WOESTE DAE VAN RUK-EN-ROL
Studio 54 was eens die middelpunt van New York se naglewe. Hier is 10 wilde feite
DIT was die glansrykste nagklub ter wêreld en gaste is alle vryhede en vreugdes veroorloof. ’n Volle 33 maande lank was Studio 54 die middelpunt van New York se naglewe. Die uitspattige baldadigheid kenmerkend van die 1970’s was mildelik daar te sien. Hier is 10 van die gekste dinge wat tydens die klub se legendariese glorietyd agter die fluweeltou aangegaan het.
Donald Trump het eerste by die openingsaand opgedaag – en amper padgegee omdat die partytjie so dooierig gelyk het.
Die klub, die geesteskind van Steve Rubell en Ian Schrager, is op 26 April 1977 geopen in ’n gebou wat voorheen ’n klankateljee vir TV-produksies was. Die toekomstige Amerikaanse president Donald Trump en sy destydse vrou, Ivana, was onder die eerste mense wat hul opwagting buite die deure gemaak het. Die egpaar het toe pas aandete geniet saam met die sosiale vlinder Nikki Haskell. “Ek het gesê: ‘Komaan! Daar is ’n nuwe klub wat vanaand open. Wat van ons gaan soontoe?’ ” het sy vertel in Anthony Haden-Guest se boek The Last Party. “Ons is na Studio 54, maar toe is daar niemand. Ons was so te sê die eerstes. Donald het destyds nog nie Trump Tower gebou nie. In daardie dae het niemand hom geken nie.”
Die leë disko waarin hulle rondgedwaal het, het hulle glad nie beïndruk nie. Daar was niemand en dit het gelyk of die partytjie dood is. “Omtrent ’n halfuur later was daar 50 of 60 mense. Ons het bly sê: ‘Ek wonder waar almal is.’ ”
Partytjiegangers het drupsgewys opgedaag, maar ná elfuur die aand het dit skielik in ’n stortvloed ontaard. Duisende mense het op die gebou toegesak. Die verkeer in 54ste Straat het tot stilstand gekom terwyl vermaaksterre en doodgewone jollers probeer nader kom het.
Die sanger Frank Sinatra was in sy limousine gestrand en kon nie naby kom nie. Die aktrises Margaux Hemingway en die jong Brooke Shields en die sangeres Cher kon tot binne vorder, maar nie die akteurs Warren Beatty, Kate Jackson en Henry Winkler nie.
“Niemand kan onthou dat Donald Trump die eerste aand daar was nie,” het Richie Notar, wat tafels in Studio 54 help afdek het, vertel. “Hy was onbekend. Hy was nooit op die dansbaan nie.”
Tog het hy ’n taamlik gereelde besoeker geword. “Ek het dikwels meisies daarheen uitgeneem en baie saam met vriende en ’n klomp ander mense daar gekuier,” het Trump verlede jaar in ’n onderhoud gesê. Volgens Nikki het die magnaat, wat nie drink of dans nie, sy redes gehad om daar te wil wees. “Hy was nie daar vir die dwelms en disko nie; hy was daar om saam met die
beroemberoemdes gesien te word, ’n sakenetwerk op te bou, transaksies te beklink . . .”
Bianca Jagger het op haar verjaardag op ’n wit perd oor die dansbaan gery.
Studio 54 se openingsaand was ’ n dawerende sukses, maar die daaropvolgende dae was betreklik stiller. Die keerpunt het gekom toe Steve, een van die eienaars, ’n oproep kry van die modeontwerper Roy Halston. Dié het gevra dat die klub gasheer speel vir Bianca se verjaardag. Sy was destyds Mick Jagger van The Rolling Stones-faam se vrou.
“Toe Steve die foon neersit, het ons dadelik skouer aan die wiel gesit,” het Renny Reynolds, ’n vennoot, vertel. “Ek het almal gebel wat ek in New York ken om massas wit ballonne te kom opblaas . . . en ek is na die Claremont-perdestalle om ’n perd te reël.”
Op 2 Mei 1977 het Bianca haar swierige verjaardagpartytjie gehou. Daar was net 150 gaste, maar onder hulle was die danser Mikhail Baryshnikov en die aktrise Jacqueline Bisset. Een van die kroegmanne het, geklee in ’n babadoek, uit ’n koek te voorskyn gekom, maar die hoogtepunt van die aand was omstreeks middernag toe ’n paartjie bedek met net glimmende verf en blinkers ’n wit hings van agter die verhoog se gordyn uitlei. Die verjaardagmeisie het wydsbeen daarop gesit terwyl dit oor die dansbaan draf, voor gretige kameras verby.
Dié foefiewas een van die doeltreffendstes in die geskiedenis van publisiteit, want foto’s van Bianca op die perd het in ’n oogwink in koerante wêreldwyd verskyn. “Dinge het van toe af eenvoudig soos ’n sneeubal groter geword,” het die deurwag Marc Benecke in 1998 in ’n E!-dokumentêr gesê. Die ganse wêreld het toe van Studio 54 geweet.
Die besonder kieskeurige deurwagte is gereeld geteister.
“Die sleutel tot Studio 54 se sukses is diktatorskap by die deur en demokrasie op die dansbaan,” het die kunstenaar Andy Warhol, ’n gereelde besoeker, op ’n keer opgemerk. Steve het met ’n ystervuis by die fluweeltoue regeer. Om die perfekte mengsel gaste vir sy partytjies te kry, het hy dikwels mense in die skare buite van ’n trapstoeltjie af staan en bekyk. Hy sou dan gaste uitsoek met ’n partydigheid wat grens aan harteloosheid.
“Dis soos om ’n slaai te maak,” het hy verduidelik, “of die spelers vir ’n toneelstuk te kies.”
Marc, toe ’n 19-jarige student aan Hun- ter-kollege, was Steve se regterhand. “So sê nou maar ’n McDonald’s-werker het langs die een of ander filmster of supermodel gestaan,” het hy vertel. “’n Mens moes maar kyk of hulle feestelik aangetrek of interessant of hoogs energiek is of goed kan dans, of sosiale vlinders, vermaaksterre of modelle is, want elke gas moes iets spesiaals tot die aand bydra.”
Dié wat weggewys is, het dikwels aand ná aand teruggekeer met ’n ander uitrusting en ’n nuwe haarstyl en in ander geselskap. Party het met duisende dollars se omkoopgeld probeer inkom. Op een Halloween-aand het twee vroue, waarskynlik met die Jagger-foto’s in gedagte, ’n perd gehuur waarop hulle nakend tot by die fluweeltoue gery het. Die perd het toegang gekry; die vroue nie.
“Steve het bepaalde maatstawwe gehad,” het iemand in die binnekring later aan Vanity Fair vertel. “Hy het altyd spottend gesê: ‘As ek nie die eienaar was nie, sou ek nie ingelaat gewees het nie.’ ”
Tog het hoopvolle klubgangers dikwels
die verwerping sleg hanteer. Klubwerknemers moes alle bottels en blikkies uit vullisblikke in die omgewing verwyder om te keer dat dié potensiële projektiele in ontevredenes se hande beland. Marc moes meermale na sy woonstel begelei word. “Dit was soms vreesaanjaend daar buite,” het hy later vertel.
Verwerping by die deur was die inspirasie vir een van die grootste diskotreffers.
Al het mense graag op die dansbaan op maat van Nile Rodgers en Bernard Edwards van Chic-faam se liedjies gedans, is dié twee op 1977 se Oujaarsaand by die deur weggewys. “Ons is genooi om Grace Jones in Studio 54 te ontmoet,” het Nile in 2005 in ’n onderhoud met die musiektydskrif Sound on Sound vertel. “Sy wou met ons praat oor opnames vir haar volgende album. In daardie stadium was ons musiek taamlik gewild (Dance, Dance, Dance was ’n groot treffer), maar omdat Grace nie ons name vir die deurwag gegee het nie, wou hy ons nie toelaat nie.”
Hulle het tot die vroeë oggendure daar rondgehang. “Ons het so lank ons dit kon uithou daar gestaan; ons voete het op die ou end net te koud geword. Ons was omtrent mismoedig. Ons het aaklig gevoel.”
Die twee het dikbek die pad gevat na Nile se woonstel ’n paar blokke daarvandaan. “Ons het ’n paar bottels sjampanje by die drankwinkel op die hoek gekoop en na my plek teruggegaan, ons instrumente ingeprop en begin speel.”
Hulle het in die gesig gevat gevoel weens die verwerping en toe hul woede in hul musiek uitgestort. “Ons het eenvoudig onwelvoeglikhede uitgeskree: ‘F** Studio 54 . . . F** hulle . . . F** daai wetters!’ En gelag,” het Nile later aan Anthony vertel. “Ons het dit terdeë geniet. Absoluut mal gegaan. Toe kry Bernard ’n idee en sê: ‘Hei, Nile, wat jy speel, klink regtig goed.’ ”
Binne ’n halfuur het hulle ’n liedjie met die titel F*** Off gekomponeer. Ná ’n paar klein veranderings aan die lirieke het hulle op ’n radiovriendeliker titel besluit. “Eers het ons dit van F*** Off na Freak Off verander, maar dit was regtig aaklig. Toe skiet dit my skielik te binne; die lig het vir ’n sekonde aangeskakel en ek het gesing: ‘ Aaaaahh, Freak Out! ’”
Die daaropvolgende September is dit as Le Freak uitgereik. Dit het Chic se eerste no. 1-treffer en hul grootste een geword. ’n Mens kan nogal begryp waarom Nile Marc vandag as sy vriend beskou.
Een onwelkome gas het gesterf toe hy deur ’n luggat probeer insluip.
Benewens dié wat wraaksugtig geraak het omdat hulle by die deur weggewys is, het party vasbyters hardnekkig alternatiewe toegangsroetes probeer vind om by die partytjie in te dring.
“Mense het selfs in volle bergklimmondering met toue om hul skouers van die gebou langsaan afgesak,” het die Studio 54-vennoot Baird Jones in Anthony se boek vertel. “Hulle het in die binnehof probeer kom . . . Hulle het in die doringdraad verstrengel geraak en tot op die sementblad 3 m onder hulle geval. Ek onthou een ou het homself so disnis geval, hulle moes ’n draagbaar bring.”
’n Gebreekte nek en linkerpols het nie sy plesier bederf nie, want hy het dit tog reggekry om in te kom. Baird het vertel: “’n Mens kon sien hoe hy die klub se binnekant met ’n fyn oog deurkyk; desperaat alles probeer sien!”
Een man was nie so gelukkig nie. “Die ou het in die luggat vasgesit toe hy probeer inkom,” het Baird vertel. “Dit het geruik soos ’n kat wat doodgegaan het.” Sy lyk was in ’n formele swart aandpak geklee toe dit ontdek word.
Die dansbaan word ’n plaas vir Dolly Parton.
Studio 54 het saans in oordaad sake gedoen, en die uitspattige temapartytjies vir spesiale geleenthede het dit vir die span moontlik gemaak om BBP-gaste se verbeeldingrykste fantasieë waar te maak. Dié eenaandvertonings, wat tienduisende dollars gekos het, het die Broadway-vertonings langsaan oorskadu. Maar teen die tyd dat die klub die volgende dag oopgemaak het, was daar geen teken daarvan nie.
Selfs net enkele voorbeelde van hierdie partytjies is genoeg om die kop te laat draai. Die ontwerper Karl Lagerfeld het ’n 18de-eeuse party by kerslig gehou met die klub se personeel in gepaste kostuums en pruike. Op Elizabeth Taylor se verjaardag het die aktrise op ’n vlot van katjiepierings ’n dansvertoning van The Rockettes gadegeslaan. Later is ’n lewensgroot portret van haar wat van koek gemaak is aan haar oorhandig.
Vir Valentynsdag is Studio 54 omskep in ’n tuin met blombeddings, ’n spitspaalheining en ’n groep harpspelers.
Een van die onvergeetlikste soirées was die een ter ere van Dolly Parton. Met haar besoek in Mei 1978 aan New York het Steve ’n plaastoneel geskep om die sangeres tuis te laat voel. “Steve het berge versit daarvoor,” onthou die joernalis Michael Musto. “Daar was ’n hooimied, perde, donkies en muile in die klub.”
Renny het die meeste van die diere gekry van ’n plaas wat hy gehuur het in Pennsilvanië. “Ons het wynvate met mielies gevul. Daar was ’n plaaswa met ’n stapel hooi op en hoenders in ’n hok,” sê hy.
Ongelukkig was die eregas nie juis beïndruk nie. “Dolly was in ’n toestand oor die baie mense daar,” sê Renny. “Sy het Studio 54 toe nog nooit beleef nie. Sy was regtig op haar senuwees oor hierdie hele opset en het op die balkon gaan sit. Sy was duidelik nie op haar gemak nie.”
Vir Studio 54 se makietie in Julie 1978 ter viering van die uitreiking van Grease het Steve en sy span die trefferfliek se stel herskep. “In die ingangsportaal was weerskante bêrekassies, daardie hoërskooltoesluitkassies, net waar jy kyk,” het die fliek se vervaardiger, Allan Carr, in 1998 in ’n onderhoud beskryf. “En in die hoofgedeelte van die klub was al hierdie ou afslaankapmotors uit die 1950’s wat Steve gekry het.”
Renny, wat kort tevore maklik vee in die hande kon kry, het gesukkel om klassieke motors gehuur te kry. “Ek het verskeie plekke gebel, maar dit was onmoontlik,” het hy gesê. “Niemand wou ’n motor aan Studio 54 verhuur nie. Toe kom ek af op ’n motormuseumpie iewers onder in New Jersey. Hulle het ingewillig om die motors hierheen te bring.”
Ses klassieke karre is op die dansbaan geparkeer, maar minute voor die opening het die brandbeheerbeampte besef daar is ’n groot gevaar: Die motors se brandstof is nooit afgetap nie. Die voertuie moes toe straat toe gery word om die petroltenks leeg te tap voor hulle met die hand terug binnetoe gestoot is.
Die partytjie het sonder teenspoed verloop – dis nou buiten ’n geringe voorval. “’n 1950-Chevy-afslaankapmotor het ’n bietjie deurgeloop, want mense het ingeklim en die sitplekke gebrand,” vertel Renny. “Ons moes vir nuwe sitplekke opdok, maar die partytjie was vuurwarm.”
BBP’s wat uitermate promisku wou wees, is na sekshokkies of “die rubberkamer” gestuur.
As jy eers tot in die heilige binnekant van Studio 54 gevorder het, was die volgende plek waarheen jy wou gaan die fabelagtige kelderverdieping. Dit was ’n spelonkagtige, vuilerige, bepaald onglansryke ruimte met beskadigde banke, hope opgerolde tapyte en dekorstukke van vorige partytjiestelle. Enkele bevoorregtes is hierheen genooi om hulle oor te gee aan hul brandendste begeertes.
“Vermaaksterre het koers gekry kelderverdieping toe. Doer onder het hulle hoog geraak,” het Grace in 2016 in haar memoires geskryf. “Nie almal wat die klub kon betree, kon tot in die kelderverdieping vorder nie. Jy het half- versteekte kamers binnegestrompel waarin ’n paar mense klaarblyklik gesweet het weens iets wat hulle pas gedoen het of op die punt was om te doen.”
Veiligheidsmanne met tweerigtingradio’s het die plek onopvallend gepatrolleer en ongenooide aangapers verwyder. Die afgeleë hoekies met hul matrasse het gou gewild geraak.
“Hoog op, by die sitplekke bokant die banke, kon jy in die skadu’s verdwyn en aanvang wat jy wil,” het Grace bygevoeg. “Bokant die balkon was die rubberkamer, met dik rubbermure wat ná al die aktiwiteite wat daar plaasgevind het maklik afgevee kon word.
“Bokant die rubberkamer was ’n nog geheimsinniger plek waar die gode van die klub die onsedelikhede van hul keuse kon beoefen, hoog bo die mense wat onverbiddelik voortdans.”
Andy Warhol het ’n vullisblik vol geld vir sy verjaardag gekry.
Studio 54 se onverantwoordelike boekhouding sou eindelik tot sy val bydra. In 1977 het die klub miljoene gemaak, maar luidens berigte belasting van ’n skamele $8 000 (toe sowat R6 880) betaal. Geldverduistering was standaardpraktyk in die kontantgedrewe restaurant- en nagklubwese van destyds, maar wat hier plaasgevind het, was op ’n aansienlik groter skaal.
Elke oggend is baie van die vorige aand se inkomste in vullissakke geprop en in plafonne versteek of na Steve se woonplek gesmokkel en op ’n verskuilde plek gebêre. Die nuutgekroonde nagklubkoning het voor op die wa geraak en in ’n radio-onderhoud geskerts: “Wat die inkomstediens nie weet nie, sal hulle nie seermaak nie.” En teenoor ’n New Yorkse tydskrif gespog: “Net die Mafia maak meer geld as ons.”
Maar hy was soms vrygewig met sy geld. Vir Andy Warhol se 50ste verjaardag in Augustus 1978 het Steve die kunstenaar ’n rol met 5 000 kaartjies vir gratis drankies gegee en ’n silwer vullisblik gevul met 1 000 splinternuwe dollarnote. Volgens Andy se vriende het hy gesê dit was die beste geskenk nog.
Die partytjiegangers het in ’n joviale oomblik die blik oor sy kop omgekeer en hom toegegooi met die geld. Andy het nie gedink dis snaaks nie en geskarrel om die dollarnote op te tel.
Amptenare van die belastinggaarder het op 14 Desember 1978 op Studio 54 toegeslaan en beslag gelê op vullissakke vol geld, finansiële dokumente en ’n bietjie kokaïen. Steve en Ian is aangekeer en daarvan aangekla dat hulle $2,5 miljoen (toe R2,15 miljoen) van die klub se inkomste verduister het. In November 1979 het hulle skuld beken op twee klagte van belastingontduiking. Regter Richard Owen het teen alle verwagting in die maksimum straf opgelê: drie en ’n half jaar tronkstraf.
Die daaropvolgende Februarie het Steve en Ian net voor hulle hul straf moes begin uitdien ’n partytjie gehou wat hulle “Die Einde van die Moderne Gomorra” genoem het. Dit was intiem vergeleke met die meeste ander wat daar gehou is, met net 2 000 van Studio 54 se getrouste besoekers, onder andere Andy en die akteurs Richard Gere en Sylvester Stallone. Diana Ross het die eienaars vanuit die DJ se hokkie toegesing en Liza Minnelli het New York, New York gesing.
Steve het heelaand ’n begeesterde verwerking van My Way op die agtergrond laat speel, asook Studio 54 se amptelike liedjie, Gloria Gaynor se I Will Survive. Hy het sy gaste van ’n platform bo die dansbaan toegespreek. “Hy was buite homself weens kokaïen,” onthou iemand wat daar was. “Bianca het hom gedruk. En hy het gesê: ‘Ek is lief vir julle! Ek weet nie wat ek sonder Studio gaan doen nie!’ En almal was die ene trane.”
Die partytjie was verby.