LEER UIT ONS KARTRAGEDIE
Die Schmidts beywer hulle vir kinderpadveiligheid nadat ’n botsing hul onbeskermde babaseun se tweede kans op lewe kortgeknip het
KORT nadat hul seuntjie drie jaar gelede met ’ n foutiewe hartklep gebore is, moes hulle verbete om sy lewe veg. Elke dag was ’n stryd weens die onsekerheid en angs oor ’n baba wat met ’n lewensbedreigende toestand gebore is. Maande lank het die Schmidts van Richardsbaai gebid: Spaar tog ons kind se lewe.
Toe honderde mense inspring en geld help insamel vir die operasie wat sy lewe kon red, het die wonderwerk eindelik gebeur waarop hulle gehoop het.
Baba Mark het oorleef. Marius (32) en Jenny (28) Schmidt se jongste is ’n tweede kans op die lewe gegun. Skielik was die toekoms weer vol hoop.
Maar hier waar die Schmidts in hul huis van hul geliefde seuntjie se moedige stryd vertel, is hulle verslae en gebroke, pleks van triomfantelik.
Want hul seuntjie sou toe nie die kans gegun word om ’n man te word nie. Nie oor die toestand waarmee hy gebore is nie, maar weens ’n motorongeluk wat in Mei vanjaar sy lewe geëis het.
En dit spook steeds by hulle: As hy tog net daardie dag vasgegord was . . .
MARK is in 2014 op 28 weke pleks van 40 gebore. Hy was sewe weke in die hospitaal voor Marius en Jenny, bestuurders van ’n internetkafee op Ri chards baai, hom eindelik huis toe kon neem. Maar eers toe hulle hom op 10 maande vir ’n roetineondersoek neem, het die dokter ’n geruis in sy borskas gehoor. Toetse het gewys die babaseun se hartklep sluit nie dig nie.
Mark was vatbaar vir ontsteking en het gereeld longontsteking gekry. “Hy het in die hospitaal geboer,” sê Jenny.
Jenny-hulle het nie tot ’n mediese fonds behoort toe Mark vir die operasie moes gaan nie; daarom het hulle die geldinsameling gehou.
Met die hulp van weldoeners en die radiostasie Jacaranda FM se Good Morning Angels-projek het die Schmidts meer as R280 000 ingesamel vir Mark se hartoperasie in Oktober 2014. Ná drie dae kon hy huis toe gaan. “Die mannetjie het in die eerste week ná die operasie al begin loop,” vertel Marius.
Eindelik kon hy nes ’n gewone seuntjie ontwikkel en die Schmidt-gesin se lewe kon normaal voortgaan. Maar op 27 Mei is dié vrede tragies kortgeknip.
Mark en sy ouer sussie, Zané (9), was saam met ’n familielid op pad terug huis toe toe hy beheer oor die motor verloor en teen ’n vragmotor bots. Die kinders het nie veiligheidsgordels gedra nie en is
uit die motor geslinger. Tydens die ongeluk was Jenny by die huis en Marius by sy ouers in Potchefstroom.
Jenny lyk verslae toe sy terugdink aan die verskriklike oomblik toe sy die nuus kry. Die vragmotor se eienaar het haar gebel om haar daarvan te vertel, onthou Jenny. “Toe ek by die toneel kom, was die kinders reeds weggeneem.”
Mark is kort daarna in die hospitaal oorlede. Zané het ernstige beserings opgedoen; haar arm, heup en bobeen is gebreek. Sy is eers 10 dae later ontslaan.
Vandag verwyt Marius en Jenny hulself dat hulle nie daarop aangedring het dat hul kinders vasgegord word nie. Hulle het nie in een van hul motors ’n babastoel gehad nie.
Jenny sê haar seun het altyd baklei en gehuil wanneer hulle hom in sy karstoeltjie gesit het.
Omdat die gewoonte nie by hulle gevestig was nie, was hulle ook nie tydens die ongeluk vasgegord nie.
“Jy dink heeltyd: ‘As ek net nog een keer geraas het,’ ” sê Marius. “Mark het gereeld op die agtersitplek gestaan. Ek het baie met hom geraas, maar jy dink altyd jy het nie genoeg gedoen nie,” sê Marius. “Jy wroeg met skuldgevoelens.”
Die rou en skuldgevoel lê vlak by Jenny. “Jy weet dis logies om ’n karstoeltjie te hê, jy weet jy moet jou kind se veiligheidsgordel vasmaak, maar doen dit nie altyd nie, en dan wanneer dit te laat is, berou jy dit.”
Die Schmidts wil hê ander moet uit hul verlies leer en het nou karstoeltjies begin insamel om aan ouers te skenk wat dit nie kan bekostig nie. “Stoeltjies is verskriklik duur,” sê Jenny. “Ons wil die ouers se kinders veilig hou. Ek wil ander ouers hierdie seer spaar.”
Hulle het ook ’n veldtog begin om ouers bewus te maak van die belangrikheid van stoeltjies en gordels.
Jenny neem ons na Mark se kamer om die 25 stoeltjies te wys wat hulle reeds ingesamel het. “Elkeen kan ’n kind se lewe red.”
Die huis is steeds vol herinnerings aan Mark. Op ’n rakkie staan sy dinosourusse in gelid. “Dié een was sy gunsteling,” sê Jenny. “Jy kan mos sien hoe die verf van die tande afgekom het soos hy al die ander moes opeet.”
DIE Schmidts is deesdae ingestel op veiligheidsmaatreëls vir kinderpassasiers. “Wanneer ek Zané by die skool oplaai, is ek geskok om te sien hoe baie kinders in motors nie ’n veiligheidsgordel dra nie,” sê Marius.
Ook Jenny maak dit haar roeping om ouers bewus te maak van die gevare. “Die plaaslike koerant gaan nog skryf oor die mal vrou by die verkeerslig,” sê sy. “Wanneer ek kinders in ’n voertuig sien staan, spring ek uit my motor en skree op die ouers om hul kinders vas te gord of in ’n karstoel te sit. Ek wys hulle ’n foto van my seuntjie wat dood is omdat hy nie vas- gemaak was nie,” vertel die donkerkop.
“Ek het pamflette laat druk met foto’s van Mark en die ongeluk. Party mense luister en doen dit; ander jaag net weg met die kinders wat steeds nie vasgemaak is nie.”
Dit is nie die eerste keer dat Jenny en Marius hierdie seer ervaar nie. Jenny het destyds ’n tweeling verwag toe ’n ambulansbestuurder in Potchefstroom ’n stopteken verontagsaam en in haar en Mark se motor vasry. Een van haar ongebore babas is dood weens die beserings wat sy opgedoen het. Die tweede baba was Zané, wat toe dadelik met ’n noodkeisersnee ongeskonde gebore is.
“Ons wou altyd twee kinders hê, en ná die verlies van die eerste een was Markie ’n wonderlike seën,” sê Jenny. “Maar nou sal ons nie sommer weer een kan hê nie. Dit sal te veel soos ’n plaasvervanger vir Markie voel.”
“Ons sal onsself altyd blameer vir wat gebeur het,” sê Marius. “As ons net geweet het wat ons vandag weet.
“Ek sou eerder sy gehuil van twee minute verduur het wanneer ons hom wou vasmaak net om hom vandag nog hier te hê. Die seer sal nooit weggaan nie.”