Dwerge vier vrolik fees
Die vyfde Dwergiefees was ’n jollie affêre waar diedwergewou wysdaar’sniks wat hullenie kan doen nie
DIE klank van boeremusiek dartel deur die boomtoppe by die Weesgerusvakansieoord. Hier buite Modimolle styg die kwik vandag tot 32 °C en die feesgangers soek die skuiling van koeltekolle op. In die biertent word die kele gelawe. Sommige feesgangers staan op hul tone om die yskoue bier op die kroegtoonbank by te kom.
“Staan nader. Al die dwergies, staan nader,” weergalm dit oor die luidspreker.
Dis Deon Calitz wat roep. Hy is die organiseerder van die Dwergiefees.
Dit is tyd vir die toutrekkompetisie en ’n tou kom te voorskyn. Vandag gaan die feesgangers vir die manne van die fees se sekuriteitsmaatskappy wys dinamiet kom sowaar in klein pakkies.
Twaalf dwergies gryp die een punt van die tou. Die manne in kamoefleerdrag staan aan die ander punt.
“Op jul merke, gereed . . . trek!” roep Deon.
Die dwerge plant hul voete stewig op die grond en trek soos een mens die tou.
Die kamoefleermanne kreun en steun, maar dit is hulle wat sleg tweede kom.
“Ons wys vandag vir almal ’n dwergie is niks minder as normaal nie. Ons kan doen wat normale mense doen. En ons doen dit sommer beter,” vertel Deon ná hul triomfantelike oorwinning.
Die sanger Juan Boucher se musiek
speel oor die luidsprekers. “Bring die water, bring die sand, my lyf is aan die
brand,” eggo dit oor die feesterrein, en die biertent raak ál voller.
Dit is vanjaar die vyfde keer dat die dwerge so bymekaarkom om fees te vier.
“Ons doen dit elke derde jaar en ons gaan elke keer na ’n ander dorp om al die dwerge in die land bymekaar te bring,” vertel Marinda, Deon se vrou. Sy het nie dwergisme nie. Die egpaar is al 12 jaar getroud. Hulle het die Dwergiefees in 2005 begin om aan die wêreld te wys daar is niks wat ’n dwergie nie kan doen nie. Deon en sy tweelingbroer, Chris, is in 1965 gebore en is sover bekend van die min dwergietweelinge in die land.
Die fees strek oor twee dae en is elke keer by ’n plek waar feesgangers hul tentpenne kan inslaan of ’n chalet kan huur. Sowat30dwergeenhulgesinnehet vanjaar se fees bygewoon.
“Mense moet besef dwerge is ook mense en hoort nie net in die sirkus nie. Hier kan hulle dit self besef en sien hoe normaal hulle is,” sê Marinda. Deon knik. “Ek lei honde op en hou baie van jag. My lengte benadeel my glad nie,” sê hy.
BERNADINE COETZEE (19) is as Mej. Dwergie 2017 gekroon. Sy word meegevoer deur die musiek en sukkel glad nie om ’n dansmaat te kry nie. Met haar silwerkroon op haar kop gly sy oor die dansbaan met die een dwergie náá die ander. Sy lag wanneer sy die ritme verloor, maar dan kry sy dit weer en dans dat die stof so staan.
“Ek het sommer net besluit om in te skryf,” sê sy oor haar kroning op die fees.
“Dit was die tweede keer dat ek deelneem. Dit het vir my baie beteken om te wen. Dit wys net weer ek is nie niks nie. Ek is uniek. Ek het vrede gemaak daarmee.”
Sy het van Heilbron in die Vrystaat saam met haar familie hierheen gekom.
“Ekhetopskoolbaiedaarmeegewroeg dat ek ’n dwergie is. Veral toe ons begin sport beoefen en ek nie kon deelneem nie.
“Ek het heeltyd gevra hoekom dit met my gebeur het en nie met my sussie nie. Hoekom ek?
“Maar ek het my antwoord gekry. Ons is spesiaal. Net soos wat elke mens anders is as al die ander, is ons ook uniek op ons eie manier.”
Hierdie matriekmeisie het groot planne.
“Ek gaan modeontwerp swot,” vertel sy met ’n vonkel in die oog.
“Ek wil klere spesifiek vir dwergies ontwerp. Ons moet kinderklere dra, maar ek sal graag wil hê ons moet ook stylvol kan wees en pragtige rokke na geleenthede toe aantrek.”
Ons ontmoet ook Mnr. Dwergie, die sesjarige Adriaan Coetzee van Pretoria, wat die Vrydag saam met Bernadine gekroon is.
“Ons bring hom sodat hy kan sien hy is uniek, maar daar is ook ander soos hy. Hier kan hy maatjies maak,” sê sy pa, Johan.
“Ek dink hy het gewen omdat hy sulke oulike danspassies uitgevoer het,” sê Johan en lag.
Die twee stap hand aan hand swembad toe.
By die een stalletjie staan spierwit beeldjies van dwergies op die tafel. Hier kan feesgangers kom sit en hul eie dwergie verf.
Arrie Venter van Pretoria sit onder die koelteboom terwyl sy vrou, Maritza, en vyfjarige dogtertjie, Mia, een van die beeldjies verf.
Sy vrou en kind het albei dwergisme, maar hy nie.
“Dit is baie lekker om hierheen te kom. Dit is ons tweede keer,” sê Arrie.
“’n Mens kuier heerlik en jy hoor by ander gesinne hoe hulle dwergisme aanpak.
“Jy kry baie nuttige wenke, soos hoe hulle dwergies help om by ’n motor se koppelaar by te kom.
“Een mens het die verlengings met boute aangebring sodat dit nie maklik loskom wanneer sy vrou bestuur nie; nou gaan ek dit ook vir Maritza doen.”
Die verfkwassie lek aan die hoedjie van die dwergie en los groen hale. Kort voor lank lyk Maritza se beeldjie nes ’n karakter uit Sneeuwitjie. “Ek gaan hom in ons tuin sit,” sê sy. Klein Mia sit en kyk hoe haar ma die kwassie in die verf doop en die dwergie sorgvuldig inkleur. “Wil jy ook een verf?” vra haar ma. Sy knik en nog ’n dwergie kom te voorskyn. Nou sal die twee van hulle ’n plekkie in die Venters se tuin kry.
DIE Coetzer-gesin het die verste van al die feesgangers gery om hier te wees; heelpad van Vryheid in KwaZulu-Natal.
Dit is hul eerste Dwergiefees. Nadat hul kleinding met dwergisme gebore is en ma Lindie deeglik navorsing gedoen het, het sy op die fees afgekom en besluit hulle moet dit bywoon.
Sy en haar man, Karl, het nie dwergisme nie.
Hul agt maande oue Arabella is die jongste dwergie hier.
Haar gesiggie helder op wanneer jy met haar praat en Lindie laat die soene op haar reën terwyl Karl toekyk.
“Ons het haar aanvaar nes sy is. Ons is vreeslik lief vir haar,” sê Lindie.
Op die oog af lyk Arabella soos enige baba, maar wanneer jy nader kom, sien jy tog iets anders. Sy is gebore met ’n seldsame vorm van dwergisme wat veroorsaak dat haar ledemate korter is as dié van die meeste dwergies.
Lindie sê hulle het reeds tydens die swangerskap geweet sy gaan ’n dwergie wees.
“Ons kon ons deeglik daarop voorberei; daarom was dit nie vir ons ’n groot slag nie.”
Hulle wou ná Arabella se geboorte meer betrokke raak by die dwergiegemeenskap.
“Ons wou mense ontmoet wat ook daarmee leef. En die gemeenskap bied aan ons soveel steun.
“Ons wil vir haar ’n normale lewe gee en al die geleenthede wat haar toekom. Ons wil haar nie laat voel sy is vreemd nie.”
Maar die nuwe ouers het wel uitdagings.
Omdat sy korter ledemate het, gaan sy sukkel om eenvoudige take te verrig, soos om ’n hemp aan te trek.
“Maar dit is klein goedjies,” sê Lindie. “Ons sal maniere vind sodat sy ’n normale mensie kan wees.”
Die braaivleisvure begin hoog brand terwyl die Bosveldson in ’n oranje gloed op die horison verdwyn.
Op die verhoog sing ’ n sanger ou countryliedjies. Plek-plek is iemand wat nog nie feesvoos is nie en saamdans, maar die meeste dwerge en hul gesinne begin rustig om die vure sit.
Môre gaan hulle weer in hul verskillende rigtings, tot die volgende fees.