Dana neem hartroerend afskeid
Dana vertel van sy laaste oomblikke saam met sy verloofde voor sy haar lewe geneem het en bring hulde aan die vrou wat soveel goed vir ander gedoen het
DIS ’n Maandagmiddag en die son sak oranjepienk oor die Weskus by Jacobsbaai. Harde, gestroopte, beeldskone wêreld.
Dis op dae soos dié, terwyl die verloofde paartjie Dana Snyman (55) en Anette Roberts (51) met Dana se honde op die strand stap, dat die lewe soos ’n droom voel. Dana sukkel nou nog om te glo hy kon in sy middeljare die liefde van so ’n wonderlike vrou vind.
Maar vandag is iets anders. Anette voel meteens bedruk. Sy het die oggend al vir Dana vertel sy voel nutteloos.
Hy stel voor sy gaan drink koffie by ’n restaurant daar naby. Hy sal later by haar aansluit. En daarmee skei hul paadjies.
Toe Dana die koffierestaurant later bel om te hoor of Anette nog daar is, moet hy hoor sy is reeds terug na haar huis in Bloemfontein.
“Dit was die laaste dat ek haar gesien het,” onthou hy.
Hy het haar later gebel en hulle het lekker gesels. Maar twee dae later, op Woensdag 4 Oktober, het Anette by haar huis ’n pyp aan die uitlaatpyp van ’ n vriend se motor gekoppel en die enjin laat luier.
Net ná agt daardie aand het Dana se foon gelui. Dit was Anette se jare lange vriend Rudi Nienaber van Bloemfontein.
“Hy het vir my gesê Anette is dood,” sê Dana.
Sy het ’n briefie agtergelaat. “Alles is te veel. Ek is jammer. Liefde, Anette,” het sy daarin geskryf.
“Ek kon dit nie glo nie,” vertel Dana. “Dit was baie koud daardie aand op Jacobs, maar ek het in ’n sweet uitgebars. Ek kan nie veel meer onthou nie. Die dae en tye is alles vir my skielik deurmekaar.”
Want binne ’n oogwink het Dana, een van die geliefdste skrywers in Afrikaans, se drome aan stukkies gespat.
Die droom wat hy gekoester het om nie weer Kersfees en Nuwejaar alleen deur te bring nie, die droom om nie meer die lewe se stofpaaie alleen te stap nie, maar saam met die vrou wat hy liefhet.
ANETTE het haar lewe op Dana se 55ste verjaardag geneem.
“Ons het nog daardie dag gesels. Ons het nog gesê hoe lief ons mekaar het . . . Ek het gedink sy is fine,” onthou Dana.
“Ek het nooit die swart hond op haar hakke gesien nie,” vertel hy. Eers nou, wanneer hy terugdink, besef hy die gevaartekens was lankal daar en maal elke gesprek wat hulle gehad het deur sy gedagtes.
Vriende vertel Anette, ’n sakevrou in die eiendomsektor, het die laaste jare aan depressie gely, maar was “ongelooflik gelukkig” vandat sy Dana ontmoet het. Ook Dana sê: “Ek was so gelukkig die laaste tyd . . . ”
Die twee het mekaar in Januarie vanjaar op Jacobsbaai ontmoet terwyl Anette daar na eiendomme gekyk het. Hulle het op Valentynsdag besluit om die liefde ’n kans te gee, selfs al het albei voorheen seergekry. Elkeen het die skoot hoog deur gehad. Dit het so goed gegaan dat Dana vir Anette vier maande later in Junie die jawoord gevra het. Sy het onmiddellik ja gesê.
Albei was al voorheen twee maal getroud.
Lees ’ n mens nou Dana se Facebook-inskrywing van destyds, klink die uitgelate geluk daarin meteens hartverskeurend: “En toe raak ons verloof, ek en liewe Anette Roberts! Laas Donderdagmiddag. Iewers in die Koue Bokkeveld anderkant Ceres.
“Miskien sal ek eendag ’n boek daaroor skryf: hoe ons afsonderlik moedeloos en gekwel was, hoe ons mekaar ontmoet het, hoe ons verlief geraak het . . .
“Dis ’n patetiese, wonderlike, skrikwekkende, dankbare ding om in jou middeljare verlief te raak. Jy ervaar emosies waarvan jy vergeet het. Jy raak effe simpel. Jy wil weer begin om dinge te sê soos: ‘Dankie dat jy jy is.’ ”
Maande later, enkele dae ná Anette se dood, het Dana ’n foto van hom en sy geliefde op Facebook geplaas wat geneem is toe die twee kort tevore saam in Namibië was. Hulle was daar saam met die skrywer Johan Bakkes, die sanger Valiant Swart en die Voetspore-aanbieder Johan Badenhorst om ’n fees op die dorp Omaruru by te woon.
Op die foto lyk die twee gelukkig, verlief.
Daarby het Dana geskryf: “Dis oor Anette . . . Dis oor haar dat soveel mense op die oomblik vir my so goed is. My liewe Anette wat so goed was vir my, en wat so graag die wêreld ’n mooier en beter plek wou maak, verenig soveel van ons in ons verbystering oor hoe broos ’n mens kan wees. Dis asof ons ’n bietjie sagter met mekaar is, nou, in hierdie tyd. Dis asof ons ’n bietjie fyner na mekaar wil luister.” Hy en sy verloofde het beplan om op 9 Desember op Jacobsbaai te trou, waarna Anette haar huis in Bloemfontein sou oppak en na dié kusdorp sou trek. Maar toe moes Dana sy geliefde presies twee maande voor hul troudag op ’n gedenkdiens in Bloemfontein groet. Die trane is vlak in die skrywer se stem toe hy ure ná die diens vertel: “Presies ’n week gelede het ons nog hand aan hand op Jacobsbaai se strand gestap. En vandag moes ons haar veras.”
HY HET gesukkel om tot in ’n “Anettelose” Bloemfontein te kom vir haar gedenkdiens, sê Dana.
Om te vlieg was nie ’n opsie nie; hy haat vliegtuie. Hy wou eenvoudig nie die lang pad van die Kaap na die Vrystaat alleen aandurf nie.
Dana wend hom toe tot Facebook en vra ’n saamrygeleentheid. ’n Koerieragentskap het hom ’n geleentheid tot op Beaufort-Wes aangebied.
Op dié Karoodorp het die moegheid hom oorweldig. Hy was moeg gehuil en moeg vir al die vrae waarop hy nooit antwoorde sal kry nie, sê hy, en besluit toe om daar te oornag.
“Toe ek die volgende oggend by die hotel uitstap, weet ek ek sal ’n kry. Ek stap toe straataf op pad na die Wimpy en sien ’n seuntjie wat geld vra. Ek krap in my sak en gee hom iets, want ek weet dis iets wat Anette sou doen.”
Dana het vir hom ’n toebroodjie in die Wimpy gekoop en ’n motor met ’n Noordwes-nommerplaat daar opgemerk.
“Dit was ’n gewone Afrikaanse gesin wat teruggekeer het van hul vakansie op Mosselbaai. Hulle het in die koerant gelees van Anette se dood en bied my toe ’n rygeleentheid aan.
“Die arme mense moes heelpad na ’n stukkende, huilende man in die motor luister,” sê Dana met die seer sug van ’n gebroke man.
Toe hulle hom aflaai, vra Dana hul naam en van. “En wraggies, daar sê die man hul van is Roberts. Presies dieselfde spelling as Anette s’n. Kan jy dit glo? Dit was asof Anette my vir oulaas wou help.”
Anette se seun, AJ Lausberg (23), vertel sy ma en Dana het ’n mooi verhouding gehad. “Dana was baie goed vir my ma en het haar ondersteun. Dis presies wat sy nodig gehad het. Ons kry hom baie jammer. Dis moeilik vir hom.”
AJ se oudste suster, Lumien Orton (30), sê hul ma se dood was ’n groot skok. “Ja, sy het seker depressie gehad as ’n mens kyk hoe sy haar lewe geneem het. Maar ons het nie geweet dis so erg nie. Hulle sê altyd dis die mense van wie jy dit die minste verwag wat dit doen.”
AJ, Lumien en hul suster, Simoné Harris (26), was al drie by hul ma se gedenkdiens.
Dit was daar dat Dana sy Anette die laaste keer moes groet, met dié aangrypende brief wat hy die dag tevore geskryf het.