Huisgenoot

EK’S TERUG – EN DIE POPPE GAAN DANS!

Hy het harde bene gekou nadat hy weg is by 7de Laan, maar Pierre is in sy noppies met ’n nuwe sepierol

- Deur JACO HOUGHCOETZ­EE

HY WIL-WIL bekend lyk, maar jy kan nie dadelik uitpluis waar jy hom al gesien het nie. Dan tref dit jou: Dié man met sy kortgeknip­te grys hare en skoongeske­erde gesig is sowaar Oubaas. Maar wag, dis eintlik iemand anders. Ontmoet Sakkie, die karakter wat Pierre van Pletzen sal speel nadat hy 7de Laan se eksentriek­e Oubaas onlangs ná 17 jaar moes groet.

Op 15 Januarie keer Pierre terug na die kassie, maar dié keer in die kykNET-sepie Getroud met Rugby. En Sakkie en Oubaas verskil hemelsbree­d.

Terwyl Oubaas ’n liefdevoll­e en deursigtig­e man was, het Sakkie ’n duistere verlede. “Niemand weet wat hy eintlik in die mou voer nie,” vertel Pierre (65).

Nie net is Oubaas se welige grys snor afgeskeer en sy langerige, deurmekaar hare getem nie; daardie oorgroot trui en effens verslonste klere het ook verdwyn. Sakkie let op sy voorkoms en is selfs ietwat flambojant.

En terwyl Oubaas bekend was vir sy teatrale maniertjie­s, gevleuelde woorde en luide stem, is Sakkie se liggaamsta­al neutraal en praat hy meer ingetoë.

Sal die kykers darem van Sakkie hou? “Ek weet nie,” sê Pierre met ’n skelm glim- lag waar ons op die stel van Getroud met Rugby met hom gesels.

“Sakkie verkoop tweedehand­se motors en bly in ’n woonstelle­tjie in ’n slegte deel van die stad. Hy het sy vrou rondgeneuk, sy gesin gelos en verdwyn toe sy dogter klein was. Nou daag hy op en probeer versoen raak met haar, en dan begin die poppe dans.”

Wie sy dogter is, mag Pierre nie verklap nie. “Maar die kykers sal verbaas wees.”

Toe Deon Opperman, Getroud met Rugby se vervaardig­er, hom onverwags bel en van die karakter vertel wat hy in gedagte het, het Pierre dadelik ingestem.

Dit was in ’n tyd van groot onsekerhei­d nadat hy einde Junie gehoor het sy kontrak by 7de Laan verstryk ná 17 jaar.

Daarna moes hy en sy vrou, die aktrise en draaiboeks­krywer Sandra Vaughn, hul geldsake fyn beplan. Hulle moes hul huis in die ooste van Pretoria in die mark sit, maar dis nog nie verkoop nie.

“Ja, ons het ’n bietjie agtergeraa­k met die paaiemente,” sê Pierre, “maar ons het nooit in sak en as gesit nie.”

Toe die deur by 7de Laan so skielik vir hom toeklap, het ander gou oopgeswaai. Benewens sy nuwe sepierol werk Pierre as regisseur aan twee kykNET-komedieree­kse, Die Kasteel en Mense-mense.

Toe hy in September die eerste keer by die Getroud met Rugby-stel opdaag, “het ek nog nooit in my lewe so welkom gevoel nie”, vertel hy. En met ’n foto van hom wat in die gang hang met die woorde “Welkom, Pierre van Pletzen” daarby, kon dit nie anders nie. Dis hoe die vervaardig­ers nuwe akteurs verwelkom.

Hoe voel dit om nou in ’n nuwe karakter se skoene te klim? Dis maklik, laat Pierre hoor: Agter die skerms is hy immers nóg Oubaas nóg Sakkie. “Net amateurs vat hul karakter huis toe.”

 ??  ??
 ??  ?? HOOFFOTO: Binnekort sal Pierre van Pletzen so op die kassie verskyn; hy gaan Sakkie speel in Getroud met Rugby. BO: Kykers van 7de Laan het hom as Oubaas leer ken.
HOOFFOTO: Binnekort sal Pierre van Pletzen so op die kassie verskyn; hy gaan Sakkie speel in Getroud met Rugby. BO: Kykers van 7de Laan het hom as Oubaas leer ken.
 ??  ?? Pierre sê hy en sy vrou, Sandra Vaughn, was nie in sak en as oor sy teëspoed nie.
Pierre sê hy en sy vrou, Sandra Vaughn, was nie in sak en as oor sy teëspoed nie.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa