Huisgenoot

Fiksie: Die Beloning

Kleintyd was haar droom om in ’n huis te woon – nou is die ouetehuis haar laaste aardse woonplek

- Deur LIEN OBERHOLZER Illustrasi­e: ANTON VERMEULEN

DIE begin van die laaste deel van jou lewe!” So het matrone vanoggend glimlaggen­d gesê toe mnr. Jooste haar hier by die ouetehuis kom aflaai.

Iemand het ’n kussing onder haar ingedruk en ’n voetstoelt­jie voor haar neergesit.

Haar oë het deur die spierwit kamertjie gedwaal en gerus op die spieëlbeel­d voor haar en die litteken onder haar regteroog.

“Die kind se oë is te groot, Anna,” het tant Bella gesê. “Sy kyk ’n mens so aan. Sy gee my skoon die ritteltit.”

Dit was ’n paar maande ná pa se dood en ma het gesukkel met pitswere aan haar arms.

Tant Bella was ergerlik: “Dis nie my plig om vir jou en jou agt kinders te voorsien nie, Anna. Jy wou nie luister nie. Martiens was ’n sukkelaar.”

Liesbet het na haar tante gekyk, na die ronde wange en die blink kammetjies in haar hare. Hul oë het mekaar ontmoet en ’n blos het oor tant Bella se gesig gekom.

Twee jonger sussies het aan Liesbet se rok vasgehou.

“En julle kom klop nie weer aan die voordeur nie. Gaan agterom! Dè! Hier’s twee sjielings. Dis al wat ek by my het.”

Ma het die geld by haar geneem en gegroet. Die kleintjies was moeg en honger. Tant Bella was ma se suster. “Is Oumatjie honger?” vra ’n opgewekte stem en Liesbet knik haar kop.

“Rys en pampoen, nes Ouma gevra het, en môre is daar ’n Kersete. Ons vat Ouma met ’n rolstoel af eetsaal toe – daar’s oprolfluit­jies en gekleurde hoedjies van papier. Tog te lekker.”

EK HET vir jou werk gekry, Liesbet,” het haar ma gesê. Dit was die aand voor Kersfees. “Die vrou betaal ’n siks pens en wil iemand hê om skoon te maak ná die Krismisdin­ner.”

Die mense was nog aan tafel, het sy deur die voorkamer se venster gesien. Binne het versiering­s gehang, kruis en dwars, en in die een hoek was ’n Kersboom met ’n silwer engel op. Die vrou het haar opgemerk, ophou lag en agtertoe beduie. Op haar kop was ’n rooi hoedjie van papier.

Liesbet eet stadig – elke sluk vir haar kosbaar. “Julle moet gelykop deel, Ralie; dis die laaste brood en die mense betaal eers oormôre. As jy arm is, mors almal met jou. En Liesbet, jy moet loop skrop-

Op die een of ander manier het die warm vet op die welfare- man se skoot beland

werk vra, al moet jy uit die skool uit bly, my kind. Ons moet eet.”

Ma het aan haar rok gepluk. Haar hande was skurf en plek-plek was haar naels tot in die lewe toe af. Bedags het ma die twee kleintjies saamgeneem wanneer sy wasgoed moes gaan haal of aflewer. Dan was daar ’n kans hulle sou iets te ete kry, al was dit wat. En Ralie het gewerk, smiddae ná skool en partykeer oor ’n naweek ook – Engelse by die barakke se kinders opgepas vir twee sjielings in die maand, en as daar oor was, het hulle haar iets laat eet. Amper soos Hond, het Liesbet gedink.

“’n Rondloper,” het pa gesê, want Hond het sommerso uit die veld uit by hulle aangekom. Ma het hom in die skaduwee onder die wa gekry. Sy wou hom wegjaag, want ’n hond moet vreet, het sy gesê, en waar kry sy die kos? Maar pa het gesê hy moet bly, want hy is beter as niks.

Pa het ’n riem om Hond se nek gebind en hom agter aan die wa vasgemaak met ’n spyker teen die dwarshout in. Vir Hond was dit nie maklik nie, want die kos was min en baie dae moes hy sonder water ook bly. En daar was Swys. Want wanneer pa en ma nie kyk nie, het hy Hond gerinnewee­r. Jy kon nie keer nie, want Swys sou jou flenters maak.

Liesbet sit die lepel saggies neer en voel na die sakdoek in haar mou. Haar hande wil nie meer nie; sy moet die vingers knak voor hulle vat. Mister Sugarman het eenkeer gesê sy het die kleinste hande wat hy al gesien het. Sy moes smiddae wanneer sy skropwerk gehad het by sy winkel langs op pad huis toe.

“’n Tiekie se bruinsuike­r en ’n tiekie se los outs, Mister Sugarman,” het sy gevra, en dan het sy haar hand uitgehou sodat hy die sikspens by haar kon vat. Sy moes vir vier van hulle kos maak: dun pap met ’n bietjie van die suiker oor.

Swys het nie gewerk nie al was hy amper 14. “Hy steel die werkmense se magou, Ma, daar bo tussen die trokke wanneer hulle werk,” het Ralie vertel. Met Swys het ma nie geweet hoe nie, want hy was rietaart.

Liesbet kyk na die skoon wit bed teen die muur. Haar pensioen is genoeg, het mnr. Jooste gesê. Hulle sal mooi na haar kyk, al kan sy nie meer werk nie.

“Jy moet Hond losmaak, Martiens,” het ma gesê. “Dis nou drie dae en daar’s niks. Kyk hoe lyk hy. Dalk kry hy iets in die veld.”

Hond was toe al lank by hulle en tye was swaar. Liesbet het eenkant staan en kyk toe pa die spyker uit die dwarshout trek, toe hy die riem om Hond se nek afhaal. “Weg is jy,” het hy gepor. “Voertsek!” Maar Hond het bly staan, na pa gekyk en sy stert gewaai. Aanmekaar het hulle hom probeer verdryf, heeldag lank, maar toe dit aand word, was Hond nog daar.

“Julle gee nie die ding iets om te vreet nie, Anna,” het pa gesê. “As hy nie wil vrek nie, sal hy moet loop.”

Vier dae lank het Hond die wa gevolg en Liesbet het binne-in bly sit, agter ’n hoop sakke met haar oë toe tot dit aand geword het. Dan het sy haar oë oopgemaak en gewonder of Hond ook die sterre kon sien.

Eers laatmiddag op die derde dag het Hond bly lê. Die wa het aangegaan, want pa kon nie stilhou nie – oor die tyd.

LIESBET was ses toe haar pa die kakebeenwa verkoop. Hy was klaar met smous. Hy het in Pretoria werk gekry by die tronk en ’ n skakelhuis van sink met een slaapkamer by Mister Sugarman gehuur.

Die stoepie was met sifdraad toe en die seuns kon daar slaap. Liesbet en van die ander in die voorkamer onder die tafel. Pa het min vir die wa en osse gekry en dit was ’n gesukkel. Die koolstoof se poot was af, en waar die skoorsteen moes deur, was ’n yslike gat. Pa het ’n ou drom in die hande gekry en die stoof bo-op staangemaa­k en ma het paraffienk­issies vir sit gekry.

Vir Liesbet was dit die waarword van ’n droom: om in ’n huis te woon en soos ander kinders skool te gaan.

Speeltye moes sy by Ralie op die gras bly sit, want, het Ralie gesê, “ons sal in die skande kom as ons rokke opwaai!”

Ná skool het hulle by die slagpale met ’n streepsak gaan mis optel: droës vir die vuur en die res vir die vloere. Die huis was langs ’n treinspoor. Wintertyd het stokers kole afgegooi as Ralie vir hulle waai.

Toe word pa siek. Die griep was oral. “Julle begrawe my nie onder die Jack nie, Anna,” het pa gefluister toe die ambulanswa hom kom haal en rooi-en-wit gestreepte bandiete met mussies hom op ’n draagbaar uitdra. Pa het nie teruggekom nie; net vir die begrafnis.

Ma het hulp by die welfare gevra. Sy moes sweer dat al agt háár kinders was. “Kan ek Oumatjie se bord vat?” “Hoekom gaan lê Ouma nie ’n bietjie nie?” Liesbet het haar kop geskud. Sy wou wag – vir môre se Krismisdin­ner en die hoedjie van papier.

Pa moes vir rieme wag; sy en die ander al langs die stofstrate waar die gras lank was en die spriete soet. Toe sien sy die lekkergoed lê, bloedrooi en vol grond en kleiner as haar pinkie. Sy het dit opgetel – grond en al – en in haar mond gedruk.

Swys het haar gesien en haar ingewag. “Maak oop jou bek!”

Toe Swys se vuis haar tref, het sy nie ’n geluid gemaak nie. Bloed het oor haar wang gestroom en sy kon nie mooi sien nie. Liesbet raak aan die litteken. Dit het lank geduur om gesond te word en hulle moes sonder haar skropgeld klaarkom. Ses maande ná haar pa se dood het die welfare- man na hul huis toe gekom. Daar was ’n stukkie vleis die aand en ma was besig om dit tussen hulle te verdeel. Die man het langs die tafel kom sit.

“Mevrou,” het hy gesê, “ons het jou nou lank dopgehou en ons is tevrede. Die staat bewillig agt pond in die maand vir jou en jou agt kinders.” Ma het ophou inskep. Stadig met die kastrol in haar hand tot by die welfare- man geloop. “Dopgehou, Meneer?”

“Wel u sal verstaan; ons moes natuurlik seker maak dat u nie ’n . . . los vrou is nie . . . ”

Tot vandag toe weet Liesbet nie of dit met opset was nie, maar op die een of ander manier het die warm vet op die

welfare- man se skoot beland. Ma het aangebied om dit skoon te maak, maar die man is daar weg sonder ’n verdere woord.

Die son was nou vanuit ’n ander hoek en die spieëlbeel­d dof.

Toe sy 11 was, het ma vir haar werk gekry by die bioskoop – vir twee-en-ses in die maand. Laataand het ma haar kom haal en in die donkerte het Liesbet opgekyk – gewonder of haar pa hulle mis. Tuis het ma die brooddeeg opgemaak. Hulle moes snags knie. Ma moes vroeg uit.

Die kamer was nou donker. Liesbet wou op die bed gaan lê. “Hemel! Wat gaan hier aan? Matrone!” Liesbet sien die sterre en pa en ma, en ma sê: “Martiens, ons moet Hond losmaak.” En pa het die riem afgehaal en die spyker uit die wa getrek.

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa