Huisgenoot

WOEDEND OOR MY MA EN DIE DOMINEE

Hanri deel details oor die beweerde verhouding wat sy onlangs op Calvinia ontbloot het, maar haar pa sê dis alles leuens

- Deur JOANIE BERGH

DIE gryskopboe­r sit by die groot houttafel in sy sitkamer. Rondom hom lê lêers en papiere van sy suksesvoll­e skaapboerd­ery op Calvinia in die Noord-Kaap. Voor hom lê die Sondagkoer­ant Rapport oop op bladsy ses.

Vollie Visagie (60) se seun het vanoggend al die koerant vir hom in sy dorpshuis gebring, maar vanaand lê dit steeds oop op die tafel. Toe die kerkklok van die NG kerk verder ondertoe in die straat vanoggend met harde, stadige klanke die negeuurdie­ns aankondig, het Vollie die koerant in sy sitkamer oopgemaak.

Voor hom het die opskrif gelui: “Die leraar wat met sy broek vroetel . . . ”

Hy het gelees van sy vrou van die afgelope 38 jaar, Susan Visagie (57), se beweerde affair met dié dorp se NG dominee, sy boesemvrie­nd ds. Edward Archer.

Hy het ook gelees van sy jongste dogter, Hanri (29), se openbaarma­king van dié verhouding. Toe Hanri onlangs uit die dorp se NG gemeente bedank, het sy in haar lang bedankings­brief geskryf sy is moeg vir haar ma se onvanpaste verhouding met die getroude dominee.

Vollie het wel verlede jaar ’n interdik aangevra om die dominee van sy huis en vrou weg te hou, maar het die aansoek om ’n interdik later teruggetre­k. In die beëdigde verklaring wat Vollie as deel van die aansoek by die hof ingedien het, beweer hy hy het Edward en Susan in hul TV-kamer betrap.

“My vrou het haar klere reggetrek en Edward was met sy rug na my gekeer en besig om met sy broek te vroetel,” het hy in die verklaring gesê. Huisgenoot het dié verklaring in die aansoek om ’n interdik onder oë gehad.

Maar vanaand, terwyl die straatlig buite sy sitkamerve­nster flikker, skud Vollie sy kop. “Dit is alles leuens. Alles. Ek het nog nooit ’n interdik teen hom probeer bekom nie. Ek weet nie waar my dogter aan die gemors kom nie.”

Hy klap met sy agterhand na die koerant voor hom. “Ek en my vrou was nog nooit so gelukkig soos wat ons nou is nie. Nog nooit.”

En dan lag hy: “Maar gelukkig het ek nou die koerant gehaal.”

Nee, hy weet van geen affair tussen Edward en sy vrou nie, vertel Vollie. “Ek en Edward is goeie vriende. Ons gaan volgende Sondag weer saam Nagmaal gebruik soos ons nog altyd gemaak het.”

Dan loop ’n mooi donkerkopv­rou met rooigeverf­de lippe die vertrek binne. Sy lyk woedend. “Jy is nie welkom in ons huis nie,” sê Susan Visagie. “Sal jy asseblief loop?” en sy maak die voordeur oop.

DIT is Sondag en dit gons op Calvinia. Gemeentele­de het in die oggenddien­s gehoor hul dominee het Vrydag bedank en gaan einde Oktober sy amp verlaat. Hy was van 2005 tot 2016 predikant by CalviniaHa­ntam en die afgelope jaar by die Moedergeme­ente hier. Hy sal die res van die maand nie preek nie. Die dominee is skoonveld. “Ek hoor hy is in die Kaap,” vertel een van die lidmate. “Seker goed so. Die dorpsmense weet al lank van die ding.”

Later die dag, in die stil strate aan die voet van die Hantamberg­e, fluister dorpsmense oor die bure se hekkie oor die “arme meisiekind wat die verhouding tussen haar ma en die dominee moes aanskou”.

Dit was nie maklik vir haar om haar ma en die dominee se verhouding aan die lig te bring nie, vertel Hanri toe ons haar in ’n vriendin se kantoor op die dorp ontmoet, maar dit was “bevrydend”.

By haar is haar kêrel, die sakeman en prokureur WP Burger. Dit is te danke aan WP se steun dat Hanri die moed bymekaarge­skraap het om met die sak patats vorendag te kom, sê sy.

“Dit het vir my gevoel mense moet weet die dominee wat elke Sondag staan en preek, is nie die man wat hy voorgee om te wees nie,” vertel sy.

Hanri, ’n onderwyser­es, sê toe sy op hoërskool was, het die dominee gereeld by haar ouers aan huis kom kuier. In so ’n mate dat hulle later “goeie huisvriend­e” geword het.

“Sy vrou het een of twee keer saam kom kuier, maar later het hy vertel sy is nie baie sosiaal nie. Toe begin hy alleen opdaag.

“Op hoërskool het ek ’n eetproblee­m ontwikkel. My ouers het gedink dit sou ’n goeie idee wees as ek na ds. Edward gaan vir pastorale berading. Ek het vir so ’n paar sessies gegaan, maar toe agtergekom hy vra baie oor my ma uit.”

Hanri vertel sy het ongemaklik begin voel en later geweier om na hom te gaan. Maar die huisvriend­e het aanhou saamkuier tot Hanri, en volgens haar ook haar pa, in 2011 agtergekom het iets is nie pluis in die huis nie.

“Elke keer net voor die dominee sy verskyning by die huis maak, het my ma parfuum gespuit en grimering aangesit. My ma en Edward se liggaamsta­al teenoor mekaar het baie verander, en ek het dadelik agtergekom iets is tussen hulle aan die gang, beweer sy.

“Wanneer my pa my ma oor die verhouding gekonfront­eer het, het sy volgehou daar is niks tussen hulle nie. Sy het gesê hulle het net ’n ‘spesiale vriendskap’.”

Later sou Edward by hul huis in De Villiers-straat, ’n blok van die pastorie, opdaag elke keer wanneer Vollie iewers op die landerye besig is, beweer Hanri.

Haar ouers het glo “dag en nag” oor die dominee baklei. Sy het dit later begin opneem en vertel sy het meer as 200 stemopname­s van rusies tussen haar ouers oor die dominee. Huisgenoot is in besit van die opnames.

Enkele dae nadat Vollie verlede jaar die interdik teen die dominee aangevra het wat hom sou verbied om naby sy huis of vrou te kom, het hy die aansoek teruggetre­k.

“Later sou Edward my aanhoudend bel om te vra waar my ma is en waarom sy nie sy boodskappe beantwoord nie. Hy was obsessief. Hy sou my gebruik om blomme vir haar te vat. En wanneer hy sleg gevoel het, sou my ma my stuur om pille vir hom na die pastorie te neem.”

Dit het voortgegaa­n selfs nadat Vollie byna die interdik teen die predikant gekry het.

Hanri was by breekpunt omdat sy moeg was om tussengang­er vir haar ma en die dominee te wees. Sy het gevoel sy moes eenvoudig uit die NG gemeente bedank. In haar bedankings­brief einde Augustus het sy die verhouding tussen haar ma en die dominee as rede aangevoer. Sy het gevoel Edward mag nie met sy gedrag wegkom nie. “Toe bars die sweer oop,” sê Hanri en

haar oë word hartseer.

DIE verhouding tussen Hanri en haar ouers lê nou aan skerwe. “My pa het my vanoggend gebel en gesê ek jok oor alles. Hy het my met regstappe gedreig. Ek en my ma praat lankal nie meer met mekaar nie.

“’n Mens sou dink my pa van alle mense sou dankbaar wees dat Edward nou ontbloot is, maar dis allermins die geval. Hy is ’n gesiene boer in die streek en is woedend dat almal nou weet wat eintlik hier aangaan.”

Ander mense steun haar wel. Sy wys vir ons boodskappe op haar foon wat sy die dag van ander vroue op die dorp gekry het wat sê hoe trots hulle op haar is.

“Al is dit ongeloofli­k sleg vir my om te sien hoe my ouers nou met my is, is ek baie bly ek het gedoen wat ek gedoen het. Ek weet dit was die regte ding om te doen,” sê sy.

Ena van Schalkwyk, voorsitter van diensgroep­personeel en diensverho­udinge van die NG gemeente Calvinia, het aan Huisgenoot bevestig Edward het skuld op die aantygings teen hom aan die kerkraad, die ring en die sinode beken. Hy het intussen bedank.

“Ons gemeente het baie seergekry en baie onskuldige partye het hieronder gely. Maar ons glo ons sal hiervan kan opstaan,” het sy gesê.

 ??  ?? HOOFFOTO: Hanri Visagie by die Calvinia-Hantam-kerkgebou waar Edward Archer jare lank dominee was. HEEL LINKS: Haar ouers, Susan en Vollie Visagie.
HOOFFOTO: Hanri Visagie by die Calvinia-Hantam-kerkgebou waar Edward Archer jare lank dominee was. HEEL LINKS: Haar ouers, Susan en Vollie Visagie.
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ?? BO BO: Edward, wat die afgelope jaar predika dikant was van die Moedergeme­ente op CCalvinia, by Hanri se pa, Vollie. LINKS BO: Edward het glo ’n affair met Hanri se ma gehad. LINKS: Die leraar soen sy vrou, Johletta.
BO BO: Edward, wat die afgelope jaar predika dikant was van die Moedergeme­ente op CCalvinia, by Hanri se pa, Vollie. LINKS BO: Edward het glo ’n affair met Hanri se ma gehad. LINKS: Die leraar soen sy vrou, Johletta.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa