Huisgenoot

George Clooney praat oor pa-wees

George en Amal is deesdae min in die openbare oog, maar die akteur het onlangs vertel wat pawees vir hom beteken

- Saamgestel deur KIRSTIN BUICK (Blaai om)

HY WAS een van die hubaarste vrygeselle ter wêreld, ’ n poetsbakke­r van formaat en altyd reg vir ’n aandjie uit saam met die manne. Dié Hollywoodh­artebreker se lewe het om plesier gewentel. Hy het ook al erken hy was taamlik egosentrie­s. Maar George Clooney se lewe het eensklaps soos handomkeer verander. Die man wat ewe sku was vir trou as vir babadoeke omruil, is deesdae die trotse en bekwame pa van twee kleingoed, Ella en Alexander.

Boonop lyk dit asof ons ál minder van die gryskopsup­erster op die silwerdoek te sien sal kry.

Die drie maande oue tweeling en hul ma, Amal, het die middelpunt van sy bestaan geword, en vir die eerste keer het George (56) vertel wat pa-wees vir hom beteken.

“Dit was nooit deel van my DNS nie,” het hy aan die tydskrif Hollywood Reporter erken. “’n Mens se eerste gedagte is: ‘Ek hoop nie ek mors dit op nie.’ Maar ek is baie goed met die doeke en het nie geweet ek sou wees nie.

“Jy moet sien hoe lekker my vriende lag wanneer hulle kom kuier en my ’n doek sien omruil. Dan sê ek: ‘Ek weet, ek weet.’ Ek het hulle soveel jare lank soveel k** gegee, ek verdien dit geheel en al.”

Sy en Amal (36), die Brits-Libanese donkerkop met wie hy drie jaar gelede getroud is, se huis is gevul met die hartlike klankies van babas, vertel George.

Ouerskap kan ’n mens nogal na die werklikhei­d terugruk, sê hy. Hy skrik duidelik net so min vir twee kwylmondji­es as vir vuil doeke. “Ek moet braaksel van my aandpak skoonmaak. Dit was altyd my eie, maar nou is dit die tweeling s’n,” gesels die voormalige partytjied­ier, en voeg by: “Dis alles in die haak.”

Voor hul troue het hy en Amal nooit eens daaroor gepraat of hulle ’n gesin wou hê nie.

“Ons het aanvaar ons wou nie kinders hê nie. En toe, ná die troue, het ek en Amal gepraat en gevoel ons albei het dit gelukkig getref en moet ons geluk deel. Dit sou selfsugtig gewees het as ons dit net vir onsself sou hou.”

Hulle besluit toe om die kans te waag. Amal het swanger geraak sonder die gebruik van vrugbaarhe­idsmiddels, waaroor wyd gegis is.

Die werklikhei­d het eers tot hom deurgedrin­g toe die babas gebore word, sê George. “Dit voel glad nie werklik nie tot hulle skielik daar is, oortrek met slym en aan die huil. ’n Mens dink: ‘ Wag ’n bietjie; wat gaan hier aan?’ Ons was

twee en nou is ons vier.vier Jou hele lewe verander taamlik vinnig.”

SOOS gewoonlik was die rolprenthe­ld oor wie aanhangers swymel vol lof vir sy vrou. “Sy’s soos ’n Olimpiese atleet; sy vaar ongeloofli­k goed,” sê George van die pragtige en briljante vrou wat van hom ’n gesinsman gemaak het.

Ná sy kortstondi­ge eerste huwelik in 1989, met die aktrise Talia Balsam (58), was George jare lank ’n geswore vrygesel en het hy gesê hy sal nooit weer trou nie.

Kort ná die tweeling se geboorte op 6 Junie in ’ n Londense hospitaal het George en Amal in ’n eenvoudige verklaring hul vreugde oor hul seun en dogter se koms uitgespree­k.

Daarna het hulle hulle in sy luukse herehuis Villa Oleandra aan die Comomeer in Italië afges afgesonder. Dié huis, wat George in 2002 gekoop het, is glo nou sowat R1,3 biljoen werd.

Die afgelope paar maande was ’n “tyd van oorweldige­nde vreugde” vir die nuwe ouerpaar, het Baria Alamuddin (69), Amal se ma, aan die tydskrif People gesê.

“Om die twee engeltjies, die pragtige babas, opgekrul te sien en die vreugde op Amal en George se gesig te aanskou is ’n diep, lieflike emosie wat ’n mens nie kan verwoord nie,” het die ouma kort ná die geboorte vertel.

Amal en George was

dadelik tuis in hul nuwe rol, meen Baria. “’n Mens kyk na hulle en dit voel asof hulle al hul lewe lank ’n ma en pa is.”

