My stryd vir Saoedi-vrouebestuurders
Motor bestuur kon vroue in Saoedi-Arabië tot onlangs nog in die tronk laat beland. Manal al-Sharif het vir gelyke regte baklei
IN ’ N waterskeidingsbesluit het Saoedi-Arabië onlangs ’n verbod op vrouemotorbestuurders opgehef nadat dit jare lank al land ter wêreld was waar dit vir vroue verbode was om agter die stuurwiel in te skuif. Dié beslissing was grootliks danksy die pogings van aktiviste bekend as Women2Drive. Manal al-Sharif het die gesig van die veldtog geword nadat sy in openlike verset teen die verbod haar motor deur die strate van die uiters konserwatiewe koninkryk bestuur het.
In hierdie uittreksel uit haar memoires, Daring to Drive, vertel sy hoe dié dapper daad haar met die owerheid laat bots en agter tralies laat beland het.
DIE geheime polisie kom my tweeuur die oggend haal. Die tweede klop aan die deur volg vinnig op die eerste. Dit is harde, kragtige kloppe, die soort wat uitsprei en die deurkosyn ruk. In die donkerte vol skadu’s kan ons net mans op my voorstoep sien saambondel en vorentoe beur.
Hulle het nie uniforms aan nie; niks om hulle te identifiseer nie. Toe my broer vra wie hulle is, is daar stilte.
Eindelik praat een van hulle: “Is dit Manal al-Sharif se huis?” My broer huiwer nie. “Ja,” antwoord hy, sy stem ferm. “Sy moet nou dadelik saam met ons kom. Hulle wil haar in die Dhahran-polisiekantoor spreek.”
My broer hoef nie te vra waarom nie. Die vorige middag het die verkeerspolisie my voorgekeer oor die “misdaad” dat ek my broer se motor bestuur het. Die spesifieke klag is “bestuur as vrou”.
Ek was nooit daarop uit om ’n aktivis te word nie. Ek was ’n godsdienstige meisie, in Mekka gebore en getoë. Nog voor dit vereis is, het ek my met abajas en nikabs begin bedek, bloot omdat ek
my godsdiensonderwysers wou naboots en tevrede stel. En ek het in ’n uiters fundamentalistiese weergawe van Islam geglo. Jare lank het ek my broer se popmusiekkassette in die oond gesmelt, want in fundamentalistiese Islam word popmusiek as garaam (verbode) beskou.
Al ietwat rebelse ding wat ek op ’n jong ouderdom doen, is om ’n werk te kry. Ek het ’n B.Sc. in rekenaarwetenskap en die oliemaatskappy Aramco stel my as inligtingsekuriteitspesialis aan. Ek trou jonk, op 24, en kry ’n seun. Toe skei ek.
Toe ek 30 word, begin ek waaghalsige dinge op my verjaardag doen. Ek werk in Amerika, in New Hampshire, en gaan valskermspring. Die volgende jaar koop ek ’n kaartjie na Puerto Rico en pak ’n reis van 36 uur alleen aan. En terug in Saoedi- Arabië in 2011 besluit ek toe ek 32 word ek gaan begin motor bestuur. Ek het behoorlike bestuursreëls geleer toe ek in Amerika gewoon en gewerk het – ek het ’n rybewys van New Hampshire en toe van Massachusetts gekry. Maar in Saoedi-Arabië klim ek nooit agter die stuur in nie, behalwe in die Aramco-kompleks waar ek woon. Saoedi- Arabiese vroue maak op motorbestuurders staat om hulle van plek tot plek te karwei. Gewoonlik is hulle buitelandse mans, van wie party nog nooit ’n bestuurstoets afgelê of enige professionele opleiding gekry het nie. Dis ’n verstommende teenstrydigheid: ’n Samelewing wat die wenkbroue lig wanneer ’n vrou sonder ’n man uitgaan, wat jou verplig om afsonderlike ingange by universiteite, banke, restaurante en moskees te gebruik, wat restaurante met afskortings verdeel sodat nieverwante mans en vroue nie by mekaar sit nie – daardie selfde samelewing verwag jy moet alleen in ’ n motor klim saam met ’n man wat nie van jou familie is nie, ’n wildvreemdeling, sodat hy jou in ’n motor wat gesluit is iewers heen kan neem.
Op ’n aand in 2011 het ek ná werk ’n doktersafspraak in Khobar, buite die Aramco-kompleks. Toe ek teen negeuur by die mediese kantoor uitstap, bel ek al die motorbestuurders wat ek ken, maar niemand kan my huis toe neem nie.
Ek begin stap. Mans wat by my verbyry, draai hul ruit af, vloek my en skree ek is ’n “hoer” of “prostituut”. En toe kom die man in die wit Corolla. Die bestuurder beledig my nie bloot en jaag weg nie; hy agtervolg my.
Hy volg my toe ek van die hoofroete wegdraai. Toe ek by boumateriaal verbystap, buk ek en voel vir ’n klip. Ek klem dit in my hand vas en gooi dit na sy halfoop ruit. Die klip trek nie ver genoeg nie en hy jaag met skreeuende bande weg. Ek voel die adrenalien deur my are bruis.
Ek stap ’n paar treë en begin toe huil. Die souterige trane meng met my souterige sweet. Ek hardloop na die winkelsentrum en met my onbedekte, tranerige gesig kry ek ’n taxi. Ek sê vir die bestuurder hy moet my na die kompleks neem. Toe ek veilig in die motor is, bedek ek my gesig met my hande en huil. Maar teen die tyd dat ons die kompleks binnery, is my oë droog.
By my meenthuis wag my eie motor, koel, stil en geparkeer. Ek het ure daaraan bestee om te leer bestuur; ek het ’n geldige rybewys. Ek het waarskynlik beter bestuursvaardighede as baie van die manlike privaat en taxibestuurders.
Toe ek my deur oopmaak en instap, haat ek nie die mans in hul motors wat dit as hul reg beskou om my te teister nie. Ek haat die reëls wat my by my kompleks inhok, wat ons doeltreffender as enige slot in ons huis toegesluit hou.
Die volgende dag by die werk vertel ek ’n manskollega wat in die skemer strate gebeur het. “Ek is so moeg hiervoor,” sê ek. “Hoe lank moet ons die vernedering nog verduur?” Dit klink amper soos ’n retoriese vraag. My kollega kyk na my. Hy is ’n Saoedi; daarom verwag ek net ’n bietjie simpatie, dalk ’n bietjie raad. Pleks daarvan skok hy my deur te sê: “Manal, ek weet dit is onregverdig. Maar, weet jy, dit is nie regtig onwettig vir vroue om te bestuur nie.”
Eers dink ek hy terg my, maar dan besef ek hy is ernstig. “Wat bedoel jy dit is nie regtig onwettig nie?” “Tegnies is daar geen reël wat sê vroue mag nie bestuur (Blaai om)
Die reëls hou ons doeltreffender as enige slot in ons huis toegesluit
(Van vorige bladsy) nie. Niks in die verkeerswette bepaal dat dit onwettig is vir vroue om te bestuur nie. Dis net die gebruik.”
DIE eerste formele verset teen die verbod op vroue om motor te bestuur was in 1990 in die aanloop tot die Golfoorlog, sowat vier maande nadat Irak Koeweit binnegeval het.
Op 6 November 1990, terwyl onrus in Saoedi-Arabië gebroei het, het 47 vroue die verbod uitgedaag. ’n Halfuur lank het hulle hul motors in ’n konvooi deur die hoofstad, Riaad, bestuur tot die godsdienspolisie hulle ingehaal en al 47 in hegtenis geneem het.
Hulle wou die Saoediese samelewing daarmee wys al is hulle vroue, is hulle bekwaam genoeg om agter die stuur van ’n motor te sit. Ek het van hierdie vroue gehoor toe ek 11 jaar oud was. Hulle is uitgebeeld as losbandige, on-Islamitiese, pro-Westerse vroue wat saam met die Amerikaanse soldate in die strate gedans het sonder om hul hare met ’n hijab te bedek.
Nadat ek die regering se weergawe van die storie ter harte geneem het, het ek geglo hulle en hul protes en die moeilikheid wat hulle veroorsaak het, was die rede waarom my generasie nie mag motor bestuur nie. Hul protes het trouens die kulturele taboe teen motor bestuur versterk.
Maar teen 2011 is ek desperaat om te bestuur – en dit blyk ek is nie al vrou wat so voel nie. Net ’n paar dae ná my vernederende wandeling langs die pad nooi ’n vriendin my om aan te sluit by ’n Facebook- geleentheid genaamd “Ons gaan op 17 Mei bestuur”. ’n Jong vrou, Bahija, reël die geleentheid. Ek vind uit ek ken haar tante. Ek aanvaar dadelik die uitnodiging en vra of ek ook met die reëlings kan help.
Ek wil hê dit moet ’n groot geleentheid wees, veel meer as die 47 vroulike bestuurders; daarom stel ons dit uit tot 17 Junie.
Saans wanneer my sesjarige seun, Aboudi, in die bed is, plaas ek items op Facebook. Groot geesdrif heers. Aan die begin bemoedig dit my dat heelwat van die mans wat ek ken – toegegee ’n klein kringetjie en net binne Aramco – die veldtog steun. Hulle beskou dit nie as bedreigend nie, maar as bevrydend vir alle Saoedi’s. Selfs my broer, dieselfde broer wat so geskok was toe ek my hijab afhaal, steun my.
Nou moet ek net nog 7 miljoen ander Saoediese mans oorreed.
Ons het skaars inligting op Facebook begin plaas toe mans én vroue ons skerp begin kritiseer. Hulle vaar uit daaroor dat ons “die Saoedi-Arabiese samelewing” en “die Saoediese gesinslewe vernietig”. Vroue wat bestuur, “sal tot korrupsie en morele verval lei”.
’n Facebook-blad net die naam “Deur Iqal” word gestig om mans aan te moedig om enige vroulike bestuurders wat hulle sien te slaan. Mense vra gedurig wie ons is – in hierdie stadium gebruik nie een van ons ons regte naam en foto by ons inskrywings nie.
Die onheilspellendste van alles is dat hulle aanvaar ons wil in die openbaar betoog. Dit is ontstellend, want openbare betogings is onwettig in SaoediArabië en word swaar gestraf. Vir ’n vreedsame sitbetoging kan ’n vonnis van lyfstraf, tronkstraf of ’n verbod op buitelandse reise opgelê word. Om seker te maak ons protesaksie kan nie ’n “betoging” genoem word nie, wil ek hê vroue moet alleen bestuur, nie in groepe nie, en ’n video-opname van hulself alleen in hul motor maak.
Ek besluit dit is tyd vir die volgende stap. Ek maak ’n informele video vir Women2Drive waarin ek my identiteit onthul. Anders as die ander vroue is ek geskei en onderhou ek myself. Ek kan die kans waag. Terwyl ek na die skootrekenaar se kamera kyk, verduidelik ek waaroor die veldtog op 17 Junie gaan en presies wat op daardie dag sal gebeur.
Ek is versigtig om dit nie ’n betoging te noem nie. Heeltyd konsentreer ek daarop om rustig te praat en te glimlag. Ek dra nie die volle abaja nie; ek doen nie moeite om my gesig weg te steek nie. Ek sluit die video af deur kykers te herinner: “Ons is jul susters, jul ma’s, jul dogters. Ons verwag jul steun, en nou gee ons julle die kans om dit te toon.”
My laaste woorde is: “Die hele storie: dat ons net sal bestuur.” Ek plaas die video op YouTube, en binne ’n paar dae word dit meer as 120 000 keer gekyk.
DIE feit dat ek my regte naam gebruik – ook my van, my stamnaam – en my gesig wys, maak die opname geloofwaardig en vestig meer aandag op die veldtog. En dit maak my ook die openbare gesig van Women2Drive. Dreigende kommentaar wat op my gemik is, begin in die sosiale media instroom.
Gebruikers val my aan oor my “skandalige pogings” om te bestuur en die Saoediese samelewing te ontwrig. Ek word ’n “hoer”, “onsedelik”, “verwesters”, ’n “verraaier” en ’n “dubbele agent” genoem.
Die kommentaar maak seer. Maar ek bly deurentyd beleef. Ek glimlag altyd. Ek hou aan met eerbied praat, ek beklemtoon dat ek ’n Saoedi is, trots daarop om ’n Saoedi te wees en my land liefhet. Ek wil net hierdie gebruik verander.
Intussen kry ek ’ n idee. Ek dink as iemand voor die geleentheid op 17 Junie ’n video plaas van ’n vrou wat bestuur, sal dit dalk die ervaring “normaliseer” en Saoediese burgers wys hulle het niks te vrees nie.
Omdat my broer nie beskikbaar is nie, vra ek een van my vriende, Ahmed, of hy my sal vergesel: Ek het ’ n mansbestuurder nodig om by die veiligheidshekke van Aramco uit te ry.
Nog ’n aktivis, Wajeha al-Huwaider, sal dit verfilm en Ahmed sal ons aangewese bestuurder wees tot ek oorskuif en die stuurwiel van my pers Cadillac SRX vat. Ek het jare lank daarvoor gespaar, ’n motor wat ek nou vir die eerste keer in die werklike strate van die Saoediese koninkryk sou bestuur.
Buite die kompleks bestuur Ahmed senuagtig. Hy kyk na die spoedmeter en dan na my en op na die truspieël om te kyk wie dalk agter ons ry. Sy angs is aansteeklik, maar ek voel ook ál meer opgewonde. Ná talle blokke ry ons by die plaaslike polisiekantoor verby, en dan bereik ons eindelik die kafee waar Ahmed sal uitklim en vir ons wag.
Hy hou in die parkeerterrein stil. Nadat hy uit die motor geklim het, gesels hy ’n paar minute met ons. Eindelik sê ek: “Oukei, Ahmed, gaan drink jou tee. Ons het plekke waarheen ons moet ry.”
Ek verskuif na die bestuurdersitplek en Wajeha gaan sit laggend op die voorste passasiersitplek. Ek haal diep asem, gaan sit in die motor en plaas my hande op die stuurwiel. Later sou ek duidelik die gevoel onthou toe ek die deur toetrek en dit sluit. Al is ek in ’n geslote ruimte, voel ek op daardie oomblik soos een van my pa se sangvoëls wat uit sy hok gelaat is en in die vertrek rondvlieg.
Ek druk die sleutel in die ontsteker, verstel die truspieël en trek my swart hijab styf om my gesig sodat geen hare uitsteek nie. Ek haal my sonbril uit my handsak, sit dit op my onbedekte gesig en kyk ’n laaste keer na myself in die spieël. Dan kyk ek na Wajeha en vra: “Is jy gereed?”
Ek wag nie op haar antwoord nie. My hart begin vinniger klop terwyl ek die sleutel draai, die enjin hoor aanskakel, my voet op die pedaal sit en die motor in trurat oorskakel.
My besluit om te bestuur is in ’n oomblik van woede geneem, maar nou voel ek loutere kalmte in my opwel.
Ek laat die stuurwiel seepglad in my hande gly terwyl ek die motor draai. Ek kyk uit sodat ek met enige aankomende bestuurders oogkontak kan maak.
’n Silwerkleurige Toyotasportnutsvoertuig ry nader en ek sienn die mansbestuurder effens s na sy regterkant leun enn met die vrou praat wat langs hom sit. Hulle kyk na a mekaar en dan weer na my.
Ek glimlag en Wajehaa vra: “Hoekom glimlag jy, Manal?”
Vir ’n oomblik draai ek my gesig na die iPhone in haar hande, glimlag selfs breër en sê: “Want ek bestuur.”
TWEE dae later is Manal voorgekeer terwyl sy bestuur het. Haar broer was saam met haar in die motor. Nadat sy ’n paar uur lank aangehou is, kon sy huis toe gaan. Maar in die vroeë oggendure van die volgende dag het die Saoediese geheime polisie aan haar deur kom klop. Sy is ’n paar dae aangehou en toe vrygelaat.
Op 17 Junie 2011 het sowat 35 vroue in die Koninkryk van Saoedi-Arabië motor bestuur. Al is party voorgekeer, is nie- mand in hegtenis geneem nie. In die jare daarna het Manal ’n aktiewe kritikus van die Saoediese regering oor vrouesake gebly. Verlede maand het Saoedi-Arabië aangekondig vroue mag van Junie 2018 eindelik motor bestuur sonder enige vrees dat hulle in hegtenis geneem sal word.
My hart begin vinniger klop terwyl ek die sleutel draai, die enjin hoor aanskakel