Bok Malcolm se gesin na aan sy hart
Bok-liefhebbers jil oor sy spel, maar Malcolm Marx is eintlik ’n platop-die-aarde ou
AAN sy lyf is rose vir sy ma en ’ n vredesduif vir sy broer, maar ’ n mens maak ’n hengse fout as jy dink dié sentimentele tatoes beteken hy is ’n
softy. Hy was immers die held van die Springbokke se onlangse terugvegpoging teen die All Blacks wat aanhangers weer moed gegee het ná die afgryslike nederlaag teen die Kiwi’s enkele weke tevore.
Met sy kragspel het Malcolm Marx, ons nuutste rugbysensasie, die bynaam Bulldozer verdien. En as haker word hy selfs al vergelyk met die voormalige Bokbreker en -kaptein Bismarck du Plessis. Dit maak hom baie gelukkig en nie min trots nie, vertel hy skaam.
Ons gesels in die huis in Alberton, Gauteng, waar Malcolm (23) saam met sy ma, Bernadine (54), en broer, Jean (26), woon. Malcolm se kat, Goofy, en die Amerikaanse veghonde Coco en Cooper voltooi die gesin. Oor sy pa wil Malcolm niks meer sê as dat sy ouers geskei is toe hy ses was en hy hom nie sien nie.
Sy ma en broer is belangrik, kom jy gou agter toe Malcolm sy hemp uittrek om ons die stories agter sy tatoes te vertel.
“My ma is ’n inspirasie; dié een is vir haar,” beduie hy na ’n lint van die Kankervereniging van Suid-Afrika met twee datums daarop. “Die eerste datum, 2001- ’12, is die maand en jaar toe borskanker by haar gediagnoseer is. En 2002-’02 is toe die kanker uitgesny is.”
Hy wys weer. “Dié twee rose is ook vir my ma, nadat borskanker ’n tweede keer by haar gediagnoseer is.” Die kanker is nou al ’n jaar in remissie.
Die vredesduif vir sy broer, verduidelik hy, “is omdat hy so ’n kalm ou is. Hy het nie woedeuitbarstings of drama nie.”
En die kompas op sy skouer? “Dis vir my, om my rigting te gee.”
Maar op die rugbyveld ken hy net een rigting: volstoom vorentoe, en wee die teenstander wat in sy pad kom.
DRIE geraamde Goue Leeustruie teen die sitkamermuur verklap waar Malcolm se rugbytuiste is wan neer hy nie vir die Bokke speel nie. Hier waar hy op die bank sit, lyk hy gemaklik in ’n Leeus-oefenhemp en swart rugbybroek.
Die gesin het twee jaar gelede van die noorde van Johannesburg na die suidweste van die Oos-Rand getrek. Malcolm se ma werk as persoonlike assistent en sy broer behartig die sportsentrum aan ’n plaaslike skool, vertel Malcolm. “Hy het sportwetenskap studeer en hou meer
van atletiek as rugby.”
Met die trek na Alberton is Malcolm ook nader aan sy meisie van die afgelope sewe jaar, Kirsten Grant (24). Sy woon in Kempton Park en is in die laaste jaar van haar mediese studie.
Oor al die lof vir sy spel en sy byname is hy nederig. “Jy moet onthou jy is nie die enigste speler op die veld nie,” sê hy. “Dit is my spanmaats wat dit moontlik maak om (op die veld) in die regte posisie te kom. Die hele span verdien daardie byname.”
Sy rugbyloopbaan het al in gr. 1 aan die Laerskool Sun Valley in die Kaap begin, vertel hy. In sy gr. 3-jaar het hulle Johannesburg toe verhuis en teen gr. 5 het hy vir die Laerskool Nooitgedacht in Lanseria uitgedraf.
In 2007 het hy die Goue Leeus se Cravenweekspan gehaal en in 2010 het ’n rugbywerwer hom raakgesien en aanbeveel hy voltooi sy hoërskoolloopbaan aan die Johannesburgse spogseunskool King Edward VII (KE).
“Ek wou nooit regtig weg van die huis af wees en kosskool toe gaan nie, maar nadat die werwer my die skool gewys het, het ek vir my ma gesê ek hou regtig daarvan en wil graag daar gaan rugby speel,” vertel hy.
Ná skool het hy aan die Universiteit van Johannesburg ingeskryf om sportontwikkeling te studeer, “maar dit was te moeilik om die balans tussen my studie en rugby te handhaaf en ek het besluit om op my rugbyloopbaan te fokus”.
Van toe af het Malcolm, wat eers flank gespeel het, van krag tot krag gegaan. In 2014 het hy in die Vodacombeker en Superrugby sy debuut vir die Leeus gemaak, en in 2016 het hy in die middel van die voorry vir die Springbokke gesak.
Sy rolmodelle op die veld? As flank was dit die oud-Bok Schalk Burger en die Kiwi’s se Richie McCaw. Maar as haker is Bismarck die man na wie hy opsien. “Bismarck is een van ons land se bestes. Hoe hy speel, het my gemotiveer om haker te speel,” vertel Malcolm.
Dis terloops Heyneke Meyer, voormalige breier van die Bulle en Bokke, wat aanbeveel het dat Malcolm van flank na haker skuif. Carl Spilhaus, wat by KE sy rugbyafrigter was, het aan Netwerk24 vertel Heyneke het Malcolm in 2011 sien speel in ’n Cravenweek-wedstryd tussen die Leeus en Bulle en sy mening gelug dat hy van posisie moet verander. Malcolm het in sy matriekjaar in 2012 vir KE haker begin speel.
Ons gesprek draai onvermydelik na daardie alleraakligste loesing van 57-0 in Auckland, Nieu-Seeland, in September.
“Daardie dag het dinge net nie vir ons reg gewerk nie,” sê Malcolm. “Die bal het nie reg vir ons gehop nie en daar was nie baie geleenthede nie. Ek het vir ’n ruk daarna van die sosiale media en kritiek weggebly. Dis belangrik dat ’n mens positief bly en op nederlae bou eerder as om daaroor te broei. Jy moet verantwoordelikheid aanvaar vir jou spel, maar ook vorentoe beweeg.”
Toe kom die volgende wedstryd teen die All Blacks op Nuweland – en ’n begeesterde Bokspan met Malcolm aan die voorpunt gee die land weer hoop.
“Voor die laaste wedstryd wou die publiek ons nie ’n kans gun om onsself te bewys nie,” sê hy. “Al het ons met 24-25 verloor, kon ons tydens die wedstryd geleenthede skep. Ons het mekaar tydens die oefensessies gemotiveer. Dit was ’n volslae spanpoging.” Nederlae, beserings – wat ook al die terugslae – Malcolm glo daarin om die meeste van ’n slegte saak te maak. “Wanneer dit met jou gebeur, gebeur dit. Jy moet beter word, fikser word en sterker anderkant uitkom.” Hy geniet die optimistiese kultuur wat by die Leeus en Springbokke heers. “Jy wil tydens elke wedstryd net beter en beter vaar. Dit is daardie spankultuur wat die manne aanspoor.” Oor die beleërde Bokbreier, Allister Coetzee, sê hy: “Hy is ’n goeie afrigter. Ons het klarigheid oor alles wat hy besluit en doen. Niemand is in die donker oor dié of daai besluit nie. Hy praat op ’n positiewe manier met ons.”
NÁ ’N wedstryd drink Malcolm ’n proteïendrankie, en by die Leeus kry hulle agterna vingerhappies soos ribbetjies of soesji.
“Ek is mal oor Italiaanse kos soos pizza of pasta, en selfs hamburgers. Ek eet net nie vis nie; ek eet niks wat uit die water kom nie,” sê hy en ril. “Ek sit ongelukkig baie maklik gewig aan; dus moet ek my dieet dophou.”
Tuis sit hy graag hand by met takies soos skottelgoed was. “Ek glo jy moet dinge self doen. Ek maak elke oggend my bed op voor ek gaan oefen. Dit is vir my belangrik om selfdissipline te hê.”
Malcolm stel nie daarin belang om vir ’n ander land rugby te speel nie. “Ek is lojaal teenoor die Bokke. My hele steunnetwerk is hier; my familie en my meisie, en ek hou van die styl rugby wat ons hier speel. Ek is gelukkig hier.”
‘Dis belangrikik ddat ’ n mens positief bly en op nederlae bou’