Ná beroerte op 34 help sy navorsers
Nadat Lotje Sodderland op 34 ’n beroerte gehad het, kon sy nie praat of lees nie. Mettertyd het sy haar brein gerehabiliteer, ’n nuwe lewe opgebou en aanvaar wat gebeur het. Sy help wetenskaplikes ook groter insig kry in hoe die verstand werk
DIS uit die staanspoor duidelik dis geen gewone videoselfie dié nie. Die jong vrou wat na die kamera staar, lyk kwesbaar en bang. Jy kan nie haar kop sien nie, net haar gesig wat uitloer onder ’n kappie waarmee sy haar deels geskeerde kopvel en ’n bloedige litteken wegsteek; ’n aaklige herinnering aan die noodbreinoperasie wat sy pas ondergaan het. “Oukei, ek leef,” sê sy hortend. “Ek is nie dood nie. Dis ’n begin.”
Ná ’n lewensbedreigende beroerte op 34 het Lotje Sodderland in ’n Londense hospitaal wakker geword en gevoel of sy op ’n ander planeet geland het. Net ’n paar dae tevore was sy nog vervaardiger by ’n reklameagentskap, lewenslustig en energiek, altyd bedrywig en salig onbewus daarvan dat sy met ’n abnormale verbinding van bloedvate in haar brein gebore is. Een aand in November 2011 het dit onverklaarbaar geskeur.
Dokters het haar lewe gered deur haar twee dae lank in ’n medies geïnduseerde koma te hou en te opereer aan haar pariëtale en temporale lobbe, die dele van die brein wat taal en persepsie bevat. Maar hulle kon niks doen om die skade te herstel wat deur die bloeding veroorsaak is nie. Sy het wakker geword in ’n wêreld wat sy nie herken nie.
“Kleure was soveel helderder en klanke harder,” vertel sy. “Aanvanklik kon ek nie praat of lees nie en my gedagtes was nie lineêr of logies nie. Ek het geweet wie ek is en het my ma en broer herken, maar niks anders geweet nie.”
Al kon sy nie logies dink of meer as ’n paar woorde op ’n slag sê nie, het sy op ’n manier uitgepluis hoe om die videofunksie op haar iPhone te gebruik. Hierdie video’s, waarvan sommige verfilm is net ’n paar dae nadat sy uit die koma ontwaak het, sou die grondslag vorm van My Beautiful Broken Brain, ’n bekroonde fliek wat op die internetstroomdiens Netflix beskikbaar is.
Sophie Robinson is die mederegisseur en David Lynch ’n uitvoerende vervaardiger van dié fliek oor die hoogte- en laagtepunte van Lotje se pad na herstel. Dit is oor ’n tydperk van ’n jaar verfilm.
’n Mens sien haar met die alfabet sukkel, leer om haar skootrekenaar te gebruik (haar liggaam het onthou hoe om te tik, maar sy kon nie lees wat sy skryf nie) en probeer sin maak uit die spookagtige spore van haar vorige lewe.
Jy sien ook hoe sy ses maande ná die beroerte vrywillig aan ’n eksperiment deelneem. Iemand minder avontuurlustig sou moontlik nie so opgewonde gewees het oor die daaglikse behandeling met elektrodes vir 20 minute op ’n slag nie. Dit is gedoen in die hoop om haar kognitiewe funksie te herwin, en
‘Ek kon nie praat of lees nie en my gedagtes was nie lineêr of logies nie’
veral om weer te kan lees.
Toe loop dinge skeef. Teen die einde van die maand se behandeling (al is daar geen bewys dat dit verband hou nie), het sy ’n massiewe toeval gehad. Baie van die vordering wat sy toe al gemaak het, was daarmee heen.
“Weet die wetenskap werklik wat aangaan?” vra sy.
Lotje verken dit en ander vrae in Make Me a Better Brain, ’n dokumentêre program wat nou gemaak word. Dit lewer verslag oor die voorpunt van vordering in die neurowetenskap: Wetenskaplikes wat die “stukkende” brein van mense met traumatiese breinbeserings en parkinsons herstel. Dit bekyk ontwikkelings in “neuro-verbetering” – mediese tegnieke wat ingespan word om gesonde individue se brein te verbeter. Dit stel die vraag: As ons die volmaakte lippe of borste kan hê, hoekom nie ook die volmaakte brein nie?
DIT tref my hoe goed Lotje lyk toe ek haar by haar huis in Londen ontmoet. Dit is moeilik om te glo dis dieselfde vrou wat ’n kort rukkie tevore nog erg gestrem was. “Dis alles verborge,” sê sy. “Hierbinne is alles nogal in ’n warboel.”
Sy vertel sy is blind in die periferie van haar regteroog en sal nooit weer kan bestuur nie. Sy kan tik, maar steeds nie lees nie. Sy herken drukwerk van verskillende groottes en tipes, maar kan niks daarvan uitmaak nie. Om te lees en skryf loop nie hand aan hand nie. Lees is afhanklik van ’n aantal prosesse in die brein se woord- herkenningstelsels,wat onklaar kan raak.
“Ek gebruik gedurig tegnologie om my te help kommunikeer,” sê Lotje. “Ek gebruik byvoorbeeld Siri (’n Apple-funksie) om ’n e-pos of teksboodskap te ontsyfer en dit in klank te omskep.”
Die jong vrou het trouens ’n radikale verskuiwing van ’n visuele tot ’n meer ouditiewe persepsie ondergaan. Van lees na luister. Sy volg die nuus deur radio te luister en het vir plesier fotografieboeke aangeskaf. Volumes deur Banksy en Helmut Newton pryk onder meer op haar rak. Sy het ontslae geraak van die meeste van haar ou boeke, want dit maak haar hartseer om dit te sien, maar sy het nog ’n paar in die solder.
Lotje benadruk sy moet deesdae versigtig wees omdat sy maklik “oorweldig” kan voel. Sy kan byvoorbeeld nie saans ’n fliek kyk nie. “Dis fisiek,” sê sy. “Jy voel siek en duiselig. My kognitiewe reaksies en prosesse en my sensoriese reaksies en prosesse – visie, klank, die hoeveelheid inligting wat ek inneem – is uiters oorsensitief. Alles is helderder en harder. Dit is daarom baie maklik om oorweldig te voel, en dan,” sê sy en klap haar vingers, “is dit klaarpraat. Ek kan nie slaap nie, en wanneer ek nie kan slaap nie, is ek die volgende dag nutteloos.”
Sy beskryf haar roetine: 40 minute van meditasie in die oggende, hoogtens ’n uur per dag op haar skootrekenaar en foon en agt uur slaap snags. Haar tuiste weerspieël hoe belangrik stilte in haar lewe is. Dit is geleë in ’n eenrigtingstraat, wat sy vir die rustigheid gekies het. Die mure is ’n strelende skakering van grys geverf en daar is minimale meubels: ’n tafel, twee stoele, ’n rusbank.
Dit is ’n groot verandering, sê sy, want sy was altyd “hiperaktief ” en het op drie uur slaap snags gedy. “Nou is dit uiters uitputtend; daarom moet ek dié kloosterbestaan lei.”
Ondanks die skade van die beroerte kom sy steeds welsprekend voor.
“Dis omdat ek reusevordering gemaak het en omdat ek oor my brein praat, iets waaraan ek nou al gewoond is. As jy my sou vra om oor die oorlog in Sirië of so iets te praat, sou ek glad nie so welsprekend wees nie.
“Dit is bloot dat die brein my spesialisonderwerp is.” (Blaai om)
Make Me a Better Brain fokus op hoe min kundiges werklik oor die orgaan weet. “Hoe meer ons verstaan hoe die brein werk wat die dinge betref wat ons kan aanraak en voel, die materiële dinge, hoe verder beweeg ons daarvan om die verstand, die individu daarbinne, te verstaan,” sê Lotje. Emosies, gedagtes, drome, nadenke; die kern van wat ons mens maak. “Of dis in elk geval my ervaring.”
Sy spreek ook kommer uit oor die etiese aspek van neurowetenskap; dit spruit uit haar ervaring nadat sy aan ’n eksperiment deelgeneem het. “Dit maak nie sin om ’n brein wat pas herstel het met elektrodes te stimuleer nie. Jy sou nie ’n kind leer lees deur sy brein te bestook nie; die delikate orgaan wat ons glad nie verstaan nie. Dit is riskant.”
Terwyl sy aan die dokumentêr gewerk het, was sy getuie van party van die wonders van neurowetenskap, soos vordering wat gemaak is om alzheimerslyers hul geheue te help herwin, en ook van omstrede behandelings, soos die gebruik van transkraniale magnetiese stimulasie, oftewel TMS, om outisme te “genees”.
Sommige studies dui daarop dat TMS, ’n nie-indringende prosedure waar elektromagnetiese velde gebruik word om senuselle in die brein te stimuleer, simptome van outisme soos prikkelbaarheid en herhalende gedrag kan help verlig en sosiale vaardighede verbeter.
John Elder Robison, met wie in die dokumentêr ’n onderhoud gevoer word, het sy “emosionele ontwaking” danksy TMS beskryf in onlangse memoires, Switched On. Al kan jy ná die behandeling ander mense se emosies makliker lees, het hy ’n “beskermende lagie” verloor, vertel hy.
Hy was “oorweldig deur emosie” en sy huwelik het op die rotsee beland beland. “Ek het gedink dis tragies dat hy die gevoel gekry het daar is fout met hom,” sê Lotje. “Elke menslike brein is uniek, en ander het hom laat voel hy kom iets kort.”
In die lig van hoe sy in haar daaglikse lewe ingeperk word, is dit ongelooflik dat sy reggekry het om die dokumentêr te maak. Dit was haar idee, sy is die aanbieder en moes wyd reis, na onder meer Boston, Philadelphia, Atlanta, Minneapolis en Seattle.
“Dit was werklik opwindend om hierdie reis te onderneem, want ek is dol oor avonture. Dis iets wat ek voorheen gehad het en steeds het.”
Maar daar was natuurlik uitdagings. “Dis baie uitputtend om te praat. Mense met ’n normale brein is nie bewus van wat in die brein aangaan wanneer ons kommunikeer nie. Dit is so ingewikkeld; daarom was ek elke aand met ete doodstil. Geen pret hoegenaamd nie. Ek het sosiaal ’n bietjie nutteloos gevoel.”
Sy het ook amper flou geword tydens die verfilming van ’n operasie op Deirdre Wild, ’n vrou met parkinsons. “Dit was eintlik vreemd, want al ek het self ’n breinoperasie ondergaan, het ek nooit werklik gedink aan wat daartydens gebeur nie, tot ek in die teater was en gekyk het hoe Deirdre geopereer word.”
Lotje was skielik met afgryse vervul: die geboor aan die skedel, die gerammel, gegons en gesis van al die masjinerie en tegnologie, Deirdre wat op haar maag lê, haar kwesbaarhei d . “Ek was paniekerig, vreesbevange en het gedink: ‘Ek kan nie glo dit was ek nie.’ Een van die vroue wat ’n masjien beheer het, kon sien ek is wankelrig en het my ’n stoel gegee om op te sit.”
Sy het gesien hoe word Deirdre se hare ná die operasie geborsel, ’n poging om die pasiënt goed te laat lyk vir familie en vriende wat haar besoek, en het met ’n skielike duidelikheid haarself gesien.
“Volgens my ma en broer was my hare ‘deurmekaar’ toe hulle kom kuier. Maar ek was bewusteloos. Dis alles vreemd.”
LOTJE is in 1977 in Parys gebore. Haar ma was ’n Nederlandse model en haar pa, “’n mal Fransman”, was ’ n musiekvervaardiger.
Toe sy vier was, het sy saam met haar ma en ouer broer, Jan, Engeland toe getrek. Haar pa was meestal afwesig en sy het vir die grootste deel van haar kinderjare rondgetrek. “My ma was avontuurlustig en het gehou van verhuis. Dit het my aanpasbaar gemaak.”
Nadat sy aan die Universiteit van Manchester sosiologie studeer het, het Lotje Amsterdam toe getrek en ’ n dokumentêrerolprentmaker geword. Daar het sy vir die produksiemaatskappy Submarine gewerk. In Junie 2011 het ’n Londense reklameagentskap, Mother, haar werk aangebied.
“Ek was gereed om Londen toe te trek. Ek het met my jare lange kêrel uitgemaak en al was ek mal oor my lewe in Amsterdam, was dit beperkend. Ek was loopbaangerig en wou meer doen.”
Die lewe in Londen was ’n warrelwind van bedrywighede. “Ek het soos ’n besetene gewerk, gereis, en dit reggekry om onmoontlike uitdagings die hoof te bied. Ek was mal daaroor. Of dalk het ek dit net geniet om nie oor dinge te dink nie, dat my aandag van myself afgelei is.”
Sy het ’n hegte vriendekring gehad. “Wanneer ons nie saamgewerk het nie, het ons saans saam geëet.”
Ses maande nadat sy by haar nuwe werk begin het, het sy een aand ineengestort. Dit was ’n Sondag. Nadat sy die aand saam met vriende deurgebring het, is sy terug na haar woonstel in Shore- ditch, waar sy alleen gewoon het.
Sy onthou sy het in die nag met ’n folterende hoofpyn wakker geword. “My brein het toe reeds begin bloei. Ek het na my foon gekyk, maar niks het sin gemaak nie. Ek het geweet iets ernstigs is aan die gebeur.”
Lotje het kort-kort haar bewussyn verloor. Sy was vreesbevange, maar het op ’n manier dit reggekry om aan te trek, haar handsak te vat, met vier stelle trappies af te loop en die voordeur oop te maak. Sy het oor die straat gestap tot by ’n hotel.
“Ek onthou ek het die ontvangsdame om hulp probeer vra, maar sy het my net vreemd aangekyk,” sê Lotje en voeg by dis nie verbasend nie. “Daar is baie mal mense in daardie gebied.”
Eindelik is sy bewusteloos in ’n toilet in die hotel gevind en om 13:00 in die hospitaal opgeneem.
Ek vra haar of sy wens sy is vroeër daar aangetref.
“Dan sou die skade vanselfsprekend baie minder gewees het,” sê sy.
Lotje is merkwaardig genoeg nie juis bitter hieroor nie. Maar haar Zen-benadering is aan ’n lang rehabilitasieproses te danke.
“Die eerste paar jaar was uiters pynlik en frustrerend, en eers toe ek met die aanvaardingsproses begin, wat ook ’n lang proses is, het ek hierdie nuwe brein begin waardeer.
“Om ’n eenvoudige lewe met fokus en waarde te lei, is werklik iets moois.”
Sy sê die arterioveneuse malformasie (AVM), die abnormale verbinding van bloedvate in haar brein, sou net per toeval opgespoor kon word.
“As ek in ’n motorongeluk was en hulle moes ’n MRB-skandering doen, sou dit opgespoor gewees het. Dan sou ek die opsie van ’n voorkomende operasie gehad het, maar dit het nie gebeur nie.”
AVM’s is gewoonlik aangebore, maar meestal nie oorerflik nie.
Sê nou haar lewe was nie so gejaagd nie? (Kenners sê die bloeding kon enige tyd, of dalk glad nie, gebeur het.) Sê nou sy het saamgewoon met iemand wat gouer hulp kon ontbied? Wat as sy nie aan die eksperiment deelgeneem het nie? (Sy gebruik nou anti-konvulsiemiddels en die gedagte aan nog ’n toeval laat haar kwaai paniekaanvalle kry.)
Lotje weier om die sê-nou- maarspeletjie te speel.
“Terwyl ek in die hospitaal was, was daar mense wat die vermoë om te loop, te kommunikeer, te praat, hulself, heeltemal verloor het. Ek het besef hoe gelukkig ek is.”
Haar ma en broer, wat naby woon, is haar groot steunpilare. Sy is ook “baie gelukkig” in ’n nuwe verhouding met iemand wat haar nie tevore geken het nie. “Dis uiters bevrydend, want daar is geen verwagtings van die ou ek nie,” sê sy. “Al die mense in my lewe het lank dié ‘nuwe’ mens gesien. Dit het nog meer stres veroorsaak om vir hulle daardie ou mens te probeer wees.”
Treur sy oor haar vorige lewe? “Ek treur oor van my vermoëns, my werk en leefstyl, maar dis alles eksterne goed. Die kern van wie ek was, is dieselfde.” © SALLY WILLIAMS/TELEGRAPH MEDIA GROUP LIMITED 2017
‘Om ’n eenvoudige lewe met fokus en waarde te lei, is werklik iets moois’