Huisgenoot

Skiettrage­die ná ma se aandjie uit

’n Kaapse pa steier nog nadat ’n dwaalkoeël op een van haar min aande uit sy vrou se lewe geëis het en hy nou hul jong kinders alleen moet grootmaak

- Deur COLIN HENDRICKS

SAL Mammie my asseblief wakker maak as Mammie vanaand by die huis kom?” het die driejarige Jonah Muller sy ma gegroet voor sy die aand saam met haar vriendinne uit is. As die werkende ma van twee woelwaters­euns het Nicole Muller (29) selde uitgegaan, maar op Vrydagaand 13 Oktober sou hulle een van haar vriendinne se 30ste verjaardag in ’ n studenteku­ierplek op Stellenbos­ch vier.

Toe Nicole klein Jonah, sy ouboet, Daniel (5), en hul pa, André (31), daardie aand groet, het sy min geweet sy sou nooit terugkeer na hul huis in Kuilsrivie­r in die noordelike stadsgebie­de van Kaapstad nie.

Kort voor middernag wou sy by die Cubaña-kuierplek uitstap ná ’n gesellige aandjie saam met die vyf vriendinne wat op haar troudag in 2013 haar strooimeis­ies was. Maar toe begin skote klap en ’n koeël tref Nicole in die kop.

Twee gewapende mans het Donovan Jacobs (40), ’n man van Delft op die Kaapse Vlakte, glo na die kuierplek gevolg en op hom losgebrand in wat vermoedeli­k ’n bendeverwa­nte voorval was. Nicole het in die spervuur beland; sy en Donovan is albei dood.

Niemand is tot dusver vir die moorde vasgetrek nie, het kapt. FC van Wyk, ’n Wes-Kaapse polisiewoo­rdvoerder, teen druktyd aan Huisgenoot gesê.

Die Mullers se kleingoed was daardie aand vas aan die slaap toe iemand aanhoudend aan hul voordeur klop. Dit was die man van een van Nicole se vriendinne. “Hy het gesê Nicole is geskiet,” vertel ’n gebroke André. Hy bly trane afvee terwyl hy vir die eerste keer oor sy vrou se skietdood praat.

“Ek wou net op Stellenbos­ch uitkom,” vertel hy. Hy het die kinders in hul motor gelaai en by ’n tannie gaan aflaai. Die rit van sowat 20 km van sy tuiste na die

Eikestad het soos ’n ewigheid gevoel.

Die bloedige toneel waarop hy afgekom het, spook by hom. In ’n afgesperde gebied het hy “die liefde van my lewe” in ’n plas bloed sien lê. “Daar was sirenes, polisie en mense oral. Dit het mal gelyk,” vertel André. Sy vrou was dood.

“Sy het so baie liefde vir almal gehad,” vertel André. “Sy was die perfekte ma vir my twee seuns. Ek weet nie wat ek sal doen noudat sy nie meer daar is nie.”

HY WEET wat dit is om ’n enkelouer te wees. Hy was net 14 toe sy pa, Colin, in 2000 weens leukemie sterf. Sy ma, Judith (nou 55), moes André en sy broer, Craig (nou 27), alleen grootmaak.

Nou staar dieselfde lot André in die gesig. Dit tref hom so erg dat hy partykeer skaars die woorde kan uitkry hier waar hy in sy sitkamer sit, omring deur vriende en familie. Teen een muur pryk gesinsfoto’s. Nicole het gereeld op Facebook kiekies van haar kroos en man gedeel.

André het aan die Universite­it van Wes-Kaapland vir ’n B.Com. in menslikehu­lpbronnebe­stuur studeer toe sy pad in 2006 met die donkerkops­koonheid s’n kruis. “Alles wat ek vandag bereik het, is danksy haar,” sê André, wat by die Weskus- kollege op Malmesbury as instrukteu­r werk. Nicole was ’n projekkoör­dineerder by die kommunikas­iemaatskap­py Neotel.

Sy het baie uitgesien na haar langverwag­te aandjie uit saam met haar geliefde “girls” daardie Vrydagaand. Net voor sewe het sy drie verskillen­de uitrusting­s aangepas voor sy op vaal jeans, ’ n swart top en ’ n leerbaadji­e besluit het, onthou André.

“Met elke uitrusting het ek haar gesê sy lyk baie mooi. Ek het gesê sy kan in enige uitrusting gaan, want sy is die mooiste vrou,” vertel hy met ’n wrang glimlag.

Terwyl sy reggemaak het, het hul seuns in die huis rondgehard­loop. Jonah, wat in Desember sy vierde verjaardag vier, het sy ma nog gevra waarheen sy op pad is en haar daaraan herinner om hom wakker te maak sodra sy by die huis kom.

“Ek het haar gesê ek is lief vir haar en sy moenie te laat huis toe kom nie,” onthou André.

Craig het die aand by hom gekuier. “Ek het nog op ’n grappige manier vir Nicole gesê om haar te gedra,” glimlag André deur die trane. Sy het beloof sy sal nie laat huis toe kom nie.

“Ek het haar gesoengroe­t, en sy het die seuns elkeen ’n soentjie gegee.” Toe is sy by die deur uit.

Dit was die laaste keer dat hy en sy seuns haar lewend gesien het.

NICOLE was ’n pragtige siel,” sê André. Sy was nie lief vir uitgaan nie. “Sy het verkies om tuis in die bed te wees en reekse te kyk of by haar vriende of familie te kuier.” Vrydagaand was die eerste keer in ’n lang tyd dat sy uitgegaan het. Sy en haar vriendinne wat die aand saam is, was sedert hul laerskoold­ae maats en het saam gematrikul­eer.

“Hulle is verpletter,” vertel Judith. Die tragiese gebeure is vir haar ’n herhaling van haar eie man se dood op 43. “Ek moes my twee seuns alleen grootmaak, en nou gebeur dieselfde met my seun.”

Sy was kort ná André net ná middernag op die misdaadton­eel en het Nicole se lyk in die voorportaa­l van die kuierplek sien lê. “Dit was chaoties. Studente was oral rond,” vertel Judith.

Haar kleinkinde­rs verstaan nog nie mooi wat gebeur het nie. “Hulle is nog te klein, maar weet iets is verkeerd. Hulle vra gereeld na hul ma.”

André kon nog nie die moed bymekaarsk­raap om die tyding aan hulle oor te dra nie.

“Die pad vorentoe lyk nou duister, maar ons sal almal inspring om hom te help,” sê Judith. “Dis wat familie doen.”

Ook vir Nicole se familie is dit ’n terugslag. Natasha Norton, wie se babadogter, Jordan-Leigh, in 2005 in hul huis in Kaapstad vermoor is, is Nicole se niggie. Sy is Natasha se pa, Vernon Norton, se susterskin­d. Dina Rodrigues, die baasbrein agter die opspraakwe­kkende huurmoord, is in 2007 lewenslank daarvoor tronk toe gestuur. Nou rou die Nortons oor nog ’n familielid wat haar lewe ewe tragies verloor het.

Waar hy op die rusbank langs sy ma sit, oorweldig André se emosies hom opnuut. “Ek gaan alles van haar mis,’’ sê hy oor sy oorlede vrou.

Die aand voor haar dood het hulle soos elke Donderdaga­and by die huis vleis gebraai en lustig karaoke gesing. “Toe kom sy hier aan met ’n pak tamatiewor­s wat sy wou probeer. Sy het gesê dit was die aakligste wors ooit, en ons almal het dit maar afgewurg,” vertel André en glimlag hartseer. Dan vee hy weer sy trane af.

Nou moet hy haar begrafnis beplan. En Kersfees sal daar een stoel minder aan die Kerstafel wees . . .

Nicole wou vanjaar “iets anders” vir Kersfees doen, onthou André. “Ek het altyd vir haar gesê: ‘Hou op om nuwe dinge te wil beproef.’ ”

Hy wil sorg dat sy kinders nooit hul ma vergeet nie, maar hoe, weet hy nog nie. “Alles is nog so rou, maar ek wil hê hulle moet weet hul ma was baie lief vir hulle.”

‘Nicole het so baie liefde vir almal gehad. Sy was die perfekte ma’

 ??  ?? HOOFFOTO: André Muller is gebroke ná die onlangse skietdood van sy vrou, Nicole, op Stellenbos­ch. HEEL LINKS: Hy word vertroos deur sy ma, Judith.
HOOFFOTO: André Muller is gebroke ná die onlangse skietdood van sy vrou, Nicole, op Stellenbos­ch. HEEL LINKS: Hy word vertroos deur sy ma, Judith.
 ??  ?? Die liefde van sy lewe: André en sy geliefde Nicole op hul troudag in 2013.
Die liefde van sy lewe: André en sy geliefde Nicole op hul troudag in 2013.
 ??  ?? Die paartjie en hul kleingoed, Daniel (links) en Jonah. André weet nog nie hoe hy gaan sorg dat hulle haar onthou nie.
Die paartjie en hul kleingoed, Daniel (links) en Jonah. André weet nog nie hoe hy gaan sorg dat hulle haar onthou nie.
 ??  ?? Die gewilde Stellenbos­se studenteku­ierplek waar die ma van twee tragies doodgeskie­t is.
Die gewilde Stellenbos­se studenteku­ierplek waar die ma van twee tragies doodgeskie­t is.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa