Hardus Lotter gesels in tronk
Hy’t swaar lesse geleer, vertel Hardus Lotter in die tronk nege jaar nadat hy sy ouers vermoor het
DIT voel elke keer soos ’n landelike stopstraat wanneer nog ’n bok of bees sommer voor die motor inloop oor die kronkelpad na Elandskop anderkant Pietermaritzburg. Plek-plek wei vee tussen die grasdakhutte in die groen KwaZulu-Natalse Middelland.
Maar dié gevoel van vryheid verander vinnig in een van beklemming toe ’ n mens by die hoë staalhekke van die afgesonderde Sevontein-gevangenis inry.
Dis waar die 29- jarige Durbaniet Hardus Lotter dalk die laaste maande van sy 10 jaar tronkstraf slyt vir die moord op sy ouers, Johnny (53) en Riekie Lotter (52). Hy woon tussen 25 medegevangenes in ’n gemeenskaplike sel.
’n Mens skrik byna toe die jong man – broos, brandmaer en met neergeslane oë – in sy oranje oorpak in die gevangenishoof se kantoor aangeskuifel kom.
Sy hande is yskoud toe hy groet. Dit voel soos die dood. “Dankie dat julle hier is,” sê hy. Sy stem is diep en sy hare is borselkop geskeer.
Mense was geskok toe Hardus (toe 20) en sy ouer suster, Nicolette (toe 26), op 19 Julie 2008 hul ouers in Thameslaan 62 in Westville buite Durban vermoor. Dit was op aandrang van Nicolette se destydse verloofde, Mathew Naidoo (toe 21) van Phoenix in Durban.
In Maart 2012 is Hardus en Nicolette in die KwaZulu-Natalse hooggeregshof in Durban onderskeidelik 10 en 12 jaar tronkstaf opgelê. Naidoo het hom as die “derde seun van God” voorgedoen terwyl hy met die Lotters se kop gesmokkel het. Regter Shyam Gyanda het in sy uitspraak aangedui hy het Hardus en Nicolette se weergawe aanvaar dat dit is wat Naidoo hulle laat glo het en benadruk daar was “oorgenoeg stawing” tussen die broer en suster se weergawe om dit te bewys. Naidoo is tot effektief lewenslange tronk- straf (25 jaar) gevonnis. Hy word in die Westville-mansgevangenis aangehou.
Hardus kom in Maart volgende jaar vir parool in aanmerking nadat hy ses jaar van sy vonnis uitgedien en vier jaar verhoorafwagtend was. Hy sê vandag hy wens hy het destyds geweet wat hy nou weet. “As ek kon teruggaan na die begin, die dag toe ek en Mathew mekaar ontmoet, sou ek nooit met hom bevriend geraak het nie. Ek sou my suster oorreed het om hom nie meer te sien nie.”
Maar spyt het veels te laat gekom, vertel hy nou in sy eerste eksklusiewe onderhoud sedert die moorde nege jaar gelede.
OOR die moordnag wil Hardus nie praat nie, maar besonderhede oor die gru-aanval het in die hof uitgekom. Ná die moorde het sy en Nicolette se suster, Christelle (31), kontak met haar sibbes verbreek. Sy is weens haar sibbes se betrokkenheid by die moorde die enigste erfgenaam van Johnny, ’n chemiese ingenieur, en Riekie, ’n onderwyseres, se boedel.
Hardus vertel vandag hy het berou gevoel die oomblik toe hy besef Naidoo het hom en Nicolette om die bos gelei. Die polisie het vir hulle gesê Naidoo beweer
‘Ek het die donkerste kant van die lewe gesien. Ek wil betekenisvol leef’
hulle het dit gedoen omdat hul ouers hulle “seksueel mishandel het”.
Dit was nie waar nie, en hulle was geskok oor Naidoo se verraad, het die hof destyds gehoor.
“My hele lewe het inmekaargestort,” vertel Hardus oor dié oomblik. Sedertdien het hy Naidoo reeds “100% vergewe”, maar dit is vir hom sleg dat dié nog nooit die waarheid vertel het nie.
Die hof het aanvaar Naidoo het as leier en meesterbrein saam met die sibbes hul eie “godsdiens” geskep. “Ek glo my soeke na spirituele vervulling het my kwesbaar gemaak. Dit het my vrugbare grond vir okkultiese praktyke gemaak,” vertel Hardus. Hy onthou as kind en later as jong volwassene was hy ’n skaam eenkantmens met ’n swak selfbeeld.
“Ek was soms baie bang vir mense. Hulle het my waarskynlik as ’n bleeksiel gebrandmerk. Ek was en is steeds ’n rekenaar-geek,” sê hy en sy netjiese tande wys toe hy breed glimlag.
’n Oomblik lank blink sy groen oë asof hy vergeet het waar hy is.
VANDAG is hy minder skaam, want hy het sy waarde ontdek, vertel Hardus. Hy glo die tronk het hom gerehabiliteer. “Ek sal sê jy bereik ’n stadium waar jy besef jy was verkeerd en jy ervaar diepe berou oor wat jy gedoen het,” vertel hy, asof hy nie net van homself praat nie.
Hardus lei deesdae kerkdienste vir medegevangenes, werk in die tronk se biblioteek en studeer vir ’n kwalifikasie in ondernemingsbestuur. Inligtingstegnologie (IT) is egter steeds sy eerste liefde. Hy was ten tyde van die moorde in die tweede jaar van sy IT-studie aan Varsity College in Durban.
Sy ouers het hom altyd gesteun in alles wat hy gedoen het en ’n mens kan sien dit is vir hom swaar om oor hulle te praat. “Hulle was goeie mense. Soos almal het hulle sekerlik foute gehad. My pa het onder baie druk gewerk en was nie altyd die aangenaamste mens nie,” onthou hy. “Ek was natuurlik lief vir my pa. Ek mis hom altyd.”
Hardus raak dadelik bewoë toe ons vra wat hy ná alles nou graag vir sy pa sou wou sê: “Ek sal vir hom sê ek is jammer.”
Hy onthou ook sy ma met deernis en sou haar ook vergifnis wou vra. “Daar is daardie ding tussen ’n ma en seun, jy weet? Jy sal altyd lief wees vir jou ma,” vertel hy weer asof hy van iemand anders praat. “My ma het haar bes gedoen. Sy was altyd besorg oor ons en was die een wat teen Mathew opgestaan het. Sy het nie nonsens gevat nie. Ek dink partymaal het sy net nie geweet hoe om my en Nicolette te hanteer nie.”
As kinders was hy en Nicolette nie besonder geheg aan mekaar nie; hulle het eers ná skool nader aan mekaar beweeg. “Ek het my suster altyd jammer gekry. Ek kon sien sy sukkel, veral geestelik.” In die hof het uitgekom Nicolette het geglo sy word deur hul huishulp getoor. Toe sy by ’n kerk in Phoenix om hulp aanklop, het sy Naidoo ontmoet. Sy eerste indrukke van Naidoo was dié van ’n arrogante en parmantige mens, sê Hardus. “Maar soos ek hom leer ken het, het ek sy stories begin geniet en lekker saam met hom na strokiesprente en stoeigevegte gekyk.” Hardus glimlag effens. “Hy het amper die leemte van ’n broer in my lewe gevul.” Hardus glo Naidoo het hul “geestelike afvalligheid” misbruik en hulle “gebreinspoel”. Die regter het op grond van deskundige getuienis aanvaar die sibbes het ten tyde van die moorde met verminderde verantwoordelikheid ( diminished responsibility) opgetree. Hardus sê: “Ek koester geen wrok teenoor Nicolette nie; sy het eintlik die slegste van ons afgekom en die meeste van Mathew se mishandeling trotseer.” Sy dien haar vonnis in die Westville-vrouegevangenis naby Durban uit en studeer teologie.
HARDUS mis haar en veral Christelle baie. Christelle het tydens die moord fisioterapie aan die Universiteit Stellenbosch studeer, maar omdat sy alle kontak met hulle verbreek het, het hy nog nie na haar probeer uitreik nie. “Ek glo wanneer sy gereed is, sal sy my nader. Ek sal vir haar sê ek is jammer. Sy het nie meer ouers nie vanweë dit wat ek en Nicolette gedoen het. Ek kan haar nie dwing om te vergewe nie en sal aanvaar as sy nie wil nie.”
Hy het swaar lesse geleer, vertel Hardus. “Ek het die donkerste kant van die lewe gesien. Niks kan my meer bang maak nie. My grootste hoop is om weer onafhanklik en vry te wees, om betekenisvol te leef.” Eendag wil hy onder meer by skole met kinders gaan praat oor die okkulte. Hy glo party kinders is kwesbaarder as ander, soos hy was.
Met die uitry by die hekke slaak ’n mens ’n sug van verligting. Die lug is koel en vars. As alles vir Hardus volgens plan verloop, sal hy ook in Maart hier uitry. Hy weet hy sal nooit volkome vir sy dade kan boet nie.
“Maar ek glo ek kan ’n bietjie teruggee van wat ek geneem het,” sê hy.
Huisgenoot het Hardus en Nicolette se suster, Christelle, gekontak, maar sy wou nie kommentaar lewer nie.