Huisgenoot

Liefde met die eerste oogopslag, sê Hennie Jacobs oor die ma van sy kinders

Anders as sy Laan-karakter, wie se liefdeslew­e ’n ramp is, is Hennie gelukkig getroud en versot op sy twee dogtertjie­s

- Deur MARIZKA COETZER Foto’s: DINO CODEVILLA

JARE lank al sukkel Diederik om liefde te vind, maar toe Amorey Welman vir hom begin ogies maak, het 7de Laan- kykers verlig gedink die soet seun het eindelik sy trouvrou gevind.

Die toneel voor die kansel was eers pragtig: Toe Amorey (gespeel deur Kristen Raath) in ’n sprokiesmo­oi rok haar bruidegom tegemoetst­ap, het Diederik (Hennie Jacobs) gretig gewag om ewige trou aan haar te beloof. Maar toe loer Amorey blinkoog na haar nefie. En “Diedie”, soos sy vriende hom noem, se lewe tuimel inmekaar . . .

Is sy liefdeslew­e weer gedoem tot ’n doodloopst­raat? Net die tyd sal leer.

Intussen moet Diedie dalk gaan kers opsteek by Hennie, want die akteur het lankal die liefde van sy lewe gevind. Waar Huisgenoot vandag eksklusief saam met hom en sy gesin in die Nasionale Botaniese Tuin in Pretoria kuier, is dit duidelik dit gaan voor die wind met die akteur se liefdeslew­e. Sy vrou, Marissa (41), laat ná meer as ’n dekade steeds sy hart bokspring en jy kan sien Hennie (36) is versot op hul dogters, Nua (7) en Tali (4).

Hy lag terwyl die twee stoei vir ’n plek op hul pa se skoot. “Ek is op my gelukkigst­e wanneer ek by my gesin is,” sê hy.

Vir Nua en Tali is Hennie net pappa. Diederik, die karakter wat Hennie al 11 jaar speel, ken hulle nie. “Hulle weet ek is ’n akteur en hou nogal van die idee dat konsert hou en sing ’n werk kan wees. Hulle het al van die episodes gekyk en gesê: ‘Daar’s pappa op die TV; daar’s jy weer,’ ” vertel Hennie.

“Omdat die sepie soms temas met ’n ouderdomsb­eperking van 13 jaar het, laat ons hulle nie toe om dit te kyk nie,” vertel Marissa.

Wanneer mense Hennie op straat voorkeer om foto’s te neem, probeer hulle dit so normaal moontlik hanteer. “Die kinders is al gewoond daaraan, want ons sê net mense hou daarvan om pappa af te neem,” verduideli­k Marissa.

Marissa kyk ook nie 7de Laan nie, want sy het “Diedie” mos in haar huis.

IN DIE regte lewe het Hennie sy trouvrou 11 jaar gelede in ’n kuierplek in Hatfield, Pretoria, ontmoet.

“Liefde-met-die-eerste-oogopslagv­ibes,” spot Hennie. In Desember vanjaar vier hulle hul negende huwelikshe­rdenking.

Hul resep? “Ek word baie bederf,” spog Marissa. Ná 11 jaar bring Hennie steeds vir haar elke oggend koffie in die bed.

Dan raak die egpaar ernstig en stem saam kommunikas­ie en wedersydse ondersteun­ing is die rede vir hul geluk.

“Ons praat heeldag oor die telefoon. Soms tot 15 keer per dag,” vertel Marissa. Hennie beaam dit: “Mense is baie geneig om verby mekaar te leef.”

Hulle bespreek gereeld hul onderskeie loopbane en staan mekaar daarin by. En hulle gesels voortduren­d oor die kinders sodat hulle as ouers ’n verenigde front voorhou, sê Hennie. Hulle vermy ook die kollig. “Ons is baie privaat en woon net dan en wan ’n gesellighe­id by.”

Met twee klein dogters, Hennie se loopbaan as akteur en sanger en Marissa se werk as skakelbeam­pte by Sasol gaan dinge wild in hierdie huishoudin­g. “Saans pak ons reeds toebroodji­es in en kry alles vir die volgende dag reg,” vertel Marissa.

’n Tipiese dag begin kort ná vyfuur in die oggend. Hennie gaan laai gewoonlik die kinders by die skool af.

“Die een wat namiddae eerste by die huis is, help met huiswerk of begin aandete maak. Ons vat dit week vir week en deel die verantwoor­delikhede,” verduideli­k hy.

Nua is hul “drama queen”, terg Marissa. Sy het onlangs ’n A++ vir drama gekry en haar droom is om in haar pa se voetspore te volg.

Tali, die skaam een, wil eendag ’n veearts word. Nes haar oorlede oupagrootj­ie aan moederskan­t, dr. Hymie Ebedes, wat as wêreldbeke­nde veearts en bioloog baanbreker­swerk in wildbewari­ng gedoen het. “Sy is baie lief vir diere,” sê Hennie.

Met hul bedrywige lewe is beplanning onontbeerl­ik. In die kombuis is ’n witbord waarop hulle die gesin se program en die kinders se skoolaktiw­iteite vir die volgende week en maand vooruitbep­lan.

Wanneer Hennie nie werk nie, geniet hy graag gehaltetyd saam met sy gesin by hul huis. Marissa bak gereeld saam met die dogters en soms hou hulle sommer in die huis piekniek. Hennie verkies egter braai: “As ek sewe dae per week kon braai, sou ek.”

Die egpaar is mal daaroor om saam TV-reekse te kyk. Game of Thrones was tot onlangs hul gunsteling.

Nie net sal nie een van hulle dit waag om ’n episode van ’n reeks sonder die ander te kyk nie; hulle eet ook elke aand saam. “Wanneer hy in ’n toneelstuk speel, wag ek met ete tot hy by die huis kom,” vertel Marissa.

Omdat Hennie se gesinslewe vir hom so kosbaar is, neem hy glad nie meer werk huis toe nie. “Ek leer my woorde vir die volgende dag terwyl ek op die stel is,” vertel hy. “Wanneer ek aan die einde van ’n werkdag Diederik se klere uittrek, los ek hom net daar.”

Vir Hennie was dit ’n hoogtepunt in sy karakter se ontwikkeli­ng toe Diederik besluit om homself op te voed en werk te kry, en natuurlik ook die vreugde waarmee hy na die troue uitgesien het voor die groot teleurstel­ling: “Diederik was nog nooit so gelukkig nie.”

Hennie voel steeds bevoorreg om lid te wees van die 7de Laan-span. Nie net het dit hom ’n vaste werk as akteur gegee nie; dit is ook vir hom lekker en “voel nie soos werk nie”.

Maar anders as sy ekstrovert­e, joviale karakter op die kassie, is Hennie ’n stil, ernstige mens. “Ons is nie dieselfde mens nie; ons lyk net dieselfde,” sê hy.

WANNEER Diederik nie na die liefde soek nie en Hennie nie sy gesin op die hande dra nie, kry jy die akteur óf agter ’n mikrofoon óf iewers op die verhoog.

“Hy volg regtig sy drome,” vertel Marissa trots. “Hy werk hard en bereik sy doelwitte. Dit is ’n baie mooi eienskap. Hy sing boonop baie mooi en is regtig ’n goeie akteur.”

Hennie is vanjaar op Aardklop in Pot- chefstroom te sien in twee produksies: Stok en Manne. Stok is eksperimen­tele musiekteat­er. Manne, ’ n toneelstuk, is soos ’n 7de Laan-samekoms omdat hy die verhoog deel met onder andere Chris Vorster, Theodore Jantjies, Francois Lensley en Deon Coetzee, wat 7de Laan-kykers onderskeid­elik ken as Ryno Lategan, Xander Meintjies, Marko Greyling en Herman Croukamp. “Dit is altyd lekker om ’n produksie te doen saam met mense wat jy ken en vertrou. Ons lag baie,” vertel hy. Dan is daar Hennie se musiek. Hy het in 2012 sy eerste album, Velcrohart, uitgereik. In 2014 het hy dit met vier nuwe snitte heruitgere­ik. Binnekort is sy splinternu­we album, Lyflam, op die rakke. “Ek het al die liedjies daarop self geskryf,” vertel Hennie. Hy werk al drie jaar daaraan en het met sowat 40 snitte rondgespee­l voor hy 11 gekies het; hy wou seker maak daar is vir almal iets. Op Velcrohart is ’n spesiale liedjie vir Nua, en dié keer het hy vir klein Tali ’n liedjie geskryf. ’n Ander liedjie, Padreis, het hy die eerste keer gesing toe hy voor 7de Laan se kameras was en as Diederik vir Amorey om haar hand gevra het. Maar waar nie eens Diederik se sangstem Amorey kon oortuig hy is die man vir haar nie, het Hennie se musiek die teenoorges­telde uitwerking op Marissa. Hy het die afgelope 11 jaar al talle liedjies net vir haar geskryf, soos die snit Soen op sy vorige album en nou, op die nuwe een, Meisie in die Rok. Lees net hoe mooi is die lirieke oor sy vrou: Daar was ’n meisie in ’n rok, baadjie en “bootse” ’n mond wat jou hart laat stop. Iets waarvan Diederik nog net kan droom.

 ??  ??
 ??  ?? Anders as Diederik, sy karakter in 7de Laan, is Hennie Jacobs al amper nege jaar getroud. Hier is hy by sy vrou, Marissa, en hul dogters, Nua (links) en Tali.
Anders as Diederik, sy karakter in 7de Laan, is Hennie Jacobs al amper nege jaar getroud. Hier is hy by sy vrou, Marissa, en hul dogters, Nua (links) en Tali.
 ??  ?? ‘Ek is op my gelukkigst­e wanneer ek by my gesin is’
‘Ek is op my gelukkigst­e wanneer ek by my gesin is’
 ??  ?? Aanhangers het gedink die saggeaarde Diederik het eindelik ewige liefde gevind by Amorey (Kristen Raath), maar alles het nie volgens plan verloop nie.
Aanhangers het gedink die saggeaarde Diederik het eindelik ewige liefde gevind by Amorey (Kristen Raath), maar alles het nie volgens plan verloop nie.
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa