Huisgenoot

Geloof, hoop en liefde laat besonderse vriend uitstyg bo armoede

-

DIT

is my huldeblyk aan jou, my oom Herman Steyn. Jy was my held. Soms het jy die kleed van ’n boemelaar gedra, maar jy was soveel meer – hardwerken­d, trots en altyd vol moed.

Jy was altyd my rots. Daar was niks wat jy nie vir my sou doen nie, al het jy partykeer nie ’n sent gehad nie en self bitter swaargekry.

Baie dankie; jy het soveel jare baie mooi na my gekyk. My veilig toegevou en beskerm teen die houe van die lewe.

Ná tannie Annette se dood het jy in die koue nagte deur die strate gedwaal en gewens God kom haal jou. Nie eens jou eie kinders het geweet hoe jy deur die pyn en armoede worstel nie. Van die straathoek­e af het jy my woordeloos aangekyk.

Jy was honger, maar het nooit iets gevra nie omdat trots jou maat was. Ek moes jou omtrent smeek om by my te kom inwoon.

Jy het kilometers ver gestap om my by die werk te kom haal omdat jy geweet het ek sal weer sukkel met daai stuk motorfiets van my. Net Oom het die ding se nukke verstaan en jou hande het vir niks verkeerd gestaan nie. Jy het my veilig by die huis gekry, altyd bekommerd oor my, en dan weer die nag ingeslaan en rondgedwaa­l tot die nuwe dag sy kop uitsteek.

Met elke nuwe dag het jy geglo: Vandag is die dag dat alles verander.

Ek hoor nog Oom se lag, vol vreugde en hoop. En kort voor lank klop werk weer aan die deur. Niks kon jou onderkry nie; jy was so sterk soos staal.

Oom Herman, jy het ’n hart van goud gehad. Ek, wat jou beter as enigiemand geken het, gee jou al my respek. Niemand kan jou afgeloopte skoene vol staan nie. – ANIA, ELLISRAS

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa