Huisgenoot

‘SY ASEMPIE, SY VOETE: VREUGDE!’

Riana Nel se hart juig nie net oor haar tweede seun nie; sy’t nuwe krag ontvang en voel ook opnuut verlief op haar man

- Deur MARISA FOCKEMA

SO GEMAKLIK soos wanneer sy kitaar in die hand haar aanhangers bekoor, kelk Riana Nel haar arms om ’n babalyfie teen haar bors te koester. Sy lyk reeds gemaklik met haar en haar man, Cornel de Beer, se nuweling in haar arms – selfs al is die knapie net meer as ’n maand gelede gebore. Benewens die vreugde om weer ’n nuwe ma te wees, het Riana ook pas met haar CD Jy Sal Weet die Huisg e n o o t - Te m p o - toekenning vir kontemporê­re album van die jaar gewen. Dit is ’n Saterdagog­gend en Riana lê nog in haar bed terwyl sy vir ons skryf hoe dit deesdae gaan. “Ek lê nou onder ’n kombers en my bed is vol: vol speelgoed, sagte kombersies en boekies en, o ja, my seuns,” vertel sy. Haar oudste, Tristian, is ’n jaar en agt maande oud. Op 21 September het sy en Cornel nog ’n seun verwelkom, maar hulle is nog nie gereed om sy naam bekend te maak nie.

“Ek wonder of ’n mens ooit genoeg woorde sal hê om te beskryf hoe dit voel,” borrel die donkerkops­angeres. “Vir my is dit eenvoudig ongeloofli­k. Ek is op ’n plek in my lewe waar dinge van voorheen nie meer so belangrik is nie.”

Sy vertel van nuwe ideale en vooruitsig­te, maar voeg by: “Een daarvan is om steeds te sing, sing, sing. Want daar is soveel rede.”

Sy voel tevrede en vervul, sê Riana. “Dit voel of ek nog altyd bestem was om ’n ma te wees. Ek moet myself soms keer, want ek sal hulle sommer opeet.

“’n Paar dinge is so waar: ’n Ekstra krag word vir jou uitgedeel, of dis hoe ek dit ervaar,” vertel sy openhartig.

“En ek raak weer smoorverli­ef op my man, want daardie pappasagth­eid is vir my onweerstaa­nbaar.

“En laastens: Hoe besiger jy is, hoe meer kry jy gedoen.”

SY VOEL baie “rustiger en asof ek gekry het waarna ek gesoek het”, vertel Riana oor ma-wees. “Dit klink seker vreemd, maar ek hou nie baie van alleen wees nie, en nou is daar altyd geselskap. “Ek dink nie ek maak die lekkerste babakos nie en weet nie altyd of ek alles reg doen nie, maar sal dit nooit vir enigiets verruil nie. Ek kry onttrekkin­gsimptome wanneer ek langer as vyf uur weg is van my seuntjies af. Dan wil ek net teruggaan na hulle. Dit maak nie saak hoe my dag verloop het nie; my oudste se gesiggie maak elke keer alles beter,” sê sy.

“Dis te oulik wanneer hy sy boetie soentjies gee en sy koppie vryf. Ek hoop hulle sal groot maats wees.”

Vir Riana was dit ’n onbeskryfl­ike gevoel toe sy vir die tweede keer ma word en hulle haar nuwe seun vir die eerste keer in haar arms neerlê.

“Om sy asempie te ruik is so ongeloofli­k. ’n Mens sal jou vuiste vir so ’n lyfie afbaklei,” sê sy oor die beskermend­e moedersins­tink.

Sy kan skaars genoeg kry van haar jongste se volmaakte klein voetjies. “En die oomblikke wanneer hy jou stip in die oë kyk, is wonderlik.”

Met Tristian vermurwe haar hart weer wanneer hy “Mamma” sê, vertel sy. “Dis my einde.”

Van die lekkerste oomblikke van mawees is vir haar “die soentjies”.

Sy meen albei haar seuns lyk soos Cornel en het “vir seker hul pappa se looks”.

En gaan dit besig met dié dat twee seuns gelyk haar aandag verg?

“Ons voel nou soos ’n gesinnetji­e,” vertel sy oor die dinamika noudat daar ’n tweede kind in die huis is. “Ek wou baie graag nog ’n baba hê. Wanneer ’n mens iets regtig graag wil hê, is dit nooit moeite nie. Jy is net te dankbaar. Vir my is alles lekker, van doeke aansit tot kos gee tot bal skop en winde uitvryf.”

Sy beskryf Cornel as ’n raakvatpa en sê saam vorm hulle ’n gedugte span.

“Ek en my man dink gelukkig dieselfde oor kindertjie­s. Ons wou baie graag ouers wees en moes maar lank wag voor ons mekaar gevind het.”

Riana was 30 toe sy en Cornel, ’n rekenaarpr­ogrammerin­gsingenieu­r, mekaar in 2012 by die Innibos-kunstefees ontmoet. Hulle is in April 2013 getroud.

“My man help my so baie en doen die meeste dinge eintlik beter as ek.

“Maar dit verg meer as net ons twee om dinge te laat werk. Ek het die oulikste bure en hulle help ons baie wanneer ek moet gaan sing. My vriendinne sit ook soms hand by.”

VANDAT sy self ’n ma is, het sy nuwe waardering vir wat haar eie ma alles vir haar gedoen het. Riana se ma, Heletjé, is in 2012 tydens ’n rugoperasi­e oorlede. “Dit sou so baie beteken het as ek nog net een koppie koffie saam met haar kon gedrink het om te gesels en raad te vra. Ek dink ek sou baie baat gevind het by haar kennis oor kinders, maar toe sy sterf, was ek nog enkellopen­d en eiewys.”

Sy het reeds ’n goeie balans gevind tussen ma- en sangeres-wees.

“Ek glo God custom design ’n mens se kinders vir jou. Hy weet wat ek moet doen en waarvoor ek geroep is. Ek sien hoe my kinders by my loopbaan aangepas het en dat alles nog vir my moontlik is as ma en sangeres. Dis so lekker om hulle soms van die verhoog af in die gehoor te sien. Ek hoop hulle hou van hoe hul ma sing. Ek kan immers ’n elektriese kitaar bespeel; daarom beter hulle dink ek is cool,” vertel sy.

Sy en Cornel sing graag vir die seuns. “My man maak die oulikste liedjies en rympies vir hulle op. Ek sing soms wanneer ek hulle aan die slaap wil kry. Daar is te veel liedjies om op albums te pas.”

Kyk ’n mens na Riana se Instagramf­oto’s, sien jy ’n uitbundig gelukkige vrou.

“Sonder om hoogheilig te klink, moet ek erken ware geluk is nou nie regtig in dinge nie,” vertel sy oor wat haar so lekker laat lag.

“’n Mens vind jou geluk net in Christus, en dit is ’n dieper geluk wat jou laat glimlag, al gaan dit nie altyd goed nie. Dit laat my sing, al wil ek huil, en dit dra my wanneer ek swak voel.”

Op ’n minder ernstige noot vertel sy sy hou ook van grappies “wat niemand eintlik ooit snap nie. En wanneer my man ’n vuur aansteek om te braai, is ek drie trappe nader aan die hemel,” sê die brunet.

Met so ’ n vol hart bruis die kreatiwite­it opnuut deur haar are. “Ek werk op die oomblik aan ’n nuwe album, album en hopelik sal dit volgende jaar uitgereik word,” verklap sy. Sy en die sanger Elvis Blue het ook vir Steve Hofmeyr die liedjie Skree geskryf, en sy sing dit saam met Steve op die nuwe Afrikaans Is Groot-versamelal­bum, volume 10. (Sien die artikel op bl. 16.) Skryf sy vandat sy ’n ma is oor ander onderwerpe liedjies? “Ek dink ’n mens word ouer en rustiger, maar skrywers leef maar in hul verbeeldin­g. Ek leef my in elke liedjie in; dit maak nie saak of dit oor lief of leed gaan nie.” Haar wens is dat haar kinders sal weet “wie hulle in Jesus is”, sê sy. “Ek bid dat hulle nooit sal voel hulle moet iets anders wees sodat mense van hulle moet hou nie en dat hulle altyd sal opstaan vir die waarheid. En dat hulle steeds hul mamma soentjies en drukkies sal gee wanneer hulle die dag oud en getroud is.” Blaai na bl. 96 om te sien wie vanjaar as die wenners van Huisgenoot se Tempo- toekenning­s bekroon is.

 ??  ?? Die kosbare bondeltjie in Riana Nel se arms laat haar hart oorloop van blydskap. Sy en haar man, Cornel de Beer, het in September weer ouers geword.
Die kosbare bondeltjie in Riana Nel se arms laat haar hart oorloop van blydskap. Sy en haar man, Cornel de Beer, het in September weer ouers geword.
 ??  ?? LINKS: Riana kleintyd by haar ma, Heletjé. REGS: Riana kan skaars genoeg kry van die kleinding.
LINKS: Riana kleintyd by haar ma, Heletjé. REGS: Riana kan skaars genoeg kry van die kleinding.
 ??  ?? BO: Ouboet Tristian hou sy nuwe boetie se pinkie vas. REGS: Die babakamer is in neutrale kleure en ’n tikkie oranje versier.
BO: Ouboet Tristian hou sy nuwe boetie se pinkie vas. REGS: Die babakamer is in neutrale kleure en ’n tikkie oranje versier.
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa