvoor Sally die grimering behartig het, Molly en Wors en Vetkoekpaleis, en ook stoute flieks soos Lipstiek Dipstiek en Stoute Boudjies.
“Alles het ’n plek en daar is niks om op neer te sien nie,” sê Sally hieroor. “Daar is films en dan is daar moewies wat kykers gee wat hulle wil hê. Moewies vaar ook gewoonlik baie goed by die loket. Films, daarenteen, verander jou uitkyk op die lewe.”
En dis wat sy met Raaiselkind wou regkry . . .