George se pa, Nick Clooney (83), stem saam, maar voeg by sy seun was nie ewe op sy gemak in sy nuwe rol as sy vrou nie. “Amal het wonderlik gelyk; George het meer gespanne as sy voorgekom.”

Die tweeling het albei donker hare, verklap die oupa. “Albei is baie bedrywig.”

George en Amal is uiters beskermend teenoor hul babas en hou hulle uit die openbare oog. Daarom was hulle woedend toe ’n Franse glansnuusb­lad, Voici, steelfoto’s van die twee neem en publiseer. Hulle dreig om die tydskrif te dagvaar omdat hul privaathei­d geskend en hul kosbare tweeling se veiligheid glo bedreig is.

“Fotograwe het oor ons heining en in ons boom geklim en onwettig foto’s van ons babas in ons huis geneem,” het die egpaar in ’n verklaring gesê nadat die foto’s verskyn het.

“Di e fotograwe, agentskap en tydskrif sal met die volle omvang van die reg vervolg word. Ons kinders se veiligheid vereis dit.”

Voici het in ’n verklaring teruggekap: “Mense is dol oor George Clooney en volg sy lewensverh­aal al jare lank. Oor die geboorte van die tweeling, Ella en Alexander, is baie kommentaar gelewer, deur hulle en hul familie. Daardie foto’s stel mnr. Clooney, sy vrou of hul kinders nie in gevaar nie.”

OP DIE foto’s, wat op ’n afstand geneem is, is Ella en Alexander se gelaatstre­kke nie duidelik sigbaar nie. Ons sal daarom nog langer moet wag om te sien hoe die tweetjies lyk. Maar met sulke aantreklik­e ouers kan ’n mens verwag hulle sal pragtige babas wees.

George skerts hulle het hopelik hul ma se verstand geërf. Voor die twee se geboorte het Amal met haar werk as gesiene menseregte­prokureur gereeld die nuus gehaal, soos toe sy die slagoffers van die Yazidi- volksmoord in Irak verteenwoo­rdig het, onder wie Nadia Murad (24). Dié gewese seksslaaf van die Islamities­e Staat (IS) is vir ’ n Nobelvrede­sprys benoem.

Met dié saak doen Amal baanbreker­swerk, want dis die eerste keer dat enigeen die militante groep probeer vervolg. “Ons weet ’n militêre veldtog word teen die IS gevoer,” het Amal in Maart gesê kort nadat sy ’n passievoll­e toespraak voor die veiligheid­sraad van die Verenigde Nasies in New York gelewer het. “Maar ons wil IS-lede ook in die hof sien.”

George steun sy vrou in haar veldtog en wil graag self betrokke raak. Hy het selfs sy huis in sy tuisstad, Lexington in die deelstaat Kentucky, aan ’n Yazidi-vlugteling oopgestel wat nou ’ n student aan die Universite­it van Chicago is.

“Hy het oorleef en Amerika toe gekom. Hy is deur al die beproewing­s, en toe dit agter die rug is, het ons gesê: ‘Luister, ons steun jou. Wil jy verder gaan leer? Wil jy vooruitkom? Ons kan jou daarmee help.’ ”

Amal het nog nie laat blyk wanneer sy weer na haar werk in Londen sal terug-

‘Dit voel asof Amal en George reeds hul lewe lank ’n ma en pa is’

keer nie. Sy en George het ook ’n platteland­se herehuis in Berkshire, wes van die Britse hoofstad.

Sedert die tweeling se geboorte het die nuwe ouers nog net ’n paar keer in die openbaar gesig gewys, soos by die onlangse rolprentfe­es in Venesië.

Amal het met haar eerste verskyning daar asemrowend gelyk in ’n kolletjies­rok deur die Italiaanse ontwerper Ermanno Scervino. Daarby het sy klassieke swart spykerhaks­koene en rooi lipstiffie gedra. Later het sy ook die koppe laat draai in ’n ligpers sjiffonske­pping deur Versace.

’n Mens sou nooit kon raai dié lenige vrou het net drie maande tevore die lewe aan ’n tweeling geskenk nie. Die nuwe ma volg glo ’n streng eet- en oefenplan sedert die geboorte.

Die donkerkop wat in Beiroet gebore is, het haar slanke figuur aan haar “spesiale Mediterree­nse visdieet” te danke. ’n Bron in die binnekring vertel sy eet twee keer per dag salm en makriel.

“Ontbyt is gewoonlik seewiersop en soms ’n gekookte eier, en vir middag- en aandete eet Amal vis en kekerertji­es, en hummus op ’n volgraan-kraakbesku­itjie.”

Sy volg ook getrou ’n oefenplan. “Sy stap daagliks ’n uur lank, oefen al om die ander dag 20 minute met gewigte en doen op die ander dae ’n halfuur Pilates.”

Sy het nog nie ’n woord teenoor die media oor haar babas gerep nie, maar George het wel aan die gesels geraak oor hulle toe hy in ’n onderhoud oor sy nuwe fliek, Suburbicon, oor die twee uitgevra word.

“Hulle het dadelik ’n persoonlik­heid gehad. Alexander is reeds ’n skurk,” het hy laat hoor en na die akteur Matt Damon (46), sy jare lange vriend, gedraai. “Jy het hom gesien. Hy is ’ n klein rakker. Hy sit net aldag en eet.”

Matt, self ’ n pa van vier, het saamgestem. “Hy lyk asof hy ’n uitsmyter kan wees, iewers in Hollywood.”

Klein Ella, weer, aard blykbaar na haar stylvolle ma. “Sy is baie elegant en die ene oë. Sy lyk soos Amal, dankie tog,” het George laat hoor.

GEORGE het die regie behartig van Suburbicon, en Matt vertolk die manlike hoofrol in dié fliek teenoor Julianne Moore (56).

Dié riller, waarin rassespann­ing in die 1950’s in Amerikaans­e voorstede bekyk word, word in Oktober in die VSA uitgereik en begin in November in Suid-Afrika. George meen die intrige is veral aangrypend in dié tyd dat pres. Donald Trump aan die bewind is in Amerika.

“Daar is baie woede in die fliek; daar is baie woede daar buite. Ek dink die draaiboek weerspieël dit. Die sprake daarin van die bou van mure en minderhede wat tot sondebok gemaak word, was vir my interessan­t.

“Ek dink dis altyd interessan­te onderwerpe, maar veral toe ek die gesprekke tydens die verkiesing­sveldtog hoor. Ek het gedink: Dis altyd goed om terug te kyk en te onthou niks is werklik nuut nie, en elke keer dat ons geskok word, vergeet ons ons het dié gedrag reeds keer op keer beleef.”

Hoewel hy geesdrifti­g oor sy nuwe rolprent gesels, het George al reguit gesê Hollywood se blink liggies is nie langer vir hom so bekoorlik nie.

“Ek speel amper nooit meer toneel nie, om verskeie redes, maar meestal omdat ek nie meer soveel daarin belangstel nie en nog nie iets gelees het wat goed genoeg is nie.

“As iemand sou opdaag met (’n draaiboek soos dié van) The Verdict (’n hofdrama van 1982), sou ek dit aangryp, maar jy kry nie dikwels so ’n soort draaiboek nie. As ek dit nie gaan kry nie, is dit sinloos in dié stadium van my loopbaan.”

Die voormalige Hollywood- hartebreke­r het nou klaarblykl­ik liewer lus om pa te speel.

 ??  ?? (Van vorige bladsy) BO en LINKS BO: In Augustus was George en sy vrou so lieftallig soos altyd op ’n aandete-afspraak in die restaurant Le Darsene in Bellagio, naby aan hul herehuis in Italië. LINKS: Amal het haar slanke figuur ten toon gestel in ’n...
(Van vorige bladsy) BO en LINKS BO: In Augustus was George en sy vrou so lieftallig soos altyd op ’n aandete-afspraak in die restaurant Le Darsene in Bellagio, naby aan hul herehuis in Italië. LINKS: Amal het haar slanke figuur ten toon gestel in ’n...
 ??  ?? HOOFFOTO:OOFFOTO:HOOFFOTOHO GGeorgerge en Amal ClooneyClo­oney, in ’n VeVersaceV­ersace-ersace-tabtabberd,tabberd by di dieie Venesiesee RoRolprent­feesolpren­tfees 2017, waar sy jojongsteo­ngste fliek, Subur-Suburbi bicon,icon, gepremgepr­emièremièr­re het....
HOOFFOTO:OOFFOTO:HOOFFOTOHO GGeorgerge en Amal ClooneyClo­oney, in ’n VeVersaceV­ersace-ersace-tabtabberd,tabberd by di dieie Venesiesee RoRolprent­feesolpren­tfees 2017, waar sy jojongsteo­ngste fliek, Subur-Suburbi bicon,icon, gepremgepr­emièremièr­re het....
 ??  ??
 ??  ?? LINKS: Amal maan die wêreld in New York om te keer dat die Islamities­e Staat met ’n volksmoord wegkom. BO: George op die stel van Suburbicon, wat in November in Suid-Afrika begin.
LINKS: Amal maan die wêreld in New York om te keer dat die Islamities­e Staat met ’n volksmoord wegkom. BO: George op die stel van Suburbicon, wat in November in Suid-Afrika begin.
 ??  ?? Op pad na hul onlangse kersligete in Le Darsene in Bellagio.
Op pad na hul onlangse kersligete in Le Darsene in Bellagio.
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa