BOEREVERNEUKERS – AFRIKAANSE SWENDELAARS, SWIERBOLLE EN SWERKATERS
Deur IZAK DU PLESSIS (Penguin, R198*)
Ek wonder of dié mense al dood is, want dis seker onaangenaam om te lees jy word in die openbaar ’n boereverneuker genoem. Maar nee, sien ek in die indeks, hier leef nog heelparty van hulle.
Ek besluit om een van hulle te bel en te vra hoe dit voel. Adriaan Nieuwoudt, die kubuskoning, trek weg en vertel my weer die hele vrotmelksage wat in die 1980’s miljoene rande van hande laat verwissel het. Izak du Plessis noem Adriaan se skema “slim, sjiek, kreatief, grandioos, ongeveins en opreg vermetel”.
Toe Adriaan ’n slag asemskep, sê ek nee, ek bel eintlik net om te hoor hoe hy daaroor voel om ’n boereverneuker genoem te word.
“Ek gee nie ’ n hel om wat iemand skryf nie.”
Hy sê g’n mens kon hom nog ’n skelm noem nie en hy verdien nie die titel boereverneuker nie.
’n Ander een wat ek graag self ’n paar vrae sou wou vra, is Gervan Lubbe. Het hy regtig geglo sy “masjientjie” kan pyn verlig? En die horlosie wat die malariaparasiet se frekwensies optel nog voor jy siek word?
Hoe ver uit voeling met die werklikheid hierdie swendelaar is, word vir my die duidelikste geïllustreer deur die akademiese kwalifikasies wat hy vir homself toegeëien het: nie een doktorsgraad nie, nie twee nie, maar drie. Hy het daarby ook ’ n “professoraat” en ’n “PhD”.
Die boek is lekker ligte vermaak, maar jy kan dit ook beskou as ’ n waarskuwing om nie die slagoffer van ’n swendelaar te word nie of, natuurlik, om nié te swendel nie.