Huisgenoot

Angelique koester tye saam met pa

Ná haar pa se skielike dood vertel Angelique Potgieter van hul kosbare tye saam nadat hulle versoen geraak het en van sy spesiale laaste kuier by haar

- Deur MARISA FOCKEMA

HY YWASWAS nooit id daar nie.i Toe sy die eerste keer skool toe is, al die verjaardag­partytjies as kind, toe sy haar sielkundeg­raad ontvang, haar gevorderde balleteksa­men slaag . . . Nooit was hy daar nie. Ook toe sy Suid-Afrikaanse kleure in akrogimnas­tiek verwerf, die land se liefling word as Clara in die sepie 7de Laan en aanbieder van die kykNET-reeks Boer Soek ’n Vrou, het hy in sy afwesighei­d geskitter. Haar pa se verhouding met drank het hom weerhou van een met sy suksesvoll­e dogter. Maar gedurende hul wankelrige verhouding was haar ma, Lynette Stemmet, nog altyd vir haar ’n groot steunpilaa­r.

En toe, op ’n dag in 2015, kom die boodskap op Angelique Potgieter se foon, die woorde waarvoor sy so lank gewag het: Haar pa het vertel hy het die drankduiwe­l geklop.

Eindelik, ná al die seer, kon Angelique die man leer ken wat nooit vir haar daar was nie: Ignazio Gerber, haar pa.

Byna twee en ’n half jaar kon hulle saam ’n pad van versoening en liefdevoll­e oomblikke stap.

En toe, eensklaps, is haar pa weer weg. Onverwags van sy dogter weggeruk kort nadat sy die liefde van ’n pa kon begin ervaar.

DIE laaste keer dat Angelique haar pa gesien het, was toe sy op 7 September Japan toe vlieg om aan te sluit by haar man, die Bulls-rugbyspele­r Jacques Potgieter. “Ek is lief vir jou, Dad,” het sy nog op 2 Oktober in ’n WhatsApp-boodskap vir Ignazio getik. Hy het geantwoord: “Baie dankie, my dogter, ek is lief vir jou.”

Dit was pa en dogter se laaste gesprek. Ignazio is vier dae later, op 6 Oktober, oorlede. Hy was net 58.

Die trane lê vlak in Angelique se stem terwyl sy uit Japan vertel van die spesiale tye wat sy en haar pa die laaste jare gedeel het. Sy gesels met Huisgenoot net voor sy en haar seun, ook Jacques, na Suid-Afrika vlieg vir die begrafnis.

“Dit was ongeloofli­k om hom in my

lewe te hê, want ek het altyd ’n begeerte gehad na ’n goeie verhouding met hom.”

Sy vertel die afgelope jaar het haar pa minstens een keer per maand by die Potgieters se huis in Pretoria-Oos kom kuier. Ignazio, ’n elektrisië­n, was dikwels sommer twee of drie naweke ná mekaar by hulle. “Hy het saam met ons gebraai, vir ons gesing en kitaar gespeel.”

Hul laaste kuier saam was vir Angelique spesiaal. Terwyl die TV-ster, wat in Maart die lewe skenk aan tweelingdo­gters, nog doktersbes­oeke gehad het en die laaste voorbereid­ings moes tref om Japan toe te vertrek, moes Jacques al in Fukuoka wees. Hy speel daar vir die rugbyspan Munakata Sanix Blues.

“My pa het vir ons gebid en ons gesalf. Hy het ’n ongeloofli­ke seën uitgespree­k oor my, Jacques’ie en my huwelik.

“Dit was iets wat ek my lewe lank begeer het; dat my pa my sal seën. Dis ongeloofli­k hoe groot God se genade is en dat alles net op die regte tyd gebeur, want die Here het geweet ek gaan my pa nie weer sien nie.”

Nog een keer het sy hom gesien. Ignazio het haar en klein Jacques’ie by die lughawe weggesien. “Hy het uit sy pad gegaan. Dit was vir hom belangrik om deel te wees van sy kleinkind se lewe.”

Dit was Jacques sr. wie se foon op 6 Oktober gelui het met die nuus van haar pa se dood. Hulle het dié dag ’n huis vol mense gehad. Sy het gehoor hoe Jacques geskok sê: “Ag nee, wanneer?”

Jacques het haar eenkant toe geroep en gesê hy wil bo in die kamer met haar gesels. “Ek het paniekerig geraak en skaars krag gehad om by die trap op te stap. Ek het nog gesê: ‘Gee my net gou ’n minuut. Ek wil net eers my asem kry.’ ”

Toe Jacques die nuus met haar deel, het Angelique inmekaarge­sak. Sy kan nie veel van die oomblik onthou nie, behalwe hoe bekommerd Jacques oor haar en die tweeling was.

“Hy het my heeltyd probeer kalmeer en gesê ek moet dink aan die twee kleintjies. Dit was baie moeilik, veral die eerste twee dae daarna. Ek het heeltyd gehuil.”

Jacques het haar probeer troos. Hy was baie bekommerd dat Angelique se gemoedstoe­stand ook vir hul ongebore tweeling stres sou veroorsaak.

“Ek het mooi met hulle gepraat en vir hulle verduideli­k mamma is hartseer oor haar pappa en nie oor hulle nie. Hoewel hulle nog ontwikkel, weet ek hul geesmensie­s is reeds 100% ontwikkel. Ek glo hulle hoor en verstaan alles.”

ANGELIQUE sal nooit vergeet hoe kosbaar die oomblik was toe haar pa die eerste keer vir Jacques jr., wat op 16 November een jaar oud word, vashou nie. “Hy het gehuil. Ek het hom jammer gekry, want ek dink dit het herinnerin­gs teruggebri­ng van toe ek klein was.”

Haar ouers is geskei toe sy drie jaar oud was en haar ma, Lynette Stemmet, het haar alleen grootgemaa­k. Angelique het in 2015 in ’n onderhoud met Huisgenoot vertel hoe haar vertroue in haar pa herhaaldel­ik geknou is omdat hy nie die drank kon los nie.

Maar agt maande nadat Ignazio in 2014 ophou drink het, het hy vir Angelique ’n SMS gestuur. “Hy het geskryf hy is al ’n paar maande skoon en stap ’n pad met die Here,” het Angelique toe vertel.

“My pa het vir die eerste keer gesê hy is trots op my. Hy het my loopbaan gevolg en my op televisie gesien. Hy het jammer gesê dat hy nooit daar was vir my nie.”

Angelique het haar hart vir haar pa oopgemaak en die twee het stap vir stap nader aan mekaar beweeg.

Die afgelope jaar was dit veral vir Angelique spesiaal “hoe ongeloofli­k my pa Jacques’ie behandel het.

“Al is Jacques’ie gek oor mense, moet hulle nie aan hom vat nie. My pa was een van die min mense by wie hy absoluut gemaklik was.”

Reeds voor Angelique en Jacques uitgevind het wat die geslag van die tweeling is, het Ignazio gesê hy het ’n aanvoeling dit is meisietjie­s. “Ek het met hom gestry en gesê: ‘ No way, dis seuntjies.’ En hy was toe die hele tyd reg.”

Hulle is in dié stadium nog onseker wat haar pa se dood veroorsaak het. Hy het die aand voor sy dood sleg en naar gevoel. Hy is deur ’n familielid by die huis aangetref, maar “het glad nie goed gelyk nie”, sê Angelique. “Hulle het die ambulans laat kom, maar dit was te laat. Dis al wat ons weet.”

Terwyl ons met Angelique gesels, is sy besig om haar tasse te pak vir die vlug van 30 uur om haar pa se begrafnis in Suid-Afrika by te woon. Hul kinderoppa­sser, Sammy Snyman, en Jacques jr. kom saam. “My ma sal saam met my begrafnis toe gaan.”

Weens sy rugbyverpl­igtings kan Jacques sr. nie saamkom nie. “Ek weet my pa sal verstaan dat Jacques net met sy hart en siel daar sal wees.”

Haar pa se liefde en omgee sal Angelique altyd bybly. “Hy het mense opreg liefgehad.

“Ek het altyd sy drukkies waardeer. Dit was sulke lang drukkies, wat soms

awkward was,” sê sy met ’n laggie. En dan kom die versugting van iemand wat net betyds die liefde kon leer ken waarop sy haar lewe lank gewag het: “Ek wens hy kan my weer een van sy vreeslike lang drukkies gee.”

‘Dit was iets wat ek my lewe lank begeer het; dat my pa my sal seën’

 ??  ?? HOOFFOTO en REGS: Die aktrise Angelique Potgieter en haar pa, Ignazio Gerber, op haar troudag. LINKS ONDER: Angelique as ’n klein meisie saam met haar pa. Hy en haar ma, Lynette Stemmet, is geskei toe sy drie jaar oud was.
HOOFFOTO en REGS: Die aktrise Angelique Potgieter en haar pa, Ignazio Gerber, op haar troudag. LINKS ONDER: Angelique as ’n klein meisie saam met haar pa. Hy en haar ma, Lynette Stemmet, is geskei toe sy drie jaar oud was.
 ??  ??
 ??  ?? Op Angelique en Jacques Potgieter se troudag. Tussen die bruidspaar sit (van links) Lynette, die bruidegom se pa, Ulrich Potgieter, Ignazio, en Jacques se ma, Antoinette. Ignazio is op 6 Oktober skielik oorlede. Pa en dogter het in 2015 versoen.
Op Angelique en Jacques Potgieter se troudag. Tussen die bruidspaar sit (van links) Lynette, die bruidegom se pa, Ulrich Potgieter, Ignazio, en Jacques se ma, Antoinette. Ignazio is op 6 Oktober skielik oorlede. Pa en dogter het in 2015 versoen.
 ??  ?? Angelique en Ignazio het die afgelope twee en ’n half jaar gereeld saam gekuier en spesiale oomblikke gedeel.
Angelique en Ignazio het die afgelope twee en ’n half jaar gereeld saam gekuier en spesiale oomblikke gedeel.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa