Vreugdevure brand op Boer-troue
Strooibale, ’n skuur en regte ‘boerekos’ was deel van boer Hennie en sy Jacobu se groot dag op sy familieplaas
HY KAN net nie stilstaan terwyl hy vir sy bruid wag nie. Elke keer dat die donkerkopboer ’n gas sien wat hy wil groet, stap hy eers nader om hand te skud. Afwagting en vrolikheid hang in die lug; die blymoedige gegons van ’n regte boerebruilof. Dan gaan staan Hennie Lötter (27) weer op sy plek voor in die winkelvertrek van ’n ou treinstasiegebou op sy familieplaas buite Willowmore in die Oos-Kaap. Hy vou sy hande voor hom en kyk af. Net sy linkerknie, wat asof op die maat van musiek vorentoe en agtertoe beweeg, verklap die bruidegom is glad nie so kalm soos hy lyk nie.
Die klassieke klanke van die treffer The Music of the Night uit die musiekblyspel The Phantom of the Opera vul die klein wit vertrek wat in ’n troulokaal omskep is. ’n Rooitapyt strek van die ingang tot voor by ’n boog wat met bloekomblare en proteas versier is.
Aan weerskante van die mat sit die gaste op strooibale. Plek-plek brand wit kerse op die vensterbanke.
Een van die eregaste is Hennie se wit wheatenterriër, Trompie. Gewoonlik is die hondjie pal aan dié jong boer en gastehuiseienaar se sy, maar vandag is hy stemmig aan ’n leiband by familielede.
Terwyl almal wag, sluk Hennie – uitgevat in ’n blou pak, wit hemp en leerstrikdas – hard en kyk op sy horlosie. Sy bruid is al byna ’n kwartier laat.
Dan word die groen deure van die stasiegebou toegemaak waar Hennie en sy bruid vandag trou aan mekaar gaan beloof. Romantiese klavierklanke klink op uit die luidsprekers en die deure gaan weer oop.
Sy verskyn: die 23-jarige donkerkoponderwyseres Jacobu Muller, die vrou vir wie Hennie (letterlik by die trap af) geval het toe hy haar uitvra nadat hulle mekaar tydens die verfilming van die gewilde kykNET-reeks Boer Soek ’n Vrou ontmoet het.
Jacobu slaan almal se asem weg terwyl sy saam met haar pa, Basie, in die paadjie afstap. Met haar hare in sagte krulle van haar gesig weggekam, lyk sy soos ’n prinses in haar spierwit trourok
uit ’n bruidsboetiek in George. Die bostuk vol kralewerk blink effens en die sagte romp sleep grasieus oor die vloer.
’n Reuseglimlag sprei oor Hennie se gesig terwyl sy beeldskone bruid ál nader stap. Sy groet haar pa met ’n soen en drukkie. Toe sy langs haar bruidegom gaan staan, word die oomblik vir albei te groot. Toe die trane kom, deel hulle ’n snesie. Dan kyk hulle effens skamerig vir mekaar en lag.
Eindelik is die troudag hier.
DIE vorige aand word die vreugdevure al aangesteek vir ’n vleisbraai op die plaas vir die gaste, wat selfs van Pretoria en Vredendal af gekom het. “Ons het sommer twee skape geslag vir die geleentheid,” vertel Hennie terwyl die son sak.
Soos by ’n musiekfees staan 50 tente opgeslaan in rye agter die stasiegebou waar hulle gaan trou. Sowat 100 gaste kampeer die naweek daar; ander slaap by familielede of in jagtershuisies op die plaas.
Op 3 Junie, ’n koue winteroggend, het Hennie en Jacobu op Skoorsteenberg buite Willowmore verloof geraak nadat hulle mekaar verlede jaar tydens die verfilming van Boer Soek ’n Vrou ontmoet het. Jacobu het aanvanklik aan ’n ander deelnemer, boer Arno, geskryf, maar reeds teen die tyd dat hulle twee die deelnemers se reünie aan die einde van die reeks bygewoon het, het hulle al besluit om net vriende te wees.
Hennie het alleen opgedaag nadat al drie vroue wat hy plaas toe genooi het intussen ’n ander kêrel gekry het.
Hennie en Jacobu het daardie dag agter die skerms begin gesels. Ná oor-en- weer-kuiers tussen Stellenbosch, waar Jacobu toe ’n onderwysstudent was, haar ouerhuis op Riversdal en Willowmore, waar Hennie boer, het hulle in Januarie kykers van die kykNET-reeks verras toe hulle aankondig hulle is amptelik ’n paartjie. ’n Langafstandverhouding met kuiers oor naweke en skoolvakansies was sedertdien hul voorland.
Einde September het Jacobu van Somerset-Wes, waar sy tot onlangs aan ’n laerskool onderwys gegee het, sak en pak Willowmore toe getrek.
“Om hierheen te kom was nog maar toe ek hier begin uitpak, vang dit my ’n bietjie. Ek trek ver van almal, my vriendinne en my ouers, weg. Toe begin die werklikheid insink,” vertel Jacobu ernstig.
Toe die trane kom, deel hulle ’n snesie. Dan kyk hulle effens skamerig vir mekaar en lag