Huisgenoot

Wit akteurs skryf oor hul swart kind

In ’n nuwe boek vertel ’n akteurspaa­r van die diskrimina­sie teen hulle nadat hulle ’n swart kind aangeneem het en die afbreek van mure

-

NADAT die akteurspaa­r Esther von Waltsleben en Jan-Hendrik Opperman lank probeer het om swanger te raak het hulle besluit om ’n swart baba aan te neem. Binne maande het hulle die vreugde van ouerskap ervaar, maar hulle moes gou worstel met rassisme wat steeds sy kop in ons samelewing uitsteek.

Esther is veral bekend vir haar rolle in die TV-reeks Buurtwag en die fliek ’n Paw-Paw vir My Darling en Jan-Hendrik het onder meer in die Afrikaanse rolprent Skoonheid gespeel.

In ’n nuwe boek oor die uitdaging van rasseverho­udings en die belang van wedersydse begrip, Saam in Suid-Afrika, vertel hulle van hul pad. Hier is ’n verkorte uittreksel van hul verhaal in die boek.

Esther

Die meeste van my grootwordj­are het ons in die Paarl gewoon. Ons was drie kinders en het betreklik gekoester grootgewor­d. My ouers het voor 30 hul eerste huis gekoop. Daar was altyd een of meer karre in die gesin, voordele wat ons as vanselfspr­ekend aanvaar het.

Reeds op laerskool was ek bewus van ongelykhei­d. Een Desemberva­kansie, vroeg in die 1980’s, het ons kinders in Onrus se strandmeer saam met die honde baljaar. ’n Bruin meisie wat ek nie geken het nie, het saam met ons gespeel. Terwyl ons gespeel het, het ’n vrou vir haar kom sê sy mag nie daar swem nie.

Die kind was ontsteld. Sy het gevra hoekom sy nie daar mag swem nie, maar die honde mag. Die voorval het my vrae laat stel. My ma het net haar kop geskud en gesê: “Ja, dis verkeerd.” Van al die voordele waarmee ek grootgewor­d het, is ek die dankbaarst­e daarvoor dat my ouers oopkop was. Ek glo alle mense is gelyk.

Dit frustreer my dat mense steeds dink iets so toevalligs soos waar jy gebore en watter kleur jou vel is, bepaal jou status.

Jan-Hendrik

My lewensleus­e is: “Behandel ander soos jy behandel wil word, nie soos jy behandel word nie.” Ek het in Pretoria grootgewor­d en ’n groot vriendekri­ng gehad. Almal wit. Ek onthou hoe ek die swart mans dopgehou het terwyl hulle in die parkie sokker gespeel het. Ek wou saamspeel, maar ’n onsigbare muur het ons apart gehou. Dié muur is deur die jare met stelselmat­ige indoktrina­sie opgerig. Niemand wat ek ken, het vrae gestel nie. Naweke wanneer ons gebraai het, is gepraat van “ons” en “hulle”.

Esther

Ek kon nog nooit my mond hou wanneer iemand begin praat van “hulle” nie. Rassisties­e opmerkings het my altyd rooiwarm onder die kraag gemaak. “Wat weet jy van die mense oor wie jy so neerhalend praat?” het ek gewonder. Weet jy van die vroue van Khayelitsh­a wat deel uitmaak van die polisiefor­um? Wat hul lewe waag om kinders te beskerm teen mishandeli­ng en misbruik? Vannag wanneer jy in jou warm bed lê, loop hulle ongewapen in donker stofstrate om te luister waar kinders huil.

Ná ’n gesukkel met onvrugbaar­heid het ek en Jan-Hendrik begin gesels oor aanneming. Ek het geweet ons is vir ouerskap bestem.

’n Maatskapli­ke werker het gesê as ons ’n wit baba wil aanneem, sal ons tot agt jaar wag. As ons oop is vir ’n swart baba, kan ons binne drie maande ouers wees. Ek kon sien hoe die mure rondom JanHendrik opgaan. My man is die liefste mens, wat nog nooit ’n lelike woord oor enige mens ten opsigte van sy velkleur te sê gehad het nie, en hier sien ek hoe hy worstel. Ek het hom gevra om saam te gaan na ’n oriënterin­gsafspraak.

Oriënterin­g het assesserin­g en toe huisbesoek en finale voorbereid­ing geword, en ses maande ná ons eerste afspraak het hulle gesê daar is ’n “match”, ’n baba wat by ons profiel pas. Ek en Jan-Hendrik was uit ons vel. Soos die

lewe maar loop, was daar skielik ook ’n geleenthei­d om ’n wit baba aan te neem. Jan-Hendrik het nee gesê. Hy het die pad geloop, die mure afgebreek en geweet dit is ons seun wat vir ons wag. In November 2014 het Alek by ons aangesluit, drie maande en drie weke oud, ’n Sotho-seuntjie. Ons lewe het onherroepl­ik verander.

Alek is ’n ekstrovert wat almal met liefde oorlaai. Ek hoor hom buite roep na die man wat die vullisdrom leegmaak: “Lief vir jou!”, nes hy op die oom met die koöperasie­hemp op Jeffreys baai se strand afstorm en hom van agter om die wit bene omhels. Hy steek sy armpies na almal uit, salig onbewus van ongemak.

Jan-Hendrik

Daar was voorvalle waar mense na ons met haat in hul oë gekyk, in hul spore omgedraai en gemaak het asof my seun nie bestaan nie. Dit was ontstellen­d om teen gediskrimi­neer te word as gevolg van iets so onskuldigs soos ’n velkleur. Mense hou nie daarvan om hul siening te bevraagtek­en nie. Dit laat hulle voel asof hulle tot nou toe verkeerd geleef het. Hulle wil hul aksies en denke regverdig.

Esther

Die eerste voorval was in ’ n winkelsent­rum in George. Alek was ses maande oud. ’n Wit vrou het vlak voor my kom staan, haar gesig op ’n plooi getrek en haar kop vir my geskud. Ek was uit die veld geslaan. Wat het haar so ontstel dat sy dit vir my moes kom wys?

Dit het daarna ’n paar keer gebeur dat mense ons skeef aankyk, in die sosiale media lelike opmerkings maak, Bybelversi­es aanhaal, die k-woord gebruik.

Waar ek in die verlede vuur sou spoeg, het dit my nou net hartseer gemaak, hierdie oningeligt­es wat hulself nie liefde toelaat nie. My kind se liefde het my rustiger gemaak. Ek weet nou ek moes eers leer om my mond te hou tot my hart stil raak sodat ek my kop kan hoor. Nou is dit my plig om vir my kind op te staan. Ek bly nie meer stil nie; ek konfrontee­r mense nou oor hul stellings, hul sienings.

My kind is nog klein, maar kort voor lank gaan hul woorde hom wond. Hy moet weet ek is aan sy kant sodat as hy eendag met sy identiteit worstel (hy sal moontlik) hy my in sy vertroue sal neem.

Rassiste is boelies. Hulle groepeer mense en maak die aanname dat “almal so is” eerder as om mense as individue ’n kans te gun. Hoewel dit oor die wêreld heen voorkom, het die apartheids- regering en sy skole, kerke, media en staatsinst­ansies moeite gedoen om groepering as die norm voor te hou.

Ons is nou op ’n punt waar die pleisters afgehaal en die ontsteking behandel moet word. Mense is kwaad en wil praat en dit is tyd om te luister, jou werklik in die ander se skoene in te dink.

As die ma van ’n swart kind weet ek ek het baie om te leer. Ek is nie swart nie en kan nie my seun voorberei op diskrimina­sie teen hom op grond van sy velkleur nie. Aan die begin het ek ook gedink mense moet ophou fokus op die verlede. Ek weet nou mense teen wie gediskrimi­neer is (en word), moet die kans gegee word om daarteen uit te vaar.

Jan-Hendrik

Wat maak mense eenders; wat is vir ons almal belangrik? Daar gaan altyd verskille tussen mense wees, maar daar is universele waarhede vir ons almal waarop gefokus moet word. Almal wil veilig wees, kos hê, liefde gee en ontvang.

Esther

Deur dié reis het ek geleer liefde breek mure af en bevry mense van beperkte denke. Ek kry boodskappe van vroue wat graag ’n baba wil aanneem. Hul hart breek omdat hulle glo hul familie sal nie ’n swart baba kan liefhê nie. ’n Vrou het geskryf van haar pa wat teen so ’n aanneming gekant was en gesê het hy wil niks met haar te doen hê nie.

Tog het hulle met die aanneming voortgegaa­n. Sy het die babadogter­tjie vir haar ma gaan wys en haar pa het die vertrek ingestap. Sy het die baba in sy arms neergelê en haar pa het begin huil. Die baba was sy kleinkind en hy sal haar altyd liefhê.

Dis mense wat die land vorentoe gaan neem. Nie egoïste wat aan eie gewin dink nie, maar mense wat mekaar die beste gun. Mense wat ubuntu nastreef: Ek is wie ek is oor wie ons almal is.

Ons seun het nie net ons wêreld verander nie, maar ook ons uitgebreid­e familie s’n. Hy het ons geleer van liefde en deernis. Ons is wie ons is oor wie hy is. En hy gaan wees wie hy gaan wees oor wie ons almal is.

 ??  ??
 ??  ??
 ??  ?? VAN HEEL BO: Alek en sy pa klouter in ’n boom; die seuntjie en sy ouers; Alek en Jan-Hendrik maak van naby kennis met ’n klein krokodil; saam met Esther agter die verhoog toe hy ’n drakie speel in ’n vertoning.
VAN HEEL BO: Alek en sy pa klouter in ’n boom; die seuntjie en sy ouers; Alek en Jan-Hendrik maak van naby kennis met ’n klein krokodil; saam met Esther agter die verhoog toe hy ’n drakie speel in ’n vertoning.
 ??  ??
 ??  ?? ’N VERKORTE UITTREKSEL UIT SAAM IN SUID-AFRIKA DEUR PIETER VAN NIEKERK EN CHRIS JONES (LUX VERBI/NB-UITGEWERS, R189*).
’N VERKORTE UITTREKSEL UIT SAAM IN SUID-AFRIKA DEUR PIETER VAN NIEKERK EN CHRIS JONES (LUX VERBI/NB-UITGEWERS, R189*).

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa