’N STRYD TOT DIE DOOD NÁ ZUMA-KLAG
Sy moes vlug toe die lewe in Suid-Afrika vir haar ondraaglik gemaak word nadat sy die toekomstige president van verkragting aangekla het. Redi Thlabi vertel dié dapper vrou se verhaal
SY HET die land aan die praat gehad toe sy in 2005 ’n klag van verkragting teen Suid-Afrika se toekomstige president indien. Jacob Zuma het gesê die seks wat hulle in ’n slaapkamer van sy Johannesburgse woning gehad het, was met albei se toestemming. Volgens hom het sy hom daarom gevra, maar sy beskuldiger, wat net as Khwezi bekend was, het volgehou dit was verkragting. Zuma is eindelik vrygespreek, terwyl die jong, MIV-positiewe vrou landuit moes vlug uit vrees vir haar lewe.
Dit was die laaste dat die meeste mense van haar gehoor het – tot ’n dekade later toe aktiviste met “Remember Khwezi”-plakkate in stille protes voor Zuma gaan staan het waar hy op ’n verhoog in Pretoria ’n toespraak gelewer het ná die munisipale verkiesing van 2016.
Maar presies wie was hierdie dapper vrou wat die magtigste man in die land aangevat het? Dit is wat die omroeper Redi Tlhabi wou vasstel, want sy kon nie glo hoe Khwezi behandel en beswadder is nie.
Redi het na Khwezi uitgereik kort nadat sy in ballingskap gegaan het, en met die jare het ’n hegte vriendskap tussen hulle geblom.
In hierdie uittreksel uit Redi se nuwe boek, Khwezi, onthul sy die traumatiese uitwerking wat die verhoor op haar vriendin gehad het en hoe dit by haar gespook het tot haar dood verlede jaar.
DURBAN, 15 Oktober 2016. Ek is verbyster. Stukkend. Hier is ek op ’n begrafnis pleks van ’n triomfantelike boekbekendstelling. Ons het ons dit soveel kere voorgestel: die vreugde wat ons sou ervaar wanneer sy eindelik haar gesig aan die wêreld wys, haar storie vertel en haar naam in ere herstel.
Sy was vasbeslote: Sy sou die bekendstelling bywoon en ek sou haar op haar regte naam voorstel. Eenkeer het sy uitdagend gesê: “Hy kruip nie weg nie; hoekom moet ek? ‘Khwezi’ het goed vir my gewerk, maar nou’s dit tyd dat at sy gaan.” gaan”
Ek het haar geglo. Maande voor haar dood het ek twee boeke per koerier aan haar gestuur. Ek het gevra watter naam ek op die pakkie moes skryf. “Myne,” het sy geantwoord. “Nee, ek bedoel, moet ek jou Khwezinaam gebruik of iets anders?”
Sy het ’n dekade lank nie haar regte naam gebruik nie; ek was nie van voorneme om haar ware identiteit bekend te maak nie.
Haar besliste antwoord was: “My regte naam, skat: Fezekile Ntsukela Kuzwayo.”
Op 6 Desember 2005 het Fezekile ’n klag van verkragting teen Jacob Zuma ingedien, die man wat in daardie stadium om sy politieke lewe baklei het nadat hy sy amp as adjunkpresident weens korrupsieklagte verloor het.
Sy het aangevoer terwyl sy ’n gas was in sy huis in Forest Town, Johannesburg, het Zuma, wat meer as twee keer so oud soos sy is en wat sy as haar oom beskou het, haar verkrag.
“My plan was nie om die geskiedenis te verander nie,” vertel sy my later. “Ek wou
net vir myself baklei. Dit was vir my belangrik om vir hom te sê hy kan nie net my lyf bestyg en doen wat hy wil nie. En om my so te bevuil nie.”
“Maar om op te tree teen iemand wat so magtig is . . .”
Sy val my in die rede: “Ek het nie daaraan gedink nie – sy mag, sy posisie, dat ek niemand was en hier was iemand baie magtigs. Dit was net wat hy aan my gedoen het, en ek moes vir myself baklei.
Qha! (Dis al!)” Maar onmiddellik nadat sy die klag ingedien het, is sy onder geweldige druk geplaas deur ’n klomp mense wat haar wou oortuig om die saak te laat vaar. Zuma het later getuig hy het gevra hulle moet met Fezekile en haar ma, Beauty, praat.
“Ek was regtig uit die veld geslaan. Ek het nooit gedink dit sou so ontwikkel nie, dat mense wat ek vertrou het my sommerso bombardeer. En hul besorgdheid was oor die ANC; nie oor my nie.”
Teen die tyd dat Fezekile moes getuig, was sy moedeloos en bang. Sy het my vertel sy het verwag ’n koeël kon haar uit enige rigting tref.
Sy was vas oortuig daarvan mense wou haar leed aandoen. Die verhoor was ’n groot struikelblok wat Zuma moes oorkom. Maar hy hét en is vrygespreek.
NÁ DIE verhoor kon ek Khwezi nie uit my gedagtes kry nie – ek het haar spoor oral gevolg en op die hoogte gebly van haar aktiwiteite. Die haat teenoor haar het so erg geword dat sy Suid-Afrika nood- gedwonge moes verlaat. Die lewe het voortgegaan en die man in die middel van die storm het president geword. Ongelooflik . . .
Die dag nadat die verhoor afgehandel is, het Fezekile en haar ma in ballingskap gegaan. Gedurende die verhoor is hul huis in KwaMashu, ’n township in KwaZulu-Natal, afgebrand. Vermoedelik het Zuma-ondersteuners dit gedoen, maar niemand is in hegtenis geneem nie.
Die misdaad was ongetwyfeld veronderstel om haar mond te snoer. Daarby het haar baie openbare vernedering elke dag van die verhoor die lewe in Suid-Afrika ondraaglik gemaak.
In Mei 2006 het Fezekile en Beauty na Nederland verhuis. Hulle het baie steun gehad en goeie vriende gemaak. ’n Nuwe lewe kon begin.
Beauty het by ’ n plaaslike kerk ingeskakel en begin naaldwerk doen om haar besig te hou. Met haar aantreklike persoonlikheid en avontuurlike gees het Fezekile aktief geraak op die kultuurtoneel en betrokke geraak by nieregeringsorganisasies.
Sy was lief vir dans en sing en het baie middae en aande feeste en poësiebyeenkomste bygewoon. Sy het haar nou bekende gedig, I Am Khanga, aan ’n gehoor voorgedra. Dit is ’n verwysing na die kledingstuk wat sy in haar slaapkamer in Zuma se huis gedra het.
Die toekomstige staatspresident het in die hof getuig hy het êrens gelees dié kledingstuk was ’n aanduiding dat Fezekile met hom wou seks hê.
“So, vertel my van die kanga,” het ek haar eenkeer gevra. “Wat daarvan?” “Wel, jy het ’n gedig daaroor geskryf.”
“Nee, skat. Ek het ’n gedig daaroor geskryf nadat hulle so ’n ophef van die kanga gemaak het. Voor dit alles was dit net ’n stuk materiaal.”
Sy het nooit kon dink ’n kanga sou ’n simbool van verleidelikheid word nie. “Dra mense nie kant en satyn en deurtrekkers wanneer hulle iemand wil verlei nie?” Ons het gelag, welwetend die debat oor die klere wat slagoffers aanhet wanneer hulle verkrag word, is allesbehalwe snaaks.
Tot die dag van haar dood kon Fezekile nie die beheptheid met haar kanga verstaan nie. Dis ’n lang stuk lap wat ma’s gebruik om hul babas te abba of wat
’Dit was vir my belangrik om vir hom te sê hy kan nie net my lyf bestyg en doen wat hy wil nie’
vroue om hul lyf draai. Dit is breed genoeg om die hele lyf te bedek en wys baie min vel. Hoe dit as ’n uitnodiging beskou kon word, het sy nie verstaan nie.
In Amsterdam het haar lewe ’n goeie ritme ontwikkel, en sy het gereeld ’n terapeut besoek. Maar ná vier en ’n half jaar was Beauty nie meer so gelukkig nie. Sy het nie van die weer gehou nie en het haar vriende en familie vreeslik gemis.
Marc Wegerif en sy vrou, Teresa Yates, ’n Amerikaanse prokureur, het vroeg in 2010 hul huis in Dar es Salaam, Tanzanië, aan hulle beskikbaar gestel. Fezekile en haar ma het langer as ’n jaar daar gebly, maar toe wou Beauty terugkom.
Fezekile het gevra Ivan Pillay, adjunkkommissaris van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens, moet help. Hy het op sy beurt kontak gemaak met Moe Shaik, hoof van die Suid-Afrikaanse Geheime Diens en een van haar pa se kamerade in die struggle. Moe het belowe om met Zuma te praat om hul veilige terugkeer na die land te verseker.
Dit was absurd. Al was daar geen wet wat hul terugkeer verbied het nie, kon Fezekile nie sommer terugkom na die land waarvoor haar pa, Judson Kuzwayo, ’n senior Umkhonto we Sizwe-leier en ’n kameraad van Zuma tydens apartheid, soveel opgeoffer het nie.
Moe het ’n boodskap, vermoedelik van Zuma, aan Ivan gestuur dat hulle mag terugkeer na Suid-Afrika en niks met hulle sou gebeur nie.
Vir die eerste keer in vyf jaar het hulle voet op eie grond gesit, maar vir Fezekile was dit moeilik, want sy het nie welkom gevoel nie. Kort daarna is sy terug Dar es Salaam toe.
Teresa sê sy was heel gelukkig, maar kort voor lank wou sy weer terugkom. Sy het toe ’n pos gekry as onderwyseres aan ’n laerskool in Musgrave, Durban, maar toe Teresa haar einde 2016 weer sien, was dit duidelik dit gaan nie goed nie.
Hoewel sy op ’n kol getrou haar MIVmedikasie gebruik het, het sy dit later gelos ter wille van “holistiese genesing”, soos sy dit aan my beskryf het.
Maar niemand weet regtig wat teen die einde met haar aangegaan het nie. In die week voor haar dood het sy vir my verskeie stemboodskappe gelos.
Luister ek nou daarna, breek dit my hart, want dit het nou ’n heel ander betekenis aangeneem. Soos dié een: “Ek voel nie so fantasties nie. Dis net . . . um. Ek dink ek gaan maar net deur ’n rowwe tydjie en moet dit maar net deursien. Ek weet nie wat aangaan nie.”
DAAR is besluit al die draers op die begrafnis sou vroue wees om Fezekile se toewyding aan vroueregte te gedenk. Ons dra haar kis drie stelle trappe op en deur ’n nou ingang tot in die kerk. Dit voel so verkeerd. Fezekile het blykbaar haar laaste asem uitgeblaas op pad na ’n Johannesburgse hospitaal. Sommige mense naby aan haar is verbaas sy is dood, want volgens hulle was sy nooit siek nie; ander sê sy was gereeld siek in die voorafgaande jaar.
Haar suster Zintle glo sy is dood aan depressie. “Dit het haar doodgemaak. Daar het net te veel goed in haar lewe aangegaan.” Depressie was dalk nie die regstreekse oorsaak van haar dood nie, maar dit kon wel tot groot gesondheidsprobleme gelei het, soos hoë bloeddruk en ’n verswakte immuunstelsel.
Asof hulle haar wil troos, sing die ge
meente oor en oor: “Fezeka we, thula mtwana mtanam, silwela amalungelo, Fe
zeka we.” (“Liewe Fezeka, moenie huil nie, wees stil, my kind, ons sal baklei vir hierdie regte.”)
“Ek moes terugbaklei,” het sy eenkeer geantwoord toe ek haar vra waar sy die krag vandaan kry om ’n klag in te dien teen so ’ n magtige man. “Ek het nog nooit vir myself baklei nie. As ek nie terugbaklei nie, sal dit aanhou met my gebeur. Selfs toe dit duidelik word ek verloor die saak, was ek nooit spyt ek het vir myself opgestaan nie.”
Sy het dalk in die oë van haar kritici verloor, maar nie voor sy ’n wond toegedien het nie, nie voor sy aan die weerloses gewys het dit is geen skande om te praat nie, selfs al moet jy jou uitspreek teen die magtigste lede van die samelewing. Khwezi het ’n morele oorwinning behaal. Nou moet sy rus.
‘Selfs toe dit duidelik word ek verloor die saak, was ek nooit spyt ek het vir myself opgestaan nie’