Gesin help Kevin op tenniswenpad
Kevin Anderson se ma vertel van die gesin se harde werk en toewyding om die tennisster sukses te help behaal
KEVIN ANDERSON was net 12 toe hy Rafael Nadal die eerste keer op die tennisbaan ontmoet. Die twee kannetjies het in 1998 in Stuttgart, Duitsland, in die Junior Meesterstoernooi teen mekaar gespeel. Die Spanjaard het die toernooi gewen.
Die jong Kevin sou destyds nooit kon dink hy sou byna 20 jaar later in die eindstryd van die Amerikaanse Ope te staan kom teen Rafael nie, nou die wêreld se no. 1-speler. Dis die eerste keer in 52 jaar dat ’n Suid-Afrikaner tot die eindronde van die Amerikaanse Ope deurdring. Cliff Drysdale het in 1965 in die eindstryd gespeel teen Manuel Santana van Spanje, wat die titel verower het.
In die eindstryd tussen Rafael en Kevin (albei 31) het Suid- Afrikaners bankvas agter hul landgenoot gestaan, maar Rafa het in die Arthur Ashe-stadion in New York met 6-3, 6-3 en 6-4 met hom afgereken.
Al het Rafael voor die wedstryd reeds 15 Grand Slam-titels in sy sak gehad en het Kevin vir die eerste keer die eindronde van ’n Grand Slam gehaal, was laasgenoemde se ma, Barbara (70), voor die kragmeting vas oortuig haar seun het die potensiaal om te wen. “Absoluut. Kevin het gesê spelers vir wie hy hoë agting het, staan deesdae oorkant hom agter die net. Al is dit ’n groot uitdaging, is hy gemaklik daarmee,” sê Barbara dae voor die Grand Slam-eindstryd in ’n eksklusiewe onderhoud aan Huisgenoot.
Koerantberigte van Kevin se onlangse sukses is opgeplak teen die yskas in sy ouerhuis in Hurlingham in Sandton.
Die man op straat het eers werklik aan hom begin aandag gee toe hy vanjaar die halfeindstryd van die Amerikaanse Ope haal. Die laaste Suid-Afrikaner voor hom wat die halfeindronde van dié toernooi bereik het, was Johan Kriek in 1982.
Maar vir die land se tennisliefhebbers is Kevin Anderson nie ’n onbekende naam nie. Hy het in 2004 in sy eerste Wimbledon-toernooi gespeel en is sedert 2007, toe hy 21 was, ’n beroepspeler. In 2015 was hy no. 10 op die wêreldranglys.
Terwyl ’n mens na Barbara luister, be- sef jy Kevin se sukses is die beloning vir jare se harde werk, toewyding en geesdrif deur sy hele gesin. Ter voorbereiding op die Amerikaanse Ope het Kevin juis teen sy lewenslange teenstander geoefen: sy broer, Gregory (29). Hy is ’n tennisdirekteur van ’n sportakademie in New York.
Kevin en sy Amerikaanse vrou, Kelsey (30), ’n rekenmeester, se tuiste is aan die Amerikaanse Golfkus in Florida, en die twee broers sien mekaar gereeld.
Barbara vertel: “Kevin was vier jaar oud toe hy sy eerste tennisraket optel.” Gregory was toe net 18 maande oud.
Die boeties het ure Swingball gespeel, en Barbara en Michael (79) het besluit om hulle te leer tennis speel. Die vierjarige Kevin het tennislesse gekry en sy pa het help afrig. Barbara lag toe sy terugdink: “Daarna het ons lewe om tennis gedraai. Ons het net soms ’n eendagvakansie geneem en iewers gaan rus.”
Deesdae is hul lewe rustiger en hulle
kyk graag Kevin se wedstryde wanneer dit op TV uitgesaai word. “Ons sit nie meer en skree voor die televisie wanneer hy speel nie. Ons het al geleer om nie so senuagtig te word nie,” vertel Barbara. Michael kyk soms die heruitsendings en stuur dan vir Kevin wenke.
Barbara stap na die studeerkamer en wys die tennisfoto’s teen die muur. Dis duidelik dié ma wil bars van die trots. “Ons het altyd by ons mantra gehou: Speel een bal op ’n slag, bly positief en in die hede,” sê sy.
’NTIPIESE dag in die Anderson-huishouding het in die seuns se tienerjare al om vyfuur begin wanneer Barbara hulle na die gimnasium sou neem om te gaan swem. Namiddae was dit rondry vir tennislesse en -wedstryde, onder meer drie keer per week by die Internasionale Tennisfederasie in Centurion.
Destyds was Barbara ’n sekretaresse en Michael het ’n gietery besit. Hy kon baie tyd afknyp om aan die seuns se tennis te bestee.
Die ouerpaar het al probeer uitwerk hoeveel geld hulle deur die jare aan Kevin se tennisloopbaan bestee het. “Ons het eindelik moed opgegee. Ons skat dit het ons al sowat R4,5 miljoen uit die sak gejaag,” vertel Barbara.
Daar was toernooigeld, afrigting, rakette en skoene, maar die baie reise na Afrika, Europa en Amerika het hulle die meeste geld uit die sak gejaag.
By die Andersons se eerste huis in Johannesburg was nie ’n tennismuur nie. “Kevin het ’n halwe tennisbaan teen die muur buite ons huis ingerig sodat hy daar kon oefen,” vertel Barbara.
Later het hulle ’n huis met ’n tennisbaan gekoop, ook in Johannesburg. “Die seuns het minstens vier uur per dag op daardie tennisbaan deurgebring.”
Michael was ook ure langs die tennisbaan en het die afrigter se riglyne tuis met die seuns ingeoefen. “Hulle het elke dag heeldag tennis gespeel,” sê Barbara.
“Gregory en Kevin het altyd teen mekaar geoefen. Hulle het al in ’n junior toernooi in ’n naelbyteindstryd teen mekaar gespeel, en Kevin het gewen.”
Barbara giggel toe sy vertel Kevin en Gregory het nie soos ander tieners grootgeword nie. “Hulle was so gedaan van al die tennis dat hulle saans teen halfagt al in die bed was.”
’n Mens besef die sportster se passie vir ’n gesonde leefstyl is in sy ouerhuis aangeleer toe sy ma spog: “Ons het amper glad nie kitskos geëet nie.” Kevin is steeds gesteld op sy dieet en eet vandag net gluten-, suiker- en suiwelvrye produkte.
Hy het eers aan St. John-kollege in Johannesburg skoolgegaan en is in gr. 4 na die nabygeleë St. Stithians- kollege. Weens al sy tennistoere het sy skoolwerk begin agterraak; daarom het sy ouers hom op 16 by die British International College in Bryanston ingeskryf. Dié kollege se leerplan is op afstandsonderrig gegrond. “Dit was net soveel makliker omdat ons met die toernooie so dikwels en so ver gereis het,” vertel Barbara.
As junior speler het Kevin Afrika platgereis en aan verskeie toernooie deelgeneem om sy telling op die tennispunteranglys te verbeter. Sy harde werk het vrugte afgewerp toe hy in sy matriekjaar die geleentheid kry om aan die Universiteit van Illinois in Amerika te gaan studeer. “Hulle het die beste tennisprogram aangebied,” sê Barbara.
Daar het Kevin kollegetennis gespeel en All American-status gekry, wat verwys na die jaarlikse lys van belowendste amateurs in verskillende sportsoorte in dié land. “Ons het eers werklik sy potensiaal in die sport raakgesien toe hy ’n oorsese universiteitsbeurs kry om te gaan tennis speel,” vertel Barbara.
DALK is dit tog nie so vreemd dat die Anderson-broers hul voete in die wêreld van beroepstennis gevind het nie: Die spel het hul ouers bymekaargebring. Michael het Barbara in 1973 by ’n tennisklub in Johannesburg ontmoet en Michael se ma, Lorraine Anderson, het destyds vir Oos-Transvaal tennis gespeel. Die sport is dus in hul bloed. “Mense het ons gewaarsku as jy kinders te hard in ’n rigting druk, sal hulle hulle daarteen verset. Maar ons seuns het dit geniet,” sê Barbara.
En wanneer kan ons die vierde generasie tennisspelers verwag? Barbara lag net en sê Kevin en Kelsey toer te veel om nou aan kinders te dink.
Die twee het mekaar aan die Universiteit van Illinois ontmoet en is in 2011 getroud. Kelsey was lid van die vrouegholfspan en Kevin van die manstennisspan.
Hul vierpotige aanneemkind, Lady Kady, ’n worshond-chihuahua-kruising, gaan oral saam en was vanjaar ook by Wimbledon.
Kevin het reeds twee en ’n half jaar van sy sakegraad aan die Universiteit van Illinois voltooi. Hy moet nog ’n jaar en ’n half studeer voor hy sy graad kry. Vir eers fokus hy op sy tennis.
Barbara sê sy gesels amper daagliks met Kevin op WhatsApp, en hulle behou ook deur e-pos en oproepe kontak.
Oor of Kevin in die toekoms weer in ’n groot eindstryd sal speel, sê Barbara: “’n Mens hou vas aan daardie geloof. Jy doen jou bes, werk hard en gee alles. Dan is alle toernooie eintlik dieselfde.
“Dis baie opwindend om aan Kevin se prestasies te dink. Ons probeer om nie te ver vooruit te dink nie. Ons vat dit een bal, raket en wedstryd op ’n slag.”